KOLOSSENSE 1:15-23

KOLOSSENSE 1:15-23 Bybel vir almal (ABA)

Niemand kan vir God sien nie, maar God se Seun het vir ons kom wys hoe God is. Die Seun is die Eerste, die belangrikste van alles in die hemel en op die aarde, want Hy het alles gemaak, God het gesê Hy moet dit doen. Die Seun het alles in die hemel en alles op die aarde gemaak, alles wat 'n mens kan sien en alles wat 'n mens nie kan sien nie, almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, in die hemel en op die aarde. Die Seun het hulle almal gemaak, en hulle is daar om Hom te respekteer en te dien. Die Seun was daar voordat daar iets anders was en Hy laat alles lewe. Die kerk is die Seun se liggaam, Hy is die Hoof van die kerk, en Hy laat die kerk lewe. Hy is die Eerste, die Een wat dood was en wat weer lewe, en daarom is Hy nou die belangrikste van almal en alles. Hy, die Seun, is God en Hy kan doen soos God doen, omdat God besluit het om in die Seun te woon. Die Seun het aan die kruis gesterf, en so het God vrede gebring. So het God almal se sonde weggeneem, almal op die aarde en almal in die hemel. God het dit gedoen sodat alles reg kan wees tussen God en hulle. Voorheen was julle ver van God, julle was God se vyande en julle het slegte dinge gedink en gedoen. Maar nou het God julle verander. Die Seun het 'n mens geword en Hy het gesterf, en daarom het God julle sonde weggeneem sodat alles reg kan wees tussen God en julle. God het dit gedoen sodat julle aan Hom kan behoort en sodat julle sonder sonde sal wees en onskuldig sal wees wanneer Hy julle oordeel. Maar dan moet julle aanhou glo, julle geloof moet baie sterk wees. Toe julle die goeie boodskap gehoor het, het God vir julle gehelp om seker te wees van die dinge wat julle glo, en nou moet julle aanhou om seker te wees. Al die mense in die wêreld het die goeie boodskap gehoor, die goeie boodskap wat ek moet bring.

KOLOSSENSE 1:15-23 Die Boodskap (DB)

Ons kan God nie met ons oë sien nie. Sy Seun is egter die beeld van God. Deur na Hom te kyk sien ons wie en hoe God is. Niks in die skepping kan met Hom vergelyk word nie. Hoekom nie? Net mooi alles, of dit nou in die hemel of op die aarde is, is deur Hom gemaak. Of jy dit kan sien of nie, of jy dink dit is sterk of nie, of jy daarvoor wil neerval en dit aanbid of nie, maak nie saak nie; alles is deur Hom gemaak. Alles wat gemaak is, moet daarna streef om Hom gelukkig te maak. Voor enigiets anders gemaak is, was Hy mos al daar. Boonop is Hy ook die Een wat sorg dat die heelal nie in duie stort nie. Die kerk kan met ’n liggaam vergelyk word. Die belangrikste deel, die kop van die liggaam, is God se Seun. By Hom het alles begin en Hy neem in alles die leiding. Hy het eerste uit die dood opgestaan. God het mos self besluit om volledig by sy Seun te wees. Hy het daarvoor gesorg dat alles in die skepping weer in die regte verhouding met Hom gestel word. Hy is mos die doel waarom alles geskep is. Dit het Hy gedoen deur die onderlinge verhoudings in die skepping weer reg te stel, of dit nou op die aarde of in die hemel is. Dit het nie sommerso gebeur nie. Dit was duur. Dit het Hom sy bloed gekos wat aan die kruis geloop het. Julle onthou mos hoe julle voorheen op die verkeerde pad was. Julle was nie God se vriende nie; inteendeel, julle was sy vyande. Julle slegte gesindheid het veroorsaak dat julle net so sleg opgetree het. Maar dinge het nou verander. Die Seun het vrede kom maak tussen God en julle. Juis daarom het hulle Hom liggaamlik doodgemaak. Sy doel was egter om so van julle iets besonders te maak. Hy wil dit so bewerk dat julle God heeltemal tevrede sal stel sodat daar niks in julle is waarvan God nie hou nie. Julle moet egter net vas bly glo. Staan vas soos ’n huis op stewige fondamente, onbeweeglik soos ’n paal wat diep ingekap is. Moenie ’n duim afwyk van die evangelie waarvan julle so oortuig geraak het nie. Dit is die evangelie wat oor die hele wêreld aan mense verkondig word. Met al my tyd en energie werk ek, Paulus, vir hierdie evangelie.

KOLOSSENSE 1:15-23

KOLOSSENSE 1:15-23 AFR83KOLOSSENSE 1:15-23 AFR83