HANDELINGE 9:26-31
HANDELINGE 9:26-31 Bybel vir almal (ABA)
Toe Saulus in Jerusalem kom, het hy aangehou om te probeer vriende maak met die gelowiges. Maar hulle het nie geglo dat hy 'n gelowige is nie, en daarom was hulle almal bang vir Saulus. Maar Barnabas het vir Saulus gehelp. Hy het vir Saulus na die apostels toe geneem en hy het vir hulle vertel dat Saulus op die pad na Damaskus die Here gesien het en dat die Here toe met Saulus gepraat het. Barnabas het ook vir hulle vertel dat Saulus nie bang was om vir die mense in Damaskus van Jesus te vertel nie. En Saulus het oral in Jerusalem saam met hulle gegaan en hy was nie bang om vir die mense te vertel van die Here nie. Hy het ook gepraat met die Jode wat Grieks gepraat het, en hy het met hulle gestry, maar hulle het probeer om hom dood te maak. Toe die gelowiges dit uitvind, het hulle vir Saulus na die hawestad Sesarea geneem en van Sesarea het hulle hom na die stad Tarsus gestuur. Die kerk in die provinsies Judea, Galilea en Samaria het 'n tyd lank in vrede gelewe. God het hulle gehelp om aan te hou glo, hulle het die Here gedien en hulle was gehoorsaam aan Hom. Die Heilige Gees het die kerk sterk gemaak en meer en meer mense het in die Here begin glo.
HANDELINGE 9:26-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy 'n dissipel was nie. Maar Bárnabas het hom geneem en na die apostels gebring en hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het en dat Hy met hom gespreek het, en hoe hy in Damaskus vrymoediglik in die Naam van Jesus gespreek het. En hy het saam met hulle in- en uitgegaan in Jerusalem en vrymoediglik gespreek in die Naam van die Here Jesus, en ook met die Griekssprekende Jode gepraat en geredetwis, maar hulle het probeer om hom dood te maak. En toe die broeders dit agterkom, het hulle hom na Cesaréa afgebring en hom na Tarsus weggestuur. En die gemeentes deur die hele Judéa en Galiléa en Samaría het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder.
HANDELINGE 9:26-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Saulus het na Jerusalem toe gegaan en het geprobeer om daar by die volgelinge van Jesus aan te sluit, maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie kon glo dat hy 'n volgeling van Jesus is nie. Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Hy het vir hulle vertel hoe Saulus op die pad die Here gesien het en dat die Here met hom gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met die Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer; maar hulle het hom probeer vermoor. Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom na Sesarea toe geneem en hom daarvandaan na Tarsus toe weggestuur. In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk 'n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe. Die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.
HANDELINGE 9:26-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was bang vir hom, omdat hulle nie geglo het dat hy 'n dissipel is nie. Barnabas het hom egter gaan haal en na die •apostels geneem, en vir hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het, dat Hy met hom gepraat het en hoe hy in Damaskus met vrymoedigheid in die Naam van Jesus gepreek het. Saam met hulle het hy in Jerusalem gekom en gegaan en met vrymoedigheid in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met die Helleniste gepraat en geredeneer, maar hulle het hom probeer doodmaak. Maar toe die broers dit agterkom, het hulle hom na Caesarea geneem en na Tarsus weggestuur. Die •kerk dwarsdeur die hele Judea, Galilea en Samaria het vrede beleef en is opgebou. Hulle het met ontsag voor die Here geleef, en met die bemoediging van die Heilige Gees, het hulle getalle toegeneem.
HANDELINGE 9:26-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Saul in Jerusalem aankom, het hy probeer om hom by die dissipels aan te sluit; maar hulle was almal bang vir hom en het nie geglo dat hy 'n dissipel was nie. Maar Barnabas het hom geneem en na die apostels gebring en aan hulle vertel hoe hy die Here op die pad gesien het en dat hy met hom gespreek het en hoe hy vrymoediglik in Damaskus gepreek het in die Naam van Jesus. En hy was saam met hulle wat in Jerusalem in- en uitgegaan het. En hy het met vrymoedigheid in die Naam van die Here Jesus gespreek en teen die Grieke getwis, maar hulle het gegaan om Hom dood te maak. En toe die broers dit hoor, het hulle hom na Cesaréa afgebring en hom na Tarsus gestuur. Toe het die gemeentes in die hele Judéa en Galilea en Samaria rus en is opgebou; en wandel in die vrees van die Here en in die vertroosting van die Heilige Gees, is vermeerder.
HANDELINGE 9:26-31 Die Boodskap (DB)
Daarna het Saulus teruggegaan Jerusalem toe. Daar het hy probeer om by die kerk aan te sluit, maar die gelowiges was skrikkerig vir hom. Hulle het gedink hy gee net voor dat hy glo. Barnabas het egter gesien Saulus se geloof in Jesus is eg. Hy het hom jammer gekry en hom toe aan die apostels gaan voorstel. Barnabas het hulle vertel hoe die Here aan Saulus verskyn en met hom gepraat het. Hy het ook vertel dat Saulus nie bang was om in Damaskus vir die mense te sê dat Jesus die Here is nie. Daarna het Saulus in die openbaar saam met hulle rondgestap. Oral waar hy gekom het, het hy met ander mense oor Jesus gepraat. Kort voor lank het Saulus egter moeilikheid gekry met ’n groep Griekssprekende Jode. Hulle het niks gehou van wat hy gesê het nie. Hulle het toe besluit om hom dood te maak. Toe die gelowiges daarvan te hore kom, het hulle hom dadelik uit die stad weggevat. Hulle is haastig met hom Sesarea toe. Van daar af het Saulus per skip na Tarsus vertrek. Daarna het daar ’n tydperk van vrede in die kerk aangebreek. Dwarsdeur Judea, Galilea en Samaria het mense in groot getalle by die kerk aangesluit. Gelowiges se vertroue in die Here het sterker geword. Hulle almal het ook groot eerbied vir die Here gehad. En hulle het al hoe meer bewus geword van die bystand en troos van die Heilige Gees in hulle lewe.
HANDELINGE 9:26-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die gelowiges aan te sluit, maar almal was bang vir hom. Hulle kon nie glo dat hy ’n gelowige is nie. Barnabas het hom toe na die apostels toe gevat, en vir hulle vertel hoe Saulus op pad na Damaskus die Here gesien het. Barnabas het ook vertel dat die Here met Saulus gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer, maar hulle het planne beraam om hom te vermoor. Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom Sesarea toe gevat en hom van daar na Tarsus toe weggestuur. Die kerk het deur die hele Judea, Galilea en Samaria vrede gehad. Die gelowiges is opgebou en het in ontsag vir die Here geleef, en hulle is deur die Heilige Gees versterk. Op hierdie manier het hulle getalle aangegroei.