EFESIËRS 1:6-10
EFESIËRS 1:6-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
tot lof van die heerlikheid van sy genade, waarmee Hy ons in die Geliefde begenadig het. In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredings uit die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het, saam met alle wysheid en insig. Hy het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak, soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het, om die volheid van die tye te bestuur, en om alle dinge – die dinge in die hemel en die dinge op die aarde – onder een Hoof in Christus saam te bring
EFESIËRS 1:6-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarom prys ons God se grootheid. Deur sy Seun wat Hy liefhet, het Hy genade aan ons gegee. Deur sy geliefde Seun is ons verlos deurdat Hy sy bloed vir ons gestort het. Ons oortredings is vergewe omdat God die rykdom van sy genade in oorvloed aan ons gegee het. God, wat al die wysheid en insig het, het sy geheime plan aan ons bekendgemaak. So het Hy dit reeds voorheen, met die fokus op Christus, goedgevind om hierdie plan in die volheid van die tye tot uitvoering te bring. Hierdie geheime plan is om alles wat in die hemel en op die aarde is, onder een hoof te verenig; en hierdie hoof is Christus.
EFESIËRS 1:6-10 Bybel vir almal (ABA)
God was baie goed vir ons, Hy het sy Seun gestuur, Hy is lief vir sy Seun. Daarom prys ons Hom, die Koning wat goed is vir ons. Die bloed van Christus het gevloei, en Hy het gesterf. So het God ons vrygemaak en ons sondes vergewe. God was baie goed vir ons. Ja, Hy was baie baie goed vir ons. Hy het vir ons al die wysheid en die kennis gegee. Niemand het voorheen geweet wat God oor Christus besluit het nie, maar nou het God dit vir ons gesê. God het besluit om dit so te doen, Hy wou dit graag doen. Hy het besluit wanneer dit die regte tyd sal wees, wanneer Christus moet kom sodat alles in die hemel en op die aarde saam aan Christus sal behoort en een sal wees.
EFESIËRS 1:6-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig
EFESIËRS 1:6-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.
EFESIËRS 1:6-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Tot lof van die heerlikheid van sy genade waarin Hy ons aangeneem het in die geliefde. In wie ons die verlossing het deur sy bloed, die vergewing van sondes na die rykdom van sy genade; Waarin Hy oorvloedig is teenoor ons in alle wysheid en verstand; Deur aan ons die verborgenheid van sy wil bekend te maak, volgens sy welbehae wat Hy in homself voorgeneem het. Sodat Hy in die bedeling van die volheid van tye alle dinge in Christus kan versamel, wat in die hemele sowel as wat op die aarde is; selfs in hom
EFESIËRS 1:6-10 Die Boodskap (DB)
Daarom moet ons vir ander vertel hoe wonderlik en groot God is en wat Hy alles vir ons gedoen het. Ons het niks verdien nie, maar God het dit verniet vir ons kom gee. Ek sê weer: Jesus, vir wie God so lief is, het kom sorg dat dit alles gebeur. Dit was soos ’n handelstransaksie: omdat ons so sondig was, was ons God se vyande. Toe kom Jesus en betaal wat nodig is om weer alles tussen ons en God reg te maak. Dit het Hom wel sy lewe gekos, maar die vrede is herstel tussen God en almal wat aan Jesus se kant staan. Dat God so iets gedoen het sonder om te vra wat ons kan terugbetaal, wys net hoe geweldig goed Hy vir ons is. Daar is eenvoudig geen einde aan al sy goedheid vir ons nie. As jy wonder waarom God so goed is, kan ek maar net sê dat God weet wat Hy doen, ja, Hy weet alles. Daarom het Hy besluit om ons ook te laat verstaan waarom Hy, toe die tyd ryp was, besluit het om Jesus te stuur om alles te kom doen wat nodig was. Dit was eintlik eers net God se geheim, wat mense glad nie verstaan het nie. Maar nou besef ons waarom dit gaan, omdat God graag wil hê dat ons dit moet weet. Ja, Hy sal alles - of dit nou in die hemel is of op die aarde - bymekaarbring soos dit met die skepping bedoel was, en Jesus sal oor alles regeer.