HANDELINGE 7:54-60
HANDELINGE 7:54-60 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners. Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan. Maar hulle het met 'n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm. En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van 'n jongman met die naam van Saulus. En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees! En hy het op sy knieë neergeval en met 'n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.
HANDELINGE 7:54-60 Bybel vir almal (ABA)
Toe die Joodse Raad hierdie dinge hoor, het hulle baie kwaad geword, hulle was woedend. Hulle het op hulle tande gebyt, want hulle was baie kwaad vir Stefanus. Maar die Heilige Gees was in Stefanus. Stefanus het reguit opgekyk na die hemel, en hy het gesien dat God Koning is. Hy het ook vir Jesus gesien wat staan op die belangrikste plek langs God. Toe sê Stefanus: “Kyk, ek sien dat die hemel oop is en ek sien die Seun van die mens wat staan op die belangrikste plek langs God.” Maar die Joodse Raad het hard geskree en hulle het hulle ore toegedruk, want hulle wou nie hoor nie. Hulle het almal saam na Stefanus toe gehardloop en hulle het hom uitgejaag tot buite die stad. Toe het hulle begin om hom met klippe te gooi. En die getuies het hulle bo-klere neergesit by die voete van 'n jongman, sy naam was Saulus. En terwyl die Joodse Raad vir Stefanus met klippe gooi, het Stefanus gebid en gesê: “Here Jesus, neem my gees.” Toe het hy op sy knieë geval en hy het hard geskree: “Here, die mense maak my dood, maar U moenie vir hulle straf oor hierdie sonde nie, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” En nadat hy dit gesê het, het hy gesterf.
HANDELINGE 7:54-60 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners. Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan. Maar hulle het met 'n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm. En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van 'n jongman met die naam van Saulus. En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees! En hy het op sy knieë neergeval en met 'n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.
HANDELINGE 7:54-60 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die lede van die Joodse Raad dit hoor, het hulle van woede op hulle tande gekners. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.” Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het hulle op hom afgestorm, hom uit die stad uitgesleep en gestenig. Die getuies het hulle klere neergesit by 'n jongman met die naam Saulus. Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” Met hierdie woorde het hy gesterwe.
HANDELINGE 7:54-60 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hulle harte en het hulle op hulle tande begin kners oor hom. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het stip na die hemel gekyk en die heerlikheid van God gesien, en Jesus wat aan die regterhand van God staan. En hy het gesê: “Kyk, ek sien die hemele geopen en die •Seun van die Mens aan die regterhand van God staan.” Maar hulle het luidkeels geskreeu, hulle ore toegedruk en soos een man op hom afgestorm. Nadat hulle hom uit die stad uitgesleep het, wou hulle hom stenig. Die getuies het hulle boklere neergesit by die voete van 'n jong man bekend as Saulus. En hulle het Stefanus gestenig, terwyl hy uitroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” Hy het op sy knieë geval en met 'n harde stem uitgeroep: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” En met dié woorde het hy ontslaap.
HANDELINGE 7:54-60 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe hulle hierdie dinge hoor, is hulle in die hart gesny, en hulle het op hulle tande op hom gekners. Maar hy, wat vol van die Heilige Gees was, het stip na die hemel opgekyk en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan, en gesê: Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die mens staan aan die regterhand van God. Toe het hulle met 'n groot stem uitgeroep en hul ore toegestop en eendragtig op hom aangehardloop. En hulle het hom uit die stad uitgegooi en hom gestenig, en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van 'n jongman wie se naam Saul was. En hulle het Stefanus gestenig terwyl hy God aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees. En hy het op sy knieë neergeval en met 'n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie. En toe hy dit gesê het, het hy aan die slaap geraak.
HANDELINGE 7:54-60 Die Boodskap (DB)
Toe die Joodse Raad hoor wat Stefanus alles vir hulle sê, het hulle ontplof van woede. Maar hy was vol van die krag van die Heilige Gees. Hy het nie eens agtergekom hoe kwaad hulle was nie, want hy kon tot binne-in die hemel sien. Stefanus het God daar in al sy heerlikheid gesien, en ook Jesus wat langs Hom staan. Toe sê hy hardop: “Kyk daar! Ek kan tot binne-in die hemel kyk. Ek sien Jesus, die Seun van die mens. Hy staan op die belangrikste plek in die hemel, daar reg langs God.” Na hierdie woorde het daar chaos losgebars. Party van die raadslede het hulle ore toegedruk omdat hulle nie verder na Stefanus se woorde wou luister nie. Ander het opgespring en op hom afgestorm. Hulle het hom gegryp en uitgesleep tot buitekant die stadsmure. Daar het hulle hom met klippe begin gooi. Party van die mans het hulle hemde uitgetrek sodat hulle Stefanus nog makliker onder die klippe kon steek. Hulle het ’n jongman met die naam Saulus gevra om hulle klere op te pas. Terwyl die klippe op Stefanus neergereën het, het hy gebid: “Here Jesus, neem my nou na U toe.” Toe het hy op sy knieë neergeval en hard uitgeroep: “Here, moenie dié sonde teen hierdie mense laat tel nie! Vergeef hulle.” Dit was Stefanus se laaste woorde. Hy het daarna inmekaargesak en is daar op die plek dood. Toe dit gebeur, het Saulus al die klipgooiers gaan gelukwens met die moord wat hulle gepleeg het.
HANDELINGE 7:54-60 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Joodse leiers was woedend oor Stefanus se aanklag, en hulle het hulle woede gewys. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het aanhou opkyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien. Hy het Jesus in die regeerposisie reg langs God sien staan. “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel óóp en die Seun van die Mens in die regeerposisie reg langs God staan!” Toe het hulle hulle ore toegedruk en hom doodgeskreeu. Soos een man het hulle op hom afgestorm. Hulle het hom uit die stad gesleep en hom met klippe doodgegooi. Die amptelike getuies het hulle klere uitgetrek en by die voete van ’n jong man met die naam Saulus neergesit. Terwyl hulle besig was om Stefanus te stenig, het hy gebid: “Here Jesus, ontvang my gees.” Hy het op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moenie hierdie sonde teen hulle hou nie!” Met hierdie woorde het hy gesterf.