DEUTERONOMIUM 31:1-6
DEUTERONOMIUM 31:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Moses het met al die Israeliete gaan praat. Hy het vir hulle gesê: “Ek is vandag 120 jaar oud. Ek kan nie meer goed loop nie. En die Here het vir my gesê ek sal nie oor hierdie Jordaan-rivier gaan nie. Julle God die Here sal self voor julle oor die rivier gaan, Hy sal hierdie volke laat sterf om plek te maak vir julle, en julle sal hulle land vat. Josua sal voor julle oor die rivier gaan, soos die Here gesê het. Die Here sal aan hierdie volke doen wat Hy gedoen het aan die Amoriete se konings Sihon en Og, en aan hulle land, Hy het hulle almal laat sterf. Die Here sal julle laat wen teen hierdie volke, en julle moet alles met hulle doen wat ek vir julle gesê het. Julle moet sterk en dapper wees, julle moenie bang wees nie, julle moenie skrik vir hulle nie, want julle God die Here gaan self saam met julle, Hy sal julle help en Hy sal julle nie alleen los nie.”
DEUTERONOMIUM 31:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAARNA het Moses gegaan en die hele Israel met hierdie woorde toegespreek en vir hulle gesê: Ek is vandag honderd-en-twintig jaar oud; ek kan nie meer uit- en ingaan nie, en die HERE het vir my gesê: Jy mag deur hierdie Jordaan nie gaan nie. Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het. En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het; die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het. Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.
DEUTERONOMIUM 31:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moses het met die hele Israel gaan praat en vir hulle gesê: “Ek is nou honderd en twintig jaar oud, ek kan nie meer gaan oorlog maak nie. Die Here het vir my gesê: ‘Jy mag nie deur die Jordaan trek nie.’ Die Here julle God sal voor julle uit deur die Jordaan trek en Hy sal hierdie nasies voor julle uitroei sodat julle hulle gebied in besit sal neem. Josua sal julle deurlei, soos die Here beloof het. Die Here sal met hierdie nasies doen soos Hy gedoen het met die Amoritiese konings Sihon en Og en met hulle land toe Hy hulle uitgeroei het. Die Here sal hierdie nasies in julle mag oorgee, en julle moet met hulle alles doen wat ek julle beveel het. Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”
DEUTERONOMIUM 31:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moses het toe gegaan en hierdie woorde aan die hele Israel oorgedra. Hy het ook vir hulle gesê: “Ek is nou honderd-en-twintig jaar oud. Ek kan nie meer uittrek en terugkeer nie, en die HERE self het vir my gesê, ‘Jy mag nie hierdie Jordaan oorsteek nie.’ Die HERE jou God gaan voor jou oortrek; dit is Hy wat daardie nasies voor jou sal uitdelg en verdryf. Josua gaan ook voor jou oortrek, soos die HERE gesê het. Die HERE sal aan hulle doen wat Hy aan Sihon en Og, die konings van die Amoriete, en hulle land gedoen het toe Hy hulle uitgedelg het. Die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet teen hulle optree ooreenkomstig elke gebod wat ek julle beveel het. Wees dapper en sterk; moenie bang wees nie en moenie vir hulle skrik nie, want die HERE jou God, Hy is die Een wat saam met jou gaan; Hy sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie.”
DEUTERONOMIUM 31:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Moses het gegaan en hierdie woorde aan die hele Israel gespreek. En hy sê vir hulle: Ek is vandag honderd-en-twintig jaar oud; Ek kan nie meer uit- en ingaan nie; ook het die HERE vir my gesê: Jy mag nie deur hierdie Jordaan trek nie. Die HERE jou God, Hy sal voor jou uit oortrek, en Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle in besit neem; en Josua, hy sal voor jou uit trek, soos die HERE gespreek het. En die HERE sal met hulle doen soos Hy gedoen het met Sihon en Og, die konings van die Amoriete, en met die land van hulle wat Hy vernietig het. En die HERE sal hulle voor julle aangesig oorgee, dat julle aan hulle kan handel volgens al die gebooie wat Ek julle beveel het. Wees sterk en vol moed, bevrees nie en wees nie vir hulle bevrees nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou gaan; Hy sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie.
DEUTERONOMIUM 31:1-6 Die Boodskap (DB)
Moses het al hierdie dinge vir die mense van Israel gesê. Hy het ook nog gesê: “Ek is nou 120 jaar oud, ’n ou man. Ek kan nie langer julle leier wees nie. In elk geval, die Here het vir my gesê dat ek nie saam met julle as volk oor die Jordaan sal trek nie. Maar die Here julle God sal wel saam met julle gaan. Hy trek voor julle uit deur die Jordaan. En Hy gaan die nasies in die land waarheen julle trek, vernietig. Julle sal daardie land vir julleself gaan vat. Julle gaan daar bly. Josua is van nou af julle leier. Hy gaan saam met julle. Hy sal julle lei, net soos die Here belowe het. Die Here gaan al die nasies wat nou in daardie land bly, vernietig. Hy sal met hulle maak wat Hy met die Amoritiese konings Sihon en Og gemaak het. Die Here sal al hierdie nasies vir julle gee. Jy sal hulle oorwin. En dan moet julle met hulle maak soos ek vir julle verduidelik het. “Wees sterk! Wees dapper en vol geloofsvertroue! Moenie bang wees vir al hierdie mense nie! Die Here jou God trek voor julle uit. Hy sal julle vyande verslaan. Hy sal julle nie in die steek laat nie. Julle is nie alleen nie. Die Here is saam met julle!”
DEUTERONOMIUM 31:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses het verder met die hele Israel gepraat en gesê: “Ek is nou 120 jaar oud en is nie meer in staat om julle te lei nie. Die HERE het vir my gesê dat ek nie die Jordaanrivier mag oorsteek nie. Die HERE julle God sal self voor julle uit deur die Jordaanrivier trek. Hy sal die nasies daar vernietig en julle sal hulle land in besit neem. Josua is julle nuwe leier en hy sal saam met julle gaan, net soos die HERE beloof het. Die HERE sal daardie nasies vernietig net soos Hy vir Sihon en Og, die konings van die Amoriete, vernietig het. Die HERE sal hulle in julle hand oorgee en julle moet met hulle maak soos ek julle beveel het. Wees sterk en hou moed! Moenie vir hulle bang wees nie! Die HERE julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.”