DEUTERONOMIUM 7:6-8
DEUTERONOMIUM 7:6-8 Bybel vir almal (ABA)
Hoekom? Julle moet dit doen omdat julle die gewyde volk van julle God die Here is. Dit is vir júlle wat julle God die Here gekies het uit die al die volke op die aarde, Hy het júlle gekies om sy eie volk te wees. Die Here het lief geword vir julle en Hy het julle gekies, nie omdat julle 'n groter volk as ander volke was nie, julle was kleiner as al die ander volke. Nee, die Here het julle gekies omdat Hy lief was vir julle en omdat Hy wou doen wat Hy vir julle voorvaders belowe het. Dit is hoekom die Here julle met sy groot krag gebring het uit die land waar julle slawe was, Hy het julle losgekoop van die farao, die koning van Egipte.
DEUTERONOMIUM 7:6-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want jy is 'n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met 'n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.
DEUTERONOMIUM 7:6-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jy is 'n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees. “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met 'n eed bekragtig het aan jou voorvaders, het Hy jou deur sy groot krag laat wegtrek en jou bevry uit die plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte.
DEUTERONOMIUM 7:6-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
want jy is 'n heilige volk vir die HERE jou God. Vir jou het die HERE jou God gekies uit al die volke op aarde om as volk sy persoonlike eiendom te wees. “ Dit is nie omdat julle groter was as al die ander volke dat die HERE Hom aan julle verbind en julle uitgekies het nie – julle was immers die kleinste van al die volke. Nee, dit is omdat die HERE julle liefgehad het en omdat Hy gebly het by die eed wat Hy vir julle voorvaders afgelê het dat die HERE julle met 'n sterk hand laat wegtrek en julle vrygekoop het uit 'n plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte.
DEUTERONOMIUM 7:6-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want jy is 'n heilig volk aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om vir Hom 'n besondere volk te wees, bo al die volke wat op die aarde is. Die HERE het julle nie liefgehad en julle nie uitgekies nie, omdat julle meer was as al die volke; want julle was die geringste van alle mense. Maar omdat die HERE julle liefgehad het en omdat Hy die eed sou hou wat Hy aan julle vaders gesweer het, het die HERE julle met 'n sterke hand uitgelei en julle verlos uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte.
DEUTERONOMIUM 7:6-8 Die Boodskap (DB)
Doen dit, want jy behoort aan die Here. Van al die volke op die aarde het die Here jou gekies en jou sy spesiale eiendom gemaak. Jy moet daarom anders as die ander volke leef. Die Here het jou nie liefgekry omdat jy belangrik is of omdat jy sterker as die ander volke is nie. Jy was eintlik die swakste en die geringste van almal. Die Here het jou gekies bloot omdat Hy lief is vir jou. Hy het aan sy beloftes aan Abraham, Isak en Jakob gedink. Dit is waarom Hy jou ook uit Egipte, waar jy baie swaargekry het, gaan haal het.”
DEUTERONOMIUM 7:6-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jy is immers ’n heilige volk wat aan die HERE jou God behoort. Die HERE jou God het jou uit al die volke op aarde gekies om sy eiendomsvolk te wees. “Die HERE het jou nie gekies of liefgehad omdat jy meer of groter was as die ander nasies nie. Trouens, jy was die kleinste van al die nasies! Dit was net omdat die HERE jou liefgehad het en omdat Hy die eed wat Hy gesweer het aan jou voorouers nagekom het. Dit is die rede waarom die HERE jou met sulke verstommende krag gered het uit die slawerny onder die farao in Egipte.