PREDIKER 7:1-29
PREDIKER 7:1-29 Bybel vir almal (ABA)
Dit is goed om lekkerruik-olie te gebruik, maar dit is beter wanneer mense jou respekteer. Die dag toe jy gebore is, was 'n goeie dag, maar die dag wanneer jy sal sterf, sal 'n beter dag wees. Dit is goed om na 'n huis te gaan waar die mense feesvier, maar dit is beter om na 'n huis te gaan waar die mense rou. Want al die mense moet sterf, en die mense wat lewe, moet dit onthou. Dit is goed om te lag, maar dit is beter om hartseer te wees, want wanneer jou gesig wys dat jy swaarkry, dan wys dit dat jy goed dink. Wyse mense wil in 'n huis wees waar die mense rou, dwase wil in 'n huis wees waar die mense feesvier. Dit is beter om te luister wanneer 'n wyse mens met jou raas as om te luister wanneer dwase sing, want wanneer 'n dwaas lag, dan raas dit soos doringtakkies in die vuur onder 'n pot. Dit is ook nie reg nie. Maar die persoon wat wysheid het, word ook 'n dwaas wanneer iemand hom afpers, en wanneer iemand 'n present kry sodat hy iets moet doen wat verkeerd is, dan hou hy op om verstandig te wees. Dit is beter om op te hou praat as om te begin praat, dit is beter om geduldig te wees as om hoogmoedig te wees. Jy moenie gou kwaad word oor dinge wat gebeur nie, want dit is dwase wat gou kwaad word. Jy moenie vra hoekom alles voorheen beter was as nou nie, want wanneer jy dit vra, dan het jy nie wysheid nie. Wanneer jy wysheid het, dan is dit so goed soos wanneer jy iets erf, dit help baie vir 'n mens wat lewe, want wysheid beskerm jou soos geld jou beskerm. Wanneer iemand weet hoe om te lewe, dan gee wysheid vir hom 'n lang lewe. Jy moet goed kyk hoe God dinge gemaak het, want as Hy iets krom gemaak het, dan kan niemand dit reguit maak nie. Wanneer dit goed gaan, dan moet jy dit geniet, en wanneer dit sleg gaan, dan moet jy onthou: God het die goeie én die slegte dinge laat gebeur, sodat 'n mens nie sal weet wat later sal gebeur nie. My lewe beteken niks, maar ek het alles gesien. Ek het gesien dat 'n persoon reg lewe en dat hy sterf terwyl hy reg lewe, en ek het gesien dat iemand verkeerd doen, maar dat hy lank lewe terwyl hy slegte dinge doen. Jy moenie probeer om te baie regverdig te wees nie en jy moenie te veel wys dat jy wysheid het nie. Jy sal kwaad en ontsteld word oor die dinge wat met jou gebeur. Jy moenie aanhou om verkeerde dinge te doen nie en jy moenie aanhou om dwaas te wees nie, jy sal sterf voordat dit jou tyd is om te sterf. Dit is goed om nie te probeer om te baie regverdig te wees nie en om nie aan te hou om verkeerde dinge te doen nie. Ja, wanneer jy vir God respekteer en Hom dien, dan sal jy weet wat om te doen. Wysheid gee vir wyse mense meer krag as vir tien regeerders in die stad. Niemand op die aarde is so regverdig dat hy net goed doen en nooit sonde doen nie. Jy moenie luister na alles wat mense sê nie, dan sal jy nie hoor wanneer jou slaaf jou vervloek nie, want jy weet dat jy self baie maal ander mense vervloek het. Ek het wysheid gebruik en ek het al die dinge getoets. Ek het gesê ek wil wysheid hê, maar die wysheid het ver weg van my gebly. Die wysheid is ver weg en baie diep, niemand kan dit kry nie. Ek het hard probeer om te weet en te soek en te kyk of ek wysheid kan kry en of ek dinge kan ken. Ek wou weet of 'n mens 'n dwaas is wanneer hy verkeerd doen en of 'n mens mal is wanneer hy dwase dinge doen. Ek het iets gekry wat meer bitter is as die dood: Dit is wanneer 'n vrou jou vang soos 'n mens 'n voël in 'n vangnet vang, en wanneer sy jou so vashou dat jy nie kan loskom nie. As God goed is vir jou, dan kan jy vry wegkom van haar. Maar 'n sondaar kan nie wegkom van haar nie. Die Prediker sê: Luister wat het ek uitgevind. Ek het oor alles gedink en ek het probeer om dinge te verstaan. Maar ek het nie gekry wat ek gesoek het nie. Ek het by 1 000 mense een goeie man gekry, maar ek het by hulle almal nie een goeie vrou gekry nie. Maar ek het een ding uitgevind: Ek het uitgevind dat God die mense goed gemaak het, maar die mense het sleg geword en hulle het baie skelm planne probeer maak.
PREDIKER 7:1-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N GOEIE naam is beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag. Dit is beter om te gaan na 'n klaaghuis as om te gaan na 'n huis van maaltyd; want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte neem. Om verdrietig te wees, is beter as om te lag; want as die gesig droewig is, gaan dit goed met die hart. Die hart van die wyse manne is in die klaaghuis, maar die hart van die dwase in die huis van vreugde. Dit is beter om te luister na die bestraffing van 'n wyse as dat 'n mens luister na die lied van die dwase. Want soos die geknetter van doringtakke onder 'n pot, so is die gelag van 'n dwaas. Dit is dan ook tevergeefs. Sekerlik, afpersing maak 'n wyse dwaas, en 'n geskenk bederwe die hart. Die einde van 'n saak is beter as sy begin; 'n lankmoedige is beter as 'n hoogmoedige. Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase. Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie. Wysheid is net so goed as 'n erfdeel en 'n voordeel vir die wat die son sien. Want wysheid is 'n beskutting, geld is 'n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe. Aanskou die werk van God, want wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het? Wees goedsmoeds op die dag van voorspoed, en op die dag van onheil, bedink dan: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie, daarom dat die mens ná sy dood niks meer sal ontdek nie. Alles het ek gesien in die dae van my nietigheid: daar is 'n regverdige wat ondanks sy regverdigheid omkom, en daar is 'n goddelose wat ondanks sy goddeloosheid lank lewe. Wees nie alte regverdig en hou jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy jouself te gronde rig? Wees nie alte goddeloos, en wees nie dwaas nie: waarom sou jy sterwe voor jou tyd? Dit is goed dat jy aan die een vashou en ook van die ander jou hand nie aftrek nie; want die wat God vrees, ontkom aan dit alles. Die wysheid versterk die wyse meer as tien maghebbers wat in die stad is; want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie. Jy moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie, sodat jy nie hoor dat jou dienaar jou vloek nie. Want jou eie hart weet ook van baie gevalle dat jy self ook ander gevloek het. Dit alles het ek met wysheid op die proef gestel; ek het gesê: Ek wil wys word, maar dit het ver van my gebly. Wat bestaan, is ver en baie diep; wie kan dit begryp? Ek het my daartoe gewend en my hart gerig om te weet en na te speur, en wysheid en 'n slotsom te soek, en om so die goddeloosheid as dwaasheid en die dwaasheid as onverstandigheid te leer ken. En ek het iets uitgevind bitterder as die dood: die vrou wat strikke is, haar hart nette, haar hande boeie; hy wat goed is voor die aangesig van God, sal van haar vryraak, maar die sondaar word deur haar gevang. Kyk, dit het ek uitgevind, sê die Prediker, deur die een by die ander te voeg, om 'n slotsom te vind — wat my siel lank gesoek het, maar wat ek nie gevind het nie: een mens uit duisend het ek gevind, maar 'n vrou het ek onder soveel nie gevind nie. Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.
PREDIKER 7:1-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Goeie naam is beter as reukolie, die sterfdag beter as die geboortedag. Dit is beter om na 'n huis toe te gaan waar daar gerou word as na 'n huis waar daar feesgevier word. Elkeen wat lewe, moet ter harte neem wat die uiteinde van die mens is. Droefheid is beter as lag; agter 'n somber gesig skuil 'n helder gees. Wie wysheid het, voel hom tuis waar daar gerou word, die dwaas voel hom tuis waar daar plesier is. Dit is beter om vermaan te word deur iemand wat wysheid het, as om besing te word deur 'n dwaas. Soos die geknetter van doringtakke onder 'n pot, so klink die gelag van 'n dwaas. Ook hier kom dit tot niks. Afpersing maak van 'n verstandige mens 'n dwaas, 'n omkoopgeskenk vernietig die goeie oordeel. 'n Voltooide taak is beter as een wat pas begin is. Geduld is beter as hoogmoed. Moenie gou kwaad word nie: dit is 'n dwaas wat gou kwaad word. Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie. Wysheid saam met besittings is goed; dit is 'n voordeel vir elkeen wat leef. Wysheid bied beskerming soos geld beskerming bied; kennis en wysheid verryk die lewe van hom wat dit besit. Kyk na die werk van God: wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het? Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar 'n dag van teëspoed kom, sien dit so: soos die een het God ook die ander gegee, sodat die mens nie sal weet wat vir hom voorlê nie. In my lewe wat tot niks gekom het nie, het ek alles gesien: 'n regverdige gaan onder al doen hy reg, 'n goddelose geniet 'n lang lewe, al doen hy verkeerd. Moet jou nie te regverdig wil hou nie, moenie aanspraak maak op meer wysheid as wat jy het nie; waarom jou eie ondergang soek? Moenie aanhou verkeerd doen nie, moenie dwaas wees nie; waarom voor jou tyd doodgaan? Dit is goed dat jy aan die een vermaning vashou en die ander ook nie laat los nie, want hy wat vir God dien, gehoorsaam altwee. Wysheid gee aan dié wat dit het, meer mag as wat tien maghebbers in 'n stad het. Daar is geen mens op aarde regverdig nie, niemand wat net goed doen en nie sondig nie. Moet jou nie steur aan alles wat gesê word nie. Dan sal jy jou dit nie aantrek as jou slaaf jou verwens nie. Jy weet hoe baie kere jy self ander verwens het. Ek het alles met die hulp van wysheid getoets. Ek wou wysheid bekom, maar dit het buite my bereik gebly. Die betekenis van wat gebeur, lê buite bereik, baie diep; wie kan dit vind? Ek het my opnuut daaraan gewy om te wete te kom, na te vors en te ondersoek wat wysheid en insig is, en ek het toe vasgestel dat goddelose optrede dwaasheid is, dat onverstandige optrede geen doel dien nie. Ek het gevind: 'n vrou wat strikke stel vir mans, is erger as die dood self. Haar bekoorlikheid is 'n vangnet, in haar arms is jy 'n gevangene. Wie voor God reg lewe, vermy haar, maar die sondaar laat hom deur haar vang. Dit het ek gevind, sê die Prediker, toe ek een en een bymekaargesit het om die regte insig te kry. Wat ek nog altyd soek, het ek nie gevind nie. Ek het wel uit duisend mense een betroubare man gevind, maar so 'n vrou het ek onder hulle nie gevind nie. Die één ding wat ek wel gevind het, is dit: God het die mense goed en opreg gemaak, tog het hulle hulle besig gehou met allerlei slimmighede.
PREDIKER 7:1-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Goeie naam is beter as goeie reukolie, en die sterfdag as die geboortedag. Dit is beter om te gaan na 'n huis waar gerou word, as om te gaan na 'n huis waar fees gevier word; want in 'n huis waar gerou word, eindig alle mense, en die lewende moet dit ter harte neem. Verdriet is beter as lag, want met 'n droewige gesig gaan dit goed met die hart. Die hart van wyses is in 'n huis waar gerou word, maar die hart van dwase is in 'n huis waar plesier is. Dit is beter om te luister na die vermaning van 'n wyse, as wanneer iemand luister na die lied van dwase. Want soos die geknetter van doringtakke onder 'n pot, so is die gelag van 'n dwaas. Ook dit is sinloos: dat afpersing 'n wyse dwaas maak, en 'n geskenk 'n hart vernietig. Die einde van 'n saak is beter as die begin daarvan; iemand wat lankmoedig is, is beter as iemand wat hoogmoedig is. Moenie in jou gees haastig wees om jou te vererg nie, want verdriet is tuis op die skoot van dwase. Moenie sê, “Waarom was die vroeëre dae beter as hierdie?” nie; want dit is nie uit wysheid dat jy daaroor vrae stel nie. Wysheid is goed saam met 'n erfporsie en is 'n voordeel vir dié wat die son sien; want die wysheid bied beskutting. Geld bied beskutting, maar die voordeel daarvan om die wysheid te ken, is: Die wysheid hou dié wat haar besit, lewend. Kyk na die werk van God: Wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het? As dit die dag goed gaan, geniet die voorspoed, maar as dit die dag sleg gaan, besef: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie een; gevolglik kan die mens nie enigiets ontdek wat in die toekoms wag nie. Dit alles het ek gesien in my sinlose lewensdae: Daar is 'n regverdige wat deur sy regverdigheid omkom; en daar is 'n goddelose wat deur sy goddeloosheid lank lewe. Moenie oordrewe regverdig wees of jouself besonder slim hou nie. Waarom moet jy jouself vernietig? Moenie oordrewe goddeloos wees nie, en moenie 'n dwaas wees nie. Waarom moet jy sterf voor jou tyd? Dit is goed dat jy aan die een vashou en ook nie jou hand aan die ander onttrek nie; want wie vir God eerbied het, ontkom aan dit alles. Die wysheid gee aan die wyse meer mag as tien heersers wat in die stad is; want daar is geen mens op aarde wat regverdig is, wat aanhou goed doen en nie sondig nie. Verder, moenie aandag gee aan alles wat mense sê nie, sodat jy nie hoor dat jou slaaf jou vervloek nie. Want jou hart weet ook van die vele kere toe ook jy ander vervloek het. Dit alles het ek met wysheid op die proef gestel. Ek het gesê, ek wil wys wees, maar dit het buite my bereik gebly. Wat gebeur, is ver en diep, baie diep – wie kan dit peil? Ek het my hart daaraan oorgegee om te ken en na te vors, om na wysheid en verklaring te soek, om die kwaad van onkunde, en die dwaasheid as domheid, te leer ken. En dan vind ek gewoonlik: Bitterder as die dood is die vrou wat vangnette is; wie se hart sleepnette, wie se hande boeie is. Hy wat goed is voor God, sal aan haar ontkom; maar hy wat verkeerd doen, word deur haar gevang. Kyk, dit is die wysheid wat ek gevind het, sê die prediker, by die een na die ander op soek na verklaring. Wat ek self bly soek het, maar nie gevind het nie, is: Een mens uit duisend het ek gevind, maar 'n vrou het ek tussen hulle almal nie gevind nie. Kyk, al wat ek kon vasstel, is dat God die mensdom reg geskape het, maar hulle is op soek na allerlei slim verklarings.
PREDIKER 7:1-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
'n Goeie naam is beter as kosbare salf; en die dag van dood as die dag van iemand se geboorte. Dit is beter om na die huis van rou te gaan as om na die huis van maaltyd te gaan; want dit is die einde van alle mense; en die lewende sal dit aan sy hart lê. Droefheid is beter as lag, want deur die droefheid van die aangesig word die hart beter. Die hart van die wyse is in die huis van rou; maar die hart van die dwase is in die huis van vrolikheid. Dit is beter om die teregwysing van die wyse te hoor as dat 'n man die gesang van die dwase hoor. Want soos die geknetter van dorings onder 'n pot, so is die gelag van die dwaas: ook dit is nietigheid. Waarlik, onderdrukking maak 'n wyse man kranksinnig; en 'n gawe vernietig die hart. Die einde van 'n ding is beter as die begin daarvan, en die geduldige van gees is beter as die hoogmoediges. Moenie haastig wees in jou gees om toornig te word nie, want toorn rus in die boesem van die dwase. Sê nie: Wat is die oorsaak dat die vorige dae beter was as hierdie nie? want jy vra nie wys hieroor nie. Wysheid is goed met 'n erfdeel, en daardeur is daar voordeel vir die wat die son sien. Want wysheid is 'n beskutting en geld is 'n beskutting, maar die voortreflikheid van kennis is dat wysheid lewend maak aan die wat dit het. Kyk na die werk van God, want wie kan dit regmaak wat Hy krom gemaak het? Wees bly op die dag van voorspoed, maar let op in die dag van teëspoed: God het ook die een teenoor die ander gestel, sodat die mens niks ná hom sou vind nie. Alles het ek gesien in die dae van my nietigheid: daar is 'n regverdige wat in sy geregtigheid omkom, en daar is 'n goddelose wat sy lewe in sy boosheid verleng. Wees nie regverdig oor veel nie; en maak jou nie wys nie. Waarom sou jy jouself vernietig? Wees nie te veel goddeloos nie en wees nie dwaas nie; waarom sou jy voor jou tyd sterwe? Dit is goed dat jy dit vashou; ja, trek ook u hand nie hieruit terug nie, want hy wat God vrees, sal uit hulle almal uitgaan. Wysheid versterk die wyse meer as tien helde wat in die stad is. Want daar is nie 'n regverdige mens op aarde wat goed doen en nie sondig nie. Neem ook nie ag op al die woorde wat gespreek word nie; dat jy nie hoor dat jou dienaar jou vloek nie. Want dikwels weet jou eie hart ook dat jy self ook ander vervloek het. Dit alles het ek met wysheid beproef: Ek het gesê: Ek sal wys wees; maar dit was ver van my af. Dit wat ver en baie diep is, wie kan dit uitvind? Ek het my hart toegepas om te weet en te ondersoek en om wysheid en die rede van dinge te soek, en om die boosheid van dwaasheid, ja, dwaasheid en dwaasheid te ken. En ek vind bitterder as die dood die vrou wie se hart strikke en nette is en haar hande soos bande; wie God behaag, sal van haar ontvlug; maar die sondaar sal deur haar gevang word. Kyk, dit het ek gevind, sê die prediker, terwyl ek een vir een tel, om die verslag uit te vind: Wat my siel nog soek, maar ek vind nie; een man onder duisend het ek gevind; maar 'n vrou onder almal het ek nie gevind nie. Kyk, dit alleen het ek gevind, dat God die mens opreg gemaak het; maar hulle het baie uitvindsels gesoek.
PREDIKER 7:1-29 Die Boodskap (DB)
’n Goeie naam is beter as lekkerruikgoed, en die sterfdag beter as die geboortedag. Dit is beter om na ’n plek van rou te gaan as na ’n plek waar mense partytjie hou. Elkeen se sterfdag wag vir hom. Daarmee moet die mens rekening hou. Hartseer is beter as om te lag. Agter ’n strak gesig skuil soms ’n diep insig in die lewe. Iemand wat net geluk najaag, is dwaas. ’n Wyse weet geluk is onmoontlik. Daarom dink hy baie aan die einde. Dit is beter dat wyse mense jou kritiseer as dat dommes heeltyd jou lof besing. Soos die knetterklanke van brandhout in ’n vuur, so klink die gelag van ’n dwaas. Dit is sinloos en irriteer ’n mens net. Iemand wat dink hy is wys, maar ander afpers, is dwaas. En ’n omkoopgeskenk kan jou vernietig. Die einde van ’n saak is baie beter as die begin. En geduld is beter as om vol van jouself te wees. Beheer jouself en moenie jou humeur verloor nie; dit is net dwase mense wat so maak. Moet nooit vra waarom dit in die goeie ou dae beter was as nou nie, want dit is nie ’n goeie vraag nie. Om baie te besit en ook te weet hoe om reg te leef is wonderlik. Geld kan jou baie help, so ook die insig om reg te leef. Insig is beter, want dit kan jou ook gelukkig maak. Kyk na God se werk in die wêreld. Wie kan reguit buig wat Hy krom gemaak het? God laat die goeie en die slegte gebeur. Of dit goed of sleg gaan, onthou, albei kom van God af. Niemand weet wat môre of oormôre gaan gebeur nie. In my sinlose lewe het ek gesien dat goeie mense vroeg doodgaan, terwyl slegte mense lank leef. Dit maak nie eintlik saak of jy goed of sleg leef nie. Moet daarom nie te goed of te regverdig wil wees nie, want jy kan jouself vernietig. Moet ook nie te sleg of te onregverdig leef nie, want dan kan jy dalk te vroeg doodgaan. Kry ’n middeweg, anders word die lewe ondraaglik. Leef met respek vir God, dan sal jy weet hoe om te leef. Wysheid en die insig hoe om reg te leef maak ’n mens sterker as die magtigste leiers. Niemand doen net goed sonder om ook verkeerd te doen nie. Moenie na alle skinderpraatjies luister nie, want dan moet jy dalk jou werkers se beledigings aanhoor. Onthou, jy het ook al baie keer mense beskinder en beledig. Ek het al my kennis en insig gebruik om die lewe te verstaan, maar ek kon nie. Wie weet wat die sin van die lewe is? Dit is te moeilik vir ’n mens om te ontdek. Ek het toe weer begin studeer en navorsing oor wysheid en dwaasheid gedoen. Ek wou weet hoe ’n mens moet leef en wat die gevolg van ’n slegte lewe is. Ek het wel iets ontdek wat erger as die dood is. En dit is dat ’n slegte vrou soos ’n valstrik is. Haar hart is soos ’n vangnet en haar hande soos boeie. As God van jou hou, sal jy van haar kan ontsnap, maar die dwaas val in haar strikke. Al hierdie kennis en insig het ek stukkie vir stukkie gekry toe ek die lewe bestudeer het. Daar is nog iets wat ek gesien en waarop ek geen antwoord het nie. En dit is dat jy dalk nog ’n goeie man tussen duisend mense sal kry, maar nie so ’n vrou nie. Ek het tot die slotsom gekom dat God die mens maar ’n eenvoudige wese gemaak het, maar dat hy altyd moeilike vrae vra.
PREDIKER 7:1-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Goeie naam is beter as goeie reukolie, die dag van sterwe beter as die geboortedag. Dis beter om na ’n huis te gaan waar gerou word. Die dood is elkeen se bestemming. En elkeen wat nog lewe, kan dit ter harte neem. Droefheid is beter as om te lag; ’n droewige gebeurtenis laat ’n mens dikwels goed nadink. Die gemoed van die wyse voel tuis waar daar gerou word. Die dwase se gemoed voel tuis waar daar plesier is. Dis beter om ag te slaan op die kritiek van iemand wat wys is, as om te luister na die lied van dwase mense. Soos die geknetter van doringtakke onder ’n pot, so klink die gelag van ’n dwaas. Dit alles is sinloos. Afpersing maak ’n verstandige ’n dwaas. ’n Omkoopgeskenk vernietig goeie oordeel. ’n Taak wat voltooi is, is beter as die begin. Geduld is beter as hoogmoed. Moenie gou kwaad word nie; ergernis hoort by dwase. Moenie sê: “Waarom was die ou dae beter as die huidige?” nie. Dit is nie uit wysheid dat jy daaroor vra nie. Wysheid is net so goed as ’n erfdeel; dit help hulle wat nog die son sien. Wysheid beskerm jou soos geld beskerming bied. Maar die voordeel van kennis is dat wysheid die lewe van hom wat dit besit, beskerm. Kyk hoe God te werk gaan: Wie kan iets reguit maak wat Hy krom gemaak het? Geniet die dag van voorspoed. Maar wanneer teëspoed kom, onthou, God gee die een sowel as die ander sodat die mens nie sal weet wat met hom sal gebeur nie. In my lewe van sinloosheid het ek alles gesien: Die regverdige gaan dood, al doen hy wat reg is; ’n bose mens geniet ’n lang lewe, al doen hy verkeerd. Moenie te regverdig lewe nie. Moenie aanspraak maak op meer wysheid as wat jy het nie. Hoekom wil jy jouself vernietig? Moet ook nie te goddeloos lewe nie. Moenie ’n dwaas wees nie! Hoekom moet jy voortydig doodgaan? Dit is goed om een vas te hou en die ander nie te los nie. Hy wat vir God respekteer, ontkom aan albei. Wysheid versterk ’n wyse met meer mag as wat tien belangrike leiers in ’n stad het. Want daar is niemand op aarde wat regverdig is nie, niemand wat net goeddoen en nooit sondig nie. Moenie jou steur aan alles wat mense sê nie. Dalk hoor jy hoe jou werknemer jou verwens! Jy onthou immers hoe dikwels jy self ander verwens het. Ek het dit alles met die hulp van wysheid getoets. Ek wou regtig wys wees, maar kon dit nie regkry nie. Wat wysheid ook al is, dit lê buite bereik en baie diep. Wie kan dit vind? Ek het alles moontlik probeer om te wete te kom, na te vors en te ondersoek wat wysheid en insig is, en om die dwaasheid van goddeloosheid te verstaan, en dwaasheid as malligheid te ken. Wat ek wel gevind het, is dat ’n vrou wat verlei, bitterder is as die dood. Haar hart is ’n gevaarlike vangnet. Haar hande is boeie. Wie voor God goed is, vermy haar, maar die sondaar word deur haar gevang. “Dis wat ek geleer het,” sê die Prediker, “toe ek een en een bymekaargetel het om die regte insig te kry. Wat ek nog altyd gesoek het, het ek nie gevind nie. Ek het wel een man uit duisend gevind. Maar só ’n vrou het ek nie onder al dié gevind nie. Die één ding wat ek wel gevind het, is dit: God het die mense goed en opreg gemaak, maar hulle het allerlei slimmighede gesoek.”