DANIËL 1:2-4
DANIËL 1:2-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het vir koning Jojakim oorgegee in Nebukadnesar se mag, en ook 'n gedeelte van die tempelgereedskap, en hy het dit na Sinar, na die tempel van sy god toe gevat, en daar het hy dit in die voorraadkamer van die tempel van sy god gebêre. Die koning het vir Aspenas, sy hoofpaleisbeampte, beveel om uit die Israeliete jongmanne na die paleis toe te bring, uit die koninklike geslag en uit die geslag van vername mense. Die jongmanne moes sonder liggaamsgebrek wees, mooi, toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen. Hulle moes onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal.
DANIËL 1:2-4 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Nebukadnesar gehelp. Nebukadnesar het koning Jojakim van Juda oorwin en hy het party van die goed gevat wat in die tempel was. Nebukadnesar het vir Jojakim en die goed na die land Babel gevat, na die tempel van sy god. Hy het alles wat hy gevat het, gebêre in die stoorkamer by die tempel. Aspenas was die hoof van die mense wat in koning Nebukadnesar se huis gewerk het. Die koning het vir Aspenas gesê hy moet 'n paar van die Israeliete se seuns bring om vir hom te werk. Die seuns moet familie wees van die koning van Israel, of hulle moet die seuns van belangrike mense wees. Die seuns moet heeltemal gesond en mooi en slim wees. Hulle moet van alles weet en hulle moet sterk wees, sodat hulle in die koning se huis kan werk. Hulle moet eers leer om die taal van die mense van Babel te praat en te skryf.
DANIËL 1:2-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die Here het Jójakim, die koning van Juda, in sy hand gegee, met 'n gedeelte van die voorwerpe van die huis van God, en hy het hulle na die land Sínear gebring in die huis van sy god, en die voorwerpe het hy in die skathuis van sy god gebring. Daarop het die koning aan Áspenas, die owerste van sy hofdienaars, bevel gegee om uit die kinders van Israel, uit die koninklike geslag sowel as uit die edeles, te bring: jong seuns aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te dien; en om hulle die skrif en die taal van die Chaldeërs te leer.
DANIËL 1:2-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die Heer het Jojakim, die koning van Juda, en ook 'n deel van die voorwerpe in die huis van God in sy hand oorgegee. Hy het dit na die land Sinar, na die tempel van sy gode geneem – die voorwerpe het hy na die skatkamer van sy gode geneem. Die koning het Aspenas, die rabsaries, toe aangesê om uit die Israeliete, uit die koninklike familie en die vernames, jong seuns te bring aan wie daar nie enige liggaamsgebrek is nie, wat 'n goeie voorkoms het, wat insig in alle soorte wysheid het, wat oor kennis en goeie oordeelsvermoë beskik, en wat in staat is om in die paleis van die koning te dien, en in die skrif en taal van die Galdeërs onderrig te word.
DANIËL 1:2-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die HERE het Jójakim, die koning van Juda, in sy hand gegee, saam met 'n deel van die voorwerpe van die huis van God, wat hy na die land Sinear na die huis van sy god gebring het; en hy het die voorwerpe in die skatkamer van sy god gebring. En die koning het met Aspenas, die heer van sy eunugs, gespreek dat hy sommige van die kinders van Israel en uit die nageslag van die koning en van die vorste moes bring; Kinders in wie geen gebrek was nie, maar welgevallig en bekwaam in alle wysheid en listigheid in kennis en insig in die wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te staan en vir wie hulle die geleerdheid en die taal kon leer van die Chaldeërs.
DANIËL 1:2-4 Die Boodskap (DB)
Hy het Jerusalem ingeneem en die Here het hom toegelaat om Jojakim gevange te neem. Hy het ook van die voorwerpe wat die Israeliete in die tempel gebruik het, saamgevat Babel toe. Daar het hy dit in die tempel van sy eie afgode gebêre. Die koning het vir Aspenas, die hoofbeampte van die paleis, opdrag gegee om van die jongmense uit die koninklike familie en ook uit die ander belangrike families van Juda te kies en hulle paleis toe te bring. Hulle moes sonder gebreke, sterk, aantreklik en slim wees. Hulle moes dinge vinnig kon snap en ingelig wees, en geskik vir werk in die koning se paleis. Aspenas moes hulle ook leer om Galdees, die taal van die Babiloniërs, te lees en te skryf.
DANIËL 1:2-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Here het Jojakim, die koning van Juda, in sy mag gegee. Toe hy terugkeer na Babel het hy van die voorwerpe wat hy uit God se tempel geplunder het saam met hom gevat en dit in die voorraadkamers van sy god se tempel gaan sit. Die koning het vir Aspenas, wat aan die hoof was van die paleisamptenare, opdrag gegee. Hy moes jong manne uit die koninklike families en vooraanstaandes van die Israeliete wat gevange geneem is na hom toe bring. Hulle moes gesond en aantreklik wees, intelligent, goed ingelig en vinnig van begrip, geskik om in die koning se paleis diens te doen. Hulle moes ook verder onderrig word in die taal en letterkunde van die Babiloniërs.