EFESIËRS 2:1-22

EFESIËRS 2:1-22 Bybel vir almal (ABA)

Voorheen, voordat julle in Christus geglo het, was julle geestelik dood, want julle het baie verkeerde dinge, baie sondes, gedoen. Julle het gelewe soos die mense van die wêreld lewe. Julle het gedoen wat die Satan wil hê julle moet doen. Die Satan is die hoof van die bose geeste wat oor die wêreld wil regeer en dit is hy wat nou werk in die harte van die mense wat ongehoorsaam is aan God. Ons almal het ook soos daardie mense gelewe wat graag slegte dinge doen. Ons het slegte dinge gedoen en slegte planne gemaak. Ons was sleg vandat ons gebore is, so sleg soos al die ander slegte mense, en God sal slegte mense straf. Maar God is baie jammer vir ons. Hy is baie lief vir ons en Hy het dit vir ons gewys. Ons was geestelik dood, want ons het verkeerde dinge gedoen. Maar God het vir Christus weer laat lewe, en so het Hy ons laat lewe. Julle moet onthou God het julle gered omdat Hy goed is vir julle. Ons behoort aan Christus Jesus. God het vir Christus weer laat lewe en Hy het ons ook weer laat lewe. God het vir Christus 'n plek in die hemel gegee en Hy het vir ons ook 'n plek in die hemel gegee. God het dit alles gedoen omdat Hy altyd wil wys dat Hy baie goed en lief is vir ons. Dit is hoekom Hy vir Christus Jesus gestuur het. Ja, God het julle gered omdat Hy baie goed is vir julle, julle wat in Christus glo. Julle het julle nie self gered nie. Nee, Gód het julle gered, Hý was so goed vir julle. God het julle gered, maar Hy het dit nie gedoen omdat julle goeie dinge gedoen het nie. Daarom mag niemand spog nie, want dit is God wat ons gemaak het wat ons is. Hy het vir Christus Jesus gestuur sodat ons soos nuwe mense kan lewe en goeie dinge kan doen. God het hierdie goeie dinge wat ons moet doen, lank gelede gereedgemaak. Julle moet onthou julle was heidene. Die Jode het gesê julle is nie besny nie. Dit is waar dat die Jode besny is, maar dit is net hulle liggame wat verander het. Julle moet onthou julle het voorheen nie aan Christus behoort nie. Israel was die volk van God, nie julle nie. God het verbonde gemaak met Israel, nie met julle nie. God het dinge belowe vir Israel, nie vir julle nie. Julle was mense wat nie seker was dat daar eendag goeie dinge met julle sal gebeur nie. Julle het nie aan God behoort nie. Maar nou het julle naby God gekom, julle wat voorheen ver van Hom was. Christus Jesus het vir julle gesterf en Hy het julle naby God gebring. Dit is Christus wat vrede gebring het tussen ons. Die Jode en die heidene was altyd apart en hulle was mekaar se vyande. Dit was soos 'n muur tussen die Jode en die heidene. Maar Christus het die muur afgebreek en Hy het die Jode en die heidene bymekaargebring. Hulle is nou nie meer vyande nie. Christus het gesê die Jode se wette en reëls beteken nou niks, dit is nie meer belangrik nie. Hy het die Jode en die heidene saam soos een nuwe mens gemaak. So het Hy vrede gemaak tussen hulle. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het Hy die sonde van die Jode en die heidene weggeneem, sodat alles nou reg is tussen God en hulle. Die Jode en die heidene is nou soos een liggaam, hulle is nie meer vyande van mekaar nie. Christus het kom sê daar is nou vrede vir julle wat ver van God was en daar is vrede vir die Jode wat naby God was. Ja, Christus het gesterf, en nou kan ons almal, Jode en heidene, kom by God die Vader, want ons almal het die Heilige Gees gekry, en daar is net een Heilige Gees. Daarom is julle nie meer soos vreemdelinge nie, soos mense wat nie 'n eie plek het nie. Julle is nou ook mense wat aan God behoort, julle is soos sy eie huisgesin. Julle is die kerk, julle is soos 'n gebou. Die fondament van die gebou is die apostels en die profete, en Christus Jesus is self die belangrikste klip in die gebou. Hy, Christus, hou die hele gebou regop en Hy maak dit sterk. Hy, die Here, laat die kerk groei en Hy maak dit 'n tempel wat aan die Here behoort. Christus het die Heilige Gees gestuur, en die Heilige Gees maak julle 'n deel van hierdie gebou, die gebou wat die woonplek van God is.

EFESIËRS 2:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered — en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. DAAROM, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees.

EFESIËRS 2:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is. So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos 'n muur skeiding gemaak het. Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. Deur sy dood aan die kruis het Hy 'n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.

EFESIËRS 2:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Julle was dood deur die oortredings en sondes waarin julle vantevore geleef het, volgens die bose lewenswyse van hierdie bedeling, volgens die heerser oor die mag van die lug – die heerser van dié gees wat nou aan die werk is onder die seuns van die ongehoorsaamheid. Ons almal het vantevore soos hulle opgetree toe ons die begeertes van ons sondige aard en van ons gedagtes uitgeleef het. Ook ons, soos al die ander, was van nature kinders bestem vir die oordeel. Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met •Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos! Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel, sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie. Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef. Daarom, onthou dat julle destyds volgens julle sondige aard heidene was. Julle word onbesnedenes genoem deur diegene wat besnedenes genoem word, al is dit bloot liggaamlik deur hande verrig. Onthou dat julle in daardie tyd sonder •Christus was, uitgesluit van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten opsigte van die verbondsbeloftes, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou, in Christus Jesus, het julle, wat destyds ver weg was, naby gekom deur die bloed van Christus. Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het. Hy het die wet met sy eise en reëls tot niet gemaak, sodat Hy, deur vrede te maak, in Homself die twee tot een nuwe mens kon skep, en sodat Hy albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, deurdat Hy daaraan die vyandskap vernietig het. En Hy het vrede as goeie boodskap aan julle kom verkondig, aan julle wat ver was, en ook vrede aan diegene wat naby was. Want deur Hom het ons albei toegang tot die Vader deur een Gees. So is julle dan nie meer •vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die •heiliges, en lede van die huisgesin van God, gebou op die fondament van die •apostels en profete, met •Christus Jesus self as hoeksteen. In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot 'n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.

EFESIËRS 2:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en sondes; Waarin julle vroeër gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, die gees wat nou in die kinders van ongehoorsaamheid werk. Onder wie ons ook almal in die verlede ons wandel gehad het in die begeerlikhede van ons vlees, wat die begeertes van die vlees en van die verstand vervul het; en was van nature kinders van die toorn, net soos ander. Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, oor sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, Selfs toe ons dood was in die sondes, het ons lewend gemaak saam met Christus (uit genade is julle gered;) En Hy het ons saam opgewek en ons saam laat sit in die hemele in Christus Jesus. Sodat Hy in die eeue wat kom, die uitnemende rykdom van sy genade kan bewys in sy goedertierenheid oor ons deur Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof; en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God. Nie uit werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God vooraf bestem het, sodat ons daarin kan wandel. Daarom, onthou dat julle in die tyd verby heidene in die vlees was, wat onbesnedenheid genoem word deur dit wat genoem word die besnydenis in die vlees wat met hande gemaak is; dat julle in daardie tyd sonder Christus was, wat vreemdelinge was van die gemeenskap van Israel, en vreemdelinge van die verbonde van die belofte, sonder hoop, en sonder God in die wêreld; Maar nou in Christus Jesus is julle wat soms ver was, naby gemaak deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, wat albei een gemaak het en die middelmuur van skeiding tussen ons afgebreek het; Hy het in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak, ja, die wet van gebooie wat in insettinge vervat is; want om in homself uit twee een nuwe mens te maak, so vrede te maak; En dat hy beide in een liggaam met God kan versoen deur die kruis, nadat hy die vyandskap daardeur gedood het. En hy het gekom en vrede verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was. Want deur Hom het ons albei toegang deur een Gees tot die Vader. Nou is julle dan nie meer vreemdelinge en vreemdelinge nie, maar medeburgers van die heiliges en van die huisgesin van God; en is gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is; In wie die hele gebou, goed saamgevoeg, uitgroei tot 'n heilige tempel in die Here. In wie julle ook saam opgebou is tot 'n woning van God deur die Gees.

EFESIËRS 2:1-22 Die Boodskap (DB)

Dink weer ’n slag mooi na oor alles wat God vir julle gedoen het. Julle was eers soos dooie mense as dit by God en sy dinge gekom het. Kyk net hoe lelik het julle geleef en hoeveel dinge het julle gedoen waarvan God net mooi niks gehou het nie. Dit was toe julle al agter die duiwel, die leier van die onsigbare geeste, aangeloop en presies gedoen het wat hy van julle gevra het. Daardie selfde ou duiwel is nog steeds bedrywig onder die mense wat nie luister na wat God vra nie. Dit is eintlik maar die storie van ons almal se lewens. Eers het ons almal agter die sonde aangeloop. Wat ons gedink of gedoen het, was die ene sonde. As iets sonde was, was ons daar om dit te doen. Ons het dieselfde menslike geaardheid as al die ander gehad: ons het net in die sonde belanggestel. En vir iemand wat so is, wag daar net een ding: die ewige straf van God. Maar God het sake, en veral ons, nie so gelos nie. Hy het ons baie lief en Hy loop oor van goedheid. Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, het God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee. Ons kon weer voor begin. Moenie dink dat dit is omdat julle so goed is nie. Nee, omdat God so goed is, sonder dat julle iets daarvan verdien, is julle uit die kloue van die sonde gered. Julle is nou Jesus s’n, en wat Jesus s’n is, is julle s’n. Saam met Jesus is ons, wat soos dooie mense nie eens van God geweet het nie, lewend gemaak. Saam met Christus Jesus sit ons ook nou op ’n spesiale plek by God in die hemel. Niemand sal nou, of in die toekoms, ooit kan twyfel aan hoe goed God regtig is nie. Dit kan eintlik nie gemeet of ten volle beskryf word nie. Dit alles word vir ons saamgevat in die manier waarop God ons deur Christus Jesus gered het sonder dat ons dit enigsins verdien het. Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou. Dit is nie iets wat ons self reggekry het of kon doen nie: God het dit vir ons verniet gegee. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie. Onthou, God het ons gemaak wat ons nou is. Dit is Hy wat ons nuut gemaak het omdat ons Christus Jesus s’n is. Hy het dit gedoen sodat ons reg en goed kan leef soos Hy lankal besluit het ons moet leef. Julle moet onthou waar julle vroeër vandaan gekom het. Julle was nie Jode nie. Die klomp Jode, wat vreeslik klem lê op die uiterlike seremonie van die besnydenis, het die neus vir julle opgetrek omdat julle nie ook daardie hele seremonie deurgemaak het nie. Hulle het julle toegesnou en gesê: “Julle klomp onbesnedenes!” Maar die besnydenis is vir God nie so belangrik nie, want dit is iets wat mense doen. Dink liewer terug aan die tyd toe julle niks van Jesus af geweet het nie. Toe was julle nie deel van die mense van God nie en julle het nie eens geweet watter ooreenkoms God met mense wil maak en wat Hy daarom alles vir hulle beloof het nie. Julle het geestelik in hierdie wêreld rondgedobber sonder enige vooruitsig of hoop, want julle het God nie geken nie. Maar nou is julle deel van die mense wat aan Christus Jesus behoort. Julle was eens so ver van God af. Maar Jesus het vir julle gesterf en sy bloed vir julle gegee sodat julle nou naby God kan wees. Jesus is die ware vredemaker. Hy is die Een wat vrede kom maak het tussen die Jode en dié wat nie Jode is nie. Die vyandige houding, wat soos ’n groot muur tussen ons gestaan het, het Jesus tot op die grond kom afbreek. Nou is daar niks meer wat ons in twee groepe verdeel (naamlik Jode en nie-Jode) nie, maar ons is een groep, Jesus s’n. Om dit vir ons reg te kry het Jesus sy lewe gekos. Al die Joodse wette en reëls, wat een mens ’n Jood maak en die ander een nie, het Jesus eenkant toe geskuif. Hy het een nuwe groep mense uit die twee groepe gemaak deur hulle almal soos een man in vrede agter Hom te laat aankom. Maar dit is nie al nie. Jesus het ook gesorg dat daar vrede kom tussen God en hierdie groep mense (wat eers self verdeel was). Daarvoor was Hy bereid om sy lewe aan die kruis te gee. Dit het die mense laat besef dat hulle met mekaar in vrede moet leef. Jesus het die goeie boodskap gebring dat daar vrede in die wêreld gekom het. Die vrede is nie net bedoel vir die klompie Jode wat naby aan God geleef het nie, maar ook vir almal in die wêreld wat vir baie jare so ver van God af was dat hulle niks van Hom geweet het nie. Vir almal (Jode of nie-Jode) het Jesus die pad na God toe oopgemaak, en deur die Gees ervaar ons nou ook hoe naby God regtig aan ons gekom het. Julle moet besef wat dit alles vir julle beteken. Vir God en sy mense is julle nie nou meer vreemd of staan julle daar buite iewers nie. Nee, julle is nou in die volste sin van die woord deel van God se mense. Julle is deel van sy familie. Of laat ek die beeld van die bou van ’n huis gebruik. Julle is deel van die gebou wat God in hierdie wêreld aan die bou is. Die fondament van die gebou is die boodskap oor Jesus wat julle gehoor het van die manne wat deur God gestuur is en namens Hom praat. Die belangrikste steen in die gebou, waarsonder die gebou sommer inmekaar sal val, is Jesus self. Omdat ons almal Jesus s’n is en Hy ons Here is, vorm ons almal saam ’n sterk en stewige gebou. Dit is soos ’n spesiale huis net vir God. Elkeen van julle wat Jesus s’n is, is deel van hierdie gebou. En God self woon in julle gebou omdat sy Gees in julle is.

EFESIËRS 2:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

As gevolg van julle verkeerde lewe en sondes was ook julle geestelik dood. Julle leefstyl destyds is bepaal deur hierdie bose wêreld, ja, deur die regeerder van die mag wat in die lug is. Dit is die gees wat nou nog werk in almal wat aan God ongehoorsaam is. Ons almal het vroeër so gelewe. Ons gedrag is bepaal deur ons sondige begeertes. Elke sondige wens wat in ons gedagtes opgekom het, het ons sommer net gedoen. Soos die ander mense was ons vanselfsprekend vir God se straf bestem. Maar God se ontferming is oorvloedig. Die liefde waarmee Hy ons liefgehad het, was so groot dat toe ons verkeerde lewe ons geestelike dood veroorsaak het, Hy ons saam met Christus lewend gemaak het. Dis dus God se genade wat maak dat julle verlos is! Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee. So sal God ook in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van genade. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien. Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie, want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons eenheidsband met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe. Dink daarom aan die tyd toe julle wat as nie-Jode gebore is, “onbesnedenes” genoem is deur dié wat “besnedenes” genoem word – al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. Dink daaraan dat julle toe sonder Christus was, nie burgers van God se volk nie, uitlanders wat nie deel gehad het aan die beloftes van die verbonde nie. Julle was sonder toekomsverwagting en sonder God in die wêreld. Maar nou het julle wat toe ver weg was, deur julle verhouding met Christus naby gekom. Dit is moontlik gemaak deur Christus se dood aan die kruis. Christus het inderdaad vrede tussen ons gebring. Deur sy liggaam aan die kruis te gee het Hy die twee groepe één gemaak; ja, die muur van vyandskap het Hy afgebreek. Hy het ’n einde gemaak aan die wet met sy voorskrifte. Hy het vrede gebring deur in Homself die twee groepe tot een nuwe mensheid te omskep. Ja, deur sy dood aan die kruis het Hy die vyandskap beëindig. Só het Hy albei groepe in een liggaam met God versoen. Hy het vrede kom verkondig vir hulle wat ver is, én vir hulle wat naby is. Dit is aan Hom te danke dat albei van ons deur een Gees toegang tot die Vader het. Julle is dus nie meer uitlanders en bywoners nie, maar medeburgers van hulle wat aan God behoort. Ja, julle is lede van God se huisgesin wat gebou is op die fondament wat die apostels en die profete gelê het. Christus Jesus is self die hoekklip op wie die hele gebou, terwyl dit kunstig inmekaargepas word, verrys tot ’n tempel wat aan die Here toegewy is. Deur julle verhouding met Hom word ook julle saam opgebou tot ’n gebou waarin God deur sy Gees woon.