EFESIËRS 2:14-19

EFESIËRS 2:14-19 Die Boodskap (DB)

Jesus is die ware vredemaker. Hy is die Een wat vrede kom maak het tussen die Jode en dié wat nie Jode is nie. Die vyandige houding, wat soos ’n groot muur tussen ons gestaan het, het Jesus tot op die grond kom afbreek. Nou is daar niks meer wat ons in twee groepe verdeel (naamlik Jode en nie-Jode) nie, maar ons is een groep, Jesus s’n. Om dit vir ons reg te kry het Jesus sy lewe gekos. Al die Joodse wette en reëls, wat een mens ’n Jood maak en die ander een nie, het Jesus eenkant toe geskuif. Hy het een nuwe groep mense uit die twee groepe gemaak deur hulle almal soos een man in vrede agter Hom te laat aankom. Maar dit is nie al nie. Jesus het ook gesorg dat daar vrede kom tussen God en hierdie groep mense (wat eers self verdeel was). Daarvoor was Hy bereid om sy lewe aan die kruis te gee. Dit het die mense laat besef dat hulle met mekaar in vrede moet leef. Jesus het die goeie boodskap gebring dat daar vrede in die wêreld gekom het. Die vrede is nie net bedoel vir die klompie Jode wat naby aan God geleef het nie, maar ook vir almal in die wêreld wat vir baie jare so ver van God af was dat hulle niks van Hom geweet het nie. Vir almal (Jode of nie-Jode) het Jesus die pad na God toe oopgemaak, en deur die Gees ervaar ons nou ook hoe naby God regtig aan ons gekom het. Julle moet besef wat dit alles vir julle beteken. Vir God en sy mense is julle nie nou meer vreemd of staan julle daar buite iewers nie. Nee, julle is nou in die volste sin van die woord deel van God se mense. Julle is deel van sy familie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid