HANDELINGE 6:1-15
HANDELINGE 6:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in dié dae toe die dissipels vermeerder het, het daar 'n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs, omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is. En die twaalf het die menigte van die dissipels byeengeroep en gesê: Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om die tafels te bedien nie. Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel; maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord. En die woord het byval gevind by die hele menigte; en hulle het gekies: Stéfanus, 'n man vol van geloof en van die Heilige Gees, en Filippus en Próchorus en Nikánor en Timon en Pármenas en Nikoláüs, 'n Jodegenoot uit Antiochíë, wat hulle voor die apostels gestel het; en hulle het gebid en hulle die hande opgelê. En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en 'n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof. EN Stéfanus, vol van geloof en krag, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen. En daar het sommige van die sogenaamde sinagoge van die Libertyne opgestaan, en van die Cirenéërs en Alexandryne, en van die mense van Cilícië en Asië, en hulle het met Stéfanus geredetwis. Maar hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie. Toe het hulle manne opgestook om te sê: Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God. En hulle het die volk en die ouderlinge en die skrifgeleerdes in beweging gebring en op hom afgekom en hom gegryp en voor die Raad gebring. En hulle het valse getuies laat optree om te sê: Dié man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie. Want ons het hom hoor sê: Hierdie Jesus, die Nasaréner, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander. En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van 'n engel was.
HANDELINGE 6:1-15 Bybel vir almal (ABA)
Die gelowiges het in hierdie tyd meer en meer geword. Die mense in die gemeente wat Grieks praat, het begin kla oor die mense in die gemeente wat Hebreeus praat. Hulle het gesê dat die weduwees van die mense wat Grieks praat, nie genoeg kos kry wanneer die gelowiges elke dag vir die arm mense in die gemeente kos gee nie. Toe het die twaalf apostels al die gelowiges bymekaar laat kom. Die apostels het vir hulle gesê: “Ons, die apostels, moenie die hele dag besig wees om kos te gee vir die arm mense nie. Want dan sal ons nie genoeg tyd hê om die boodskap van God vir mense te bring nie. Dit is nie reg nie. Vriende, julle moet sewe manne in die gemeente kies. Almal moet weet en sê dat hulle goeie manne is. Die Heilige Gees moet regeer oor hulle lewens en hulle moet baie wysheid hê. Ons moet vir hulle die werk gee om vir die arm mense te sorg. En dan kan ons, die apostels, al ons tyd gebruik om vir mense te bid en om die boodskap van God te bring.” Die gelowiges het almal gedink dit is goed wat die apostels gesê het. Hulle het toe die volgende manne gekies: Stefanus, 'n man wat 'n sterk geloof gehad het, die Heilige Gees was in hom, Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus. Nikolaus het voorheen in Antiogië gewoon. Hy was eers 'n heiden en hy het later die Jode se godsdiens aanvaar. Die gelowiges het hierdie manne voor die apostels laat staan. Die apostels het vir hulle gebid en hulle het hulle hande op die manne gesit. Meer en meer mense het die boodskap van God gehoor, en die gelowiges in Jerusalem het baie meer geword. Baie priesters het ook gehoorsaam geword, hulle het gelowiges geword. God was genadig vir Stefanus en Hy het vir hom ook baie krag gegee, Stefanus het wonderwerke en groot tekens gedoen. Al die mense het geweet daarvan. Daar was Jode wat aan een van die sinagoges behoort het. Hierdie Jode was eers slawe maar toe het die Romeine gesê hulle mag vry wees. Hulle het gekom van Sirenië, Aleksandrië, Silisië en Asië. Hulle het begin om baie met Stefanus te praat en te stry. Maar hulle was nie so slim soos Stefanus nie. Stefanus het met wysheid gepraat, die Heilige Gees het vir hom gesê wat hy moet sê. Toe het die Jode omkoopgeld betaal vir party manne, en hierdie manne het gesê: “Ons het gehoor dat Stefanus vir Moses en God beledig.” Die manne van die sinagoge het vir die mense van Jerusalem en die familieleiers en die skrifgeleerdes kwaad gemaak vir Stefanus. Die mense het na Stefanus toe gehardloop, hulle het hom gegryp en na die Joodse Raad gebring. Die mense het vals getuies gekry wat sê: “Stefanus wil nie ophou om slegte dinge te sê teen hierdie gewyde woonplek en teen die Wette van Moses nie. Want ons het gehoor Stefanus sê dat hierdie Jesus van Nasaret hierdie tempel sal afbreek en dat hy die dinge sal verander wat Moses vir ons geleer het.” Almal in die Joodse Raad het reguit na Stefanus gekyk. Hulle het gesien dat sy gesig soos 'n engel se gesig lyk.
HANDELINGE 6:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
In daardie tyd, toe die gelowiges nog steeds meer geword het, het daar teen die Hebreeussprekendes klagtes gekom van die Griekssprekendes dat hulle weduwees in die daaglikse versorging afgeskeep word. Die twaalf apostels roep toe al die gelowiges bymekaar en sê vir hulle: “Dit is nie reg dat ons die verkondiging van die woord van God verwaarloos om die versorging te kan behartig nie. Nou, broers, soek sewe mans onder julle uit wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het, sodat ons hulle vir hierdie taak kan aanstel. Ons sal dan al ons aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee.” Die voorstel het by al die gelowiges byval gevind, en hulle het Stefanus gekies, 'n man met 'n vaste geloof en vol van die Heilige Gees, en verder Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas, en Nikolaus wat van Antiogië afkomstig was en vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het. Die gelowiges het hulle voor die apostels gebring, en dié het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê. Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs 'n groot aantal priesters het gelowig geword. Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen. Party van die lede van die Sinagoge van die Vrygelate Slawe, soos dit genoem is, wat bestaan het uit Jode wat van Sirene en Aleksandrië afkomstig was, het toe saam met Jode wat van die provinsies Silisië en Asië gekom het, met Stefanus begin redeneer. Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid wat hy van die Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het nie. Toe het hulle mense omgekoop om te sê: “Ons het hom teen Moses en God hoor laster.” Hulle het die volk en die familiehoofde en die skrifgeleerdes opgesweep. Dié het op hom afgestorm, hom gegryp en voor die Joodse Raad gebring en vals getuies gekry om te sê: “Hierdie man wil nie ophou om dinge teen die heilige tempel en die wet van Moses te sê nie. Ons het hom hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret die tempel sal afbreek en die voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, sal verander.” Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van 'n engel lyk.
HANDELINGE 6:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar in dié dae, toe die aantal dissipels al hoe meer geword het, het 'n gemor onder die Helleniste teen die Hebreërs ontstaan omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien word. Die twaalf het daarop die hele groep dissipels bymekaargeroep en gesê: “Dit is nie goed dat ons die woord van God verwaarloos om by die tafels diens te verrig nie. Broers, soek dan sewe mans onder julle, van goeie getuienis en vol van die Gees en van wysheid, wat ons vir hierdie taak kan aanstel. En ons sal ons dan toelê op gebed en die bediening van die woord.” Die voorstel het by die hele groep byval gevind, en hulle het vir Stefanus, vol van geloof en die Heilige Gees, en ook Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus, 'n proseliet uit Antiogië, gekies. Hulle het hierdie manne aan die •apostels voorgestel, en die apostels het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê. En die woord van God het versprei en die aantal dissipels in Jerusalem het aansienlik vermeerder, en 'n groot menigte priesters het aan die geloof gehoorsaam geword. En Stefanus, vol genade en krag, het groot wonders en tekens onder die volk verrig. Sommige van die Sinagoge van die Libertyne, soos dit bekend gestaan het, Sireneërs en Aleksandryne, asook sommige mense uit Silisië en Asië, het na vore getree en met Stefanus geredeneer; maar hulle was nie opgewasse teen die wysheid waarmee, en die Gees deur wie, hy gespreek het nie. Toe het hulle mans aangehits om te verklaar: “Ons het hom lasterlike dinge oor Moses en God hoor sê.” Hierdeur het hulle die volk, die familiehoofde en die skrifkenners opgesweep. Toe het hulle na hom gegaan, hom gegryp en voor die Sanhedrin gebring. Hulle het ook vals getuies na vore laat kom wat verklaar het: “Hierdie man hou nie op om teen hierdie heilige plek en die wet te praat nie. Ons het hom hoor sê, ‘Hierdie Jesus van Nasaret sal hierdie plek afbreek en die gebruike verander wat Moses aan ons oorgelewer het.’ ” Almal wat in die Sanhedrin gesit het, het stip na Stefanus gekyk en gesien dat sy gesig soos dié van 'n engel lyk.
HANDELINGE 6:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in daardie dae, toe die getal van die dissipels vermeerder het, het daar 'n murmurering van die Grieke teen die Hebreërs ontstaan, omdat hulle weduwees in die daaglikse bediening verwaarloos was. Toe roep die twaalf die menigte van die dissipels na hulle en sê: Dit is geen rede dat ons die woord van God moet verlaat en tafels moet bedien nie. Daarom, broers, kyk onder julle uit na sewe manne met eerlike verslag, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie saak kan aanstel. Maar ons sal ons gedurigdeur aan gebed en aan die bediening van die woord oorgee. En die woord het die hele menigte behaag: en hulle het Stefanus gekies, 'n man vol geloof en van die Heilige Gees, en Filippus en Prochorus en Nikanor en Timon en Parmenas en Nikolaas, 'n proseliet van Antiogië. Wat hulle voor die apostels gestel het, en nadat hulle gebid het, het hulle hulle die hande opgelê. En die woord van God het toegeneem; en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder; en 'n groot menigte van die priesters was gehoorsaam aan die geloof. En Stefanus, vol geloof en krag, het groot wonders en wonders onder die volk gedoen. Toe het daar sommige van die sinagoge, wat genoem word die sinagoge van die Libertyne, en Cireniërs en Aleksandriërs en van hulle uit Cilicië en Asië, opgestaan, en met Stefanus gestry. En hulle kon die wysheid en die gees waarmee Hy gespreek het, nie weerstaan nie. Toe het hulle manne onder die knie gebring wat gesê het: Ons het hom lasterlike woorde teen Moses en teen God hoor spreek. En hulle het die volk en die ouderlinge en die skrifgeleerdes opgewek en op hom afgekom en hom gevang en na die Raad gebring. En stel valse getuies op wat gesê het: Hierdie man hou nie op om lasterlike woorde teen hierdie heiligdom en die wet te spreek nie. Want ons het hom hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret hierdie plek sal vernietig en die gebruike sal verander wat Moses ons oorgelewer het. En almal wat in die Raad sit, kyk stip na hom en sien sy aangesig soos dit die gesig van 'n engel was.
HANDELINGE 6:1-15 Die Boodskap (DB)
Die kerk in Jerusalem het intussen al hoe meer lidmate bygekry. Mense van oor die wêreld het by hulle aangesluit. Toe ontstaan daar ’n krisis. Die gelowiges wat net Grieks kon praat, het op ’n dag begin voel dat diegene in die gemeente wat net Hebreeus praat, teen hulle diskrimineer. Party van die weduwees wat Grieks gepraat het, het volgens hulle te min kos gekry by die geleenthede waar die apostels elke dag kos aan die armes uitgedeel het. Toe die twaalf apostels daarvan te hore kom, het hulle ’n gemeentevergadering belê. “Dit is nie reg dat ons ons opdrag om die Woord van God uit te dra afskeep om vir die armes kos te gee nie,” het hulle vir die gelowiges gesê. “Ons het nou die volgende plan: kies sewe mans uit julle geledere om hierdie werk by ons oor te neem. Maar dit moet mans wees wat julle almal ken en vertrou. Hulle moet ook verstandig wees en vol van die krag van die Heilige Gees. Dan kan ons voortgaan met ons taak om te bid en om die Woord van God bekend te maak.” Die gemeente was baie tevrede met dié plan. Hulle het toe die volgende mans gekies: Stefanus, iemand wat die Here met sy hele lewe vertrou het en wat vol van die krag van die Heilige Gees was, asook Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus uit Antiogië. Hy het hom vroeër tot die Joodse geloof bekeer. Die apostels se prediking het veroorsaak dat baie mense in Jerusalem volgelinge van Jesus geword het. Selfs ’n groot groep priesters het tot bekering gekom en in Hom begin glo. Stefanus, een van die sewe helpers, het God se goedheid en krag elke dag beleef. Net soos die apostels het hy ook baie wonderwerke onder die mense gedoen. Daar was ’n klomp Jode wat niks gehou het van wat Stefanus sê nie. Hulle het in ’n sinagoge in Jerusalem bymekaargekom waar mense wat eens op ’n tyd slawe was vir God aanbid het. Hierdie mense, wat uit gebiede soos Sirene, Aleksandrië, Silisië en Asië gekom het, het met hom begin stry. Maar hulle het elke keer sleg daarvan afgekom. Hulle was nie opgewasse teen Stefanus se insig in God se raadsplan nie. Later was hulle so vies dat hulle in die geheim ’n paar mense geld aangebied het om te sê dat Stefanus beledigende dinge teen God en Moses kwytgeraak het. Toe hierdie vals stories by die mense en by die godsdienstige leiers uitkom, was daar groot ongelukkigheid in Jerusalem. Die Joodse Raad het dadelik besluit om in te gryp. Hulle het ’n klompie polisiemanne gestuur om Stefanus te vang en hom voor hulle te daag. Die mense wat allerhande stories oor hom versprei het, het ook by die verhoor opgedaag en gesê: “Hierdie man sê die verskriklikste dinge teen ons heilige tempel en teen die wet van God. Ons het selfs gehoor hoe hy nou die dag gesê het dat daardie Jesus van Nasaret in wie hy glo, die tempel sal afbreek. Hy sal ook al die wette afskaf wat Moses vir ons gegee het.” Toe hierdie aanklag teen Stefanus ingebring is, het die Joodse Raad hom geskok aangestaar. Terwyl hulle nog so kyk, het hulle agtergekom dat sy gesig begin skyn soos ’n engel s’n.
HANDELINGE 6:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Namate die aantal gelowiges steeds toegeneem het, het daar klagtes gekom. Die Griekssprekendes het gekla oor die daaglikse verspreiding van kos aan hulle weduwees. Hulle het beweer dat die Arameessprekendes hulle afskeep. Die Twaalf roep toe al die gelowiges bymekaar en sê vir hulle: “Ons as apostels behoort ons besig te hou met die verkondiging van die woord van God, nie met die verspreiding van kos nie. Medegelowiges, kies sewe mans onder julle wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het. Ons sal hulle dan vir hierdie bediening aanstel. Óns sal dan al ons tyd bestee aan gebed en die bediening van die woord.” Die voorstel het by almal byval gevind, en hulle het die volgende mans verkies: Stefanus (’n man vol van geloof en die Heilige Gees), Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus van Antiogië (wat voorheen ’n Joodse proseliet was). Hierdie sewe is aan die apostels voorgestel, en dié het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê om hulle vir hulle taak toe te rus. Die woord van God het verder versprei, en die aantal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs ’n groot klomp priesters het gelowig geword. Stefanus, ’n man vol van God se genade en krag, het wonders en groot tekens onder die mense gedoen. Op ’n dag het ’n klompie lede van die sogenaamde “Sinagoge van die Vrygelate Slawe” met hom in debat getree. Hulle was Jode wat van Sirene en Aleksandrië, en van die provinsies Silisië en Asië gekom het. Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid en die Gees waarmee hy gepraat het nie. Toe het hulle mans omgekoop om oor Stefanus te jok en te sê: “Ons het hom beledigende dinge teen Moses en selfs teen God hoor sê.” Só het hulle dit reggekry om die skares en die familiehoofde en die skrifkenners op te sweep. Dié het Stefanus gearresteer en hom voor die Joodse Raad gebring. Die vals getuies het gesê: “Hierdie man hou aan om afbrekend van die tempel en van die wet van Moses te praat. Ons het hom regtig hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret die tempel sal verwoes en die tradisies wat Moses vir ons gegee het, sal verander.” Al die raadslede het stip na Stefanus gekyk en gesien dat sy gesig soos dié van ’n engel skitter.