DANIËL 3:23-25
DANIËL 3:23-25 Bybel vir almal (ABA)
Die drie manne, Sadrag, Mesag en Abed-Nego, het binne-in die vuur geval. Hulle was vasgebind. Maar toe skrik koning Nebukadnesar groot en hy staan op. Hy vra toe vir sy raadgewers: “Het ons drie manne in die vuur gegooi, en was hulle vasgebind?” Hulle het vir die koning gesê: “Ja, Koning, dit is so.” Toe sê die koning: “Ek sien nou vier manne. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle loop in die vuur rond en hulle makeer niks. Ek sien die vierde man lyk soos 'n engel.”
DANIËL 3:23-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednégo, het geboeid binne-in die brandende vuuroond geval. Toe het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en sê aan die koning: Sekerlik, o koning! Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar 'n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van 'n godeseun.
DANIËL 3:23-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar die drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die brandende oond geval. Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?” En hulle sê vir hom: “Dit is so, U Majesteit!” Hy sê toe: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos 'n hemelwese!”
DANIËL 3:23-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar hierdie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die vlammende vuuroond geval. Toe skrik koning Nebukadnesar, spring vervaard op en vra vir sy raadsmanne: “Het ons nie drie manne binne-in die vuuroond gegooi terwyl hulle vasgebind was nie?” Hulle antwoord toe en sê vir die koning: “Ja, beslis, o koning!” waarop hy toe antwoord en sê: “Kyk! Ek sien vier manne los rondstap binne-in die vuuroond, en daar is geen letsel aan hulle nie; en die vierde se voorkoms is soos dié van 'n godeseun.”
DANIËL 3:23-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hierdie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het geboeid in die middel van die brandende vuuroond geval. Toe was koning Nebukadnésar verbaas, en hy het haastig opgestaan en aan sy raadgewers gesê: Het ons nie drie manne geboeid tussen die vuur in gegooi nie? Hulle antwoord en sê vir die koning: Dit is waar, o koning! Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los wat in die middel van die vuur loop, en hulle het geen seer nie; en die vorm van die vierde is soos die Seun van God.
DANIËL 3:23-25 Die Boodskap (DB)
Sadrag, Mesag en Abednego het met toue om hulle lyf in die oond geval. Skielik het Nebukadnesar van verbasing opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons nie net drie mans vasgemaak en in die oond gegooi nie?” “Dit is waar, U Majesteit,” het hulle geantwoord. “Wel, hoekom sien ek dan vier mense daar in die vuur rondloop? Kyk, hulle is nie eers vasgebind nie en die vuur doen net mooi niks aan hulle nie. Boonop lyk die vierde persoon vir my net soos ’n hemelwese.”
DANIËL 3:23-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die drie mans, Sadrag, Mesag en Abednego, het so vasgebind in die brandende oond beland. Koning Nebukadnesar was egter verstom. Hy het opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Was dit nie drie mans wat ons vasgebind het en in die vuur gegooi het nie?” “Ja, beslis, U Majesteit,” het hulle vir hom gesê. Hy sê toe vir hulle: “Ek sien dan vier mans in die oond rondloop. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle makeer niks. Die vierde een lyk soos ’n bo-aardse wese.”