DEUTERONOMIUM 30:9-10
DEUTERONOMIUM 30:9-10 Bybel vir almal (ABA)
Julle God die Here sal dit baie goed laat gaan met alles wat julle doen. Julle self en julle diere en julle grond sal vrugbaar wees, want dit sal weer lekker wees vir die Here om goed te doen aan julle, soos dit ook vir Hom lekker was om goed te doen aan julle voorvaders. Maar dan moet julle gehoorsaam wees aan julle God die Here, julle moet doen wat sy wette sê, die wette wat in hierdie wetboek geskryf is. Julle moet met julle hele hart terugkom na julle God die Here.
DEUTERONOMIUM 30:9-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die HERE jou God sal die goeie aan jou oorvloedig gee in al die werk van jou hand, in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land; want die HERE sal weer oor jou ten goede bly wees soos Hy bly was oor jou vaders, as jy na die stem van die HERE jou God luister om sy gebooie en sy insettinge te hou wat in hierdie wetboek geskrywe is; as jy jou tot die HERE jou God bekeer met jou hele hart en met jou hele siel.
DEUTERONOMIUM 30:9-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy aanpak en Hy sal jou kinders, die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land baie maak, sodat dit met jou goed sal gaan. Wanneer jy die Here jou God gehoorsaam en sy gebooie en voorskrifte nakom wat opgeteken is in hierdie wetboek, en wanneer jy met hart en siel terugkom na die Here jou God, sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan.
DEUTERONOMIUM 30:9-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE jou God sal aan jou ryke oorvloed skenk: in al jou handewerk, in die vrug van jou liggaam, die vrug van jou diere en die vrug van jou grond. Ja, die HERE sal Hom weer tot jou voordeel oor jou verheug soos Hy Hom oor jou voorouers verheug het, as jy net sal luister na die stem van die HERE jou God, deur sy gebooie en vaste voorskrifte wat op hierdie •boekrol met die wet geskryf staan, na te kom; as jy met hart en siel sal terugkeer na die HERE jou God.
DEUTERONOMIUM 30:9-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die HERE jou God sal jou oorvloedig maak in elke werk van jou hand, in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrug van jou land, ten goede; want die HERE sal weer oor jou bly wees ten goede, soos hy bly was oor jou vaders. As jy luister na die stem van die HERE jou God om sy gebooie en sy insettinge te onderhou wat in hierdie wetboek geskrywe is, en as jy jou tot die HERE jou God bekeer met jou hele hart en met jou hele siel.
DEUTERONOMIUM 30:9-10 Die Boodskap (DB)
Dan sal die Here jou God jou weer voorspoedig maak in alles wat jy doen. Hy sal vir jou baie kinders gee. En Hy sal vir jou baie skape en beeste gee. Jy sal rekordoeste op jou lande hê. Want dis vir die Here lekker as jy doen wat Hy vir jou sê. Hy is bly en opgewonde oor jou as jy haarfyn alles doen wat in hierdie boek opgeteken staan. Daarom, draai terug na die Here toe. Loop agter Hom aan met alles wat in jou is.”
DEUTERONOMIUM 30:9-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy doen. Hy sal vir jou baie kinders gee, jy sal baie diere hê en jou landerye sal oorvloedige oeste oplewer. Die HERE sal Hom daarin verbly en jou voorspoedig maak soos met jou voorouers. Dit sal gebeur as jy die HERE jou God gehoorsaam, sy opdragte en voorskrifte nakom soos dit in die boek van die gebooie geskryf is, en as jy met hart en siel na die HERE jou God terugkeer.”