EFESIËRS 2:13-22

EFESIËRS 2:13-22 Bybel vir almal (ABA)

Maar nou het julle naby God gekom, julle wat voorheen ver van Hom was. Christus Jesus het vir julle gesterf en Hy het julle naby God gebring. Dit is Christus wat vrede gebring het tussen ons. Die Jode en die heidene was altyd apart en hulle was mekaar se vyande. Dit was soos 'n muur tussen die Jode en die heidene. Maar Christus het die muur afgebreek en Hy het die Jode en die heidene bymekaargebring. Hulle is nou nie meer vyande nie. Christus het gesê die Jode se wette en reëls beteken nou niks, dit is nie meer belangrik nie. Hy het die Jode en die heidene saam soos een nuwe mens gemaak. So het Hy vrede gemaak tussen hulle. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het Hy die sonde van die Jode en die heidene weggeneem, sodat alles nou reg is tussen God en hulle. Die Jode en die heidene is nou soos een liggaam, hulle is nie meer vyande van mekaar nie. Christus het kom sê daar is nou vrede vir julle wat ver van God was en daar is vrede vir die Jode wat naby God was. Ja, Christus het gesterf, en nou kan ons almal, Jode en heidene, kom by God die Vader, want ons almal het die Heilige Gees gekry, en daar is net een Heilige Gees. Daarom is julle nie meer soos vreemdelinge nie, soos mense wat nie 'n eie plek het nie. Julle is nou ook mense wat aan God behoort, julle is soos sy eie huisgesin. Julle is die kerk, julle is soos 'n gebou. Die fondament van die gebou is die apostels en die profete, en Christus Jesus is self die belangrikste klip in die gebou. Hy, Christus, hou die hele gebou regop en Hy maak dit sterk. Hy, die Here, laat die kerk groei en Hy maak dit 'n tempel wat aan die Here behoort. Christus het die Heilige Gees gestuur, en die Heilige Gees maak julle 'n deel van hierdie gebou, die gebou wat die woonplek van God is.

EFESIËRS 2:13-22 Die Boodskap (DB)

Maar nou is julle deel van die mense wat aan Christus Jesus behoort. Julle was eens so ver van God af. Maar Jesus het vir julle gesterf en sy bloed vir julle gegee sodat julle nou naby God kan wees. Jesus is die ware vredemaker. Hy is die Een wat vrede kom maak het tussen die Jode en dié wat nie Jode is nie. Die vyandige houding, wat soos ’n groot muur tussen ons gestaan het, het Jesus tot op die grond kom afbreek. Nou is daar niks meer wat ons in twee groepe verdeel (naamlik Jode en nie-Jode) nie, maar ons is een groep, Jesus s’n. Om dit vir ons reg te kry het Jesus sy lewe gekos. Al die Joodse wette en reëls, wat een mens ’n Jood maak en die ander een nie, het Jesus eenkant toe geskuif. Hy het een nuwe groep mense uit die twee groepe gemaak deur hulle almal soos een man in vrede agter Hom te laat aankom. Maar dit is nie al nie. Jesus het ook gesorg dat daar vrede kom tussen God en hierdie groep mense (wat eers self verdeel was). Daarvoor was Hy bereid om sy lewe aan die kruis te gee. Dit het die mense laat besef dat hulle met mekaar in vrede moet leef. Jesus het die goeie boodskap gebring dat daar vrede in die wêreld gekom het. Die vrede is nie net bedoel vir die klompie Jode wat naby aan God geleef het nie, maar ook vir almal in die wêreld wat vir baie jare so ver van God af was dat hulle niks van Hom geweet het nie. Vir almal (Jode of nie-Jode) het Jesus die pad na God toe oopgemaak, en deur die Gees ervaar ons nou ook hoe naby God regtig aan ons gekom het. Julle moet besef wat dit alles vir julle beteken. Vir God en sy mense is julle nie nou meer vreemd of staan julle daar buite iewers nie. Nee, julle is nou in die volste sin van die woord deel van God se mense. Julle is deel van sy familie. Of laat ek die beeld van die bou van ’n huis gebruik. Julle is deel van die gebou wat God in hierdie wêreld aan die bou is. Die fondament van die gebou is die boodskap oor Jesus wat julle gehoor het van die manne wat deur God gestuur is en namens Hom praat. Die belangrikste steen in die gebou, waarsonder die gebou sommer inmekaar sal val, is Jesus self. Omdat ons almal Jesus s’n is en Hy ons Here is, vorm ons almal saam ’n sterk en stewige gebou. Dit is soos ’n spesiale huis net vir God. Elkeen van julle wat Jesus s’n is, is deel van hierdie gebou. En God self woon in julle gebou omdat sy Gees in julle is.