HANDELINGE 7:51-60

HANDELINGE 7:51-60 Bybel vir almal (ABA)

“Julle is hardkoppig! Julle dink in julle hart soos die heidene dink, en julle wil nie luister nie. Julle stry altyd teen die Heilige Gees. Julle doen dieselfde wat julle voorvaders gedoen het. Julle voorvaders het slegte dinge gedoen aan al die profete. Julle voorvaders het die mense doodgemaak wat gesê het dat die Regverdige sal kom. En nou het júlle Hom verraai en vermoor. Julle is die mense wat die wette van God gekry het. God het die engele gebruik om dit vir julle te gee. Maar julle was nie gehoorsaam aan God se wette nie.” Toe die Joodse Raad hierdie dinge hoor, het hulle baie kwaad geword, hulle was woedend. Hulle het op hulle tande gebyt, want hulle was baie kwaad vir Stefanus. Maar die Heilige Gees was in Stefanus. Stefanus het reguit opgekyk na die hemel, en hy het gesien dat God Koning is. Hy het ook vir Jesus gesien wat staan op die belangrikste plek langs God. Toe sê Stefanus: “Kyk, ek sien dat die hemel oop is en ek sien die Seun van die mens wat staan op die belangrikste plek langs God.” Maar die Joodse Raad het hard geskree en hulle het hulle ore toegedruk, want hulle wou nie hoor nie. Hulle het almal saam na Stefanus toe gehardloop en hulle het hom uitgejaag tot buite die stad. Toe het hulle begin om hom met klippe te gooi. En die getuies het hulle bo-klere neergesit by die voete van 'n jongman, sy naam was Saulus. En terwyl die Joodse Raad vir Stefanus met klippe gooi, het Stefanus gebid en gesê: “Here Jesus, neem my gees.” Toe het hy op sy knieë geval en hy het hard geskree: “Here, die mense maak my dood, maar U moenie vir hulle straf oor hierdie sonde nie, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” En nadat hy dit gesê het, het hy gesterf.

HANDELINGE 7:51-60 Die Boodskap (DB)

“Julle klomp hardekoppe. Julle dra miskien die teken van die besnydenis aan julle liggaam, maar julle harte en julle koppe is nog glad nie besny nie. Julle doen net mooi niks wat God vir julle sê om te doen nie. Julle luister nie na die Heilige Gees se stem nie. Julle maak presies net soos al julle voorgeslagte. “Dink net wat julle voorvaders met die Here se boodskappers aangevang het. Hulle het elkeen vervolg en doodgemaak wat dit gewaag het om met hulle oor die Messias, oor God se Gestuurde, te praat. Julle is niks anders as hulle nie. Is dit dan nie julle spul wat Christus vermoor het toe Hy na ons toe gekom het nie? “Julle was so gelukkig om God se wet uit die hand van sy engele te ontvang. Maar julle het nooit so ver gekom om te doen wat die wet sê nie.” Toe die Joodse Raad hoor wat Stefanus alles vir hulle sê, het hulle ontplof van woede. Maar hy was vol van die krag van die Heilige Gees. Hy het nie eens agtergekom hoe kwaad hulle was nie, want hy kon tot binne-in die hemel sien. Stefanus het God daar in al sy heerlikheid gesien, en ook Jesus wat langs Hom staan. Toe sê hy hardop: “Kyk daar! Ek kan tot binne-in die hemel kyk. Ek sien Jesus, die Seun van die mens. Hy staan op die belangrikste plek in die hemel, daar reg langs God.” Na hierdie woorde het daar chaos losgebars. Party van die raadslede het hulle ore toegedruk omdat hulle nie verder na Stefanus se woorde wou luister nie. Ander het opgespring en op hom afgestorm. Hulle het hom gegryp en uitgesleep tot buitekant die stadsmure. Daar het hulle hom met klippe begin gooi. Party van die mans het hulle hemde uitgetrek sodat hulle Stefanus nog makliker onder die klippe kon steek. Hulle het ’n jongman met die naam Saulus gevra om hulle klere op te pas. Terwyl die klippe op Stefanus neergereën het, het hy gebid: “Here Jesus, neem my nou na U toe.” Toe het hy op sy knieë neergeval en hard uitgeroep: “Here, moenie dié sonde teen hierdie mense laat tel nie! Vergeef hulle.” Dit was Stefanus se laaste woorde. Hy het daarna inmekaargesak en is daar op die plek dood. Toe dit gebeur, het Saulus al die klipgooiers gaan gelukwens met die moord wat hulle gepleeg het.