DANIËL 10:1-6
DANIËL 10:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Daniël het 'n boodskap gekry. Dit was in die derde jaar nadat Kores koning geword het van Persië. Daniël se ander naam was Beltsassar. Die dinge wat Daniël gehoor het, het regtig gebeur. Dit was moeilik om die boodskap te verstaan, maar Daniël het verstaan, want hy het gesien wat sal gebeur. Ek, Daniël, het daardie tyd drie weke lank gerou en getreur. Ek het nie lekker kos geëet nie, ek het nie vleis geëet en wyn gedrink nie, en daardie drie weke het ek nie olyf-olie aan my gesmeer nie. Ek het op die wal van die groot Tigris-rivier gestaan. Dit was op die 24ste dag van die eerste maand. Ek het gekyk en toe sien ek daar staan 'n man. Sy klere was van linne en sy belt was van goud. Sy lyf was soos mooi klip, sy gesig was soos weerlig en sy oë was soos vlamme vuur. Sy arms en bene was soos brons wat blink gevryf is. Wanneer hy gepraat het, dan was sy stem soos die stemme van baie mense wat saam praat.
DANIËL 10:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN die derde jaar van Kores, die koning van die Perse, is 'n woord geopenbaar aan Daniël wat Béltsasar genoem is, en die woord is waarheid maar groot swarigheid; en hy het die woord verstaan en insig gehad in die gesig. In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was. En op die vier-en-twintigste dag van die eerste maand, terwyl ek op die wal van die groot rivier was, dit is die Hiddékel, het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek 'n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas. En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van 'n menigte.
DANIËL 10:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die derde regeringsjaar van koning Kores van Persië het Daniël wat Beltsasar genoem word, 'n openbaring ontvang. Dit was 'n egte openbaring, maar dit was moeilik om te verstaan. Tog het Daniël dit begryp nadat die betekenis daarvan in 'n visioen aan hom geopenbaar is. In daardie tyd het ek, Daniël, drie weke getreur. Ek het die volle drie weke geen lekker kos geëet nie, my mond nie aan vleis of wyn gesit nie en geen reukolie gebruik nie. Op die vier en twintigste dag van die eerste maand was ek by die groot rivier, die Tigris. Toe ek opkyk, sien ek 'n man met linneklere aan en met 'n gordel van fyn goud uit Ufas om sy lyf. Sy liggaam het geskitter soos 'n edelsteen, sy gesig het gestraal soos weerlig, sy oë het geskyn soos brandende fakkels, sy arms en bene het geblink soos gepoleerde brons, en sy woorde het geklink soos 'n harde dreuning.
DANIËL 10:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die derde regeringsjaar van Kores, die koning van Persië, is 'n woord geopenbaar aan Daniël, wat Beltsasar genoem is. Die woord is betroubaar en gaan oor 'n groot stryd. Hy het die woord verstaan en insig gekry in die openbaring. “ In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Aangename kos het ek nie geëet nie, en vleis en wyn het by my mond nie gekom nie. Ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke verby was. Op die vier-en-twintigste dag van die eerste maand was ek by die oewer van die groot rivier, dit is die Hiddekel. Toe ek opkyk, sien ek, kyk, daar is 'n man geklee in linne, en sy heupe is omgord met goud van Ufas. Sy liggaam was soos •chrisoliet en sy gesig het gelyk soos weerlig, terwyl sy oë soos fakkels van vuur was, en sy arms en voete soos gepoleerde brons geskitter het. Die geluid van sy woorde was soos die geluid van 'n menigte.
DANIËL 10:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In die derde jaar van Kores, die koning van Persië, is iets geopenbaar aan Daniël, wie se naam Beltsasar genoem is; en die saak was waar, maar die vasgestelde tyd was lank; en hy het die saak verstaan en die gesig verstaan. In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Ek het geen lekker brood geëet nie, en daar het geen vleis of wyn in my mond gekom nie, en ek het myself glad nie gesalf nie, totdat drie hele weke om was. En op die vier-en-twintigste dag van die eerste maand, terwyl ek aan die kant van die groot rivier was, dit is Hiddekel; Toe slaan ek my oë op en kyk, en daar was 'n sekere man bekleed met linne, wie se heupe omgord was met fyn goud van Ufas. Ook was sy liggaam soos die bont, en sy gesig soos die voorkoms van weerlig, en sy oë soos vuurlampe, en sy arms en sy voete soos gekleurde koper, en die stem van sy woorde soos die stem van 'n menigte.
DANIËL 10:1-6 Die Boodskap (DB)
In die derde jaar van Kores se koningskap oor Persië het Daniël, wat ook Beltsasar genoem word, ’n openbaring gehad. Die boodskap het van God af gekom, maar dit was baie moeilik om te verstaan. Eers nadat die betekenis in ’n visioen verduidelik is, het ek, Daniël, verstaan waaroor dit gaan. Ek het op daardie stadium reeds vir drie weke getreur. In hierdie tyd het ek glad nie enige ryk kos of vleis geëet nie. Ek het ook nie wyn gedrink of gebad en my hare gekam nie. Op die 24ste van die eerste maand het ek op die wal van die Tigrisrivier gestaan. Toe ek opkyk, sien ek ’n man met linneklere aan en ’n belt van fyn goud om sy lyf daar staan. Sy lyf het soos ’n edelsteen geblink en sy gesig was so helder soos die lig van ’n weerligstraal. Sy oë het soos tonge vuur gevlam. Sy arms en bene het gelyk soos brons wat blink gevryf was. Toe hy gepraat het, het dit geklink of dit ’n hele skare mense was wat gelyk praat, so hard was sy stem.
DANIËL 10:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die derde jaar van Kores se bewind in Persië het Daniël, wie se ander naam Beltsasar was, nog ’n visioen gehad. Dit het gegaan oor dinge wat nog beslis sou gebeur. Dit sou ’n tyd van oorlog wees. Daniël het verstaan wat hierdie visioen beteken. Tydens die visioen was ek, Daniël, al drie weke lank besig om te treur. Ek het nie in daardie drie weke enige geurige kos of vleis geëet nie. Ek het nie eers aan wyn geraak nie. Ek het ook nie van enige geurige olie gebruik gemaak nie. Dit was op 23 April. Ek het op die oewer van die groot Tigrisrivier gestaan. Ek het opgekyk en ’n man gesien met klere van fyn linne en ’n goue gordel om sy lyf. Sy lyf het soos edelstene gelyk. Sy gesig was soos weerligstrale, sy oë soos vlammende fakkels. Sy arms en sy voete was soos koper wat blink gevryf is. Die stem waarmee hy gepraat het, het geklink soos die geruis van ’n skare mense.