EFESIËRS 2:11-22

EFESIËRS 2:11-22 Bybel vir almal (ABA)

Julle moet onthou julle was heidene. Die Jode het gesê julle is nie besny nie. Dit is waar dat die Jode besny is, maar dit is net hulle liggame wat verander het. Julle moet onthou julle het voorheen nie aan Christus behoort nie. Israel was die volk van God, nie julle nie. God het verbonde gemaak met Israel, nie met julle nie. God het dinge belowe vir Israel, nie vir julle nie. Julle was mense wat nie seker was dat daar eendag goeie dinge met julle sal gebeur nie. Julle het nie aan God behoort nie. Maar nou het julle naby God gekom, julle wat voorheen ver van Hom was. Christus Jesus het vir julle gesterf en Hy het julle naby God gebring. Dit is Christus wat vrede gebring het tussen ons. Die Jode en die heidene was altyd apart en hulle was mekaar se vyande. Dit was soos 'n muur tussen die Jode en die heidene. Maar Christus het die muur afgebreek en Hy het die Jode en die heidene bymekaargebring. Hulle is nou nie meer vyande nie. Christus het gesê die Jode se wette en reëls beteken nou niks, dit is nie meer belangrik nie. Hy het die Jode en die heidene saam soos een nuwe mens gemaak. So het Hy vrede gemaak tussen hulle. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het Hy die sonde van die Jode en die heidene weggeneem, sodat alles nou reg is tussen God en hulle. Die Jode en die heidene is nou soos een liggaam, hulle is nie meer vyande van mekaar nie. Christus het kom sê daar is nou vrede vir julle wat ver van God was en daar is vrede vir die Jode wat naby God was. Ja, Christus het gesterf, en nou kan ons almal, Jode en heidene, kom by God die Vader, want ons almal het die Heilige Gees gekry, en daar is net een Heilige Gees. Daarom is julle nie meer soos vreemdelinge nie, soos mense wat nie 'n eie plek het nie. Julle is nou ook mense wat aan God behoort, julle is soos sy eie huisgesin. Julle is die kerk, julle is soos 'n gebou. Die fondament van die gebou is die apostels en die profete, en Christus Jesus is self die belangrikste klip in die gebou. Hy, Christus, hou die hele gebou regop en Hy maak dit sterk. Hy, die Here, laat die kerk groei en Hy maak dit 'n tempel wat aan die Here behoort. Christus het die Heilige Gees gestuur, en die Heilige Gees maak julle 'n deel van hierdie gebou, die gebou wat die woonplek van God is.

EFESIËRS 2:11-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos 'n muur skeiding gemaak het. Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. Deur sy dood aan die kruis het Hy 'n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.

EFESIËRS 2:11-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarom, onthou dat julle destyds volgens julle sondige aard heidene was. Julle word onbesnedenes genoem deur diegene wat besnedenes genoem word, al is dit bloot liggaamlik deur hande verrig. Onthou dat julle in daardie tyd sonder •Christus was, uitgesluit van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten opsigte van die verbondsbeloftes, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou, in Christus Jesus, het julle, wat destyds ver weg was, naby gekom deur die bloed van Christus. Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het. Hy het die wet met sy eise en reëls tot niet gemaak, sodat Hy, deur vrede te maak, in Homself die twee tot een nuwe mens kon skep, en sodat Hy albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, deurdat Hy daaraan die vyandskap vernietig het. En Hy het vrede as goeie boodskap aan julle kom verkondig, aan julle wat ver was, en ook vrede aan diegene wat naby was. Want deur Hom het ons albei toegang tot die Vader deur een Gees. So is julle dan nie meer •vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die •heiliges, en lede van die huisgesin van God, gebou op die fondament van die •apostels en profete, met •Christus Jesus self as hoeksteen. In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot 'n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.

EFESIËRS 2:11-22 Die Boodskap (DB)

Julle moet onthou waar julle vroeër vandaan gekom het. Julle was nie Jode nie. Die klomp Jode, wat vreeslik klem lê op die uiterlike seremonie van die besnydenis, het die neus vir julle opgetrek omdat julle nie ook daardie hele seremonie deurgemaak het nie. Hulle het julle toegesnou en gesê: “Julle klomp onbesnedenes!” Maar die besnydenis is vir God nie so belangrik nie, want dit is iets wat mense doen. Dink liewer terug aan die tyd toe julle niks van Jesus af geweet het nie. Toe was julle nie deel van die mense van God nie en julle het nie eens geweet watter ooreenkoms God met mense wil maak en wat Hy daarom alles vir hulle beloof het nie. Julle het geestelik in hierdie wêreld rondgedobber sonder enige vooruitsig of hoop, want julle het God nie geken nie. Maar nou is julle deel van die mense wat aan Christus Jesus behoort. Julle was eens so ver van God af. Maar Jesus het vir julle gesterf en sy bloed vir julle gegee sodat julle nou naby God kan wees. Jesus is die ware vredemaker. Hy is die Een wat vrede kom maak het tussen die Jode en dié wat nie Jode is nie. Die vyandige houding, wat soos ’n groot muur tussen ons gestaan het, het Jesus tot op die grond kom afbreek. Nou is daar niks meer wat ons in twee groepe verdeel (naamlik Jode en nie-Jode) nie, maar ons is een groep, Jesus s’n. Om dit vir ons reg te kry het Jesus sy lewe gekos. Al die Joodse wette en reëls, wat een mens ’n Jood maak en die ander een nie, het Jesus eenkant toe geskuif. Hy het een nuwe groep mense uit die twee groepe gemaak deur hulle almal soos een man in vrede agter Hom te laat aankom. Maar dit is nie al nie. Jesus het ook gesorg dat daar vrede kom tussen God en hierdie groep mense (wat eers self verdeel was). Daarvoor was Hy bereid om sy lewe aan die kruis te gee. Dit het die mense laat besef dat hulle met mekaar in vrede moet leef. Jesus het die goeie boodskap gebring dat daar vrede in die wêreld gekom het. Die vrede is nie net bedoel vir die klompie Jode wat naby aan God geleef het nie, maar ook vir almal in die wêreld wat vir baie jare so ver van God af was dat hulle niks van Hom geweet het nie. Vir almal (Jode of nie-Jode) het Jesus die pad na God toe oopgemaak, en deur die Gees ervaar ons nou ook hoe naby God regtig aan ons gekom het. Julle moet besef wat dit alles vir julle beteken. Vir God en sy mense is julle nie nou meer vreemd of staan julle daar buite iewers nie. Nee, julle is nou in die volste sin van die woord deel van God se mense. Julle is deel van sy familie. Of laat ek die beeld van die bou van ’n huis gebruik. Julle is deel van die gebou wat God in hierdie wêreld aan die bou is. Die fondament van die gebou is die boodskap oor Jesus wat julle gehoor het van die manne wat deur God gestuur is en namens Hom praat. Die belangrikste steen in die gebou, waarsonder die gebou sommer inmekaar sal val, is Jesus self. Omdat ons almal Jesus s’n is en Hy ons Here is, vorm ons almal saam ’n sterk en stewige gebou. Dit is soos ’n spesiale huis net vir God. Elkeen van julle wat Jesus s’n is, is deel van hierdie gebou. En God self woon in julle gebou omdat sy Gees in julle is.

EFESIËRS 2:11-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dink daarom aan die tyd toe julle wat as nie-Jode gebore is, “onbesnedenes” genoem is deur dié wat “besnedenes” genoem word – al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. Dink daaraan dat julle toe sonder Christus was, nie burgers van God se volk nie, uitlanders wat nie deel gehad het aan die beloftes van die verbonde nie. Julle was sonder toekomsverwagting en sonder God in die wêreld. Maar nou het julle wat toe ver weg was, deur julle verhouding met Christus naby gekom. Dit is moontlik gemaak deur Christus se dood aan die kruis. Christus het inderdaad vrede tussen ons gebring. Deur sy liggaam aan die kruis te gee het Hy die twee groepe één gemaak; ja, die muur van vyandskap het Hy afgebreek. Hy het ’n einde gemaak aan die wet met sy voorskrifte. Hy het vrede gebring deur in Homself die twee groepe tot een nuwe mensheid te omskep. Ja, deur sy dood aan die kruis het Hy die vyandskap beëindig. Só het Hy albei groepe in een liggaam met God versoen. Hy het vrede kom verkondig vir hulle wat ver is, én vir hulle wat naby is. Dit is aan Hom te danke dat albei van ons deur een Gees toegang tot die Vader het. Julle is dus nie meer uitlanders en bywoners nie, maar medeburgers van hulle wat aan God behoort. Ja, julle is lede van God se huisgesin wat gebou is op die fondament wat die apostels en die profete gelê het. Christus Jesus is self die hoekklip op wie die hele gebou, terwyl dit kunstig inmekaargepas word, verrys tot ’n tempel wat aan die Here toegewy is. Deur julle verhouding met Hom word ook julle saam opgebou tot ’n gebou waarin God deur sy Gees woon.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid