EFESIËRS 1:13-23

EFESIËRS 1:13-23 Bybel vir almal (ABA)

Julle in Efese behoort ook aan Christus, julle het die regte boodskap gehoor, die goeie boodskap dat God julle wil red. Julle behoort aan Christus, julle glo in Hom, en daarom het God vir julle die Heilige Gees gegee wat Hy belowe het. Die Heilige Gees wys dat julle aan God behoort. Ja, ons het die Heilige Gees, en daarom weet ons God sal vir ons alles gee wat Hy vir ons belowe het. Hy sal ons heeltemal vrymaak, ons wat aan Hom behoort. Daarom moet ons vir God, ons Koning, prys! Ek het gehoor dat julle in die Here Jesus glo en dat julle lief is vir almal wat aan God behoort. Daarom, wanneer ek bid, sê ek altyd vir God dankie vir julle, en dink ek aan julle. Dan vra ek vir die God van ons Here Jesus Christus, vir die Vader wat Koning is, Hy moet vir julle wysheid gee en Hy moet vir julle wys hoe julle Hom kan ken. Ek bid dat God julle sal help om regtig te weet wat julle sal kry omdat Hy julle gekies het om aan Hom te behoort. Julle sal al die dinge kry wat Hy, die Koning, sal gee vir die mense wat aan Hom behoort. Ek bid ook dat julle sal weet dat God se krag baie sterk is, en dat Hy sy krag in ons lewens gebruik, in ons wat glo. Dit is dieselfde sterk krag wat God gebruik het toe Hy vir Christus weer laat lewe het en Hom laat sit het op die belangrikste plek by Hom in die hemel. Christus is belangriker as almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, belangriker as enige iets waaraan 'n mens kan dink, nou of in die tyd wat kom. God het Christus laat wen teen al sy vyande. Hy het vir Christus die Hoof gemaak van alles. God het dit gedoen sodat dit goed sal gaan met die kerk. Die kerk is die liggaam van Christus. Hý alleen laat die kerk waarlik lewe, Hy laat alles lewe.

EFESIËRS 1:13-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys. Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

EFESIËRS 1:13-23 Die Boodskap (DB)

Julle is ook deel van die groep mense wat Christus s’n is. Dit is so van die dag af dat julle die waarheid gehoor en besef het dat julle elke woord daarvan kan glo. Ek praat van die goeie boodskap oor Jesus wat julle red. Daarom het God vir julle die Heilige Gees gegee wat Hy beloof het. Die Gees is soos ’n merk wat God julle laat dra om te wys dat elkeen wat Jesus s’n is, ook Syne is. Meer nog, die Gees is ook ons bewys dat God begin het om vir ons alles te gee wat Hy ons beloof het. Die Gees is maar die begin van dit wat God eendag alles vir ons gaan gee. Hy gaan elkeen wat Syne is heeltemal vrymaak. Laat ons vir almal vertel hoe groot God is. Ek het gehoor dat julle verhoudings gesond is: julle staan in ’n sterk verhouding met Jesus deur julle geloof en julle tree liefdevol onder mekaar as God se mense op. Mooi so. Nou sê ek vir God dankie vir mense soos julle, elke keer wanneer ek bid. Wees verseker: ek vergeet julle nie wanneer ek bid nie. Ek vra God, ons wonderlike en groot Vader, die God van ons Here Jesus Christus, om deur sy Gees vir julle die kennis te gee wat julle nodig het om in hierdie lewe reg op te tree. Ek vra ook dat julle Hom al hoe beter sal leer ken deur alles wat Hy vir julle sal duidelik maak. Ek bid verder dat God julle geestelike oë sal oopmaak sodat julle sal kan besef wat julle van Hom kan verwag noudat Hy julle na Hom toe geroep het. God gaan vir julle, as sy spesiale kinders, gee wat Syne is. Hy gaan julle skatryk maak. Verder bid ek ook dat julle sal agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is. Ons het gesien hoe geweldig daardie krag regtig is toe God Jesus uit die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee het. Daardie selfde krag werk ook in ons as Christene. Nou regeer Jesus natuurlik oor al wat mag of regeerder of koning is. Niemand, ek herhaal, niemand en niks sal ooit belangriker of sterker as Jesus kan wees nie; nie nou nie en ook nie in die toekoms nie. God self het vir Jesus die magtige posisie gegee om oor alles en almal te heers, ook oor die kerk. Jesus is die leier van die kerk en die kerk moet daarom gehoorsaam doen wat hulle leier van hulle verwag. Laat ek ’n voorbeeld gebruik: Jesus is soos die kop en die kerk soos die res van die liggaam. Saam is hulle een. Die kop beheer die liggaam en laat sy invloed deur die hele liggaam vloei. Die kop sorg vir alles wat elke deeltjie van die liggaam nodig mag hê. En die liggaam, die kerk, laat die kop, Jesus, volledig wees wat Hy is.

EFESIËRS 1:13-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Deur wat Christus gedoen het, het ook julle die waarheid gehoor, die Goeie Nuus waardeur julle verlos word. Op grond van wat Christus gedoen het, is julle, toe julle tot geloof gekom het, tot God se eiendom gemerk deur die Heilige Gees wat God belowe het. Die Heilige Gees is God se deposito wat ons volle erfenis waarborg totdat almal wat aan God behoort, volkome verlos sal wees. Daarvoor moet ons God se grootheid prys! Die nuus dat julle in die Here Jesus glo en liefde aan al God se mense bewys, maak dat ook ek nie ophou om God vir julle te dank nie. Ek dink aan julle in my gebede en vra dat die God van ons Here Jesus Christus – die Vader aan wie al die heerlikheid behoort – aan julle geestelike wysheid en insig sal gee deurdat julle Hom persoonlik ken. Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou. Mag julle insien hoe ’n ryk heerlikheid dit is dat God sy eie mense vir Hom as ’n erfdeel verkry het. Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik vir ons wat glo. Dieselfde magtige sterkte was ook aan die werk toe God Christus uit die dood opgewek het en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het. Nou is Christus hoog verhewe bo elke owerheid en gesag en krag en heerskappy, ja, elke noemenswaardige instansie, nie net in hierdie wêreld nie, maar ook in die wêreld wat kom. God het alle dinge onder sy beheer gestel en Hom ook as Hoof van alles aan die kerk gegee. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in elke opsig met sy teenwoordigheid vul.