HANDELINGE 8:1-25

HANDELINGE 8:1-25 Bybel vir almal (ABA)

Saulus het gedink dit is reg dat hulle vir Stefanus vermoor het. Op daardie dag het die Joodse leiers begin om baie slegte dinge te doen aan die kerk in Jerusalem. Al die gelowiges het gevlug na plekke in Judea en Samaria. Maar die apostels het in Jerusalem gebly. Daar was manne wat lief was vir die Here en wat Hom gedien het soos Hy wil hê. Hierdie manne het vir Stefanus begrawe. En hulle het baie gehuil en getreur oor hom. Saulus het probeer om die gemeente dood te maak. Hy het in die huise ingegaan en hy het mans en vroue weggesleep en in die tronk gegooi. Die gelowiges wat gevlug het, het oral die goeie boodskap gebring. Filippus het na 'n stad in die provinsie Samaria gegaan. Hy het vir die mense die boodskap oor Christus gebring. Toe die mense hoor wat hy preek, en toe hulle die tekens sien wat hy doen, het hulle almal saam goed geluister na die dinge wat Filippus gesê het. Baie mense het onrein geeste in hulle gehad, en die geeste het hard geskree wanneer hulle uit die mense uitgaan. En baie mense wat lam en kreupel was, het gesond geword. Die mense van daardie stad was baie bly. Daar het 'n man in die stad gewoon, sy naam was Simon. Hy kon toor en die mense van Samaria het gedink hy doen wonderlike dinge. Simon het self gesê dat hy baie belangrik is. Al die mense, die kinders en die grootmense, het ook gedink dat hy baie belangrik is. Hulle het gesê: “Hierdie man is die Krag van God, die mense noem hom ‘Die Groot Krag van God.’ ” Hulle het gedink dat Simon baie belangrik is omdat hy 'n lang tyd getoor het en die mense het gedink dat dit wonderlik is. Maar toe het Filippus gekom en hy het die goeie boodskap gebring dat God Koning is, die boodskap oor die Naam van Jesus Christus. Toe het die mense vir Filippus begin glo, en hulle is gedoop, die mans én die vroue. Simon het self ook begin glo. Nadat hy gedoop is, het hy die hele tyd by Filippus gebly. Hy het die tekens en wonderwerke gesien wat gebeur het, en hy was baie verbaas. Die apostels in Jerusalem het gehoor dat die mense in Samaria die boodskap van God aanvaar het. Hulle het toe vir Petrus en Johannes na Samaria gestuur. Petrus en Johannes het gegaan en hulle het gebid dat die mense die Heilige Gees kan kry. Want die Heilige Gees het toe nog nie in een van hulle gekom nie. Hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Petrus en Johannes het toe hulle hande op die mense gesit, en die mense het die Heilige Gees gekry. Toe Simon sien dat die apostels hulle hande op mense sit en dat die mense dan die Heilige Gees kry, wou hy vir die apostels geld gee. Hy het gesê: “Gee vir my ook hierdie krag. Dan kan ek ook my hande op iemand sit sodat hy die Heilige Gees kan kry.” Maar Petrus het vir hom gesê: “Gaan na die hel, jy én jou geld, omdat jy gedink het dat jy hierdie present van God met geld kan koop. God kan jou nie gebruik in sy werk nie, want jou hart is nie reg voor God nie. Jy moet hierdie slegte dinge wat jy dink, los en jy moet vir die Here vra of Hy jou sal vergewe omdat jy so verkeerd dink. Want ek sien dat jy baie jaloers is en dat slegte gedagtes jou vashou.” Toe sê Simon: “Julle moet vir my bid tot die Here sodat niks met my gebeur nie, niks van die dinge wat julle gesê het nie.” Die apostels het aangehou preek en hulle het die boodskap van die Here gebring. Toe het hulle teruggegaan na Jerusalem. Op die pad na Jerusalem het hulle in baie dorpies van die Samaritane die goeie boodskap gebring.

HANDELINGE 8:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Saulus het ook sy vermoording goedgekeur. En daar het in dié tyd 'n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels. En godvresende manne het Stéfanus begrawe en 'n groot rou oor hom bedrywe. Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer. En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig. En Filippus het afgekom in 'n stad van Samaría en Christus aan hulle verkondig. En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen. Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met 'n groot stem skreeu; en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword. En daar was groot blydskap in daardie stad. En 'n sekere man met die naam van Simon het vantevore in die stad met towery omgegaan en die bevolking van Samaría verbyster deur te sê dat hy iets besonders was. En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: Hy is die groot krag van God. En hulle het hom aangehang, omdat hy hulle 'n geruime tyd deur sy towerye verbyster het. Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue. En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur. En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur. Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang. En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied en gesê: Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang. Maar Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry. Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie. Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word. Want ek sien dat jy in 'n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is. Maar Simon het geantwoord en gesê: Bid julle tot die Here vir my, sodat niks van wat julle gesê het, oor my mag kom nie. Nadat hulle dan kragtig getuig en die woord van die Here gespreek het, het hulle na Jerusalem teruggegaan en die evangelie aan baie dorpe van die Samaritane verkondig.

HANDELINGE 8:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur. Daardie dag het daar 'n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria. Godvresende mense het vir Stefanus begrawe en daar is baie oor hom gerou. Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit. Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig. So het dit gebeur dat Filippus by 'n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister. Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. Daar was groot blydskap in daardie stad. In dieselfde stad was daar 'n man met die naam Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, en almal, klein en groot, het hom aangehang. Hulle het gesê: “Hy is wat ons ‘Die Groot Krag van God’ noem.” Hy het 'n aanhang onder hulle gekry omdat hy hulle oor 'n lang tydperk met sy toorkunste verstom het. Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop. Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het. Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die woord van God aanvaar het, het hulle vir Petrus en Johannes daarheen gestuur. Dié het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang. Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang as die apostels hulle die hande oplê, het hy hulle geld aangebied en gesê: “Gee my ook hierdie bevoegdheid sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.” Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe. Ek sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.” Toe sê Simon vir die apostels: “Bid júlle tog vir my tot die Here, sodat niks van wat julle gesê het, my tref nie.” So het die apostels dan kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here verkondig. Hulle het na Jerusalem toe teruggegaan en onderweg die evangelie in baie dorpe van die Samaritane verkondig.

HANDELINGE 8:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur. Op daardie dag het daar 'n hewige vervolging teen die •gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal behalwe die •apostels is deur die streke van Judea en Samaria verstrooi. Vroom manne het Stefanus begrawe en uitermate oor hom gerou. Maar Saulus het die gemeente probeer uitroei deur huis ná huis binne te dring, mans sowel as vroue na buite te sleep, en hulle in die tronk te laat gooi. Dié wat verstrooi is, het rondgetrek en die evangeliewoord verkondig. En Filippus het na 'n stad in Samaria gegaan en die Christus aan hulle verkondig. Toe die skare Filippus se woorde hoor en die tekens sien wat hy doen, het hulle eenparig aandag gegee aan wat hy sê. Want die •onrein geeste in baie mense het met 'n groot geskreeu uit hulle uitgegaan, en talle verlamdes en kreupeles is genees. En daar het groot vreugde in daardie stad geheers. Voorheen was daar in die stad 'n man met die naam Simon, wat towery bedryf en die bevolking van Samaria verstom het, en beweer het dat hy iets besonders is. En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: “Hy is die krag van God, bekend as die Groot Krag.” Hulle het hom aangehang, omdat hy hulle al vir 'n geruime tyd met sy magiese kunste verbyster het. Maar toe hulle Filippus se verkondiging van die evangelie van die •koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus glo, is mans sowel as vroue gedoop. Simon self het ook tot geloof gekom, en nadat hy gedoop is, het hy heeltyd by Filippus gebly, en was verbaas om die tekens en kragtige dade te sien gebeur. Toe die •apostels in Jerusalem hoor dat Samaria die woord van God aangeneem het, het hulle •Petrus en Johannes daarheen gestuur. Hulle het gegaan en vir hulle gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle neergedaal nie; hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Hierna het die apostels hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang. Toe Simon sien dat die Gees deur die handoplegging van die apostels geskenk word, het hy hulle geld aangebied, met die woorde: “Gee vir my ook hierdie mag, sodat elkeen vir wie ek die hande oplê, die Heilige Gees ontvang.” Maar Petrus het vir hom gesê: “Mag jou geld saam met jou in die verderf beland, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry! Jy het geen aandeel of aanspraak in hierdie saak nie, want jou hart is nie opreg voor God nie. Bekeer jou van hierdie boosheid van jou, en bid die Here dat die bedoeling van jou hart vergewe mag word, want ek sien jy is galbitter en in ongeregtigheid verstrik. ” Maar Simon het geantwoord en gesê: “Bid julle tot die Here vir my dat niks van wat julle gesê het, my oorkom nie.” Nadat hulle kragtig getuig en die woord van die Here verkondig het, het hulle na Jerusalem teruggekeer en die evangelie in talle Samaritaanse dorpe verkondig.

HANDELINGE 8:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Saul het met sy dood ingestem. En in daardie tyd was daar 'n groot vervolging teen die gemeente wat in Jerusalem was; en hulle was almal verstrooi in die streke van Judéa en Samaria, behalwe die apostels. En vrome manne het Stefanus na sy begrafnis gedra en oor hom gerou. Wat Saul betref, hy het die gemeente verwoes deur in elke huis in te gaan en mans en vroue te vang en hulle in die tronk oorgegee. Daarom het die wat verstrooi was, oral gegaan om die woord te verkondig. Toe het Filippus afgegaan na die stad Samaria en Christus aan hulle verkondig. En die volk het eendragtig ag gegee op die dinge wat Filippus gespreek het, toe hulle gehoor en die wonderwerke gesien het wat hy gedoen het. Want onrein geeste het uit baie wat met hulle beset was, uitgekom wat met groot stem geroep het, en baie wat verlam was en kreupel was, is genees. En daar was groot blydskap in daardie stad. Maar daar was 'n sekere man met die naam van Simon, wat voorheen in dieselfde stad towery gebruik het en die mense van Samaria betower het deur te sê dat hy 'n groot man was. Op wie almal ag geslaan het, van die kleinste tot die grootste, en gesê: Hierdie man is die groot krag van God. En hulle het na hom gekyk, omdat hy hulle lankal met towerye betower het. Maar toe hulle Filippus geglo het wat die dinge verkondig aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus, is hulle gedoop, mans sowel as vroue. Toe het Simon self ook geglo, en toe hy gedoop is, het hy by Filippus gebly en hom verwonder toe hy die wonders en tekens aanskou wat gebeur het. En toe die apostels wat in Jerusalem was, hoor dat Samaria die woord van God ontvang het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur: wat, toe hulle afgekom het, vir hulle gebid het dat hulle die Heilige Gees mag ontvang. (Want nog het Hy op niemand van hulle geval nie; net hulle is gedoop in die Naam van die Here Jesus.) Toe het hulle hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang. En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee is, het hy hulle geld aangebied, en gesê: Gee my ook hierdie krag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang. Maar Petrus sê vir hom: Jou geld vergaan saam met jou, omdat jy gedink het dat die gawe van God met geld gekoop kan word. Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg in die oë van God nie. Bekeer julle dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word. Want ek bemerk dat jy in die gal van bitterheid en in die band van ongeregtigheid is. Toe antwoord Simon en sê: Bid tot die Here vir my, dat niks van hierdie dinge wat julle gespreek het, oor my kom nie. En nadat hulle getuig en die woord van die Here verkondig het, het hulle na Jerusalem teruggekeer en die evangelie in baie dorpe van die Samaritane verkondig.

HANDELINGE 8:1-25 Die Boodskap (DB)

Stefanus se dood was net die geleentheid waarop die godsdienstige leiers in Jerusalem gewag het. Hulle het nou met mag en mening onder die gelowiges in die stad ingeklim en hulle oral begin vervolg. Dit het veroorsaak dat die gelowiges in alle rigtings dwarsdeur Judea en Samaria gevlug het. Omtrent net die apostels het in Jerusalem agtergebly. Stefanus is intussen begrawe deur ’n paar mans wat God met groot toewyding gedien het. Hulle was hartseer oor sy dood. Saulus was daarop uit om die kerk heeltemal uit te roei. Hy het van huis tot huis gegaan en elke gelowige man en vrou wat hy in die hande kon kry, hardhandig laat vang en in die tronk gestop. Die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het, het nie opgehou om oor Jesus te praat nie. Filippus, een van die sewe mans wat vroeër gehelp het om die armes in Jerusalem te versorg, het by ’n stad in Samaria aangekom en dadelik met hulle oor Jesus begin praat. Sy kragtige preke en wonderwerke het gou die inwoners se aandag getrek. Almal het na hom kom luister toe hulle sien hoe hy verlamdes en kreupeles gesond laat word en bose geeste uit baie mense verdryf. Hulle het met hulle eie ore gehoor hoe die bose magte aan die skree gaan as hulle uitgedryf word. Gou-gou was daar sommer groot opgewondenheid in die stad oor al die wonderlike dinge wat Filippus gedoen het. Daar het ook ’n towenaar in die stad gebly met die naam Simon. ’n Lang tyd al het hy die inwoners in vervoering gehad met sy towery. Simon het vir hulle vertel dat hy ’n baie magtige man is wat oor besondere kragte beskik. Oud en jonk het kort voor lank geglo hy is ’n god. Oral waar hulle hom op straat sien loop het, het hulle vir mekaar gesê: “Kyk, daar is daardie groot kragman van God.” Almal het Simon op die hande gedra. Filippus het alles kom verander. Toe hy met die mense begin praat oor God se nuwe wêreld wat met Jesus se koms aangebreek het, het baie mense tot bekering gekom. Filippus moes omtrent bontstaan om almal te doop wat in Jesus begin glo het. Selfs Simon het tot geloof gekom en hom laat doop. Hy het oral agter Filippus aangestap, stom van verbasing oor al die groot dinge wat hy gedoen het. Die apostels in Jerusalem het intussen gehoor dat God besig was om mense oral in Samaria met sy goedheid aan te raak. Hulle het vir Petrus en Johannes soontoe gestuur. Hulle twee moes gaan bid dat hierdie mense ook die krag van die Heilige Gees in hulle lewe ontvang, want op daardie tydstip was hulle nog nie met sy krag vervul nie. Hulle was nog net in die Naam van die Here Jesus gedoop. Toe die apostels daar aankom, het hulle hulle hande op die mense geplaas en vir hulle gebid. Dadelik het die krag van die Gees toe oor hulle almal gekom. Simon het gestaan en kyk toe die apostels hulle hande op die mense geplaas het en hulle met die Heilige Gees se krag vervul is. Dadelik het hy hulle ’n klomp geld aangebied en vir hulle gesê: “Vertel my wat julle geheim is. Vat die geld en gee my asseblief ook van julle krag sodat elkeen op wie ek my hande sit, ook die Heilige Gees kan ontvang.” Petrus het hom skerp geantwoord: “Gaan na die verderf toe met jou geld en al! Dink jy regtig dat jy God se hemelse Geskenk met geld kan koop? Die Heilige Gees is nie te koop nie. Wat soek jy hier? Jy hoort nie hier tussen ons nie. Jou binnekant is een groot stuk sonde. God weet dit baie goed. Daarom moet jy jou lewe radikaal verander. Laat staan dadelik al jou goddelose dade. Vra God om jou te vergewe omdat jy gedink het jy kan geld maak uit die werk van die Heilige Gees. Ek kom agter dat dit ’n ou streek van jou is. Jy probeer heeltyd om ander mense te misbruik. Jou lewe is pikdonker. Ja, dit is galbitter van al die sonde.” Dit het Simon benoud laat uitroep: “Bid asseblief vir my. Vra tog dat die Here niks van hierdie dinge met my sal laat gebeur nie.” Nadat die apostels die Here se woord met groot krag aan die mense bekendgemaak het, het hulle teruggekeer na Jerusalem. Onderweg daarheen het hulle by baie dorpies in Samaria aangedoen en ook daar vir almal die goeie nuus oor Jesus vertel.

HANDELINGE 8:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Saulus het saamgestem met die teregstelling van Stefanus. ’n Hewige vervolging van die kerk in Jerusalem het daardie dag begin. Al die gelowiges, behalwe die apostels, het uitgewyk na die gebiede van Judea en Samaria. (Godvresende mense het Stefanus begrawe en hulle het baie oor hom getreur.) Saulus het die kerk oral probeer vernietig. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vroue laat uitsleep en in die tronk laat sit. Die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het, het so ver as wat hulle gegaan het, die Goeie Nuus verkondig. Filippus het byvoorbeeld na die stad Samaria gegaan en hulle van Christus vertel. Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy boodskap geluister. Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. Daar was groot blydskap in daardie stad. In dié stad het ’n man met die naam Simon al vir jare lank die inwoners met sy toorkunste beïndruk. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iemand besonders was. Almal, van die geringstes tot die belangrikstes, het na hom verwys as: “Die Grote, die Krag van God.” Hulle het hom baie ernstig opgeneem, juis vanweë sy toorkunste. Nou het die mense egter Filippus se Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God en die Naam van Jesus Christus in die geloof aanvaar. Gevolglik is baie mans en vroue gedoop. Selfs Simon het gelowig geword, en is gedoop. Hy het Filippus oral begin vergesel, en hy was verstom oor die wondertekens en groot kragte wat hy sien gebeur het. Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die boodskap van God aanvaar het, het hulle Petrus en Johannes daarheen afgevaardig. Toe hulle daar aankom, het hulle vir die nuwe gelowiges gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang. Want die Heilige Gees het immers nog nie op een van hulle gekom nie, want hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. Petrus en Johannes het toe hulle hande op hierdie gelowiges gesit, en hulle het die Heilige Gees ontvang. Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang wanneer die apostels hulle hande op hulle sit, wou hy hierdie mag koop. “Gee my ook hierdie mag,” het hy gesê, “sodat elkeen op wie ek my hande sit, die Heilige Gees kan ontvang!” Petrus het hom egter geantwoord: “Mag jou geld saam met jou vernietig word omdat jy dink dat dié gawe van God gekóóp kan word! Hier is nie plek vir jou nie, want voor God is jou hart nie reg nie. “Bekeer jou van hierdie boosheid van jou en bid tot die Here. Miskien sal Hy jou bose planne vergewe. Ek kan sien jy is vol bitterheid en deur sonde geboei.” “Bid júlle tog vir my tot die Here,” het Simon uitgeroep, “dat hierdie verskriklike dinge nie met my gebeur nie!” Nadat Petrus en Johannes kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here in Samaria verkondig het, het hulle na Jerusalem toe teruggegaan. Op pad het hulle die evangelie ook in baie Samaritaanse dorpies verkondig.