AMOS 5:10-17
AMOS 5:10-17 Bybel vir almal (ABA)
Julle haat 'n man wat in die poort praat teen iemand wat verkeerd gedoen het, julle hou nie van 'n man wat die waarheid praat nie. Julle trap op die arm mens, julle vat sy koring. Daarom sal julle nie woon in die huise wat julle gebou het met die klippe wat julle so mooi gekap het nie. Julle sal nie die wyn drink van die mooi wingerde wat julle geplant het nie. Ek weet hoe baie en hoe groot julle sonde is. Julle is vyande van iemand wat reg doen. Julle vat die geld wanneer mense julle wil betaal om verkeerd te doen. In die poort is julle onregverdig met die arm mense. Dit is hoekom verstandige mense stilbly in hierdie tyd. Dit is 'n slegte tyd. Julle sê die Here is by julle. Maar julle moet probeer om goed te doen, moenie doen wat sleg is nie. Dan sal julle lewe, en dan sal die Here, die God wat oor alles regeer, by julle wees. Julle moet haat wat sleg is en julle moet lief wees vir wat goed is, julle moet in die hof reg doen aan mense. Miskien sal die Here, die God wat oor alles regeer, dan jammer wees vir julle, julle Israeliete wat nog lewe. Ja, die Here sê, die God wat oor alles regeer, die Here, sê: “Die mense sal huil en treur op al die oop plekke in die stad, hulle sal in al die strate sug. Hulle betaal mense om te treur, en hulle sal die boere roep om saam te kom treur oor almal wat dood is. Hulle sal in al die wingerde treur, want Ek gaan tussen julle deur om julle te straf.”
AMOS 5:10-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hulle haat die man wat in die poort die reg handhaaf, en hulle het 'n afsku van hom wat in opregtheid spreek. Daarom, omdat julle die arm man vertrap en van hom 'n heffing van koring neem, het julle huise van gekapte klippe gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; julle het pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie. Want Ek weet dat julle oortreding menigvuldig en julle sondes geweldig is, julle wat die vyande is van die regverdige, wat omkoopgeld aanneem en die behoeftiges wegstoot in die poort. Daarom swyg die verstandige in so 'n tyd, want dit is 'n onheilspellende tyd. Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die HERE, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê. Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die poort — miskien sal die HERE, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef. Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare, die Here: Op al die pleine weeklag! En op al die strate sal hulle sê: Ag, ag! En hulle sal na die landbouer roep om te treur, en te weeklaag na die wat verstaan om treurliedere te sing. Ook sal daar in al die wingerde weeklag wees wanneer Ek in jou midde deurtrek, sê die HERE.
AMOS 5:10-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle haat dié wat vir die reg opkom in die howe, julle verafsku dié wat die waarheid praat. Omdat julle die arm mens vertrap en van hom koring afpers, sal julle nie woon in die huise van gekapte klip wat julle bou nie en sal julle nie die wyn drink van die pragtige wingerde wat julle plant nie. Ek weet hoe baie julle oortredings is, hoe groot julle sondes is, julle wat die vyande is van dié wat reg doen, julle wat julle laat omkoop en nie aan die armes reg laat geskied nie. Dit is daarom dat 'n verstandige mens maar stilbly in hierdie tyd, want dit is 'n bose tyd. Probeer goed doen, nie verkeerd nie, dat julle kan lewe! Dan sal die Here die almagtige God so by julle wees soos julle sê dat Hy is. Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe. Dan sal die Here die almagtige God Hom dalk ontferm oor wat daar van Josef oor is. So sê die Here, die almagtige God, die Here: Die mense sal treur op al die oop ruimtes, hulle sal op al die strate sê: “Ag tog, ag tog!” Hulle sal die boere en die treursangers roep om saam te kom treur. Daar sal ook in al die wingerde getreur word, want Ek gaan tussen julle deur om julle te straf, sê die Here.
AMOS 5:10-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle haat die een wat in die stadspoort teregwys en verafsku hom wat reguit praat. Daarom, omdat julle graanbelasting van armes eis, en 'n heffing op graan van hulle neem, het julle huise van gekapte klip gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; het julle pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie. Ek weet immers hoe baie julle oortredings en hoe talryk julle sondes is, julle wat vyandig is teenoor regverdiges, wat omkoopgeld vat en behoeftiges in die stadspoort wegwys. Daarom is die verstandige in hierdie tyd stil, want dit is 'n bose tyd. Soek die goeie, nie die slegte nie, sodat julle kan lewe; dan sal die HERE, die God wat Heerser is oor alle magte, só by julle wees soos wat julle sê. Haat die slegte, wees lief vir die goeie, en vestig die reg in die stadspoort. Miskien sal die HERE, die God wat Heerser is oor alle magte, dié wat oor is van Josef, genadig wees. Daarom, so sê die HERE, die God van alle magte, my Heer: “Op al die dorpspleine klink die rouklag op. In al die strate roep hulle, ‘O wee! O wee!’ Hulle roep plaaswerkers om deel te neem aan die rouplegtigheid en die rouklag, saam met die kenners van treursang. In al die wingerde klink die rouklag op, want Ek trek deur jou midde.” Dit het die HERE gesê.
AMOS 5:10-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hulle haat hom wat in die poort bestraf, en hulle het 'n afsku van hom wat opreg spreek. Aangesien julle dan die arme vertrap en julle koringlas van hom wegneem, het julle huise van gekapte klip gebou, maar daarin mag julle nie woon nie; julle het lieflike wingerde geplant, maar wyn daarvan mag julle nie drink nie. Want Ek ken jou menigte oortredinge en jou magtige sondes: hulle verdruk die regverdige, hulle neem omkoopgeld aan, en hulle wend die armes in die poort van hul regterkant af. Daarom sal die verstandiges in dié tyd swyg; want dit is 'n slegte tyd. Soek goed en nie kwaad nie, sodat julle kan lewe; en so sal die HERE, die God van die leërskare, met julle wees soos julle gespreek het. Haat wat sleg is, en wees lief vir die goeie, en bevestig die reg in die poort; miskien sal die HERE, die God van die leërskare, die oorblyfsel van Josef genadig wees. Daarom sê die HERE, die God van die leërskare, die HERE so: Geweeklaag sal wees in alle strate; en hulle sal op al die grootpaaie sê: Wee! helaas! en hulle sal die landbouer tot rou roep, en die wat bekwaam is van weeklaag tot weeklag. En in al die wingerde sal huil, want Ek sal deur jou trek, spreek die HERE.
AMOS 5:10-17 Die Boodskap (DB)
“Julle haat mos mense wat regverdig wil wees. Julle is mos hatig op mense wat die waarheid praat in die hof. Omdat julle die armes onderdruk en hulle afpers, sal julle nooit self bly in die mooi huise wat julle vir julle van klip gebou het nie, en sal julle nooit die wyn drink wat uit die wingerde kom wat julle aangeplant het nie. Ek weet van alles wat julle verkeerd gedoen het. Ek weet van al die baie sondes wat julle doen. Julle vat omkoopgeld. Julle jaag die man weg wat reg is. In die hof kies julle kant teen die arm mense. In hierdie tyd met al sy onregverdige dinge is dit die verstandigste om maar liewer stil te bly.” “Probeer om eerder goed te doen as kwaad. Julle sal dan voorspoedig lewe. Dit sal dan regtig gebeur soos julle gehoop het. Die Here, die God wat baie sterk is, sal by julle bly. Verwerp alles wat lelik is. Slaan julle arms om alles wat goed is en druk dit teen julle vas. Sorg dat die uitsprake in julle hof altyd regverdig is. Miskien sal die Here, die God wat baie sterk is, goed wees vir dié wat nog van Josef se nageslag oorgebly het.” “Omdat dit gebeur het,” sê die Here, die God wat so sterk is, “sal daar gehuil word op die oop plekke in die stad waar die mense bymekaarkom. In die strate daarbuite sal hulle loop en roep: ‘Ai tog, ai tog!’ Hulle sal die boer van sy lande af roep en die mense wat betaal word om op begrafnisse te kom huil sodat hulle ook saam kan kom huil. Ek sal deur julle land gaan om julle te straf. By elke plek waar Ek kom, selfs in die wingerde waar die druiwe groei, sal daar gehuil word,” sê die Here.
AMOS 5:10-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle haat eerlike regters. Julle verafsku mense wat die waarheid praat. Julle vertrap die armes en eis ’n deel van hulle graan. Daarom, omdat julle dit doen, sal julle nooit kan woon in die deftige steenhuise wat julle bou nie. Julle het wingerde aangeplant, maar julle sal nooit drink van die wyn wat dit oplewer nie. Ek weet hoeveel oortredings julle het en hoe groot julle sondes is. Julle onderdruk goeie mense deur omkoopgeld te eis. Julle ontneem die armes van hulle reg in die howe. ’n Verstandige mens bly in hierdie tyd eerder stil omdat dit ’n tyd vol onreg is. Doen wat goed is en vlug vir die kwaad, dan sal julle lewe! Dan sal Hy, die HERE God, die Almagtige, by julle wees soos julle gesê het dat Hy is. Julle moet die bose haat en die goeie liefhê. Sorg dat regverdigheid in die howe seëvier. Miskien sal die HERE God, die Almagtige, nog genade hê vir dié wat oorgebly het van Josef se nageslag. Die HERE God, die Almagtige, die Here, sê: “Omdat dit gebeur het, sal mense op die pleine en op al die strate uitroep van smart. Roep die boere op om saam met julle te huil en die gehuurde rouklaers om te kla. Selfs in die wingerde sal mense huil, want Ek beweeg onder julle om julle te straf,” sê die HERE.