HANDELINGE 7:1-53
HANDELINGE 7:1-53 Die Boodskap (DB)
“Wat het jy hierop te sê?” het die hoëpriester vir Stefanus gevra. “Vriende, hooggeagte raadslede, luister asseblief baie mooi,” het Stefanus geantwoord. “Ek wil graag met julle oor God praat. Aan Hom kom al die eer toe. Hy is die Heilige wat Hom aan Abraham kom bekendmaak het toe hy nog daar in Mesopotamië gebly het. Dit het gebeur nog voor Abraham na Haran getrek het. God het vir hom gesê: ‘Jy moet uit jou land trek. Vat al jou familielede saam met jou. Ek sal jou wys na watter land toe jy moet gaan.’ “Abraham het toe padgegee uit die land van die Galdeërs en in Haran gaan bly. Na sy pa se dood het God hom laat trek na hierdie land waar julle nou bly. “Toe Abraham hier aangekom het, het hy nie die land op ’n skinkbord gekry nie. Aan die begin het hy nie eens ’n stuk grond of ’n kind gehad nie.Tog het God hom belowe dat sy nageslag eendag hierdie hele land sou bewoon. “Hy het bygevoeg dat hulle eers sowat 400 jaar lank in ’n vreemde land sou bly. Daar sou hulle geen eie grond hê nie. Hulle sou as slawe werk en deur ander mense mishandel word. “‘Maar moenie jou bekommer nie, Ek sal afreken met daardie volk wat jou nageslag so sleg sal behandel,’ het God vir Abraham gesê. ‘Dan sal Ek hulle daar gaan haal en na hierdie land toe bring sodat hulle My hier kan kom dien.’ “God het toe ’n ooreenkoms met Abraham gesluit. As bewys het Hy vir hom ’n teken aan sy liggaam gegee: die besnydenis. Abraham het daarna ’n seun gehad. Hy het hom Isak genoem. Agt dae na sy geboorte het hy hom besny. Isak was Jakob se pa, en Jakob die pa van die twaalf stamhoofde van ons volk.” “Hierdie stamvaders was egter jaloers op hulle broer Josef. Daarom het hulle hom as ’n slaaf verkoop. Josef is deur sy nuwe eienaars weggevat Egipte toe. Maar God was heeltyd by hom. Hy het hom deur elke probleem en elke krisis gehelp. Josef se groot insig en verstand het die aandag getrek van die farao, die koning van Egipte. Kort voor lank het hy hom aangestel as hoof oor die hele Egipte en oor sy huishouding. “In daardie tyd was daar ’n groot hongersnood in Egipte en Kanaän. Die mense het niks gehad om te eet nie. Ons voorouers het ook baie swaargekry.Toe Jakob hoor dat daar nog koring in Egipte te koop was, het hy sy seuns dadelik soontoe gestuur. Later het hulle teruggekom en vir hulle pa gesê dat daar wel koring in Egipte was. Jakob het hulle weer Egipte toe laat gaan om koring te koop. Tydens hierdie besoek het Josef vir sy broers gesê wie hy regtig is. Hy het sy familie ook aan die farao gaan bekendstel. Daarna het hy sy pa, Jakob, en die res van sy familie van sowat 75 mense laat haal om in Egipte te kom bly. Jakob is uiteindelik daar dood, so ook al ons stamvaders. Die liggame is na Sigem in Kanaän geneem. Daar is hulle begrawe in ’n graf wat Abraham vroeër vir ’n groot klomp geld van die seuns van Hemor gekoop het.” “Die 400 jaar van swaarkry het nou einde se kant toe begin staan. Die tyd dat God sy volk sou bevry, was voor die deur, soos Hy aan Abraham beloof het. Teen daardie tyd het daar sommer al ’n groot groep van ons voorouers in Egipte gebly. ’n Nuwe koning het intussen die leisels in Egipte oorgeneem. Hy het nie vir Josef geken nie. Hy was ’n wrede heerser wat ons mense sleg behandel het. Hy het hulle selfs verplig om hulle pasgebore babatjies op die ashope te gaan weggooi. Op dié manier wou hy keer dat hulle getalle nog groter word. “In daardie tyd is Moses gebore. En wat ’n mooi baba was hy nie! Sy pa en ma het hom drie maande lank in hulle huis weggesteek en versorg. Maar uiteindelik moes hulle ook van hom afstand doen. Hulle het hom toe in ’n mandjie in die Nylrivier gaan sit. Gelukkig het die dogter van die farao hom in die Nyl gekry en hom toe soos haar eie seun grootgemaak. Moses is streng volgens die Egiptiese gebruike grootgemaak. Hy het die beste onderrig ontvang wat daar in Egipte te kry was. Hy was baie slim en het uitgeblink as iemand wat sy kop en sy hande goed kon gebruik. “Toe Moses sowat 40 jaar oud was, het hy op ’n dag besluit om besoek af te lê by sy eie mense, die Israeliete. Daar het hy gesien hoe ’n Egiptenaar een van hulle slaan. Dit het hom so kwaad gemaak dat hy die man op die plek doodgemaak het. Moses het gedink dat sy volksgenote sou besef dat hy aan hulle kant was, maar hy het hom lelik misgis. Die volgende dag toe hy weer daar opdaag, het hy op twee Israeliete afgekom wat met mekaar baklei. Hy het vrede tussen hulle probeer maak. ‘Julle is dan broers. Vir wat slaan julle mekaar so?’ het hy hulle gevra. “Die een wat die bakleiery begin het, het Moses weggestamp en gesê: ‘Jy’s ’n mooi een om te praat! Wie het jou as skeidsregter oor ons aangestel? Jy kom speel hier baas terwyl jy self gister ’n Egiptenaar doodgemaak het. Gaan jy my nou ook doodmaak?’ “Moses het groot geskrik toe hy hoor wat die man sê. Hy het besef dat almal binnekort sou weet wat hy met die Egiptenaar gedoen het. Daarom het hy toe uit Egipte padgegee en as ’n vreemdeling in die land Midian gaan bly. Daar het hy getrou en die pa van twee seuns geword.” “Veertig jaar later, terwyl Moses in die woestyn by die berg Sinai was, het ’n engel van die Here in ’n brandende doringbos aan hom verskyn.Moses kon sy oë nie glo toe hy dit sien nie. Hy het nader gestap om mooi te sien wat aangaan. Toe praat die Here skielik uit die brandende bos: ‘Ek is die God van jou voorvaders. Ek is die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Toe Moses dit hoor, het hy geskrik en sy oë styf toegeknyp. Hy was te bang om na God te kyk. Die Here sê toe vir hom: ‘Betoon respek vir My! Trek jou skoene uit, want jy staan op heilige grond. Jy is in die teenwoordigheid van die lewende God! “‘Ek weet van al die lyding wat my mense in Egipte moet verduur. Ek hoor hoe hulle My smeek dat Ek hulle moet bevry. Daarom het Ek besluit om hulle uit daardie land weg te vat. Jy is die man wat dit vir My moet gaan doen. Maak jou gereed! Want Ek wil hê jy moet Egipte toe gaan.’ “Dieselfde Moses wat vroeër deur sy eie mense verwerp is, is nou deur God self as hulle leier en redder aangewys. Dit alles het daar by die brandende doringbos begin waar hy God se stem gehoor het. “Moses het die Israeliete daarna uit Egipte weggelei. In Egipte, by die Rooisee en ook in die woestyn het hy 40 jaar lank die een groot wonderwerk na die ander gedoen. “Dit is hierdie selfde Moses wat op ’n dag vir die Israeliete gesê het: ‘God sal eendag ’n boodskapper net soos ek uit julle midde laat voortkom.’ “Dit is ook Moses wat op die berg Sinai met die engel van die Here gaan praat het. Daarna het hy God se wil aan ons voorvaders in die woestyn bekendgemaak. Hy het al hierdie woorde wat lewe gee by die Here self ontvang en dit aan hulle almal gaan meedeel. Maar ons voorvaders het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle het begin terugverlang na die tyd in Egipte en by Aäron gaan kerm: ‘Maak asseblief vir ons ’n paar gode wat ons met ons eie oë kan sien en wat voor ons kan uittrek. Hierdie Moses wat ons uit Egipte laat trek het, het verdwyn.’ “Hulle het toe vir hulle ’n afbeelding van ’n kalf gemaak en allerhande offers daarvoor gebring. Hulle was baie trots op hulle mooi handewerk. God was egter baie kwaad daaroor, maar Hy het hulle laat aangaan met hulle sondes. Hy het toegelaat dat hulle elke nuwe god aanbid waarvan hulle te hore gekom het. Hulle het presies gedoen wat die Here later deur een van die profete gesê het: ‘Dit is tog nie vir My dat julle daar in die woestyn allerhande offers gebring het nie. Nee, gedurende daardie 40 jaar was julle te besig om aanbiddingsplekke vir ander gode te bou. Afgode soos Molog en Refan was toe belangriker as Ek. Julle het allerhande mooi versiersels aan julle lywe gedra om daardie gode gelukkig te maak. Julle kon nie voorbly om neer te buig voor elke nuwe afgod wat julle in die hande gekry het nie. Ek gaan julle daaroor straf: Ek gaan julle tot anderkant Babilon as gevangenes laat wegvoer.’” “Ons voorouers het die hele tyd daar in die woestyn ’n presiese weergawe van die heilige tent by hulle gehad wat God vroeër aan Moses op die berg Sinai gewys het. “Hierdie heilige tent was ook by hulle toe Josua hulle nuwe leier geword het. In sy tyd het hy al die ongelowige volke uit Kanaän verdryf. Dié tent was nog steeds by hulle in die tyd van koning Dawid. “Dawid was die koning vir wie God baie lief was. Hy het op ’n dag vir God gaan vra of hy nie ’n tempel as aanbiddingsplek vir die nageslag van Jakob kon bou nie. Sy seun Salomo was egter die man op wie se skouers hierdie taak neergekom het. Hy het vir die Here ’n huis gebou. “Maar tog weet ons dat die allerhoogste God nie in geboue bly wat mense gebou het nie. Hy het dit duidelik deur een van die profete gesê: ‘Die hemel is my troonsaal. Daar regeer Ek. Die aarde is slegs die rusplek vir my voete. Hoe sal julle dan ooit vir My ’n huis kan bou wat groot genoeg is? Kan julle regtig vir My ’n rusplek oprig waar Ek sal wil bly? Nee, julle kan nie. Ek het dit in elk geval klaar gedoen. Ek het vir Myself ’n hemelse woning gebou.’” Stefanus het daarna vir die Joodse Raad gesê: “Julle klomp hardekoppe. Julle dra miskien die teken van die besnydenis aan julle liggaam, maar julle harte en julle koppe is nog glad nie besny nie. Julle doen net mooi niks wat God vir julle sê om te doen nie. Julle luister nie na die Heilige Gees se stem nie. Julle maak presies net soos al julle voorgeslagte. “Dink net wat julle voorvaders met die Here se boodskappers aangevang het. Hulle het elkeen vervolg en doodgemaak wat dit gewaag het om met hulle oor die Messias, oor God se Gestuurde, te praat. Julle is niks anders as hulle nie. Is dit dan nie julle spul wat Christus vermoor het toe Hy na ons toe gekom het nie? “Julle was so gelukkig om God se wet uit die hand van sy engele te ontvang. Maar julle het nooit so ver gekom om te doen wat die wet sê nie.”
HANDELINGE 7:1-53 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die hoofpriester vra toe vir Stefanus: “Is hierdie aanklagte waar?” Toe het Stefanus gesê: “Medegelowiges, luister na my! Ons glorieryke God het in Mesopotamië aan ons voorvader Abraham verskyn voordat hy Haran toe is. God het vir hom gesê: ‘Verlaat jou geboorteland en jou familie, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys.’ Abraham het toe die land van die Galdeërs verlaat en in Haran gaan woon. Ná sy pa se dood het God hom daarvandaan laat verhuis na hierdie land waar julle nou woon. God het hom geen eiendom as erfdeel hier gegee nie, selfs nie ’n vierkante meter nie. God het egter belowe dat die hele land syne en sy nageslag s’n sal wees, al het hy toe nog geen kind gehad nie. “God het egter ook gesê dat sy nageslag as uitlanders sal woon in ’n vreemde land, waar hulle vir 400 jaar as slawe mishandel sal word. ‘Maar Ék sal die nasie straf wat hulle as slawe laat werk,’ het God gesê, ‘en uiteindelik sal hulle wegtrek en My op hierdie plek aanbid.’ God het in hierdie tyd vir Abraham die verbond gegee waarvan die besnydenis die teken is. So het dit gekom dat Abraham sy seun Isak besny het toe hy agt dae oud was. Isak het dieselfde gedoen met Jakob, en Jakob met die twaalf stamvaders. “Hierdie seuns van Jakob was jaloers op hulle broer Josef, en hulle het hom verkoop om ’n slaaf in Egipte te wees. Maar God was by hom en het hom uit al sy swaarkry gered. God het gemaak dat Farao, die koning van Egipte, van hom hou. God het ook besondere wysheid aan Josef gegee sodat Farao hom as onderkoning oor Egipte en as hoof van sy hele huishouding aangestel het. “Toe het daar hongersnood in die hele Egipte en ook in Kanaän gekom. Ons voorouers het baie swaar gehad, want hulle kos het opgeraak. “Toe Jakob hoor dat daar in Egipte koring is, het hy sy seuns gestuur om daarvan te gaan koop. Op hulle tweede besoek het Josef sy ware identiteit aan sy broers bekendgemaak, en hulle aan Farao voorgestel. Josef het sy pa, Jakob, en sy hele familie laat haal, altesaam 75 mense. So is Jakob Egipte toe. Hy is daar dood, en ook al sy seuns. Hulle is na Sigem toe gebring en begrawe in die grafgrot wat Abraham daar met geld by die seuns van Hemor gekoop het. “Soos die tyd dat God sy belofte aan Abraham sou vervul, nadergekom het, het ons volk in Egipte tot ’n groot getal aangegroei. ’n Nuwe koning, wat niks van Josef geweet het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom. Hierdie koning het ’n slinkse plan teen ons mense beraam en ons voorouers verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat sodat hulle sou sterf. “In dié tyd is Moses gebore, en hy was besonder mooi. Sy ouers het hom drie maande lank tuis versorg. Toe hulle hom uiteindelik buite aan sy lot moes oorlaat, het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak. Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het met woord en daad presteer. “Op 40-jarige leeftyd het hy besluit om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan. Tydens sy besoek het hy gesien hoe ’n Egiptenaar een van die Israeliete aanrand, en hy het die slagoffer gaan help. Tydens sy vergelding het hy die Egiptenaar doodgemaak. Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom gestuur het om hulle te verlos, maar hulle het nie. “Toe hy die volgende dag weer daar kom, kry hy twee Israeliete wat baklei. Hy het probeer vrede maak, en sê: ‘Manne, julle is tog volksgenote! Hoekom maak julle mekaar seer?’ “Maar die een wat die oorsaak van die bakleiery was, stamp Moses eenkant toe en sê vir hom om hulle uit te los. ‘Wie het jou ons leier en regter gemaak? Wil jy my ook vermoor, soos jy gister die Egiptenaar vermoor het?’ Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en as uitlander in die land Midian gaan woon. Dáár het hy die pa geword van twee seuns. “’n Engel het 40 jaar later in die woestyn by Sinaiberg in die vlam van ’n brandende doringbos aan Moses verskyn. Moses het dit gesien en gewonder wat aangaan. Toe hy nadergaan om dit te bekyk, kom die stem van die Here: ‘Ek is die God van jou voorvaders – die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses was só bang dat hy gebewe het; hy het dit nie gewaag om te kyk nie. “En die Here het vir hom gesê: ‘Trek jou sandale uit, want jy staan op gewyde grond. Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek inderdaad gesien. Ek het hulle hulpgeroep gehoor. Hier is Ek nou om hulle te red. Kom, Ek stuur jou nou Egipte toe.’ Só, deur die engel wat in die brandende doringbos aan hom verskyn het, het God juis hóm as leier en redder na die Israeliete toe gestuur, dieselfde Moses vir wie die Israeliete verwerp het en toegesnou het: ‘Wie het jou ons leier en regter gemaak?’ So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Dit het gepaardgegaan met baie wonders en tekens wat hy oor die verloop van 40 jaar in Egipte, die Rooisee en in die woestyn gedoen het. “Hierdie selfde Moses het vir die volk Israel gesê: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle ’n Profeet soos ek laat voortkom.’ Dit is dieselfde Moses wat, toe die volk as gemeente daar in die woestyn was, as tussenganger opgetree het tussen ons voorouers en die engel wat op Sinaiberg met hom gepraat het. Hy het lewende woorde ontvang om aan ons oor te dra. “Ons voorouers het hom egter geïgnoreer, en hulle wou teruggaan Egipte toe. Toe het hulle vir Aäron gesê: ‘Maak vir ons gode wat ons kan lei, want hierdie Moses wat ons uit Egipte uitgelei het – ons weet nie wat met hom gebeur het nie.’ Hulle het toe ’n kalf-afgodsbeeld gemaak en aan dié afgod offers gebring. Hulle was baie ingenome met wat hulle gedoen het. Maar God het sy rug op hulle gedraai en hulle laat begaan. Hulle het die son, die maan en die sterre as hulle gode gedien! So staan dit in die boek van die profete geskryf: ‘Was dit vir Mý dat julle die offers gebring het gedurende die 40 jaar in die woestyn, Israel? Nee! Julle het net oë en ore gehad vir julle afgode: die heiligdom van Molek, en die stergod Refan, die beelde wat julle gemaak het om te aanbid. Daarom sal Ek julle as gevangenes ver weg stuur tot anderkant Babilon.’ “Ons voorgeslag het die tabernakel by hulle in die woestyn gehad. Dié tabernakel is gemaak presies volgens die plan wat God aan Moses gewys het. Jare later, toe Josua die gevegte aangevoer het teen die volke wat God uit die land verdryf het, het hulle die tabernakel saamgeneem na hulle nuwe land toe. Daar is dit gebruik tot in die tyd van koning Dawid. “Dawid het God se genade ervaar, en het gevra vir die voorreg om ’n tempel vir die huis van Jakob te bou. Dit was egter Salomo wat die tempel vir God gebou het. Die Allerhoogste woon egter nie in mensgemaakte plekke nie. Soos die profeet dit stel: ‘Die hemel is my troon, en die aarde is my voetbank. Enige tempel wat julle vir My bou, skiet ver tekort,’ sê die Here. ‘Kan julle ’n blyplek vir My bou? ‘Het Ek nie self al hierdie dinge gemaak nie?’ “Julle hardkoppiges! In julle harte is julle nie-Jode. Julle is doof vir die woord van God! Moet julle alewig die Heilige Gees weerstaan? Maar julle voorouers het dit gedoen, en julle doen dit nou ook! Noem een profeet vir wie julle voorouers nie vervolg het nie! Hulle het selfs dié doodgemaak wat die koms van die Regverdige voorspel het – die Messias wat julle uitgelewer en vermoor het. Júlle het die wet van God nié uitgeleef nie, alhoewel julle dit deur bemiddeling van engele ontvang het.”
HANDELINGE 7:1-53 Bybel vir almal (ABA)
Die hoëpriester vra toe vir Stefanus: “Is dit waar wat hierdie mense sê?” En Stefanus sê: “My vriende, julle moet goed luister. God wat koning is, het verskyn aan ons voorvader Abraham toe hy in Mesopotamië gewoon het. Dit was voordat Abraham in Haran gewoon het. God het vir Abraham gesê: ‘ Jy moet weggaan uit jou land en van jou familie, en dan moet jy gaan na die land wat Ek vir jou sal wys.’ Toe het Abraham weggegaan uit die land van die Galdeërs en hy het gaan woon in die land Haran. Toe Abraham se pa sterf, het God vir Abraham laat wegtrek van die land Haran tot by hierdie land waar julle nou woon. God het nie vir Abraham grond gegee in die land nie, glad nie, nie 'n klein stukkie grond nie. In daardie tyd het Abraham nog nie 'n kind gehad nie. Maar God het belowe dat Hy later die land vir Abraham en sy kinders ná hom sal gee. God het gesê: ‘ Abraham se nageslag sal vreemdelinge wees in 'n vreemde land. Die mense van daardie land sal Abraham se nageslag slawe laat word, en die mense sal slegte dinge doen aan hulle, 400 jaar lank. Maar Ek sal die mense straf wat Abraham se nageslag slawe laat word het.’ God het ook gesê: ‘ En nadat dit gebeur het, sal Abraham se nageslag wegtrek en hulle sal My dien in hierdie land.’ Toe het God 'n verbond gemaak met Abraham, dit was die besnydenis. Daarom, toe Abraham die pa geword het van Isak, het hy vir Isak besny toe Isak ag dae oud was. En Isak het ook vir Jakob besny, en Jakob het dieselfde gedoen met die voorvaders van die twaalf stamme. “En die voorvaders was jaloers op Josef. Daarom het hulle hom verkoop aan mense van Egipte. Maar God was by Josef. God het vir Josef gered toe hy swaargekry het. Hy het vir Josef só baie wysheid gegee dat die farao, die koning van Egipte, baie van Josef gehou het. Die farao het vir Josef die regeerder gemaak oor Egipte en oor die farao se hele paleis. Toe het dit baie droog geword in die hele Egipte en Kanaän. Die mense het baie swaar gekry, en ons voorvaders kon ook nie kos kry nie. Jakob het gehoor dat daar kos is in Egipte. Hy stuur toe ons voorvaders die eerste maal daarnatoe. Toe hulle die tweede maal in Egipte kom, het Josef vir sy broers gesê wie hy is. Toe het die farao ook gehoor van Josef se familie. Josef het toe 'n boodskap gestuur en hy het gesê sy pa Jakob en die hele familie moet na Egipte kom. Hulle was 75 mense. Jakob het toe afgegaan na Egipte. Hy en ons voorvaders het later daar gesterf. Die Israeliete het die liggaam van Jakob en die liggame van die voorvaders teruggeneem na die stad Sigem, en hulle het die liggame begrawe in die graf wat Abraham gekoop het by die nageslag van Hemor in Sigem. “Die tyd het gekom dat God sou doen wat Hy vir Abraham belowe het. Die Israeliete het toe al klaar 'n groot volk geword in Egipte, hulle was baie mense. 'n Ander man het later koning geword in Egipte. Hy het nie vir Josef geken nie. Hierdie koning het 'n skelm plan gemaak teen ons volk. Hy het slegte dinge gedoen aan ons voorvaders. Hy het gesê hulle moet hulle babas buite neersit sodat die babas kan sterf. In hierdie tyd is Moses gebore. Hy was baie mooi. Sy ouers het drie maande lank goed vir hom gesorg. Toe het hulle hom buite neergesit. Die farao se dogter het hom gekry en sy het hom aangeneem en grootgemaak soos haar eie seun. Moses het al die wysheid van die Egiptenaars geleer, hy het geleer om die regte dinge te sê en te doen. “Toe Moses 40 jaar oud was, het hy besluit om te gaan kyk hoe dit gaan met sy mense, die Israeliete. Hy sien toe 'n Egiptenaar wat besig was om slegte dinge te doen aan 'n Israeliet. Moses het die Israeliet gehelp, hy het die Egiptenaar gestraf en hy het hom doodgeslaan. Moses het gedink dat die Israeliete sal verstaan dat God hom wil gebruik om hulle te red. Maar hulle het dit nie verstaan nie. Die volgende dag het Moses gekom by twee Israeliete wat baklei. Hy wou hulle help om vrede te maak. Hy sê toe: ‘Vriende, julle altwee is Israeliete. Hoekom baklei julle met mekaar?’ Maar die een wat die probleem begin het, het vir Moses weggestamp en gesê: ‘ Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en regter oor ons te wees? Nou wil jy vir my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het.’ Toe Moses dit hoor, het hy gevlug. Hy het 'n vreemdeling geword in die land Midian. Daar het hy die pa geword van twee seuns. “Daar het 40 jaar verbygegaan. Toe het 'n engel aan Moses verskyn in die woestyn by Sinai-berg. Die engel was in die vlamme van 'n bos wat gebrand het. Moses was verbaas oor wat hy gesien het. Hy het nader gegaan om te kyk wat dit is, en toe hoor hy die stem van die Here wat sê: ‘ Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het begin bewe en hy was te bang om na die bos te kyk. Toe sê die Here vir hom: ‘ Trek jou sandale uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. Ek het gesien my volk kry baie swaar in Egipte. Ek het gehoor hoe kla hulle. Daarom het Ek afgekom om hulle te red. Kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.’ “Julle moet onthou, die Israeliete wou nie hê dat Moses hulle leier moes wees nie. Hulle het gesê: ‘Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en regter oor ons te wees?’ Maar God het vir hóm, vir Móses, gestuur om regeerder en redder te wees. God het dit gedoen toe die engel aan Moses verskyn het in die bos. Dit was Móses wat die Israeliete uitgelei het uit Egipte. Hy het 40 jaar lank wonderwerke en tekens gedoen in die land Egipte en in die woestyn. Dit was hý, Móses wat vir die Israeliete gesê het: ‘ God sal 'n profeet vir julle stuur. Hierdie profeet sal een van julle eie mense wees. Hy sal 'n profeet wees, soos ek.’ Dit is hý, Móses, wat by ons voorvaders was in die woestyn. Hy het met hulle gepraat wanneer hulle bymekaargekom het. Moses was ook op Sinai-berg by die engel. Daar het die engel met Moses gepraat, en daar het Moses die boodskap gekry wat vir ons die ware lewe gee. Maar ons voorvaders wou nie luister na Moses nie. Hulle wou nie hoor wat hy sê nie, en hulle het verlang na Egipte. Hulle het vir Aäron gesê: ‘ Maak vir ons gode wat vir ons verder kan lei. Want ons weet nie wat met Moses gebeur het nie, Moses wat ons uitgelei het uit Egipte.’ Toe het hulle 'n beeld van 'n kalf gemaak, en hulle het offers gebring vir die afgod. Hulle was baie bly oor die beeld wat hulle met hulle hande gemaak het en hulle het feesgevier. Maar God het hulle gelos, Hy het hulle nie meer gekeer wanneer hulle die sterre wou aanbid nie. Dit is wat geskryf is in die boek van die profete: “ Mense van Israel, het julle vir My brand-offers en ander offers gebring toe julle 40 jaar lank in die woestyn was? Nee, julle het nie! Julle het die tent van Molek saamgeneem en die ster van julle god Refan. Julle het hierdie beelde gemaak om te aanbid. Daarom sal Ek julle wegstuur tot anderkant Babilon. “Ons voorvaders het die tent en die tien gebooie wat daarin was, by hulle in die woestyn gehad. God het vir Moses gesê om die tent te maak. Dit moes dieselfde lyk soos die tent wat God vir Moses gewys het. Ons voorvaders het hierdie tent gekry en hulle het dit in hierdie land ingebring. Dit het gebeur toe Josua die land oorwin en gevat het. God het die volke wat daar woon, weggejaag sodat ons voorvaders daar kon woon. Die tent het in die land gebly tot in die tyd toe Dawid gelewe het. God was goed vir Dawid, en Dawid het vir God gevra of hy vir Hom 'n woonplek kan bou sodat Jakob se nageslag daar vir God kan dien. Maar dit was Dawid se seun Sálomo wat 'n tempel gebou het vir God. Maar God wat in die hoogste hemel woon, woon nie in tempels nie, want dit is mense wat tempels bou. Dit is wat die profeet sê: “Die Here sê: Die hemel is my troon, die aarde is die plek waarop Ek my voete sit. Dink julle dat julle vir Mý 'n huis kan bou waar Ek kan woon? Dit sê die Here. Dink julle dat daar 'n plek is waar Ek moet rus? Ek het alles gemaak met my eie hande. “Julle is hardkoppig! Julle dink in julle hart soos die heidene dink, en julle wil nie luister nie. Julle stry altyd teen die Heilige Gees. Julle doen dieselfde wat julle voorvaders gedoen het. Julle voorvaders het slegte dinge gedoen aan al die profete. Julle voorvaders het die mense doodgemaak wat gesê het dat die Regverdige sal kom. En nou het júlle Hom verraai en vermoor. Julle is die mense wat die wette van God gekry het. God het die engele gebruik om dit vir julle te gee. Maar julle was nie gehoorsaam aan God se wette nie.”
HANDELINGE 7:1-53 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE sê die hoëpriester: Is hierdie dinge dan so? En hy sê: Broeders en vaders, luister! Die God van die heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotámië was, voordat hy in Haran gewoon het, en vir hom gesê: Trek uit jou land en uit jou familie, en kom na die land wat Ek jou sal wys. Toe het hy getrek uit die land van die Chaldeërs en in Haran gaan woon; en ná die dood van sy vader het Hy hom daarvandaan laat verhuis na hierdie land waarin julle nou woon. En Hy het hom geen erfdeel daarin gegee nie, selfs nie 'n voetbreed nie, maar Hy het belowe om dit aan hom en sy nageslag ná hom as eiendom te gee, toe hy nog geen kind gehad het nie. En God het aan hom dít gesê, dat sy nageslag bywoners in 'n vreemde land sou wees en die mense hulle tot slawe sou maak en mishandel, vierhonderd jaar lank. En die nasie aan wie hulle diensbaar sal wees, sal Ek oordeel, het God gesê; en daarna sal hulle uittrek en My in hierdie plek dien. En Hy het hom die verbond van die besnydenis gegee, en so het hy die vader van Isak geword en hom op die agtste dag besny; en Isak het die vader van Jakob geword, en Jakob van die twaalf aartsvaders. En die aartsvaders was jaloers op Josef en het hom verkoop na Egipte toe; maar God was met hom en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk voor Farao, die koning van Egipte; en dié het hom goewerneur gemaak oor Egipte en oor sy hele huis. En 'n hongersnood en groot benoudheid het oor die hele Egipteland en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen voedsel kry nie. En toe Jakob hoor dat daar koring in Egipte was, het hy ons vaders die eerste keer uitgestuur. En die tweede keer is Josef deur sy broers herken, en die afkoms van Josef het aan Farao bekend geword. Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob laat roep en sy hele familie, vyf-en-sewentig siele. En Jakob het afgetrek na Egipte en daar gesterwe, hy en ons vaders. En hulle is oorgebring na Sigem en weggelê in die graf wat Abraham vir 'n som geld gekoop het van die seuns van Hemor, die vader van Sigem. En namate die tyd van die belofte wat God aan Abraham met 'n eed beloof het, nader kom, het die volk toegeneem en vermeerder in Egipte, totdat daar 'n ander koning opgestaan het wat nie vir Josef geken het nie. Hy het listig met ons geslag te werk gegaan en ons vaders mishandel deur hulle te verplig om hul kindertjies weg te gooi, sodat hulle nie in die lewe behou kon word nie. In dié tyd is Moses gebore, en hy was wonderlik mooi. Drie maande lank is hy in die huis van sy vader versorg; en toe hy weggegooi is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom as haar seun grootgemaak. En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade. En nadat hy die ouderdom van veertig jaar bereik het, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek; en toe hy sien dat iemand onreg aangedoen word, het hy hom verdedig en die man wat mishandel was, gewreek deur die Egiptenaar te verslaan. En hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand redding sou gee; maar hulle het dit nie verstaan nie. En die volgende dag het hy by hulle verskyn terwyl hulle besig was om te veg, en hy het by hulle aangedring om vrede te maak en gesê: Manne, julle is broers; waarom doen julle mekaar onreg aan? Maar hy wat sy naaste onreg aangedoen het, het hom afgestoot en gesê: Wie het jou as 'n owerste en regter oor ons aangestel? Jy wil my tog nie doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het nie? En Moses het op hierdie woord gevlug en 'n bywoner geword in die land Mídian, waar hy die vader van twee seuns geword het. En toe veertig jaar verby was, het 'n Engel van die Here aan hom verskyn in die woestyn van die berg Sinai, in die vuurvlam van 'n doringbos. En Moses het dit gesien en hom oor die gesig verwonder; en toe hy daarheen gaan om dit te besien, het die stem van die Here tot hom gekom: Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. En Moses het begin bewe en nie gewaag om dit te bekyk nie. Toe sê die Here vir hom: Trek die skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. Ek het duidelik gesien die mishandeling van my volk wat in Egipte is, en hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos. En nou, kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur. Hierdie Moses wat hulle verloën het deur te sê: Wie het jou aangestel as 'n owerste en regter? — hom het God as owerste en verlosser gestuur deur die hand van die Engel wat aan hom verskyn het in die doringbos. Hy het hulle uitgelei en wonders en tekens in Egipteland en in die Rooi See en die woestyn gedoen, veertig jaar lank. Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle 'n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister. Dit is hy wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee. Na hom wou ons vaders nie luister nie, maar hulle het hom verstoot en met hulle harte na Egipte teruggekeer toe hulle vir Aäron gesê het: Maak vir ons gode wat voor ons uit sal trek; want hierdie Moses wat ons uit Egipteland uitgelei het, ons weet nie wat van hom geword het nie. En hulle het in daardie dae 'n kalf gemaak en aan die afgodsbeeld 'n offer gebring en hulle in die werke van hulle hande verbly. Maar God het Hom afgewend en hulle oorgegee om die leër van die hemel te dien, soos geskrywe is in die boek van die profete: Julle het tog nie aan My slagoffers en offers gebring gedurende veertig jaar in die woestyn nie, o huis van Israel? Ja, julle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, die beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid. En Ek sal julle anderkant Babilon wegvoer. Die tent van die Getuienis was onder ons vaders in die woestyn, soos Hy wat met Moses gespreek het, hom bevel gegee het om dit te maak volgens die afbeelding wat hy gesien het. En ons vaders het dit ontvang en met Josua ingebring in die besitting van die nasies wat God voor ons vaders uitgedryf het, tot op die dae van Dawid wat genade gevind het voor God en gevra het om 'n woonplek vir die God van Jakob te verkry. En Salomo het 'n huis vir Hom gebou. Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie? Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het; julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie!
HANDELINGE 7:1-53 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die hoëpriester vra toe vir Stefanus: “Is dit waar?” Toe sê Stefanus: “Broers en vaders, luister na my! God, aan wie al die eer toekom, het aan ons voorvader Abraham verskyn toe hy nog in Mesopotamië was, voordat hy in Haran gaan woon het. God het vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys.’ Abraham het toe die land van die Galdeërs verlaat en in Haran gaan woon. Ná sy pa se dood het God hom daarvandaan laat trek na hierdie land toe waarin julle vandag woon. God het hom geen eiendom in hierdie land gegee nie, selfs nie 'n handbreedte daarvan nie. Maar Hy het wel belowe om dit as besitting vir hom te gee, en ná hom vir sy nageslag, alhoewel hy nog nie 'n kind gehad het nie. God het só gesê: ‘Sy nageslag sal bywoners wees in 'n land wat aan ander behoort. Daar sal hulle slawe wees en vier honderd jaar lank baie swaar kry. Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou.’ Verder het God gesê: ‘Daarna sal hulle wegtrek en My op hierdie plek dien.’ God het met Abraham 'n verbond gesluit waarvan die besnydenis die teken is. So het dit gekom dat Abraham sy seun Isak op die agste dag na sy geboorte besny het. Isak het dieselfde gedoen met Jakob, en Jakob met die twaalf stamvaders. “Uit jaloesie het die stamvaders vir Josef as slaaf verkoop, en so is hy Egipte toe. Maar God was by hom en het hom uit al sy ellende gered. God het aan Josef wysheid gegee, sodat hy in die guns van die farao, die koning van Egipte, gekom het. Die farao het hom as onderkoning van Egipte en as hoof van sy hele koninklike hof aangestel. Later het daar hongersnood in die hele Egipte en ook in Kanaän gekom. Die nood was hoog, en ook ons voorouers kon nie kos in die hande kry nie. Toe Jakob hoor dat daar kos in Egipte is, het hy ons voorvaders op hulle eerste reis daarheen gestuur. Op hulle tweede reis het Josef hom aan sy broers bekend gemaak. Toe het die farao ook van Josef se familie te hore gekom. Josef het vir Jakob, sy pa, en die hele familie laat haal, vyf en sewentig mense altesaam. Jakob het na Egipte toe gegaan en daar het hy en ons voorvaders gesterwe. Hulle liggame is na Sigem toe gebring en begrawe in die graf wat Abraham vir 'n som geld daar in Sigem by die nakomelinge van Hemor gekoop het. “Teen die tyd dat God die belofte wat Hy aan Abraham gegee het, sou uitvoer, het die volk in Egipte reeds tot 'n groot getal aangegroei. 'n Nuwe koning, wat nie vir Josef geken het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom, en hy het 'n slim plan teen ons mense beraam en ons voorouers wreed behandel. Hy het hulle verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat, sodat hulle nie aan die lewe sou bly nie. In dié tyd is Moses gebore, en hy was baie mooi. Drie maande lank is hy in sy ouerhuis versorg, en daarna is hy buite aan sy lot oorgelaat. Daar het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak. Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het uitgeblink in woord en daad. “Op veertigjarige leeftyd het die verlange by hom opgekom om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan. Toe hy sien dat een van hulle deur 'n Egiptenaar mishandel word, het hy die slagoffer gaan help en die misdaad gewreek deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom wou gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie verstaan nie. Toe hy die volgende dag op twee Israeliete afkom wat baklei, wou hy vrede maak en hy sê: ‘Mense, julle is tog broers! Hoekom baklei julle dan met mekaar?’ Maar die een wat met die bakleiery begin het, stamp vir Moses opsy en sê: ‘Wie het jou as ons leier en as regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodslaan, soos jy gister die Egiptenaar doodgeslaan het?’ Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in Midian geword. Dáár is vir hom twee seuns gebore. “Veertig jaar later het 'n engel eendag in die woestyn by Sinaiberg in die vlamme van 'n brandende doringbos aan Moses verskyn. Moses was baie verbaas oor wat hy sien, en toe hy nader gaan om te kyk wat dit is, hoor hy die stem van die Here: ‘Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het gebewe en dit nie gewaag om te kyk nie. En die Here sê vir hom: ‘Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek gesien, en hulle gekerm het Ek gehoor. Daarom het Ek gekom om hulle te red. Kom nou nader; Ek wil jou na Egipte toe stuur.’ “Dit is dieselfde Moses vir wie die Israeliete nie wou aanvaar nie en vir wie hulle gesê het: ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ Tog het God juis vir Moses as leier en redder na hulle toe gestuur deur die engel wat in die doringbos aan hom verskyn het. So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Veertig jaar lank het hy tekens en wonders in Egipte, by die Rooisee en in die woestyn gedoen. Dit is dieselfde Moses wat vir die volk Israel gesê het: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle 'n Profeet soos ek laat voortkom.’ “Dit is hy wat, toe die volk daar in die woestyn bymekaar was, die skakel was tussen ons voorvaders en die engel wat met hom op Sinaiberg gepraat het. Hy het die lewende woorde ontvang om aan ons mee te deel. Ons voorvaders wou egter nie na hom luister nie. Hulle het hom verontagsaam en na Egipte terug verlang. Toe het hulle vir Aäron gesê: ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit kan trek, want hierdie Moses wat ons uit Egipte uitgelei het – ons weet nie wat van hom geword het nie.’ Die gevolg was dat hulle destyds 'n afgodsbeeld gemaak het in die vorm van 'n kalf en daaraan offers gebring het en feesgevier het tot eer van hulle eie handewerk. Maar God het Hom van hulle afgewend en hulle laat begaan om die sterre te aanbid, soos daar geskrywe staan in die boek van die profete: “Was dit vir My, Israel, dat julle brandoffers en ander diereoffers gebring het gedurende die veertig jaar in die woestyn? Nee! Julle het die tent van Molek saamgeneem en die ster van julle god Refan. Julle het hierdie beelde gemaak om te aanbid. Daarom sal Ek julle tot anderkant Babilon wegstuur. “Ons voorvaders het die tent met die getuienis by hulle in die woestyn gehad. Moses het dit op bevel van God gemaak volgens die voorbeeld wat hy gesien het. Die volgende geslag het die tent ontvang en dit saamgeneem toe hulle onder leiding van Josua die land in besit geneem het waaruit God die inwoners voor ons voorvaders uit verdrywe het. Dit het daar gebly tot die tyd van Dawid. God was vir hom goed, en Dawid het gevra om toegelaat te word om vir God 'n tempel te bou vir gebruik deur die nageslag van Jakob. Maar dit was Salomo wat die tempel gebou het. God, die Allerhoogste, woon egter nie in geboue wat deur mense gemaak is nie. Soos die profeet dit stel: “Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete, sê die Here. Watter soort huis sal julle tog vir My bou of watter plek as my rusplek? Het Ek nie self al hierdie dinge gemaak nie? “Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook. Was daar ooit 'n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie? Hulle het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het. Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor. Julle is die mense wat deur bemiddeling van engele die wet van God ontvang het, en tog het julle dit nie gehoorsaam nie.”
HANDELINGE 7:1-53 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die hoëpriester het toe gevra: “Is dit regtig so?” En Stefanus het geantwoord: “Broers en vaders, luister! Die God van heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotamië was, nog voordat hy hom in Haran gevestig het, en vir hom gesê, ‘Verlaat jou land en jou familie, en gaan na die land wat Ek jou sal wys.’ Toe het hy die land van die Galdeërs verlaat en hom in Haran gaan vestig, en daarvandaan het Hy hom, ná sy vader se dood, na hierdie land laat verhuis waarin julle nou woon. Hy het nie vir hom 'n erfdeel daarin gegee nie, nie eers 'n voetbreedte nie; maar Hy het beloof ‘om dit as besitting te gee aan hom en sy nageslag ná hom’, al het hy toe nog nie 'n kind gehad nie. God het dit so gestel, ‘Sy nageslag sal bywoners wees in 'n land wat aan ander behoort, en die inwoners sal hulle slawe maak en vierhonderd jaar lank laat swaarkry. Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou,’ het God gesê, ‘en daarna sal hulle uitgaan en My op hierdie plek dien’. En Hy het met hom die verbond van besnydenis gesluit; en so het hy Isak verwek en hom op die agtste dag besny, en so ook Isak vir Jakob, en Jakob die twaalf stamvaders. “En omdat die stamvaders op Josef afgunstig was, het hulle hom verkoop om na Egipte geneem te word. Maar God was met hom, en het hom uit al sy beproewings gered, en aan hom guns en wysheid in die oë van die farao, die koning van Egipte, geskenk, en hy het hom as bestuurder oor Egipte en oor sy hele huishouding aangestel. Toe het daar hongersnood en groot ellende oor die hele Egipte en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen kos kry nie. Maar toe Jakob hoor dat daar graan in Egipte is, het hy ons vaders die eerste keer daarheen gestuur. Met die tweede besoek het Josef hom aan sy broers bekend gemaak, en sy herkoms het ook aan die farao bekend geraak. Josef het toe mense gestuur en sy vader Jakob laat haal, en ook die hele familie van vyf-en-sewentig mense. Jakob het na Egipte afgegaan en daar gesterf, hy en ons vaders, en hulle is na Sigem gebring en neergelê in die graf wat Abraham met 'n bedrag silwer by die seuns van Hemor in Sigem gekoop het. “Maar namate die tyd van die belofte nader gekom het wat God aan Abraham gemaak het, het die volk in Egipte in getal toegeneem en vermeerder, totdat daar 'n ander koning oor Egipte aan bewind gekom het wat nie van Josef geweet het nie. Hy het ons volk uitgebuit, en ons vaders wreed gedwing om hulle babas buite neer te sit, sodat hulle nie sou oorleef nie. In dié tyd is Moses gebore, en hy was uitsonderlik mooi in God se oë. Hy is drie maande lank in sy vader se huis versorg. Toe hy daarna buite neergesit is, het die farao se dogter hom aangeneem en hom as haar eie seun laat versorg. Moses is ook in al die wysheid van die Egiptenare opgelei, en was vaardig in woord en daad. “ Maar toe hy veertig jaar oud was, het die begeerte in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, op te soek. En toe hy sien hoe iemand aangerand word, het hy hom te hulp gesnel, en oor die man wat mishandel is, wraak geneem deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gedink sy broers sou begryp dat God vir hulle deur sy hand redding sou bring, maar hulle het dit nie begryp nie. Die volgende dag het hy op twee afgekom juis terwyl hulle baklei, en hy het vrede tussen hulle probeer maak deur te sê, ‘Manne, julle is broers. Waarom doen julle mekaar kwaad aan?’ Maar die een wat sy volksgenoot kwaad aangedoen het, het hom weggestamp en gesê, ‘Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het?’ Toe Moses hierdie woorde hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in die land Midian geword, waar hy twee seuns verwek het. “Ná veertig jaar het 'n engel aan hom in die woestyn van die Sinaigebergte verskyn, in die vlam van 'n brandende doringbos. Toe Moses dit sien, het hy hom oor die visioen verwonder; en toe hy nader gaan om dit te bekyk, het die stem van die Here gesê, ‘Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en Isak en Jakob.’ En Moses het begin bewe en nie gewaag om daarna te kyk nie. Toe sê die Here vir hom, ‘Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. Ek het duidelik die mishandeling van my volk in Egipte gesien en hulle jammerklag gehoor; daarom het ek neergedaal om hulle te red. En nou, kom nader, Ek wil jou na Egipte stuur.’ Hierdie Moses, vir wie hulle verwerp het toe hulle gesê het, ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ – hom het God as leier en bevryder gestuur deur die hand van 'n engel wat aan hom in die doringbos verskyn het. Dit was hy wat hulle uitgelei het en wonders en tekens in Egipte en by die Rooisee en in die woestyn gedoen het, veertig jaar lank. Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het, ‘God sal vir julle 'n profeet net soos ek uit julle broers laat opstaan.’ Dit is hy wat in die volksvergadering in die woestyn saam met die Engel, wat met hom op die berg Sinai gepraat het, en saam met ons vaders was – hý het lewende woorde ontvang om aan ons te gee. Dit is aan hom wat ons vaders nie gehoorsaam wou wees nie. Hulle het hom verwerp en in hulle harte na Egipte teruggedraai toe hulle vir Aäron gesê het, ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit kan trek, want hierdie Moses wat ons uit die land Egipte uitgelei het – ons weet nie wat van hom geword het nie.’ Toe het hulle in daardie dae 'n beeld van 'n kalf gemaak, en aan dié afgodsbeeld 'n offer gebring en hulle oor hulle handewerk verheug. Maar God het Hom van hulle weggekeer en hulle daaraan uitgelewer om die leërskare hemelliggame te aanbid, soos daar geskryf staan in die profete: “ ‘Het julle ooit vir My slagoffers en ander offers gebring gedurende die veertig jaar in die woestyn, huis van Israel? Nee, julle het die tent van Moleg saamgedra, en die ster van julle god Refan, beelde wat julle gemaak het om te aanbid. Daarom sal Ek julle tot anderkant Babilon laat wegvoer.’ “Die Tent met die Getuienis het by ons voorvaders in die woestyn gestaan, presies soos Hy wat met Moses gepraat het, hom beveel het om dit volgens die model te maak wat hy gesien het. En op hulle beurt het ons vaders dit ontvang, en saam met Josua het hulle dit in die land ingebring wat hulle verower het van die nasies wat God tot in die tyd van Dawid voor ons vaders uitgedryf het. Dawid het guns by God gevind, en gevra dat hy 'n tabernakel vir die huis van Jakob kon oprig. Maar dit was Salomo wat 'n huis vir Hom gebou het. Die Allerhoogste woon egter nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: “ ‘ Die hemel is my troon, en die aarde die voetbank vir my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of waar is my rusplek? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?’ “Julle hardnekkiges met onbesnede harte en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; soos julle vaders gemaak het, so maak julle ook. Wie van die profete is nie deur julle vaders vervolg nie? Ja, hulle het diegene doodgemaak wat die koms van die Regverdige vooraf aangekondig het. Julle het nou sy verraaiers en moordenaars geword. Julle het die wet deur die beskikking van engele ontvang en tog nie onderhou nie!”
HANDELINGE 7:1-53 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê die hoëpriester: Is hierdie dinge so? En hy sê: Manne, broers en vaders, luister; Die God van heerlikheid het aan ons vader Abraham verskyn toe hy in Mesopotamië was, voordat hy in Charran gewoon het, En hy sê vir hom: Gaan uit jou land en uit jou familie, en kom in die land wat Ek jou sal wys. Toe het hy uit die land van die Chaldeërs gekom en in Charran gaan woon; en daarvandaan, toe sy vader gesterf het, het hy hom na hierdie land gebring waarin julle nou woon. En hy het hom geen erfdeel daarin gegee nie, selfs nie soseer as om op te sit nie; tog het hy beloof dat hy dit aan hom sou gee as 'n besitting en aan sy nageslag ná hom, terwyl hy nog geen kind gehad het nie. En God het so gespreek dat sy nageslag as vreemdeling sou vertoef in 'n vreemde land; en dat hulle hulle in slawerny sou bring en hulle boos smeek vierhonderd jaar. En die nasie aan wie hulle in slawerny sal wees, sal Ek oordeel, het God gesê; en daarna sal hulle uittrek en My op hierdie plek dien. En hy het hom die verbond van die besnydenis gegee, en so was Abraham die vader van Isak en het hy hom op die agtste dag besny; en Isak het Jakob verwek; en Jakob was die vader van die twaalf aartsvaders. En die aartsvaders, bewoë van afguns, het Josef na Egipte verkoop, maar God was met hom, en hom uit al sy ellende verlos en hom guns en wysheid gegee in die oë van Farao, die koning van Egipte; en hy het hom as goewerneur oor Egipte en sy hele huis aangestel. En daar het 'n gebrek gekom oor die hele Egipteland en Kanaän en groot benoudheid, en ons vaders het geen voedsel gevind nie. Maar toe Jakob hoor dat daar koring in Egipte was, het hy ons vaders eerste uitgestuur. En vir die tweede keer is Josef aan sy broers bekend gemaak; en Josef se geslag is aan Farao bekend gemaak. Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob en sy hele familie, vyf-en-sestig siele, na hom toe geroep. Jakob het toe na Egipte afgetrek en gesterwe, hy en ons vaders, En hulle is oorgedra na Sigem en neergelê in die graf wat Abraham gekoop het vir 'n som geld van die seuns van Emmor, die vader van Sigem. Maar toe die tyd van die belofte wat God aan Abraham beloof het, nader kom, het die volk in Egipte gegroei en vermeerder, Totdat 'n ander koning opgestaan het wat Josef nie geken het nie. Hy het listig gehandel met ons familie, en ons vaders kwaad gesmee, sodat hulle hul jong kinders verdryf het, sodat hulle nie sou lewe nie. In watter tyd is Moses gebore en hy was buitengewoon mooi en het drie maande lank in die huis van sy vader onderhou; En toe hy uitgewerp is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom vir haar eie seun versorg. En Moses was geleerd in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en in dade. En toe hy veertig jaar oud was, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek. En toe hy sien dat een van hulle onreg ly, het hy hom verdedig en die verdrukte gewreek en die Egiptenaar verslaan. Want hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand sou red, maar hulle het dit nie verstaan nie. En die volgende dag het hy homself aan hulle geopenbaar terwyl hulle gestry het, en sou hulle weer eensgesind het deur te sê: Menere, julle is broers; waarom maak julle mekaar verkeerd? Maar hy wat sy naaste onreg aangedoen het, het hom weggestoot en gesê: Wie het jou 'n owerste en regter oor ons aangestel? Sal jy my doodmaak soos jy gister die Egiptenaar gedoen het? Toe het Moses gevlug vir hierdie woord, en hy was 'n vreemdeling in die land Madian, waar hy twee seuns verwek het. En toe veertig jaar verby was, het daar aan hom in die woestyn van die berg Sina verskyn 'n engel van die Here in 'n vuurvlam in 'n doringbos. Toe Moses dit sien, was hy verwonderd oor die gesig; en toe hy nader kom om dit te aanskou, het die stem van die Here tot hom gekom: en gesê: Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses gebewe en dit nie durf kyk nie. Toe sê die Here vir hom: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy staan, is heilige grond. Ek het gesien, ek het die ellende van my volk gesien wat in Egipte is, en ek het hulle gekerm gehoor en afgekom om hulle te red. En kom nou, Ek sal jou na Egipte toe stuur. Hierdie Moses wat hulle verwerp het deur te sê: Wie het jou 'n owerste en 'n regter aangestel? dieselfde het God gestuur om 'n heerser en 'n verlosser te wees deur die hand van die engel wat aan hom in die doringbos verskyn het. Hy het hulle uitgelei nadat Hy wonders en tekens gedoen het in Egipteland en in die Rooi See en in die woestyn veertig jaar lank. Dit is daardie Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: 'n Profeet sal die Here julle God vir julle verwek uit julle broers soos ek; Hom sal julle hoor. Dit is hy wat in die gemeente in die woestyn was saam met die engel wat met hom gespreek het op die berg Sina, en by ons vaders, wat die lewendige woorde ontvang het om aan ons te gee. Aan wie ons vaders nie gehoorsaam wou wees nie, maar hom van hulle weggestoot en in hulle harte teruggekeer het na Egipte, en vir Aäron gesê: Maak vir ons gode om voor ons uit te gaan, want hierdie Moses wat ons uit Egipteland uitgelei het, ons weet nie wat van hom geword het nie. En hulle het in daardie dae 'n kalf gemaak en aan die afgod 'n offer gebring en hulle verheug oor die werke van hul eie hande. Toe het God omgedraai en hulle oorgegee om die leër van die hemel te aanbid; Soos geskrywe is in die boek van die profete, o huis van Israel, het julle aan My geslagte diere en slagoffers gebring in die tyd van veertig jaar in die woestyn? Ja, julle het die tabernakel van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid; en Ek sal julle wegvoer na Babel. Ons vaders het die tabernakel van die getuienis in die woestyn gehad, soos Hy dit bepaal het toe hy met Moses gespreek het, dat hy dit moes maak volgens die manier wat hy gesien het. Wat ook ons vaders wat daarna gekom het, saam met Jesus ingebring het in die besitting van die heidene, wat God voor die aangesig van ons vaders verdryf het tot in die dae van Dawid; wat genade gevind het voor God en begeer het om 'n tabernakel vir die God van Jakob te vind. Maar Salomo het vir hom 'n huis gebou. Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie; soos die profeet sê, Die hemel is my troon en die aarde is my voetbank; watter huis sal julle vir My bou? spreek die Here: of wat is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie? Julle hardnekke en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; soos julle vaders, so doen julle. Watter van die profete het julle vaders nie vervolg nie? en hulle het die wat tevore van die koms van die Regverdige te kenne gegee het, gedood; van wie julle nou die verraaiers en moordenaars was: wat die wet deur die beskikking van engele ontvang het en dit nie onderhou het nie.