DEUTERONOMIUM 18:15-19
DEUTERONOMIUM 18:15-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“'n Profeet uit jou midde, iemand uit jou volksgenote soos ek, sal die HERE jou God vir jou laat opstaan; na hom moet julle luister. Dit is eintlik wat jy van die HERE jou God by Horeb op die dag van die byeenkoms gevra het, toe jy gesê het, ‘Ek kan nie langer na die stem van die HERE my God luister en ook nog na hierdie groot vuur bly kyk nie – ek wil nie sterf nie.’ Die HERE het toe vir my gesê, ‘Wat hulle sê is goed, Ek sal vir hulle uit hulle volksgenote 'n profeet soos jy laat opstaan, en Ek sal my woorde in sy mond lê. Hy sal vir hulle alles sê wat Ek hom beveel. En van die persoon wat nie luister na my woorde wat hy in my Naam sê nie, sal Ek self rekenskap eis.
DEUTERONOMIUM 18:15-19 Die Boodskap (DB)
“Die Here jou God sal iemand onder jou volk stuur wat vir julle sal sê wat die Here wil hê julle moet weet, net soos Hy my gestuur het. Julle moet luister as hierdie man met julle praat, want hy sê wat hy van my hoor. Dis mos wat julle daar by die berg Horeb ernstig vir die Here gevra het toe julle voor Hom bymekaar was. Julle het mooi gevra dat Hy nooit weer self met julle moet praat nie. Of dat Hy Homself weer in die vuur vir julle moet wys nie, want julle was bang dat julle sal doodgaan as Hy self met julle kom praat. “Daar het die Here vir my gesê: ‘Goed, Ek sal maak soos hierdie klomp mense vir My gevra het. Ek sal iemand stuur om vir julle te sê wat Ek julle beveel. Hy sal alles vir die volk kom vertel wat Ek hom beveel. As een van julle nie wil luister wat hierdie man vir julle sê nie, sal hy met My self te doen kry. Ek sal self met hom afreken!
DEUTERONOMIUM 18:15-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Die HERE jou God gaan vir jou ’n profeet na vore laat kom, iemand uit jou mede-Israeliete, soos ek. Luister na daardie profeet. Dit is wat jy van die HERE jou God gevra het toe jy by Sinaiberg bymekaar was: ‘Ons kan nie langer na die stem van die HERE jou God luister of na die groot vuur kyk nie, anders gaan ons sterf.’ “Die HERE het toe vir my gesê: ‘Dit is goed so. Ek sal doen wat hulle vra. Ek sal ’n profeet soos jy onder die mede-Israeliete na vore laat kom. Ek sal die profeet voorsê wat om te sê en hy sal die volk alles vertel wat Ek hom beveel. Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie luister na die boodskappe wat die profeet namens My verkondig nie.
DEUTERONOMIUM 18:15-19 Bybel vir almal (ABA)
“Julle God die Here sal een van julle stuur om 'n profeet te wees soos ek. Julle moet luister na daardie profeet. Julle het dit vir julle God die Here gevra by Horeb-berg toe julle daar bymekaar was. Julle het gesê: ‘Ons wil nie weer die stem van ons God die Here hoor nie, ons wil nie weer hierdie groot vuur sien nie, want dan sal ons sterf.’ “Die Here het toe vir my gesê: ‘Hulle is reg, Ek sal vir hulle 'n profeet stuur, die profeet sal een van hulle eie mense wees. Ek sal vir hom sê wat hy moet sê, en hy sal vir hulle alles sê wat Ek vir hom sê. En Ek sal self die persoon straf wat nie luister na wat Ek sê wanneer Ek die profeet stuur nie.
DEUTERONOMIUM 18:15-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PROFEET uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister — net soos jy van die HERE jou God by Horeb gevra het toe jy op die dag van die vergadering gesê het: Ek kan die stem van die HERE my God nie langer hoor en hierdie groot vuur nie meer sien nie, anders sterf ek. Toe het die HERE vir my gesê: Dit is goed wat hulle gespreek het. 'n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.
DEUTERONOMIUM 18:15-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Die Here jou God sal 'n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam. Dit sal wees soos destyds toe die gemeente by Horeb bymekaargekom het en jy vir die Here jou God gesê het: ‘Ek kan nie weer 'n keer die stem van die Here my God aanhoor en weer na die groot vuur kyk nie, want dan sterf ek.’ “Toe het die Here vir my gesê: ‘Wat hulle gesê het, is reg. Ek sal 'n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie.
DEUTERONOMIUM 18:15-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die HERE jou God sal vir jou 'n profeet verwek uit jou midde, uit jou broers, soos ek; na Hom moet julle luister; Volgens alles wat jy op die dag van die vergadering van die HERE jou God by Horeb begeer het deur te sê: Laat my nie weer die stem van die HERE my God hoor nie, en laat my nie meer hierdie groot vuur sien nie, dat ek nie sterwe nie. En die HERE het vir my gesê: Hulle het goed gespreek wat hulle gespreek het. Ek sal vir hulle 'n profeet verwek uit die midde van hulle broers, soos jy, en Ek sal my woorde in sy mond lê; en hy sal met hulle spreek alles wat Ek hom sal beveel. En dit sal gebeur dat elkeen wat nie luister na my woorde wat hy in my Naam sal spreek nie, Ek sal dit van hom eis.