HANDELINGE 9:10-19

HANDELINGE 9:10-19 Bybel vir almal (ABA)

Daar was 'n gelowige in Damaskus. Sy naam was Ananias. Die Here het na Ananias gekom en Hy het vir hom gesê: “Ananias!” Ananias antwoord toe: “Hier is ek, Here, ek luister.” Die Here sê toe vir Ananias: “Staan op en gaan na Reguitstraat. Jy moet in die huis van Judas soek na Saulus wat van die stad Tarsus kom. Jy sal sien hy is besig om te bid. Terwyl Saulus gebid het, het Ek vir hom gewys dat 'n man na hom toe kom en dat hierdie man sy hande op hom sit sodat hy weer kan sien. Die man se naam is Ananias.” Maar Ananias het vir die Here gesê: “Here, baie mense het vir my vertel dat hierdie man baie slegte dinge in Jerusalem gedoen het aan die mense wat in U glo. En nou is Saulus hier, en die hoëpriester het gesê dat hy die mense mag vang wat vir U aanbid en dien.” Die Here sê toe vir Ananias: “Jy moet na Saulus toe gaan, want Ek het hom gekies en aangestel om vir My te werk en om vir die volke en hulle konings en ook vir die Israeliete te vertel van My. Ek sal self vir hom wys hoe baie hy moet swaarkry omdat Hy vir mense van My vertel.” Ananias het toe gegaan en hy het in die huis ingegaan. Hy het sy hande op Saulus gesit en gesê: “Saulus, my vriend, jy het die Here Jesus gesien op die pad hiernatoe, en dit is Hý wat my gestuur het na jou toe sodat jy weer kan sien en sodat die Heilige Gees in jou kan wees.” Dadelik het daar iets afgeval van Saulus se oë. Dit het gelyk soos skubbe. Toe kon hy weer sien. Hy het opgestaan, en Ananias het hom gedoop. Saulus het toe geëet en hy het beter gevoel.

HANDELINGE 9:10-19 Die Boodskap (DB)

In Damaskus was daar ’n volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het in ’n visioen met hom gaan praat: “Ananias!” “Ja, Here, hier is ek,” het hy geantwoord. Toe sê die Here vir hom: “Jy moet dadelik na Reguitstraat gaan. Gaan soek die huis waar ’n man met die naam Judas bly. Vra dan vir hom of jy Saulus te sien kan kry. Hy is op die oomblik besig om te bid. Ek het reeds in ’n gesig vir hom gewys dat jy op pad is na hom toe om jou hande op hom te sit sodat hy weer kan sien.” Ananias het geskrik toe hy dit hoor: “Here, heelwat mense het my al teen hierdie man gewaarsku. Dis hy wat u kinders in Jerusalem so wreed vervolg. Nou het hy na ons toe gekom met lasbriewe van die hoëpriester om ons almal te vang.” Die Here antwoord Ananias: “Doen wat Ek vir jou sê. Gaan dadelik na Saulus toe. Ek het hom uitgekies vir ’n baie besondere opdrag. Hy gaan nog met baie belangrike mense oor My praat, en ook met die Jode en met mense wat aan ander volke behoort. Daar lê ’n moeilike taak vir hom voor. Saulus gaan nog baie swaarkry omdat hy oor My moet praat. Ek sal dit een van die dae vir hom wys.” Ananias het toe gedoen wat die Here vir hom gesê het. In Judas se huis het hy sy hande op Saulus gaan sit. Hy sê toe vir hom: “Saulus, my broer, die Here het my na jou toe gestuur. Dit is Hy, Jesus, wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was. Hy het my na jou toe laat kom sodat jy weer kan sien en sodat jou lewe vervul kan word met die Heilige Gees.” Ananias het skaars klaar gepraat, toe val daar iets soos skille van Saulus se oë af. Daarna kon hy weer sien. Hy is ook gedoop. Toe het hy weer begin eet. Sy liggaamskragte het gou teruggekeer. Daarna het Saulus nog ’n ruk by die gelowiges in Damaskus gebly.