DANIËL 1:1-2
DANIËL 1:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die derde jaar van die regering van Jojakim, die koning van Juda, het Nebukadnesar, die koning van Babilonië, na Jerusalem gekom en dit beleër. Die Heer het Jojakim, die koning van Juda, en ook 'n deel van die voorwerpe in die huis van God in sy hand oorgegee. Hy het dit na die land Sinar, na die tempel van sy gode geneem – die voorwerpe het hy na die skatkamer van sy gode geneem.
DANIËL 1:1-2 Die Boodskap (DB)
In die derde jaar dat Jojakim koning van Juda was, het koning Nebukadnesar van Babel Jerusalem aangeval en die stad omsingel. Hy het Jerusalem ingeneem en die Here het hom toegelaat om Jojakim gevange te neem. Hy het ook van die voorwerpe wat die Israeliete in die tempel gebruik het, saamgevat Babel toe. Daar het hy dit in die tempel van sy eie afgode gebêre.
DANIËL 1:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die derde jaar wat koning Jojakim oor Juda regeer het, het Nebukadnesar teen Jerusalem opgetrek. Hy was die koning van Babel. Hy het die stad beleër. Die Here het Jojakim, die koning van Juda, in sy mag gegee. Toe hy terugkeer na Babel het hy van die voorwerpe wat hy uit God se tempel geplunder het saam met hom gevat en dit in die voorraadkamers van sy god se tempel gaan sit.
DANIËL 1:1-2 Bybel vir almal (ABA)
Koning Nebukadnesar van die land Babel het na Jerusalem gekom. Sy soldate het Jerusalem van al die kante aangeval. Dit was in die derde jaar nadat Jojakim koning van Juda geword het. Die Here het vir Nebukadnesar gehelp. Nebukadnesar het koning Jojakim van Juda oorwin en hy het party van die goed gevat wat in die tempel was. Nebukadnesar het vir Jojakim en die goed na die land Babel gevat, na die tempel van sy god. Hy het alles wat hy gevat het, gebêre in die stoorkamer by die tempel.
DANIËL 1:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN die derde jaar van die regering van Jójakim, die koning van Juda, het Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër. En die Here het Jójakim, die koning van Juda, in sy hand gegee, met 'n gedeelte van die voorwerpe van die huis van God, en hy het hulle na die land Sínear gebring in die huis van sy god, en die voorwerpe het hy in die skathuis van sy god gebring.
DANIËL 1:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die derde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda het koning Nebukadnesar van Babel teen Jerusalem opgetrek en dit beleër. Die Here het vir koning Jojakim oorgegee in Nebukadnesar se mag, en ook 'n gedeelte van die tempelgereedskap, en hy het dit na Sinar, na die tempel van sy god toe gevat, en daar het hy dit in die voorraadkamer van die tempel van sy god gebêre.
DANIËL 1:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In die derde jaar van die regering van Jojakim, die koning van Juda, het Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër. En die HERE het Jójakim, die koning van Juda, in sy hand gegee, saam met 'n deel van die voorwerpe van die huis van God, wat hy na die land Sinear na die huis van sy god gebring het; en hy het die voorwerpe in die skatkamer van sy god gebring.