HANDELINGE 9:3-6
HANDELINGE 9:3-6 Bybel vir almal (ABA)
Terwyl Saulus op die pad was naby Damaskus, het daar skielik 'n lig rondom hom geskyn uit die lug. Toe hy op die grond val, het hy gehoor dat Iemand sê: “Saul, Saul, hoekom doen jy hierdie slegte dinge aan My?” Saulus vra toe: “Meneer, wie is jy?” Die Persoon het gesê: “Ek is Jesus, jy doen slegte dinge aan My. Maar jy moet opstaan en jy moet in die stad ingaan, dan sal iemand vir jou sê wat jy moet doen.”
HANDELINGE 9:3-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik 'n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor 'n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.
HANDELINGE 9:3-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik 'n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.”
HANDELINGE 9:3-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl hy onderweg was, en naby Damaskus kom, het 'n lig uit die hemel hom skielik omstraal, en hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” Hy het gevra: “Wie is U, Here?” En Hy antwoord: “Ek is Jesus, wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.”
HANDELINGE 9:3-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl hy reis, het hy naby Damaskus gekom, en skielik het daar 'n lig uit die hemel rondom hom geskyn. En hy het op die aarde geval en 'n stem vir hom hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here sê: Ek is Jesus wat jy vervolg; dit is vir jou moeilik om teen die prikkels te skop. En hy het bewend en verbaas gesê: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here sê vir hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou vertel word wat jy moet doen.
HANDELINGE 9:3-6 Die Boodskap (DB)
Naby Damaskus is Saulus skielik deur ’n skerp lig uit die hemel verblind. Hy het baie groot geskrik toe hy die lig sien en het soos ’n dooie op die grond neergeval. Toe hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?” “Sê asseblief vir my wie U is, Here,” het hy benoud gevra. “Dit is Ek, Jesus. Jy is besig om My te vervolg. Staan nou op en gaan Damaskus toe. Daar sal jy hoor wat jy moet doen,” het Jesus geantwoord.
HANDELINGE 9:3-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe hy op sy sending naby Damaskus kom, het daar skielik ’n lig uit die hemel hom omstraal! Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” het hy toe gevra. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dis vir Mý wat jy vervolg! Staan nou op en gaan die stad in. Dáár sal vir jou gesê word wat jou te doen staan.”