DANIËL 8:1-19
DANIËL 8:1-19 Die Boodskap (DB)
In die derde jaar dat Belsasar koning was, het ek nog ’n visioen gesien. In hierdie visioen het ek myself skielik in die hoofstad Susan in die provinsie Elam bevind. Ek het langs die Ulairivier gestaan. Toe ek opkyk, sien ek ’n skaapram met twee lang horings daar langs die rivier staan. Een van die horings was langer as die ander een, al het dit ná die eerste een begin groei. Ek het gesien hoe die ram na die weste en die noorde en die suidekant toe alles wat voorkom uit die pad stamp met sy horings. Daar was nie ’n dier wat sterk genoeg was om teen hom te veg of vir hom kon wegvlug nie. Hy het gedoen net wat hy wil en het al hoe sterker geword. Terwyl ek nog hieroor staan en dink, kom daar uit die weste ’n bokram wat so vinnig beweeg het dat sy pote nie eens die grond geraak het nie. Ek het gesien hy het net een horing wat tussen sy oë sit. Hy was op pad na die skaapram wat ek langs die rivier sien staan het. Die volgende oomblik het hy die skaapram in sy woede stormgeloop en hom so hard gestamp dat al twee sy horings afgebreek het. Dit het hom heeltemal hulpeloos gemaak. Toe het die bokram hom platgestamp en hom met sy pote begin vertrap sonder dat iemand hom kon help. Die bokram het al hoe sterker geword. Maar toe hy op sy heel sterkste was, is sy groot horing afgebreek. In die plek daarvan het daar vier ander groot horings uitgegroei wat elkeen in ’n ander windrigting gewys het. Uit een van hierdie groot horings het daar ’n kleiner horinkie gekom wat baie sterk geword het. Sy krag het suid- en ooswaarts uitgebrei en ook in die rigting van die wonderlike land van Israel. So magtig het hy geword dat hy selfs die hemel met sy magte aangedurf het. Hy was so sterk dat hy die sterre op die aarde neergegooi en hulle toe vertrap het. Hy het selfs die Aanvoerder van die hemelse weermag se gesag uitgedaag. Hy het die daaglikse offers wat vir Hom gebring is, verbied en sy tempel vernietig. In plaas daarvan dat die mense hulle daaglikse offers gebring het, het hulle verkies om in sonde te leef. Hulle het die wetboek van die Here onder hulle voete vertrap en leuens links en regs vertel. Alles wat hierdie horing aangepak het, was suksesvol. Ek het toe twee hemelwesens met mekaar hoor praat. Die een het vir die ander een gevra: “Hoe lank gaan die gebeure in die visioen aanhou: die mense wat in sonde leef in plaas daarvan dat hulle die daaglikse offers bring, die tempel wat deur sonde besoedel word en die hemelse weermag wat so vertrap word?” Die een het toe geantwoord: “Na 2 300 aande en oggende sal die tempel weer ’n plek word waar God gedien word.” Ek was nog besig om te dink wat die visioen beteken toe daar skielik iemand wat soos ’n man lyk, voor my staan. Toe hoor ek ’n stem uit die Ulairivier wat sê: “Gabriël, sê vir Daniël wat die visioen beteken wat hy gesien het!” Gabriël het langs my kom staan, maar ek het so bang geword dat ek op die grond neergeval het. Hy sê toe vir my: “Klein mensie, jy moet verstaan dat die dinge wat jy gesien het, te make het met die laaste dae op aarde.” Ek het bewusteloos geraak en inmekaargesak terwyl hy met my gepraat het. Maar hy het aan my geraak en ek kon weer regop staan. Toe sê hy vir my: “Ek is hier om jou te wys hoe God se oordeel gaan wees, want wat jy gesien het, het te make met die laaste dae op aarde.
DANIËL 8:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die derde jaar van koning Belsasar se regering, het ek, Daniël, ná die eerste visioen nog een gesien. Ek het gesien ek staan by die paleis in Susan in die provinsie Elam langs die Ulairivier. Toe ek opkyk, sien ek ’n ram by die Ulai staan. Hy het twee horings gehad. Die een was langer as die ander een, al het dit eers ná die ander een begin uitgroei. Hy het met sy horings gestoot na die weste, die noorde en die suide toe. Niemand kon teenstand teen hom bied nie. Niks kon van hom ontsnap nie. Hy het gedoen net wat hy wou en het al sterker geword. Terwyl ek stip staan en kyk, kom ’n bok vanuit die weste oor die aarde sonder om iewers grond te raak. Hy het ’n opvallende groot horing tussen sy oë gehad. Hy het met geweld afgestorm op die ram met twee horings wat ek by die rivier sien staan het. Ek het gesien hoe hy die ram met geweld tref en sy twee horings afbreek. Die ram was nie teen hom opgewasse nie. Hy het die ram teen die grond geslinger en dit onder sy hoewe vertrap. Daar was niemand om die ram uit die bok se mag te red nie. Die bok het buitengewoon sterk geword. Op die hoogtepunt van sy krag is sy groot horing egter afgebreek. In die plek daarvan het vier opvallende horings uitgekom. Dit het in al vier windrigtings gewys. Uit een van hulle het ’n klein horinkie gekom wat kragtig na die suide, die ooste en na die mooi land van Israel uitgegroei het. Dit het met krag opgetrek teen die magte van die hemel en sommige van hulle, asook sommige van die sterre teen die grond gegooi en vertrap. Hy het selfs die Aanvoerder van die hemelse magte aangedurf. Hy het die gereelde offer wat vir God gebring word tot niet gemaak en sy tempel verwoes. Deur sy verkeerde optrede is die hemelse magte aan hom uitgelewer, die gereelde offer opgehef en die waarheid in die grond vertrap. Hy was voorspoedig in alles wat hy gedoen het. Ek het in ’n gesprek tussen twee heiliges die een vir die ander hoor vra: “Hoe lank hou die visioen aan, die visioen van die daaglikse offer, die opstand wat verwoes en die heiligdom en hemelse mag wat vertrap word?” Die ander een het geantwoord: “2 300 dae dan sal die heiligdom weer gewy word.” Terwyl ek, Daniël, nagedink het oor die visioen wat ek gesien het, het daar skielik iemand voor my kom staan wat soos ’n man lyk. Ek het langs die Ulairivier ’n mens se stem hoor roep wat sê: “Gabriël, verduidelik tog vir hierdie man wat die gesig beteken!” Hy het na die plek toe gekom waar ek gestaan het. Toe hy naderkom, het ek so bang geword dat ek vooroor geval het. Hy het vir my gesê: “Jy moet verstaan, mens, dat die visioen te doen het met die eindtyd.” Terwyl hy besig was om met my te praat, het ek flou op die grond neergeval. Hy het aan my gevat en my op my voete gehelp. Hy sê toe vir my: “Ek lig jou in oor waarheen God se verontwaardiging gaan lei. Dit gaan oor die eindtyd.
DANIËL 8:1-19 Bybel vir almal (ABA)
Ek, Daniël, het weer iets gesien. Dit was in die derde jaar nadat Belsassar koning geword het. Ek het gedroom ek is in Susan, die stad in die provinsie Elam, die stad wat sterk mure het. Ek het gedroom ek is by die Ulai-rivier. Ek het gesien daar staan 'n skaap-ram by die rivier en die skaap-ram het horings. Een horing was langer as die ander horing. Die kort horing het eerste begin groei, en toe het die lang horing begin groei. Ek het gesien die skaap-ram stamp met sy horings na die weste en na die noorde en na die suide. Die diere kon nie voor hom bly staan nie en niemand kon hom keer nie. Die skaap-ram het gedoen wat hy wil, en hy het groot en sterk geword. Ek het gekyk, en toe kom daar 'n bok-ram uit die weste. Hy het baie vinnig oor al die lande gehardloop, hy het nie aan die grond geraak nie. Tussen sy oë was 'n lang horing. Die bok-ram het gekom tot by die ram met die twee horings, die skaap-ram wat ek by die rivier gesien staan het. Die bok-ram het na die skaap-ram toe gehardloop so vinnig soos hy kon. Ek het gesien die bok-ram kom by die skaap-ram en hy stamp die skaap-ram en breek sy twee horings. Die skaap-ram kon nie bly staan nie. Die bok-ram het hom op die grond gegooi en op hom getrap. Niemand kon die bok-ram keer nie. Die bok-ram het baie sterk geword, maar toe hy baie sterk was, het sy groot horing afgebreek. Vier lang horings het uitgekom op die plek waar die groot horing was, een horing na die ooste toe, een na die suide, een na die weste, en een na die noorde. Uit een van hierdie horings het nog 'n horing begin groei. Die horing was eers klein, maar hy het baie groot geword na die suide en na die weste en na die pragtige land toe. Die horing het so sterk geword dat hy die soldate van die hemel aangeval het. Die horing het party van die soldate op die grond laat val en hy het op hulle getrap. Die horing het gedink hy is belangriker as God, die Hoof van die soldate van die hemel. Die horing het vir die priesters gesê hulle moenie elke dag vir God offers bring nie, en hy het die gewyde woonplek van God verwoes. Hy het gesê die priesters moenie die offers bring wat God gevra het nie, hulle moet ander offers bring. Die horing het gedoen wat hy wil. Ek, Daniël, het gehoor 'n heilige engel praat, en hy vra vir 'n ander heilige engel: “Hoe lank sal die dinge aanhou gebeur wat Daniël gesien het? Wanneer sal die mense weer elke dag mag offers bring? Wanneer sal hierdie groot en verskriklike sonde ophou? Hoe lank sal hulle nog met die gewyde tempel maak wat hulle wil? Hoe lank sal hulle nog trap op die soldate van die hemel?” Die engel het vir my gesê: “Dit sal 2 300 aande en oggende aanhou. Dan sal hulle weer die gewyde tempel begin gebruik.” Ek, Daniël, wou weet wat beteken die dinge wat ek sien. Skielik het daar voor my iemand gestaan wat soos 'n man lyk. Ek het gehoor iemand praat uit die Ulai-rivier. Hy het gesê: “Gabriël, jy moet vir Daniël sê wat beteken die dinge wat hy sien.” Gabriël het gekom tot waar ek staan. Ek het groot geskrik en ek het gaan lê met my gesig teen die grond. Hy het vir my gesê: “Mens, jy moet weet, die dinge wat jy gesien het, wys wat nog sal gebeur.” Ek, Daniël, het met my gesig teen die grond gelê toe Gabriël met my praat. Ek was bewusteloos, maar hy het aan my geraak en hy het my regop laat staan. Gabriël het vir my gesê: “Ek sal nou vir jou sê wat sal gebeur wanneer God nie meer kwaad sal wees vir sy mense nie.
DANIËL 8:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN die derde jaar van die regering van koning Bélsasar het aan my, Daniël, 'n gesig verskyn ná dié een wat die vorige keer aan my verskyn het. Ek het naamlik in die gesig gesien — terwyl ek kyk, was ek in die vesting Susan wat in die provinsie Elam lê; en ek het in die gesig gesien dat ek my aan die Ulairivier bevind het. En ek het my oë opgeslaan en gesien, en kyk, daar staan 'n ram voor die rivier; en hy het twee horings gehad, en die twee horings was hoog, ook was die een hoër as die ander, en die hoogste het laaste uitgekom. Ek het die ram sien stoot na die weste en na die noorde en na die suide, en al die diere kon voor hom nie standhou nie, en daar was niemand wat uit sy mag gered het nie; maar hy het gedoen net wat hy wou, en het magtig geword. Terwyl ek daarop ag gee, kom daar 'n bokram uit die weste aan oor die oppervlakte van die hele aarde, sonder om aan die grond te raak; en die bok het 'n aansienlike horing tussen sy oë gehad. En hy het na die ram met die twee horings aangekom wat ek voor die rivier sien staan het, en hom in die woede van sy krag stormgeloop. En ek het hom gesien hoe hy tot by die ram kom en op hom verbitterd word en die ram stoot en sy twee horings verbreek; en daar was geen krag in die ram om voor hom stand te hou nie, sodat hy hom teen die grond gegooi en hom vertrap het, en daar was niemand wat die ram uit sy mag gered het nie. En die bok het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was, het die groot horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom na die vier windstreke van die hemel. En uit een van dié het 'n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe. En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap. Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is. En 'n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad. Toe hoor ek 'n heilige spreek; en 'n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur — van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid — sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word? En hy het vir my gesê: Tweeduisend-driehonderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word. En toe ek, Daniël, die gesig gesien het, het ek probeer om dit te verstaan, en kyk, daar het iemand voor my gestaan wat soos 'n man gelyk het. En ek het 'n mensestem gehoor uit die Ulai wat geroep en gesê het: Gabriël, laat hierdie een die gesig verstaan! Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde. En terwyl hy met my spreek, het ek bewusteloos met my aangesig op die grond geval; toe het hy my aangeroer en my op my staanplek opgerig en gesê: Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.
DANIËL 8:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat ek, Daniël, hierdie visioen gesien het, het ek in die derde regeringsjaar van koning Belsasar nog 'n visioen gesien. In dié visioen het ek my in die vestingstad Susan bevind, in die provinsie Elam. Ek sien toe dat ek by die Ulairivier is en toe ek kyk, sien ek 'n skaapram met horings by die rivier staan. Sy horings was lank; die een was langer as die ander en het later as die ander een uitgekom. Ek het die ram na die westekant, die noordekant en die suidekant sien stoot, en geen dier was teen hom opgewasse nie. Niemand was in staat om iemand uit sy mag te red nie. Hy het gemaak wat hy wil en het baie magtig geword. Terwyl ek nog hieraan aandag gee, kom daar uit die weste 'n bokram aan wat so vinnig oor die aarde beweeg dat hy nie grond raak nie. Dié bokram het 'n opvallende horing tussen sy oë gehad. Hy het aangekom na die skaapram met die twee horings, wat ek by die rivier sien staan het, en hom met alle mag stormgeloop. Ek het gesien hoe hy tot by die skaapram kom, hom briesend stamp en sy twee horings afbreek. Die skaapram was nie opgewasse teen hom nie en hy het die skaapram teen die grond geslinger en hom vermorsel. Daar was niemand wat die skaapram uit sy mag kon red nie. Die bokram het baie magtig geword, maar op die hoogtepunt van sy mag is sy groot horing afgebreek. In dié se plek het daar vier opvallende horings uitgekom; hulle het na die vier windstreke toe gewys. Uit een van die horings het daar 'n horing uitgekom wat eers onaansienlik was, maar toe buitengewoon magtig geword het na die suidekant, na die oostekant en na die pragtige stad se kant toe. Hy het so magtig geword dat hy selfs die hemelse leërmag aangedurf het en party van hulle, die sterre, op die grond gegooi en vertrap het. Hy het selfs die Hoof van daardie leërmag aangedurf deur die daaglikse offer aan Hom te verbied en sy heilige woning af te breek. 'n Sondige erediens is in die plek van die daaglikse offer ingestel en die ware godsdiens vertrap. Hierdie horing was voorspoedig in alles wat hy gedoen het. Ek het 'n hemelwese hoor praat, en 'n ander hemelwese het vir die een wat praat, gevra: “Hoe lank sal die dinge van die visioen aanhou: die ding van die daaglikse offer, die skrikwekkende sonde, die prysgawe van die heiligdom en die vertrapping van die hemelse leërmag?” Hy sê toe vir my: “Twee duisend drie honderd aande en oggende. Dan sal die heiligdom herstel word.” Nadat ek, Daniël, die visioen gesien het, het ek gesoek na 'n verklaring daarvoor. Meteens staan daar toe voor my iemand wat soos 'n man lyk, en ek hoor 'n stem uit die Ulai roep: “Gabriël, verklaar vir Daniël die gesig!” Hy het nader gekom na die plek toe waar ek gestaan het, en toe hy by my kom, het ek bang geword en vooroor op die grond geval. Hy sê toe vir my: “Jy moet verstaan, mens, dié visioen slaan op die eindtyd.” Terwyl hy met my praat, het ek bewusteloos geraak en daar gelê met my gesig op die grond. Maar hy het my gevat en my op my voete getel en vir my gesê: “Ek sal jou vertel waarop die toorn van God gaan uitloop. Dit gaan oor die eindtyd.
DANIËL 8:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die derde regeringsjaar van koning Belsasar is daar aan my, Daniël, 'n visioen geopenbaar, ná die een wat aan die begin aan my geopenbaar is. In die visioen het ek myself in die vestingstad Susan, in die Elamprovinsie, gesien. Ek sien toe in die visioen dat ek langs die Ulaikanaal is. Toe ek opkyk, sien ek, kyk, daar is 'n ram met twee horings wat voor die kanaal staan. Die twee horings was lank, maar die een was langer as die ander, en die langste een het laaste uitgekom. Ek het gesien die ram stoot na die weste, die noorde en die suide, en geen dier kon voor hom standhou nie. Niemand kon iets uit sy mag red nie. Hy het gedoen wat hy wou en hom groot voorgedoen. Terwyl ek nog daaroor nadink, kyk, toe kom 'n bokram uit die weste oor die oppervlak van die hele aarde aan, sonder om aan die grond te raak. Die bok het 'n opvallende horing tussen sy oë gehad. Hy kom toe tot by die ram met die twee horings wat ek voor die kanaal sien staan het. Toe storm hy met geweldige woede op hom af. Ek het gesien hoe hy tot by die ram kom. Hy was briesend kwaad vir hom, en het die ram getref. Hy het sy twee horings afgebreek, en daar was geen krag in die ram om voor hom staande te bly nie. Hy het hom teen die grond gegooi en hom vertrap. Daar was niemand wat die ram uit sy mag kon red nie. Die bokram het homself besonder groot voorgedoen. Maar toe hy sterk geword het, het die groot horing afgebreek. Vier opvallende horings het in die plek daarvan gegroei, na die vier windrigtings van die hemel. Uit een van hulle het 'n enkele klein horing uitgekom, maar dit het uitermate groot gegroei na die suide, na die ooste en na die Sieraad. Dit het groot geword tot by die hemelse leër, dit is die sterre, en dit het van die sterre op die aarde laat val en hulle vertrap. Die horing het hom selfs teen die Bevelvoerder van die leër verhef. Van Hom is die gereelde offer weerhou, en die plek van sy heiligdom is omvergewerp. Daar sal 'n ander offerdiens in die plek van die gereelde offer ingestel word as 'n daad van opstand. Hy sal die waarheid teen die grond gooi, en suksesvol wees in sy optrede. Ek het een van die •heiliges hoor praat. 'n Ander heilige vra toe vir iemand, vir die een wat praat: “Hoe lank sal dit duur – dit wat in die visioen openbaar is oor die gereelde offer en die verwoestende daad van opstand, en oor die oorgawe van sowel die heiligdom as die offerdiens om vertrap te word?” Hy het vir my gesê: “Tot tweeduisend driehonderd aande en oggende – dan sal 'n heiligdom sy regmatige plek kry. ” Terwyl ek, Daniël, die visioen sien, en dit probeer verstaan, staan daar skielik voor my iemand wat soos 'n man lyk. Ek hoor toe die stem van 'n mens oor die Ulai wat roep en sê: “Gabriël, laat hierdie een die verskyning verstaan.” Hy het nader gekom na die plek waar ek staan. Toe hy nader kom, is ek deur vrees oorweldig, en het met my gesig teen die grond neergeval. Hy sê toe vir my: “Jy moet verstaan, mensekind, dat die visioen geld vir die tyd van die einde.” Terwyl hy met my praat, was ek in 'n beswyming, met my gesig teen die grond, maar hy het my aangeraak, my weer op my plek laat staan, en gesê: “Kyk, ek gaan aan jou bekend maak wat sal gebeur aan die einde van die vervloeking, want dit verwys na die vasgestelde tyd aan die einde.
DANIËL 8:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In die derde jaar van die regering van koning Bélsasar het 'n visioen aan my, aan my Daniël, verskyn, ná dit wat eers aan my verskyn het. En ek het in 'n gesig gesien; en toe ek sien, was ek in Susan in die paleis wat in die provinsie Elam is; en ek het in 'n gesig gesien, en ek was by die rivier van Ulai. Toe slaan ek my oë op en sien, en kyk, daar staan voor die rivier 'n ram met twee horings; en die twee horings was hoog; maar die een was hoër as die ander, en die hoër het laaste opgekom. Ek het die ram sien stoot na die weste, en noord en suid; sodat geen diere voor hom sou staan nie, en daar was niemand wat uit sy hand kon red nie; maar hy het gedoen volgens sy wil en groot geword. En terwyl ek dit oorweeg het, kom daar 'n bok van die weste af op die hele aarde en het die grond nie aangeraak nie; en die bok het 'n merkwaardige horing tussen sy oë gehad. En hy het by die ram met twee horings gekom wat ek voor die rivier sien staan het, en hy het na hom gehardloop in die woede van sy krag. En ek het hom naby die ram sien kom, en hy het hom teen hom verskrik en die ram geslaan en sy twee horings gebreek; en daar was geen krag in die ram om voor hom te staan nie, maar hy het hom neergegooi na die ram die grond en hom getrap, en daar was niemand wat die ram uit sy hand kon red nie. Daarom het die bok baie groot geword, en toe hy sterk was, is die groot horing gebreek; en want dit het vier merkwaardiges opgekom na die vier winde van die hemel. En uit een van hulle het 'n horinkie voortgekom, wat baie groot geword het, na die suide en na die ooste en na die lieflike land. En dit het groot geword tot by die leër van die hemel; en dit het van die leër en van die sterre op die grond neergegooi en op hulle getrap. Ja, hy het homself groot gemaak tot die owerste van die leër, en deur hom is die daaglikse offer weggeneem, en die plek van sy heiligdom is neergewerp. En 'n leër is aan hom gegee teen die daaglikse offer weens oortreding, en dit het die waarheid op die grond neergegooi; en dit het geoefen en voorspoedig gegaan. Toe het ek een heilige hoor praat, en 'n ander heilige sê aan daardie sekere heilige wat gespreek het: Hoe lank sal die gesig duur aangaande die daaglikse offer en die oortreding van die verwoesting, om die heiligdom sowel as die leër te gee om vertrap te word? En hy het vir my gesê: Tot twee duisend drie honderd dae; dan sal die heiligdom gereinig word. En toe ek, ek Daniël, die gesig gesien en die betekenis gesoek het, kyk, daar staan voor my soos die voorkoms van 'n man. En ek het 'n man se stem tussen die walle van Ulai gehoor wat roep en sê: Gabriël, laat hierdie man die gesig verstaan. En hy het nader gekom waar ek gestaan het, en toe hy kom, het ek bang geword en op my aangesig geval; maar hy het vir my gesê: Verstaan, o mensekind, want in die tyd van die einde sal die gesig wees. En terwyl hy met my praat, was ek in 'n diepe slaap op my aangesig na die grond toe, maar hy het my aangeraak en my regop gesit. En hy sê: Kyk, Ek maak jou bekend wat aan die einde van die grimmigheid sal wees, want op die vasgestelde tyd sal die einde wees.