EFESIËRS 1:15-18
EFESIËRS 1:15-18 Bybel vir almal (ABA)
Ek het gehoor dat julle in die Here Jesus glo en dat julle lief is vir almal wat aan God behoort. Daarom, wanneer ek bid, sê ek altyd vir God dankie vir julle, en dink ek aan julle. Dan vra ek vir die God van ons Here Jesus Christus, vir die Vader wat Koning is, Hy moet vir julle wysheid gee en Hy moet vir julle wys hoe julle Hom kan ken. Ek bid dat God julle sal help om regtig te weet wat julle sal kry omdat Hy julle gekies het om aan Hom te behoort. Julle sal al die dinge kry wat Hy, die Koning, sal gee vir die mense wat aan Hom behoort.
EFESIËRS 1:15-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom — vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges — hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie, dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is
EFESIËRS 1:15-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het
EFESIËRS 1:15-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Om hierdie rede, omdat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en julle liefde vir al die •heiliges, hou ek nie op om God oor julle te dank wanneer ek in my gebede aan julle dink nie. Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus •Christus, die Vader van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring, wat in die kennis van Hom bestaan, en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels
EFESIËRS 1:15-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom het ek ook, nadat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus, en liefde vir al die heiliges, Hou nie op om vir jou te dank en jou in my gebede te noem nie; Sodat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee. Die oë van jou verstand word verlig; sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping is en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is
EFESIËRS 1:15-18 Die Boodskap (DB)
Ek het gehoor dat julle verhoudings gesond is: julle staan in ’n sterk verhouding met Jesus deur julle geloof en julle tree liefdevol onder mekaar as God se mense op. Mooi so. Nou sê ek vir God dankie vir mense soos julle, elke keer wanneer ek bid. Wees verseker: ek vergeet julle nie wanneer ek bid nie. Ek vra God, ons wonderlike en groot Vader, die God van ons Here Jesus Christus, om deur sy Gees vir julle die kennis te gee wat julle nodig het om in hierdie lewe reg op te tree. Ek vra ook dat julle Hom al hoe beter sal leer ken deur alles wat Hy vir julle sal duidelik maak. Ek bid verder dat God julle geestelike oë sal oopmaak sodat julle sal kan besef wat julle van Hom kan verwag noudat Hy julle na Hom toe geroep het. God gaan vir julle, as sy spesiale kinders, gee wat Syne is. Hy gaan julle skatryk maak.
EFESIËRS 1:15-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die nuus dat julle in die Here Jesus glo en liefde aan al God se mense bewys, maak dat ook ek nie ophou om God vir julle te dank nie. Ek dink aan julle in my gebede en vra dat die God van ons Here Jesus Christus – die Vader aan wie al die heerlikheid behoort – aan julle geestelike wysheid en insig sal gee deurdat julle Hom persoonlik ken. Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou. Mag julle insien hoe ’n ryk heerlikheid dit is dat God sy eie mense vir Hom as ’n erfdeel verkry het.