EFESIËRS 2:17-22
EFESIËRS 2:17-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy het vrede kom verkondig vir hulle wat ver is, én vir hulle wat naby is. Dit is aan Hom te danke dat albei van ons deur een Gees toegang tot die Vader het. Julle is dus nie meer uitlanders en bywoners nie, maar medeburgers van hulle wat aan God behoort. Ja, julle is lede van God se huisgesin wat gebou is op die fondament wat die apostels en die profete gelê het. Christus Jesus is self die hoekklip op wie die hele gebou, terwyl dit kunstig inmekaargepas word, verrys tot ’n tempel wat aan die Here toegewy is. Deur julle verhouding met Hom word ook julle saam opgebou tot ’n gebou waarin God deur sy Gees woon.
EFESIËRS 2:17-22 Bybel vir almal (ABA)
Christus het kom sê daar is nou vrede vir julle wat ver van God was en daar is vrede vir die Jode wat naby God was. Ja, Christus het gesterf, en nou kan ons almal, Jode en heidene, kom by God die Vader, want ons almal het die Heilige Gees gekry, en daar is net een Heilige Gees. Daarom is julle nie meer soos vreemdelinge nie, soos mense wat nie 'n eie plek het nie. Julle is nou ook mense wat aan God behoort, julle is soos sy eie huisgesin. Julle is die kerk, julle is soos 'n gebou. Die fondament van die gebou is die apostels en die profete, en Christus Jesus is self die belangrikste klip in die gebou. Hy, Christus, hou die hele gebou regop en Hy maak dit sterk. Hy, die Here, laat die kerk groei en Hy maak dit 'n tempel wat aan die Here behoort. Christus het die Heilige Gees gestuur, en die Heilige Gees maak julle 'n deel van hierdie gebou, die gebou wat die woonplek van God is.
EFESIËRS 2:17-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees.
EFESIËRS 2:17-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.
EFESIËRS 2:17-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En Hy het vrede as goeie boodskap aan julle kom verkondig, aan julle wat ver was, en ook vrede aan diegene wat naby was. Want deur Hom het ons albei toegang tot die Vader deur een Gees. So is julle dan nie meer •vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die •heiliges, en lede van die huisgesin van God, gebou op die fondament van die •apostels en profete, met •Christus Jesus self as hoeksteen. In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot 'n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.
EFESIËRS 2:17-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het gekom en vrede verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was. Want deur Hom het ons albei toegang deur een Gees tot die Vader. Nou is julle dan nie meer vreemdelinge en vreemdelinge nie, maar medeburgers van die heiliges en van die huisgesin van God; en is gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is; In wie die hele gebou, goed saamgevoeg, uitgroei tot 'n heilige tempel in die Here. In wie julle ook saam opgebou is tot 'n woning van God deur die Gees.
EFESIËRS 2:17-22 Die Boodskap (DB)
Jesus het die goeie boodskap gebring dat daar vrede in die wêreld gekom het. Die vrede is nie net bedoel vir die klompie Jode wat naby aan God geleef het nie, maar ook vir almal in die wêreld wat vir baie jare so ver van God af was dat hulle niks van Hom geweet het nie. Vir almal (Jode of nie-Jode) het Jesus die pad na God toe oopgemaak, en deur die Gees ervaar ons nou ook hoe naby God regtig aan ons gekom het. Julle moet besef wat dit alles vir julle beteken. Vir God en sy mense is julle nie nou meer vreemd of staan julle daar buite iewers nie. Nee, julle is nou in die volste sin van die woord deel van God se mense. Julle is deel van sy familie. Of laat ek die beeld van die bou van ’n huis gebruik. Julle is deel van die gebou wat God in hierdie wêreld aan die bou is. Die fondament van die gebou is die boodskap oor Jesus wat julle gehoor het van die manne wat deur God gestuur is en namens Hom praat. Die belangrikste steen in die gebou, waarsonder die gebou sommer inmekaar sal val, is Jesus self. Omdat ons almal Jesus s’n is en Hy ons Here is, vorm ons almal saam ’n sterk en stewige gebou. Dit is soos ’n spesiale huis net vir God. Elkeen van julle wat Jesus s’n is, is deel van hierdie gebou. En God self woon in julle gebou omdat sy Gees in julle is.