DANIËL 6:19-24
DANIËL 6:19-24 Bybel vir almal (ABA)
Die koning het huis toe gegaan. Hy het die hele nag niks geëet nie en met niemand gepraat nie. Hy kon nie slaap nie. Toe dit lig word, het die koning vinnig na die gat gegaan waar die leeus was. Toe hy naby die gat kom, het hy hard vir Daniël geroep en gesê: “Daniël, jy is 'n dienaar van die God wat lewe. Kon jou God jou red? Jy het aangehou om Hom te dien, kon Hy jou red, of het die leeus jou gevang?” Daniël het vir die koning gesê: “Ek hoop die koning sal lank lewe. Ja, my God het sy engel gestuur. Die engel het die leeus se bekke toegebind, en hulle kon my nie byt nie. My God het dit gedoen omdat Hy weet ek het niks verkeerd gedoen nie, ook nie teen jou nie, Koning.” Die koning was baie bly. Hy het gesê hulle moet vir Daniël uithaal uit die gat, en hulle het dit gedoen. Daar was nie 'n stukkende plek aan Daniël nie, want hy het geglo sy God sal hom help.
DANIËL 6:19-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het die koning na sy paleis gegaan en met vas die nag deurgebring en die byvroue nie voor hom laat kom nie, en sy slaap het van hom weggevlug. Daarop het die koning die môre vroeg toe dit lig word, opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan. En toe hy nader kom na die kuil, het hy met 'n droewige stem na Daniël geroep; die koning het gespreek en aan Daniël gesê: Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos? Toe het Daniël met die koning gespreek: Mag die koning vir ewig lewe! My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie. Toe het die koning baie bly geword en bevel gegee om Daniël uit die kuil op te trek. So is Daniël dan uit die kuil opgetrek sonder dat daar 'n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het.
DANIËL 6:19-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die koning is na sy paleis toe en het 'n slaaplose nag deurgebring; hy het niks geëet nie en het niks gedoen om die tyd te probeer verdryf nie. Die volgende môre vroeg toe dit lig word, het hy opgestaan en is hy haastig na die leeukuil toe. Toe hy naby die leeukuil kom, het hy angstig na Daniël geroep en vir hom gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?” Toe antwoord Daniël: “Mag die koning baie lank lewe! My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit.” Die koning was baie bly en het beveel dat Daniël uit die leeukuil gehaal moes word. Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het.
DANIËL 6:19-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die koning het daarna na sy paleis gegaan en die nag deurgebring deur te vas. Geen kos is vir hom gebring nie, en slaap het hom ontwyk. In die oggend, teen die eerste lig, het die koning opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan. Terwyl hy nader aan die kuil kom, het hy na Daniël geroep met 'n angstige stem. Die koning het vir Daniël gesê: “Daniël, dienskneg van die lewende God, was jou God wat jy voortdurend dien, in staat om jou te red van die leeus?” Daniël praat toe met die koning: “O koning, leef vir ewig! My God het sy engel gestuur en Hy het die bekke van die leeus gesluit, sodat hulle my geen leed kon aandoen nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is. Ook u, o koning, het ek geen leed aangedoen nie.” Die koning was toe uitermate verheug oor hom, en hy het mense opdrag gegee om Daniël uit die kuil op te trek. Daniël is uit die kuil opgetrek en geen letsel kon aan hom gekry word nie, omdat hy op sy God vertrou het.
DANIËL 6:19-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het die koning die môre vroeg opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan. En toe hy by die kuil kom, het hy met 'n klaaglied na Daniël geroep; en die koning het gespreek en vir Daniël gesê: Daniël, dienaar van die lewende God, is jou God wat jy gedurigdeur dien, in staat om jou te verlos van die leeus? Toe sê Daniël vir die koning: O koning, leef vir ewig! My God het sy engel gestuur en die bekke van die leeus toegesluit, dat hulle my geen kwaad aangedoen het nie, omdat voor hom onskuld by my gevind is; en ook voor u, o koning, het ek geen kwaad aangedoen nie. Toe was die koning baie bly oor hom en het bevel gegee dat hulle Daniël uit die kuil moes opneem. Daniël is toe uit die kuil opgeneem, en geen kwaad is aan hom gevind nie, omdat hy in sy God geglo het. En die koning het bevel gegee, en hulle het die manne gebring wat Daniël aangekla het, en hulle, hulle, hulle kinders en hulle vroue, in die leeukuil gegooi; en die leeus het hulle baasgeraak en al hulle gebeente verbreek of hulle het ooit aan die onderkant van die kuil gekom.
DANIËL 6:19-24 Die Boodskap (DB)
Die koning is terug paleis toe, waar hy ’n slapelose nag deurgebring het, sonder kos of enige ander tydverdryf. Vroeg die volgende môre het die koning opgestaan en vinnig na die leeukuil toe gegaan. Daar aangekom, het hy benoud geroep: “Daniël, dienaar van die lewende God! Was jou God wat jy so getrou dien, in staat om jou van die leeus te red?” Daniël antwoord toe: “Mag die koning nog lank lewe! My God het sy engel gestuur om die leeus se bekke toe te hou sodat hulle my niks kon aandoen nie. Hy het dit gedoen omdat Hy weet dat ek onskuldig is. Ek het nie teen Hom gesondig nie en ook niks verkeerds teen U Majesteit gedoen nie.” Hieroor was die koning baie bly. Hy het dadelik opdrag gegee dat Daniël uit die leeukuil opgetrek moes word. Nadat die mense Daniël uit die leeukuil gehaal het, het hulle gesien dat daar nie ’n enkele merk aan hom was nie. Dit was so omdat hy op sy God vertrou het.
DANIËL 6:19-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die koning is toe terug na sy paleis toe. Hy het daardie aand niks geëet nie. Daar is nie soos gewoonlik vir hom musiek gemaak nie. Hy kon ook nie daardie nag slaap nie. Met dagbreek die volgende oggend het hy haastig na die leeus se hok toe gegaan. Naby die hok het hy angstig na Daniël geroep en gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, kon jou God wat jy altyd aanbid, jou van die leeus red?” Daniël het die koning geantwoord: “Mag die koning lank lewe! My God het sy boodskapper gestuur. Hy het die leeus se bekke toegesluit sodat hulle niks aan my kon doen nie, want ek het niks verkeerds teen Hom gedoen nie. Ook teen die koning het ek geen oortreding begaan nie.” Die koning was baie bly hieroor. Hy het gesê dat Daniël uit die hok gehaal moes word. Daniël is daar uitgehaal en daar was geen skrapie aan hom nie, want hy het op sy God vertrou.