DANIËL 12:1-13

DANIËL 12:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ ‘ En in dié tyd sal Migael opstaan, die groot vors, wat die mense van jou volk bystaan. Dit sal 'n tyd van verdrukking wees, soos daar nog nie was sedert 'n nasie ontstaan het, en tot in hierdie tyd nie. Maar in hierdie tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam gevind word waar dit in die •boekrol opgeskryf is. Baie van hulle wat slaap in die stof van die aarde, sal wakker word – sommige vir die ewige lewe, en ander tot skande, tot ewige afsku. Die verstandiges sal skyn soos die glans van die hemelkoepel, en hulle wat baie gelei het tot regverdige optrede, sal skyn soos die sterre – vir altyd en altyd. “ ‘En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boekrol tot die tyd van die einde. Baie sal rondswerf, sodat die kennis kan vermeerder.’ ” Ek, Daniël, het gesien: Kyk, daar staan twee ander, een aan hierdie kant op die wal van die stroom, en een aan daardie kant op die wal van die stroom. Die een sê toe vir die man geklee in linne wat aan die bokant van die stroom water was: “Hoe lank nog voor die einde van die verstommende gebeure aanbreek?” Ek hoor toe die man geklee in linne wat aan die bokant van die stroom water was, sê, terwyl hy sy regter- en sy linkerhand ophef na die hemele en sweer by die Ewig Lewende: “Dit is vir 'n vasgestelde tyd, tye en 'n halwe tyd. Sodra die verbryseling van die mag van die heilige volk tot 'n einde kom, sal al hierdie dinge ophou.” Ek het dit self gehoor, maar nie verstaan nie. Toe vra ek: “My heer, wat is die uiteinde hiervan?” Daarop het hy geantwoord: “Gaan, Daniël! Want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde. Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar goddeloses sal goddeloos optree. Geeneen van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan. Vanaf die tyd dat die gereelde offer afgeskaf word, en vanaf die oprigting van 'n verfoeilike afgodsbeeld wat verwoesting veroorsaak, sal 'n duisend tweehonderd-en-negentig dae verloop. Gelukkig is hy wat geduldig wag en duisend driehonderd vyf-en-dertig dae bereik. En jy, gaan voort tot die einde! Jy sal rus en daarna opstaan vir jou bestemming aan die einde van die dae.”

DANIËL 12:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“In daardie tyd sal Migael, die groot leier, optree. Hy beskerm mos jou volk. Dit sal ’n benoude tyd wees soos daar nog nie was sedert nasies ontstaan het nie. In daardie stadium sal elkeen van jou volk wie se naam in die boek opgeteken staan, gered word. Baie wat reeds in die graf is, sal dan uit die dood opstaan. Party sal vir altyd lewe en ander sal eindelose skande en veragting ervaar. Hulle wat ander mense leer, sal skitter soos die naghemel. Hulle wat baie mense lei om regverdig te word, sal vir ewig en altyd soos sterre skyn. Maar jy, Daniël, moet hierdie woorde geheim hou en die boek verseël tot aan die einde van die tyd. Baie sal hiernatoe en daarnatoe gaan om meer te wete te kom.” Ek, Daniël, het toe gekyk en daar was twee ander mans wat daar staan, een aan elke kant van die rivier. Een van hulle het vir die man met fyn linneklere aan en wat bokant die water gestaan het, gevra: “Hoe lank sal dit duur voordat hierdie skrikwekkende dinge in vervulling gaan?” Ek het gehoor hoe die man met die linneklere aan daar bokant die water sy hand in die lug opsteek en ’n eed aflê by Hom wat vir altyd lewe: “Dit sal ’n tyd, tye en ’n halwe tyd wees. Hierdie dinge sal gebeur wanneer die heilige volk se mag finaal vernietig is.” Ek het gehoor wat hy sê, maar ek het dit glad nie verstaan nie. Daarom het ek gevra: “Meneer, wat sal die einde van al hierdie dinge wees?” Hy sê toe: “Daniël, gaan nou maar. Hierdie woorde is gesluit en verseël tot in die eindtyd. Baie sal gesuiwer en gereinig word en deur hierdie dinge gelouter word. Dié wat kwaad doen, sal aanhou om kwaad te doen. Nie een van die kwaaddoeners sal enigiets verstaan nie, maar hulle wat verstandig is, sal wel verstaan. “Van die tyd af dat die gereelde offer afgeskaf is en die gruwelike ding wat verwoesting aanrig, opgerig is, sal 1 290 dae verloop. Gelukkig is hulle wat bly wag totdat 1 335 dae verby is. “En wat jou aanbetref, Daniël, jy sal gaan rus in die graf, maar jy sal weer opstaan aan die einde en jy sal kry wat vir jou as erfdeel bepaal is.”

DANIËL 12:1-13 Bybel vir almal (ABA)

“In daardie tyd sal Migael kom. Hy is die groot engel wat jou volk moet beskerm. Die mense sal in daardie tyd baie swaar kry, die volke het nog nooit so swaar gekry nie. Maar in daardie tyd sal God jou volk red. Hy het hulle almal se name in sy boek geskryf. Baie mense wat nou in hulle grafte slaap, sal wakker word. Party mense sal altyd lewe, en God sal party mense vir altyd verneder en haat. Almal wat verstandig was en reg gedoen het aan ander mense, sal altyd skyn soos die sterre in die lug. En jy, Daniël, jy moet stilbly. Jy moet die boek toehou totdat die dag kom wanneer die tyd verby is. Baie mense sal oral soek en probeer verstaan wat gebeur.” Toe ek, Daniël, weer kyk, staan daar twee ander manne, die een man aan die een kant naby my, en die ander man aan die ander kant van die rivier. Die man met die linne-klere was in die lug bo die water van die rivier, en een van die manne langs die rivier het vir hom gevra: “Hoe lank sal hierdie wonderlike dinge aanhou?” Ek het gehoor die man met die linne-klere hou sy twee hande op na die hemel en hy vra die God wat altyd lewe om sy getuie te wees. Die man het gesê: “Drie en 'n half jaar lank. Die wonderlike dinge sal ophou wanneer die gewyde volk klaar swaargekry het.” Ek het gehoor wat hy sê, maar ek het dit nie verstaan nie. Daarom het ek gevra: “Meneer, hoe sal die end wees van hierdie dinge?” Hy het gesê: “Jy moet nou gaan, Daniël, want die tyd moet eers verby wees, dan sal mense weet wat hierdie dinge beteken. Baie mense sal rein en skoon en goed word, maar die slegte mense sal sleg bly. Nie een van die slegte mense sal verstaan nie, maar die verstandige leiers sal verstaan. Die koning sal sê die priesters moenie elke dag offer nie. Hy sal ook iets in die tempel sit wat vir God baie kwaad sal maak en wat alles sal verwoes. Daarna sal 1 290 dae verbygaan. Dit sal goed gaan met die mense wat geduldig wag totdat 1 335 dae verbygegaan het. “Daniël, jy moet aanhou totdat dit die tyd is wanneer jy moet sterf. Jy sal rus, en wanneer die tyd verby is, dan sal jy opstaan en kry wat God vir jou wil gee.”

DANIËL 12:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan. En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik. En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos. En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder. En ek, Daniël, het gesien, en kyk daar het twee ander gestaan, die een duskant op die wal van die rivier en die ander oorkant op die wal van die rivier. En een het aan die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, gesê: Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlike dinge uitbly? Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: 'n Tyd, tye en 'n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word. En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê: My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge? En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe. Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan. En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend-driehonderd-vyf-en-dertig dae bereik. En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.

DANIËL 12:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

“In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal 'n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre. “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die eindtyd toe. Baie mense sal oor die gebeurtenisse navraag doen om begrip daarvan te probeer kry.” Ek, Daniël, het toe twee ander persone by die Tigrisrivier sien staan, een aan die duskant en een aan die anderkant. Een van hulle het aan 'n man wat linneklere aangehad het en bokant die water gestaan het, gevra: “Hoe lank sal hierdie onbegryplike gebeurtenisse nog aanhou?” Toe hoor ek die man praat wat die linneklere aangehad het en bokant die water gestaan het. Hy het sy regter- sowel as sy linkerhand na die hemel toe opgesteek en 'n eed afgelê by Hom wat ewig lewe, en het geantwoord: “Die hele vasgestelde tyd. Wanneer die gewyde volk se mag heeltemal vernietig is, sal al hierdie dinge ophou.” Ek het dit gehoor maar dit nie verstaan nie. Daarom het ek gevra: “Meneer, waarop gaan dit alles uitloop?” Toe sê hy: “Jy moet nou gaan, Daniël, want die woorde is verseël en word geheim gehou tot die eindtyd toe. Baie mense sal gesuiwer, gereinig en gelouter word, maar die goddeloses sal goddeloos bly. Nie een van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandige leiers sal verstaan. Van die tyd dat die daaglikse offer afgeskaf is en die ding opgerig is wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sal daar twaalf honderd en negentig dae verloop. Dit sal goed gaan met wie geduldig bly tot dertien honderd vyf en dertig dae verby is. Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd.”

DANIËL 12:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in dié tyd sal Migael opstaan, die groot vors wat vir die kinders van jou volk staan; en daar sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nog nooit was vandat daar 'n nasie was tot op daardie tyd nie; en in dié tyd sal jou mense sal gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe sal wees. En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe, en sommige tot skande en ewige veragting. En die verstandiges sal skyn soos die glans van die uitspansel; en die wat baie tot geregtigheid laat terugkeer soos die sterre vir ewig en altyd. Maar jy, Daniël, hou die woorde stil en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal heen en weer hardloop, en kennis sal vermeerder. Toe het ek, Daniël, gekyk, en kyk, daar staan nog twee, die een aan die ander kant van die rivier en die ander aan die ander kant van die rivier. En een sê vir die man bekleed met linne wat op die waters van die rivier was: Hoe lank sal dit wees tot die einde van hierdie wonders? En ek het gehoor hoe die man bekleed met linne, wat op die waters van die rivier was, sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef het en by Hom wat vir ewig lewe, gesweer het dat dit vir 'n tyd, tye sal wees, en 'n half; en wanneer hy dit volbring het om die mag van die heilige volk te verstrooi, sal al hierdie dinge volbring wees. En ek het gehoor, maar ek het nie verstaan nie; toe sê ek: O my Meester, wat sal die einde van hierdie dinge wees? En hy sê: Gaan heen, Daniël, want die woorde is geslote en verseël tot die tyd van die einde toe. Baie sal gereinig en wit gemaak en beproef word; maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose sal verstaan nie; maar die wyse sal verstaan. En van die tyd af dat die daaglikse offer weggeneem en die gruwel wat verwoesting maak opgerig word, sal daar duisend twee honderd en negentig dae wees. Geseënd is hy wat wag en duisend drie honderd vyf en dertig dae bereik. Maar gaan jy tot die einde toe, want jy sal rus en in jou lot staan aan die einde van die dae.

DANIËL 12:1-13 Die Boodskap (DB)

“In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor jou hele volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n moeilike en onstuimige tyd wees, erger as ooit tevore. In daardie tyd sal almal uit jou volk wie se name in God se boek geskryf staan, gered word. Baie van dié wat reeds dood is, sal dan opstaan; party om vir ewig te lewe en ander om vir ewig onder God se straf en veragting te leef. Die goeie leiers sal in daardie tyd wees soos ’n helder dag sonder wolke in die lug. En dié wat mense op die regte pad gelei het, sal dan vir altyd skitter soos die sterre van die hemel. Maar jy, Daniël, moet hierdie woorde geheim hou. Maak die boek toe en verseël dit sodat niemand dit kan oopmaak nie. So moet dit bly tot die laaste dae hier op aarde aangebreek het. Baie mense sal probeer agterkom wat aangaan, maar dit sal hulle niks help nie.” Toe sien ek twee ander figure aan weerskante van die Tigrisrivier staan. Een van hulle vra toe vir die man met die linneklere aan wat so ’n entjie stroomop gestaan het: “Hoe lank nog voordat hierdie verskriklike dinge ophou?” Hy het toe albei sy arms na die hemel toe uitgesteek en ’n plegtige belofte afgelê in die Naam van Hom wat ewig lewe. Hy het gesê: “Vir die hele tyd wat reeds vasgestel is. Hierdie dinge sal ophou wanneer God se volk vernietig is.” Ek het gehoor wat hy sê, maar nie mooi verstaan nie, en daarom het ek vir hom gevra: “Maar hoe gaan dit alles eindig?” Hy het toe vir my gesê: “Jy moet gaan, Daniël, want hierdie woorde moet geheim gehou en weggesteek word tot die einde kom. Baie mense sal tot bekering kom. Hulle sal op ’n nuwe manier begin leef en in hulle geloof versterk word as gevolg van hierdie swaar tye. Maar die goddelose mense sal nog erger aangaan en nog verder wegdwaal. Gelukkig sal die goeie leiers verstaan waaroor dit gaan. Van die tyd af dat die mense verbied word om die ware godsdiens te beoefen, vandat hulle die gruwelike afgodsbeeld daar op die altaar in die tempel neersit, daardie ding wat tot verwoesting lei, sal 1 290 dae verloop. Dié wat getrou bly aan God totdat die 1 335 dae verby is, sal gelukkig wees. Maar jy moet volhard in jou geloof tot die einde toe. Dan sal jy doodgaan, maar jy sal opstaan en jou hemelse beloning kry aan die einde van die tyd.”