HANDELINGE 7:1-19
HANDELINGE 7:1-19 Bybel vir almal (ABA)
Die hoëpriester vra toe vir Stefanus: “Is dit waar wat hierdie mense sê?” En Stefanus sê: “My vriende, julle moet goed luister. God wat koning is, het verskyn aan ons voorvader Abraham toe hy in Mesopotamië gewoon het. Dit was voordat Abraham in Haran gewoon het. God het vir Abraham gesê: ‘ Jy moet weggaan uit jou land en van jou familie, en dan moet jy gaan na die land wat Ek vir jou sal wys.’ Toe het Abraham weggegaan uit die land van die Galdeërs en hy het gaan woon in die land Haran. Toe Abraham se pa sterf, het God vir Abraham laat wegtrek van die land Haran tot by hierdie land waar julle nou woon. God het nie vir Abraham grond gegee in die land nie, glad nie, nie 'n klein stukkie grond nie. In daardie tyd het Abraham nog nie 'n kind gehad nie. Maar God het belowe dat Hy later die land vir Abraham en sy kinders ná hom sal gee. God het gesê: ‘ Abraham se nageslag sal vreemdelinge wees in 'n vreemde land. Die mense van daardie land sal Abraham se nageslag slawe laat word, en die mense sal slegte dinge doen aan hulle, 400 jaar lank. Maar Ek sal die mense straf wat Abraham se nageslag slawe laat word het.’ God het ook gesê: ‘ En nadat dit gebeur het, sal Abraham se nageslag wegtrek en hulle sal My dien in hierdie land.’ Toe het God 'n verbond gemaak met Abraham, dit was die besnydenis. Daarom, toe Abraham die pa geword het van Isak, het hy vir Isak besny toe Isak ag dae oud was. En Isak het ook vir Jakob besny, en Jakob het dieselfde gedoen met die voorvaders van die twaalf stamme. “En die voorvaders was jaloers op Josef. Daarom het hulle hom verkoop aan mense van Egipte. Maar God was by Josef. God het vir Josef gered toe hy swaargekry het. Hy het vir Josef só baie wysheid gegee dat die farao, die koning van Egipte, baie van Josef gehou het. Die farao het vir Josef die regeerder gemaak oor Egipte en oor die farao se hele paleis. Toe het dit baie droog geword in die hele Egipte en Kanaän. Die mense het baie swaar gekry, en ons voorvaders kon ook nie kos kry nie. Jakob het gehoor dat daar kos is in Egipte. Hy stuur toe ons voorvaders die eerste maal daarnatoe. Toe hulle die tweede maal in Egipte kom, het Josef vir sy broers gesê wie hy is. Toe het die farao ook gehoor van Josef se familie. Josef het toe 'n boodskap gestuur en hy het gesê sy pa Jakob en die hele familie moet na Egipte kom. Hulle was 75 mense. Jakob het toe afgegaan na Egipte. Hy en ons voorvaders het later daar gesterf. Die Israeliete het die liggaam van Jakob en die liggame van die voorvaders teruggeneem na die stad Sigem, en hulle het die liggame begrawe in die graf wat Abraham gekoop het by die nageslag van Hemor in Sigem. “Die tyd het gekom dat God sou doen wat Hy vir Abraham belowe het. Die Israeliete het toe al klaar 'n groot volk geword in Egipte, hulle was baie mense. 'n Ander man het later koning geword in Egipte. Hy het nie vir Josef geken nie. Hierdie koning het 'n skelm plan gemaak teen ons volk. Hy het slegte dinge gedoen aan ons voorvaders. Hy het gesê hulle moet hulle babas buite neersit sodat die babas kan sterf.
HANDELINGE 7:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE sê die hoëpriester: Is hierdie dinge dan so? En hy sê: Broeders en vaders, luister! Die God van die heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotámië was, voordat hy in Haran gewoon het, en vir hom gesê: Trek uit jou land en uit jou familie, en kom na die land wat Ek jou sal wys. Toe het hy getrek uit die land van die Chaldeërs en in Haran gaan woon; en ná die dood van sy vader het Hy hom daarvandaan laat verhuis na hierdie land waarin julle nou woon. En Hy het hom geen erfdeel daarin gegee nie, selfs nie 'n voetbreed nie, maar Hy het belowe om dit aan hom en sy nageslag ná hom as eiendom te gee, toe hy nog geen kind gehad het nie. En God het aan hom dít gesê, dat sy nageslag bywoners in 'n vreemde land sou wees en die mense hulle tot slawe sou maak en mishandel, vierhonderd jaar lank. En die nasie aan wie hulle diensbaar sal wees, sal Ek oordeel, het God gesê; en daarna sal hulle uittrek en My in hierdie plek dien. En Hy het hom die verbond van die besnydenis gegee, en so het hy die vader van Isak geword en hom op die agtste dag besny; en Isak het die vader van Jakob geword, en Jakob van die twaalf aartsvaders. En die aartsvaders was jaloers op Josef en het hom verkoop na Egipte toe; maar God was met hom en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk voor Farao, die koning van Egipte; en dié het hom goewerneur gemaak oor Egipte en oor sy hele huis. En 'n hongersnood en groot benoudheid het oor die hele Egipteland en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen voedsel kry nie. En toe Jakob hoor dat daar koring in Egipte was, het hy ons vaders die eerste keer uitgestuur. En die tweede keer is Josef deur sy broers herken, en die afkoms van Josef het aan Farao bekend geword. Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob laat roep en sy hele familie, vyf-en-sewentig siele. En Jakob het afgetrek na Egipte en daar gesterwe, hy en ons vaders. En hulle is oorgebring na Sigem en weggelê in die graf wat Abraham vir 'n som geld gekoop het van die seuns van Hemor, die vader van Sigem. En namate die tyd van die belofte wat God aan Abraham met 'n eed beloof het, nader kom, het die volk toegeneem en vermeerder in Egipte, totdat daar 'n ander koning opgestaan het wat nie vir Josef geken het nie. Hy het listig met ons geslag te werk gegaan en ons vaders mishandel deur hulle te verplig om hul kindertjies weg te gooi, sodat hulle nie in die lewe behou kon word nie.
HANDELINGE 7:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die hoëpriester vra toe vir Stefanus: “Is dit waar?” Toe sê Stefanus: “Broers en vaders, luister na my! God, aan wie al die eer toekom, het aan ons voorvader Abraham verskyn toe hy nog in Mesopotamië was, voordat hy in Haran gaan woon het. God het vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys.’ Abraham het toe die land van die Galdeërs verlaat en in Haran gaan woon. Ná sy pa se dood het God hom daarvandaan laat trek na hierdie land toe waarin julle vandag woon. God het hom geen eiendom in hierdie land gegee nie, selfs nie 'n handbreedte daarvan nie. Maar Hy het wel belowe om dit as besitting vir hom te gee, en ná hom vir sy nageslag, alhoewel hy nog nie 'n kind gehad het nie. God het só gesê: ‘Sy nageslag sal bywoners wees in 'n land wat aan ander behoort. Daar sal hulle slawe wees en vier honderd jaar lank baie swaar kry. Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou.’ Verder het God gesê: ‘Daarna sal hulle wegtrek en My op hierdie plek dien.’ God het met Abraham 'n verbond gesluit waarvan die besnydenis die teken is. So het dit gekom dat Abraham sy seun Isak op die agste dag na sy geboorte besny het. Isak het dieselfde gedoen met Jakob, en Jakob met die twaalf stamvaders. “Uit jaloesie het die stamvaders vir Josef as slaaf verkoop, en so is hy Egipte toe. Maar God was by hom en het hom uit al sy ellende gered. God het aan Josef wysheid gegee, sodat hy in die guns van die farao, die koning van Egipte, gekom het. Die farao het hom as onderkoning van Egipte en as hoof van sy hele koninklike hof aangestel. Later het daar hongersnood in die hele Egipte en ook in Kanaän gekom. Die nood was hoog, en ook ons voorouers kon nie kos in die hande kry nie. Toe Jakob hoor dat daar kos in Egipte is, het hy ons voorvaders op hulle eerste reis daarheen gestuur. Op hulle tweede reis het Josef hom aan sy broers bekend gemaak. Toe het die farao ook van Josef se familie te hore gekom. Josef het vir Jakob, sy pa, en die hele familie laat haal, vyf en sewentig mense altesaam. Jakob het na Egipte toe gegaan en daar het hy en ons voorvaders gesterwe. Hulle liggame is na Sigem toe gebring en begrawe in die graf wat Abraham vir 'n som geld daar in Sigem by die nakomelinge van Hemor gekoop het. “Teen die tyd dat God die belofte wat Hy aan Abraham gegee het, sou uitvoer, het die volk in Egipte reeds tot 'n groot getal aangegroei. 'n Nuwe koning, wat nie vir Josef geken het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom, en hy het 'n slim plan teen ons mense beraam en ons voorouers wreed behandel. Hy het hulle verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat, sodat hulle nie aan die lewe sou bly nie.
HANDELINGE 7:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die hoëpriester het toe gevra: “Is dit regtig so?” En Stefanus het geantwoord: “Broers en vaders, luister! Die God van heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotamië was, nog voordat hy hom in Haran gevestig het, en vir hom gesê, ‘Verlaat jou land en jou familie, en gaan na die land wat Ek jou sal wys.’ Toe het hy die land van die Galdeërs verlaat en hom in Haran gaan vestig, en daarvandaan het Hy hom, ná sy vader se dood, na hierdie land laat verhuis waarin julle nou woon. Hy het nie vir hom 'n erfdeel daarin gegee nie, nie eers 'n voetbreedte nie; maar Hy het beloof ‘om dit as besitting te gee aan hom en sy nageslag ná hom’, al het hy toe nog nie 'n kind gehad nie. God het dit so gestel, ‘Sy nageslag sal bywoners wees in 'n land wat aan ander behoort, en die inwoners sal hulle slawe maak en vierhonderd jaar lank laat swaarkry. Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou,’ het God gesê, ‘en daarna sal hulle uitgaan en My op hierdie plek dien’. En Hy het met hom die verbond van besnydenis gesluit; en so het hy Isak verwek en hom op die agtste dag besny, en so ook Isak vir Jakob, en Jakob die twaalf stamvaders. “En omdat die stamvaders op Josef afgunstig was, het hulle hom verkoop om na Egipte geneem te word. Maar God was met hom, en het hom uit al sy beproewings gered, en aan hom guns en wysheid in die oë van die farao, die koning van Egipte, geskenk, en hy het hom as bestuurder oor Egipte en oor sy hele huishouding aangestel. Toe het daar hongersnood en groot ellende oor die hele Egipte en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen kos kry nie. Maar toe Jakob hoor dat daar graan in Egipte is, het hy ons vaders die eerste keer daarheen gestuur. Met die tweede besoek het Josef hom aan sy broers bekend gemaak, en sy herkoms het ook aan die farao bekend geraak. Josef het toe mense gestuur en sy vader Jakob laat haal, en ook die hele familie van vyf-en-sewentig mense. Jakob het na Egipte afgegaan en daar gesterf, hy en ons vaders, en hulle is na Sigem gebring en neergelê in die graf wat Abraham met 'n bedrag silwer by die seuns van Hemor in Sigem gekoop het. “Maar namate die tyd van die belofte nader gekom het wat God aan Abraham gemaak het, het die volk in Egipte in getal toegeneem en vermeerder, totdat daar 'n ander koning oor Egipte aan bewind gekom het wat nie van Josef geweet het nie. Hy het ons volk uitgebuit, en ons vaders wreed gedwing om hulle babas buite neer te sit, sodat hulle nie sou oorleef nie.
HANDELINGE 7:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê die hoëpriester: Is hierdie dinge so? En hy sê: Manne, broers en vaders, luister; Die God van heerlikheid het aan ons vader Abraham verskyn toe hy in Mesopotamië was, voordat hy in Charran gewoon het, En hy sê vir hom: Gaan uit jou land en uit jou familie, en kom in die land wat Ek jou sal wys. Toe het hy uit die land van die Chaldeërs gekom en in Charran gaan woon; en daarvandaan, toe sy vader gesterf het, het hy hom na hierdie land gebring waarin julle nou woon. En hy het hom geen erfdeel daarin gegee nie, selfs nie soseer as om op te sit nie; tog het hy beloof dat hy dit aan hom sou gee as 'n besitting en aan sy nageslag ná hom, terwyl hy nog geen kind gehad het nie. En God het so gespreek dat sy nageslag as vreemdeling sou vertoef in 'n vreemde land; en dat hulle hulle in slawerny sou bring en hulle boos smeek vierhonderd jaar. En die nasie aan wie hulle in slawerny sal wees, sal Ek oordeel, het God gesê; en daarna sal hulle uittrek en My op hierdie plek dien. En hy het hom die verbond van die besnydenis gegee, en so was Abraham die vader van Isak en het hy hom op die agtste dag besny; en Isak het Jakob verwek; en Jakob was die vader van die twaalf aartsvaders. En die aartsvaders, bewoë van afguns, het Josef na Egipte verkoop, maar God was met hom, en hom uit al sy ellende verlos en hom guns en wysheid gegee in die oë van Farao, die koning van Egipte; en hy het hom as goewerneur oor Egipte en sy hele huis aangestel. En daar het 'n gebrek gekom oor die hele Egipteland en Kanaän en groot benoudheid, en ons vaders het geen voedsel gevind nie. Maar toe Jakob hoor dat daar koring in Egipte was, het hy ons vaders eerste uitgestuur. En vir die tweede keer is Josef aan sy broers bekend gemaak; en Josef se geslag is aan Farao bekend gemaak. Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob en sy hele familie, vyf-en-sestig siele, na hom toe geroep. Jakob het toe na Egipte afgetrek en gesterwe, hy en ons vaders, En hulle is oorgedra na Sigem en neergelê in die graf wat Abraham gekoop het vir 'n som geld van die seuns van Emmor, die vader van Sigem. Maar toe die tyd van die belofte wat God aan Abraham beloof het, nader kom, het die volk in Egipte gegroei en vermeerder, Totdat 'n ander koning opgestaan het wat Josef nie geken het nie. Hy het listig gehandel met ons familie, en ons vaders kwaad gesmee, sodat hulle hul jong kinders verdryf het, sodat hulle nie sou lewe nie.
HANDELINGE 7:1-19 Die Boodskap (DB)
“Wat het jy hierop te sê?” het die hoëpriester vir Stefanus gevra. “Vriende, hooggeagte raadslede, luister asseblief baie mooi,” het Stefanus geantwoord. “Ek wil graag met julle oor God praat. Aan Hom kom al die eer toe. Hy is die Heilige wat Hom aan Abraham kom bekendmaak het toe hy nog daar in Mesopotamië gebly het. Dit het gebeur nog voor Abraham na Haran getrek het. God het vir hom gesê: ‘Jy moet uit jou land trek. Vat al jou familielede saam met jou. Ek sal jou wys na watter land toe jy moet gaan.’ “Abraham het toe padgegee uit die land van die Galdeërs en in Haran gaan bly. Na sy pa se dood het God hom laat trek na hierdie land waar julle nou bly. “Toe Abraham hier aangekom het, het hy nie die land op ’n skinkbord gekry nie. Aan die begin het hy nie eens ’n stuk grond of ’n kind gehad nie.Tog het God hom belowe dat sy nageslag eendag hierdie hele land sou bewoon. “Hy het bygevoeg dat hulle eers sowat 400 jaar lank in ’n vreemde land sou bly. Daar sou hulle geen eie grond hê nie. Hulle sou as slawe werk en deur ander mense mishandel word. “‘Maar moenie jou bekommer nie, Ek sal afreken met daardie volk wat jou nageslag so sleg sal behandel,’ het God vir Abraham gesê. ‘Dan sal Ek hulle daar gaan haal en na hierdie land toe bring sodat hulle My hier kan kom dien.’ “God het toe ’n ooreenkoms met Abraham gesluit. As bewys het Hy vir hom ’n teken aan sy liggaam gegee: die besnydenis. Abraham het daarna ’n seun gehad. Hy het hom Isak genoem. Agt dae na sy geboorte het hy hom besny. Isak was Jakob se pa, en Jakob die pa van die twaalf stamhoofde van ons volk.” “Hierdie stamvaders was egter jaloers op hulle broer Josef. Daarom het hulle hom as ’n slaaf verkoop. Josef is deur sy nuwe eienaars weggevat Egipte toe. Maar God was heeltyd by hom. Hy het hom deur elke probleem en elke krisis gehelp. Josef se groot insig en verstand het die aandag getrek van die farao, die koning van Egipte. Kort voor lank het hy hom aangestel as hoof oor die hele Egipte en oor sy huishouding. “In daardie tyd was daar ’n groot hongersnood in Egipte en Kanaän. Die mense het niks gehad om te eet nie. Ons voorouers het ook baie swaargekry.Toe Jakob hoor dat daar nog koring in Egipte te koop was, het hy sy seuns dadelik soontoe gestuur. Later het hulle teruggekom en vir hulle pa gesê dat daar wel koring in Egipte was. Jakob het hulle weer Egipte toe laat gaan om koring te koop. Tydens hierdie besoek het Josef vir sy broers gesê wie hy regtig is. Hy het sy familie ook aan die farao gaan bekendstel. Daarna het hy sy pa, Jakob, en die res van sy familie van sowat 75 mense laat haal om in Egipte te kom bly. Jakob is uiteindelik daar dood, so ook al ons stamvaders. Die liggame is na Sigem in Kanaän geneem. Daar is hulle begrawe in ’n graf wat Abraham vroeër vir ’n groot klomp geld van die seuns van Hemor gekoop het.” “Die 400 jaar van swaarkry het nou einde se kant toe begin staan. Die tyd dat God sy volk sou bevry, was voor die deur, soos Hy aan Abraham beloof het. Teen daardie tyd het daar sommer al ’n groot groep van ons voorouers in Egipte gebly. ’n Nuwe koning het intussen die leisels in Egipte oorgeneem. Hy het nie vir Josef geken nie. Hy was ’n wrede heerser wat ons mense sleg behandel het. Hy het hulle selfs verplig om hulle pasgebore babatjies op die ashope te gaan weggooi. Op dié manier wou hy keer dat hulle getalle nog groter word.
HANDELINGE 7:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die hoofpriester vra toe vir Stefanus: “Is hierdie aanklagte waar?” Toe het Stefanus gesê: “Medegelowiges, luister na my! Ons glorieryke God het in Mesopotamië aan ons voorvader Abraham verskyn voordat hy Haran toe is. God het vir hom gesê: ‘Verlaat jou geboorteland en jou familie, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys.’ Abraham het toe die land van die Galdeërs verlaat en in Haran gaan woon. Ná sy pa se dood het God hom daarvandaan laat verhuis na hierdie land waar julle nou woon. God het hom geen eiendom as erfdeel hier gegee nie, selfs nie ’n vierkante meter nie. God het egter belowe dat die hele land syne en sy nageslag s’n sal wees, al het hy toe nog geen kind gehad nie. “God het egter ook gesê dat sy nageslag as uitlanders sal woon in ’n vreemde land, waar hulle vir 400 jaar as slawe mishandel sal word. ‘Maar Ék sal die nasie straf wat hulle as slawe laat werk,’ het God gesê, ‘en uiteindelik sal hulle wegtrek en My op hierdie plek aanbid.’ God het in hierdie tyd vir Abraham die verbond gegee waarvan die besnydenis die teken is. So het dit gekom dat Abraham sy seun Isak besny het toe hy agt dae oud was. Isak het dieselfde gedoen met Jakob, en Jakob met die twaalf stamvaders. “Hierdie seuns van Jakob was jaloers op hulle broer Josef, en hulle het hom verkoop om ’n slaaf in Egipte te wees. Maar God was by hom en het hom uit al sy swaarkry gered. God het gemaak dat Farao, die koning van Egipte, van hom hou. God het ook besondere wysheid aan Josef gegee sodat Farao hom as onderkoning oor Egipte en as hoof van sy hele huishouding aangestel het. “Toe het daar hongersnood in die hele Egipte en ook in Kanaän gekom. Ons voorouers het baie swaar gehad, want hulle kos het opgeraak. “Toe Jakob hoor dat daar in Egipte koring is, het hy sy seuns gestuur om daarvan te gaan koop. Op hulle tweede besoek het Josef sy ware identiteit aan sy broers bekendgemaak, en hulle aan Farao voorgestel. Josef het sy pa, Jakob, en sy hele familie laat haal, altesaam 75 mense. So is Jakob Egipte toe. Hy is daar dood, en ook al sy seuns. Hulle is na Sigem toe gebring en begrawe in die grafgrot wat Abraham daar met geld by die seuns van Hemor gekoop het. “Soos die tyd dat God sy belofte aan Abraham sou vervul, nadergekom het, het ons volk in Egipte tot ’n groot getal aangegroei. ’n Nuwe koning, wat niks van Josef geweet het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom. Hierdie koning het ’n slinkse plan teen ons mense beraam en ons voorouers verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat sodat hulle sou sterf.