EFESIËRS 1:1-15

EFESIËRS 1:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Ek, Paulus, is 'n apostel van Christus Jesus omdat God dit wil hê. Ek skryf hierdie brief vir julle wat in die stad Efese woon, julle wat aan God behoort en in Christus Jesus glo. Ek bid dat God ons Vader en die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee. Ons prys die God en Vader van ons Here Jesus Christus, want God was baie goed vir ons. Ons behoort aan Christus, en die Heilige Gees het vir ons al die goeie dinge gegee wat in die hemel is. God het ons gekies sodat ons aan Christus kan behoort. Ja, God het ons gekies voordat Hy die wêreld gemaak het. Hy het dit gedoen sodat ons aan Hom sal behoort en reg sal lewe en vol liefde sal wees. Voordat God die wêreld gemaak het, het Hy besluit dat ons sy kinders moet wees. Hy het vir Jesus Christus gestuur sodat ons God se kinders kon word. God wou graag hê ons moet sy kinders wees. God was baie goed vir ons, Hy het sy Seun gestuur, Hy is lief vir sy Seun. Daarom prys ons Hom, die Koning wat goed is vir ons. Die bloed van Christus het gevloei, en Hy het gesterf. So het God ons vrygemaak en ons sondes vergewe. God was baie goed vir ons. Ja, Hy was baie baie goed vir ons. Hy het vir ons al die wysheid en die kennis gegee. Niemand het voorheen geweet wat God oor Christus besluit het nie, maar nou het God dit vir ons gesê. God het besluit om dit so te doen, Hy wou dit graag doen. Hy het besluit wanneer dit die regte tyd sal wees, wanneer Christus moet kom sodat alles in die hemel en op die aarde saam aan Christus sal behoort en een sal wees. God het lank gelede besluit dat ons aan Hom moet behoort, daarom het Hy vir Christus gestuur. En wanneer God besluit dat iets moet gebeur, dan gebeur dit. God het dit gedoen, want Hy wou hê dat ons Hom, die Koning, moet prys, ons wat eerste begin glo het en seker is dat Christus ons sal red. Julle in Efese behoort ook aan Christus, julle het die regte boodskap gehoor, die goeie boodskap dat God julle wil red. Julle behoort aan Christus, julle glo in Hom, en daarom het God vir julle die Heilige Gees gegee wat Hy belowe het. Die Heilige Gees wys dat julle aan God behoort. Ja, ons het die Heilige Gees, en daarom weet ons God sal vir ons alles gee wat Hy vir ons belowe het. Hy sal ons heeltemal vrymaak, ons wat aan Hom behoort. Daarom moet ons vir God, ons Koning, prys! Ek het gehoor dat julle in die Here Jesus glo en dat julle lief is vir almal wat aan God behoort.

EFESIËRS 1:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

PAULUS, 'n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, aan die heiliges wat in Éfese is, en die gelowiges in Christus Jesus: Genade vir julle en vrede van God, onse Vader, en die Here Jesus Christus! GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig — in Hom in wie ons ook 'n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil, sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het, in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid. Daarom — vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges

EFESIËRS 1:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God. Aan almal in Efese wat aan God behoort en in Christus Jesus glo. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys. Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges

EFESIËRS 1:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus deur die wil van God, aan die heiliges wat in Efese is, die gelowiges in Christus Jesus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel. So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees, nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het, tot lof van die heerlikheid van sy genade, waarmee Hy ons in die Geliefde begenadig het. In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredings uit die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het, saam met alle wysheid en insig. Hy het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak, soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het, om die volheid van die tye te bestuur, en om alle dinge – die dinge in die hemel en die dinge op die aarde – onder een Hoof in Christus saam te bring, In Hom is ons ook as erfgename uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur, sodat ons, wat van die begin af ons hoop op Christus gevestig het, kan bestaan tot lof van sy heerlikheid. In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid. Om hierdie rede, omdat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en julle liefde vir al die •heiliges

EFESIËRS 1:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Paulus, 'n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, aan die heiliges wat in Éfese is, en aan die gelowiges in Christus Jesus: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van die Here Jesus Christus. Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus: Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld, om heilig en onberispelik voor Hom in liefde te wees. Ons het ons voorbeskik tot die aanneming van kinders deur Jesus Christus vir Homself, volgens die welbehae van sy wil, Tot lof van die heerlikheid van sy genade waarin Hy ons aangeneem het in die geliefde. In wie ons die verlossing het deur sy bloed, die vergewing van sondes na die rykdom van sy genade; Waarin Hy oorvloedig is teenoor ons in alle wysheid en verstand; Deur aan ons die verborgenheid van sy wil bekend te maak, volgens sy welbehae wat Hy in homself voorgeneem het. Sodat Hy in die bedeling van die volheid van tye alle dinge in Christus kan versamel, wat in die hemele sowel as wat op die aarde is; selfs in hom: In wie ons ook 'n erfdeel verkry het, deurdat ons voorbeskik is volgens die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil; dat ons tot lof van sy heerlikheid moet wees, wat eerste op Christus vertrou het. Op wie julle ook vertrou het, nadat julle die woord van die waarheid gehoor het, die evangelie van julle verlossing; in wie julle ook, nadat julle geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, Dit is die eer van ons erfdeel tot die verlossing van die gekoopte besitting, tot lof van sy heerlikheid. Daarom het ek ook, nadat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus, en liefde vir al die heiliges

EFESIËRS 1:1-15 Die Boodskap (DB)

Ek, Paulus, wat spesiaal deur Christus Jesus as sy boodskapper gestuur is omdat God dit so wou hê, het hierdie brief geskryf. Dit is bedoel vir God se mense in Efese, almal wat in Christus Jesus glo. Mag God, die Vader, en die Here Jesus Christus vir julle goed wees, ver meer as wat julle verdien. Mag Hulle vir julle vrede gee soos net Hulle kan. Laat ons nie ophou om God, die Vader van ons Here Jesus Christus, te loof en groot te maak nie. Omdat ons Jesus s’n is, het God ons - wat eintlik niks was nie - baie belangrik kom maak. Hy het vir ons al die geestelike dinge gegee wat by God die moeite werd is vir ’n mens om te hê. Hy het ons wat aan Jesus behoort, gekies nog lank voor die wêreld gemaak is. Ons moet net Syne wees en daar moet niks in ons wees wat Hom ontevrede kan maak nie. Dit alles het Hy uit liefde gedoen. Ja, Hy het vooraf besluit om ons sy eie kinders te maak. Hy het besluit om dit te doen om geen ander rede as dat Hy dit graag vir ons wou doen nie. En dit is nie sommer net ’n storie nie - Jesus Christus het kom sorg dat dit regtig gebeur. Daarom moet ons vir ander vertel hoe wonderlik en groot God is en wat Hy alles vir ons gedoen het. Ons het niks verdien nie, maar God het dit verniet vir ons kom gee. Ek sê weer: Jesus, vir wie God so lief is, het kom sorg dat dit alles gebeur. Dit was soos ’n handelstransaksie: omdat ons so sondig was, was ons God se vyande. Toe kom Jesus en betaal wat nodig is om weer alles tussen ons en God reg te maak. Dit het Hom wel sy lewe gekos, maar die vrede is herstel tussen God en almal wat aan Jesus se kant staan. Dat God so iets gedoen het sonder om te vra wat ons kan terugbetaal, wys net hoe geweldig goed Hy vir ons is. Daar is eenvoudig geen einde aan al sy goedheid vir ons nie. As jy wonder waarom God so goed is, kan ek maar net sê dat God weet wat Hy doen, ja, Hy weet alles. Daarom het Hy besluit om ons ook te laat verstaan waarom Hy, toe die tyd ryp was, besluit het om Jesus te stuur om alles te kom doen wat nodig was. Dit was eintlik eers net God se geheim, wat mense glad nie verstaan het nie. Maar nou besef ons waarom dit gaan, omdat God graag wil hê dat ons dit moet weet. Ja, Hy sal alles - of dit nou in die hemel is of op die aarde - bymekaarbring soos dit met die skepping bedoel was, en Jesus sal oor alles regeer. God het almal wat aan Jesus behoort, gekies om Syne te wees. Dat dit so moet wees, het Hy lankal besluit en Hy laat altyd alles gebeur soos Hy dit wil hê. Ons was mos die eerste mense wat alles aanvaar het wat Jesus beloof het en wat seker weet dat ons dit gaan kry. God wil hê dat juis ons vir almal moet wys en vertel hoe groot en belangrik Hy regtig is. Julle is ook deel van die groep mense wat Christus s’n is. Dit is so van die dag af dat julle die waarheid gehoor en besef het dat julle elke woord daarvan kan glo. Ek praat van die goeie boodskap oor Jesus wat julle red. Daarom het God vir julle die Heilige Gees gegee wat Hy beloof het. Die Gees is soos ’n merk wat God julle laat dra om te wys dat elkeen wat Jesus s’n is, ook Syne is. Meer nog, die Gees is ook ons bewys dat God begin het om vir ons alles te gee wat Hy ons beloof het. Die Gees is maar die begin van dit wat God eendag alles vir ons gaan gee. Hy gaan elkeen wat Syne is heeltemal vrymaak. Laat ons vir almal vertel hoe groot God is. Ek het gehoor dat julle verhoudings gesond is: julle staan in ’n sterk verhouding met Jesus deur julle geloof en julle tree liefdevol onder mekaar as God se mense op. Mooi so.

EFESIËRS 1:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierdie brief kom van Paulus. Ek is deur God gekies om ’n apostel van Christus Jesus te wees. Ek skryf aan God se mense in Efese, hulle wat in Christus Jesus glo. Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees. Prys God, die Vader van ons Here Jesus Christus, voortdurend, want Hy is wonderlik goed vir ons! Deur wat Christus gedoen het, het Hy ons geseën met elke geestelike seëning wat daar in die hemelsfere is. Deur wat Christus gedoen het, het God ons uitgekies. Omdat Hy ons liefhet, het Hy ons, al voor die wêreld gemaak is, uitgekies om Syne te wees en onberispelik in liefde voor sy aangesig te lewe. Deur wat Christus gedoen het, het God vooraf besluit om ons as sy kinders aan te neem. Hy het dit gedoen omdat dit is hoe Hy dit wou hê. Daarom prys ons God se grootheid. Deur sy Seun wat Hy liefhet, het Hy genade aan ons gegee. Deur sy geliefde Seun is ons verlos deurdat Hy sy bloed vir ons gestort het. Ons oortredings is vergewe omdat God die rykdom van sy genade in oorvloed aan ons gegee het. God, wat al die wysheid en insig het, het sy geheime plan aan ons bekendgemaak. So het Hy dit reeds voorheen, met die fokus op Christus, goedgevind om hierdie plan in die volheid van die tye tot uitvoering te bring. Hierdie geheime plan is om alles wat in die hemel en op die aarde is, onder een hoof te verenig; en hierdie hoof is Christus. Deur wat Christus gedoen het, het ons ook deel van God se eie erfdeel geword. Ons was vooraf daartoe bestem! Dit was God se doel! Hy het alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het. Die gevolg is dat God se grootheid deur ons bestaan verheerlik word. Ons was die eerstes wat ons hoop op Christus geplaas het. Deur wat Christus gedoen het, het ook julle die waarheid gehoor, die Goeie Nuus waardeur julle verlos word. Op grond van wat Christus gedoen het, is julle, toe julle tot geloof gekom het, tot God se eiendom gemerk deur die Heilige Gees wat God belowe het. Die Heilige Gees is God se deposito wat ons volle erfenis waarborg totdat almal wat aan God behoort, volkome verlos sal wees. Daarvoor moet ons God se grootheid prys! Die nuus dat julle in die Here Jesus glo en liefde aan al God se mense bewys, maak dat ook ek