KOLOSSENSE 2:6-10
KOLOSSENSE 2:6-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. Pasop dat niemand julle meevoer deur 'n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op •Christus nie. Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul.
KOLOSSENSE 2:6-10 Bybel vir almal (ABA)
Julle het gehoor dat Christus Jesus die Here is, en julle glo in Hom. Nou moet julle lewe soos mense wat aan Hom behoort. Christus maak julle geloof sterk, soos 'n wortel 'n boom sterk maak en soos 'n fondament 'n huis sterk maak. En julle moet aanhou om die dinge te glo wat julle geleer het, en julle moet altyd vir God dankie sê vir alles. Julle moenie luister na die mense wat dink hulle sê slim dinge en wat vir julle dinge laat glo wat nie waar is nie. Hulle het daardie dinge by ander mense geleer, nie by Christus nie. Die dinge wat hulle sê, kom van die geeste wat dink dat hulle sterk is en oor die wêreld kan regeer. Daardie mense praat nie die waarheid nie, want Christus, die Seun wat 'n mens geword het, is ook God en Hy is so sterk soos God. Julle behoort aan Christus. Christus het julle gered, en julle is heeltemal soos Hy wil hê julle moet wees. Christus is sterker as almal en alles wat oor die wêreld wil regeer.
KOLOSSENSE 2:6-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle daarin oorvloedig is in danksegging. Pas op dat niemand julle as 'n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag
KOLOSSENSE 2:6-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul. Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie. In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag.
KOLOSSENSE 2:6-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom. Gewortel en opgebou in Hom, en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, en oorvloedig daarin met danksegging. Pasop dat niemand julle deur wysbegeerte en ydele bedrog buit, volgens die oorlewering van mense, volgens die beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik. En julle is volmaak in Hom, wat die Hoof is van alle owerheid en mag.
KOLOSSENSE 2:6-10 Die Boodskap (DB)
Julle het Jesus Christus as Here erken en aanvaar. Tree nou op soos mense wat Hom regtig as Here ken. Julle verhouding met Hom moet so heg en intiem wees soos die band tussen ’n boom en die aarde waaruit dit groei. Soos ’n huis wat op ’n sterk fondament gebou word, moet julle julle lewe op Jesus bou. Staan onwrikbaar vas in dit wat julle glo, soos julle geleer is. Doen dit terwyl julle gedurig vir God dankie sê en Hom eer. Wees baie versigtig dat niemand julle in die verkeerde rigting lei nie. Sulke mense gebruik allerhande teorieë en argumente wat slim klink, maar eintlik is dit net ’n leë klomp bedrog. Baie van hierdie idees het die mense sommer self uitgedink. Die een vertel dit vir die volgende een en later glo almal dit. Die res kom van die onsigbare magte af wat in die wêreld aan die werk is. Nie een van dié idees stem ooreen met wat Christus sou sê nie. By en in Christus is God ten volle en altyd teenwoordig, ook toe Hy mens geword het. Omdat julle in ’n hegte verhouding met Hom staan, kry julle weer by Hom alles wat julle op geestelike gebied nodig mag hê. Hy sorg dat julle niks kortkom nie. Hy is mos die Een wat mag uitoefen oor alle magte, ook oor die geestelike magte.
KOLOSSENSE 2:6-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Noudat julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle lewe soos mense wat aan Hom verbonde is. Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle geleer is, en loop oor van dankbaarheid. Wees op julle hoede en laat niemand julle op sleeptou neem met ’n leë, misleidende filosofie wat wel rekening hou met menslike tradisie en met wêreldse magte, maar nie met Christus nie. Die volheid van God is mos liggaamlik in Christus teenwoordig. En omdat julle één is met Christus deel julle in sy volheid – Hy wat die hoof is van elke heerskappy en gesag.