KOLOSSENSE 1:15-22
KOLOSSENSE 1:15-22 Die Boodskap (DB)
Ons kan God nie met ons oë sien nie. Sy Seun is egter die beeld van God. Deur na Hom te kyk sien ons wie en hoe God is. Niks in die skepping kan met Hom vergelyk word nie. Hoekom nie? Net mooi alles, of dit nou in die hemel of op die aarde is, is deur Hom gemaak. Of jy dit kan sien of nie, of jy dink dit is sterk of nie, of jy daarvoor wil neerval en dit aanbid of nie, maak nie saak nie; alles is deur Hom gemaak. Alles wat gemaak is, moet daarna streef om Hom gelukkig te maak. Voor enigiets anders gemaak is, was Hy mos al daar. Boonop is Hy ook die Een wat sorg dat die heelal nie in duie stort nie. Die kerk kan met ’n liggaam vergelyk word. Die belangrikste deel, die kop van die liggaam, is God se Seun. By Hom het alles begin en Hy neem in alles die leiding. Hy het eerste uit die dood opgestaan. God het mos self besluit om volledig by sy Seun te wees. Hy het daarvoor gesorg dat alles in die skepping weer in die regte verhouding met Hom gestel word. Hy is mos die doel waarom alles geskep is. Dit het Hy gedoen deur die onderlinge verhoudings in die skepping weer reg te stel, of dit nou op die aarde of in die hemel is. Dit het nie sommerso gebeur nie. Dit was duur. Dit het Hom sy bloed gekos wat aan die kruis geloop het. Julle onthou mos hoe julle voorheen op die verkeerde pad was. Julle was nie God se vriende nie; inteendeel, julle was sy vyande. Julle slegte gesindheid het veroorsaak dat julle net so sleg opgetree het. Maar dinge het nou verander. Die Seun het vrede kom maak tussen God en julle. Juis daarom het hulle Hom liggaamlik doodgemaak. Sy doel was egter om so van julle iets besonders te maak. Hy wil dit so bewerk dat julle God heeltemal tevrede sal stel sodat daar niks in julle is waarvan God nie hou nie.
KOLOSSENSE 1:15-22 Bybel vir almal (ABA)
Niemand kan vir God sien nie, maar God se Seun het vir ons kom wys hoe God is. Die Seun is die Eerste, die belangrikste van alles in die hemel en op die aarde, want Hy het alles gemaak, God het gesê Hy moet dit doen. Die Seun het alles in die hemel en alles op die aarde gemaak, alles wat 'n mens kan sien en alles wat 'n mens nie kan sien nie, almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, in die hemel en op die aarde. Die Seun het hulle almal gemaak, en hulle is daar om Hom te respekteer en te dien. Die Seun was daar voordat daar iets anders was en Hy laat alles lewe. Die kerk is die Seun se liggaam, Hy is die Hoof van die kerk, en Hy laat die kerk lewe. Hy is die Eerste, die Een wat dood was en wat weer lewe, en daarom is Hy nou die belangrikste van almal en alles. Hy, die Seun, is God en Hy kan doen soos God doen, omdat God besluit het om in die Seun te woon. Die Seun het aan die kruis gesterf, en so het God vrede gebring. So het God almal se sonde weggeneem, almal op die aarde en almal in die hemel. God het dit gedoen sodat alles reg kan wees tussen God en hulle. Voorheen was julle ver van God, julle was God se vyande en julle het slegte dinge gedink en gedoen. Maar nou het God julle verander. Die Seun het 'n mens geword en Hy het gesterf, en daarom het God julle sonde weggeneem sodat alles reg kan wees tussen God en julle. God het dit gedoen sodat julle aan Hom kan behoort en sodat julle sonder sonde sal wees en onskuldig sal wees wanneer Hy julle oordeel.
KOLOSSENSE 1:15-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis — ek sê deur Hom — die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele. Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel
KOLOSSENSE 1:15-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel.
KOLOSSENSE 1:15-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die •Eersgeborene oor die hele skepping; want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep. Hy het voor alles bestaan, en in Hom hou alles stand. Hy is die Hoof van die liggaam, die kerk. Hy is die oorsprong, die Eersgeborene uit die dood, sodat Hy in alles die eerste plek kon inneem; want God het dit goedgevind om die hele volheid in Hom te laat woon, en om deur Hom alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis. Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade; maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel
KOLOSSENSE 1:15-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wie is die beeld van die onsigbare God, die eersgeborene van elke skepsel; Want deur Hom is alle dinge geskape wat in die hemel en op die aarde is, sigbaar en onsigbaar, of dit trone of heerskappye of owerhede of magte is; alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en deur Hom bestaan alle dinge. En Hy is die Hoof van die liggaam, die gemeente; wie is die Begin, die Eersgeborene uit die dode; sodat hy in alles die voorrang kan hê. Want dit het die Vader behaag dat die hele volheid in Hom sou woon; En nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis, deur Hom alles met Homself te versoen; deur Hom, sê ek, of dit dinge op die aarde of dinge in die hemel is. En julle, wat eens vervreemd en vyande in julle gemoed was deur bose werke, maar nou het Hy versoen; In die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en onberispelik en onberispelik voor sy oë te stel
KOLOSSENSE 1:15-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God. Hy is die Eerste van die hele skepping, omdat God alles deur Hom geskep het. Ja, alles in die hemel en op die aarde – die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie, of dit nou konings of heersers, regeerders of maghebbers is – álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep. Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind. Hý is die hoof van die kerk, sy liggaam. Die Seun is die begin. Hy is die Eerste wat uit die dood opgestaan het sodat Hy inderdaad eerste in alle dinge is. God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede gemaak. Ja, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Eers was julle ook ver van God af. Met verkeerde dade het julle gewys dat julle Hom vyandiggesind is. Maar nou het Hy julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterf het om julle voor Hom as sy eie mense te laat staan, skoon en foutloos.