DANIËL 2:46-49
DANIËL 2:46-49 Bybel vir almal (ABA)
Toe het koning Nebukadnesar voor Daniël gebuig soos 'n mens voor 'n god buig. Die koning het gesê hulle moet vir Daniël 'n koring-offer en wierook-offers bring. Die koning het vir Daniël gesê: “Regtig, jou God is sterker as al die gode en al die konings. Hy het vir jou dinge gesê wat niemand anders weet nie, en daarom kon jy vir my sê wat ek gedroom het.” Die koning het toe vir Daniël 'n baie belangrike man gemaak en hy het vir Daniël baie presente gegee. Hy het gesê Daniël moet oor die hele land Babel regeer en hy moet die hoof wees van al die wyse mense in Babel. Daniël het gevra die koning moet vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego kies om te help regeer oor Babel. Die koning het dit gedoen. Daniël het by die koning gebly.
DANIËL 2:46-49 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het koning Nebukadnésar op sy aangesig geval en Daniël aanbid en bevel gegee om aan hom 'n spysoffer en reukoffers te bring. Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar. Toe het die koning Daniël verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel. En op versoek van Daniël het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Daniël was in die paleis van die koning.
DANIËL 2:46-49 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig, aan hom eer betoon en opdrag gegee dat daar 'n graanoffer en 'n wierookoffer aan hom geoffer moet word. Die koning het vir Daniël gesê: “Werklik, julle God is die grootste van al die gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar geheime, want jy kon hierdie geheim bekend maak.” Die koning het hoë eer aan Daniël betoon, vir hom baie en groot geskenke gegee en hom aangestel as goewerneur van die hele provinsie Babel en as hoof van al die koninklike raadgewers. Op versoek van Daniël het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Maar Daniël self het in die paleis gebly.
DANIËL 2:46-49 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarop het koning Nebukadnesar neergeval met sy gesig teen die grond en aan Daniël eer betoon. Hy het opdrag gegee dat 'n •graanoffer en offers met 'n aangename geur aan hom gebring moet word. Die koning het in sy reaksie vir Daniël gesê: “Sowaar, julle God, Hy is die God van die gode en die Heer van die konings en die een wat geheime openbaar, want jy kon hierdie geheim openbaar.” Die koning het Daniël toe in 'n hoë pos aangestel en aan hom baie groot geskenke gegee. Hy het hom as heerser aangestel oor die hele provinsie Babel, en as landvoog bo al die wyses van Babilonië. Daniël het 'n versoek tot die koning gerig, en dié het toe vir Sadrag, Mesag en Abednego aangestel oor die administrasie van die provinsie Babel. Daniël het egter in die koninklike hof aangebly.
DANIËL 2:46-49 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het koning Nebukadnésar op sy aangesig geval en Daniël aanbid en bevel gegee dat hulle 'n spysoffer en lieflike geure aan hom moes bring. Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Dit is waar dat jou God 'n God van gode is en 'n HERE van konings en 'n openbaarder van geheime, aangesien jy hierdie geheim kon openbaar. Toe het die koning Daniël 'n groot man gemaak en hom baie groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en owerste van die goewerneurs oor al die wyse manne van Babel. Toe het Daniël die koning versoek, en hy het Sadrag, Mesag en Abednego aangestel oor die sake van die provinsie Babel; maar Daniël het in die poort van die koning gesit.
DANIËL 2:46-49 Die Boodskap (DB)
Hierna het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig en hom met groot respek behandel. Die koning het ook beveel dat daar ’n graan- en ’n wierookoffer vir hom gebring moes word. Toe sê die koning vir Daniël: “Jou God is die grootste van al die gode, Hy regeer oor al die konings en Hy maak geheime bekend. Ek sê dit omdat Hy hierdie geheim aan jou bekendgemaak het.” Die koning het Daniël vereer en hom met duur en mooi geskenke oorlaai. Hy het hom aangestel as regeerder oor die hele provinsie Babel en hom ook hoof gemaak van al die koning se raadgewers. Op Daniël se versoek is Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Daniël self het in die paleis gebly.
DANIËL 2:46-49 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Koning Nebukadnesar het toe diep voor Daniël gebuig en aan hom eer bewys. Hy het opdrag gegee om offers vir Daniël te bring en wierook vir hom te brand. Die koning het vir Daniël gesê: “Sowaar, jou God is die God van alle gode en die Heer van alle konings. Hy openbaar geheime, want jy kon die geheim vir my verklaar.” Die koning het toe vir Daniël bevorder en vir hom baie geskenke gegee. Hy het Daniël as regeerder oor die provinsie van Babel aangestel en as leier van al sy raadgewers in Babel. Op versoek van Daniël het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie van Babel. Daniël self het in die poorte van die paleis aangebly.