HANDELINGE 5:14-15
HANDELINGE 5:14-15 Bybel vir almal (ABA)
Later het die Here meer en meer mense laat kom om saam met die gemeente te aanbid, mense wat in Hom glo. Daar was baie mans en vroue. Die mense van Jerusalem het die siek mense uitgedra tot buite in die strate. Daar het hulle die siek mense neergesit op slaapmatte en beddens. Hulle het gehoop dat Petrus sal verbykom en dat sy skaduwee op een van die siek mense sal val.
HANDELINGE 5:14-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue, sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val.
HANDELINGE 5:14-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg. Die mense het selfs siekes op straat uitgedra en hulle daar op draagbare en beddens neergesit sodat, as Petrus daar verbygaan, al is dit maar net sy skaduwee op party van hulle kon val.
HANDELINGE 5:14-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Tog is baie mense wat in die Here glo, algaande by hulle getal gevoeg – 'n menigte mans en vroue. Die gevolg was dat die mense die siekes op die strate bly uitdra en op bedmatjies en slaapmatte neergelê het, sodat wanneer Petrus verbykom, selfs net sy skaduwee op een van hulle kon val.
HANDELINGE 5:14-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En gelowiges is des te meer by die Here bygevoeg, menigtes van mans sowel as vroue.) Sodat hulle die siekes op die strate uitgebring en op beddens en rusbanke neergelê het, sodat ten minste die skaduwee van Petrus wat verbygaan, sommige van hulle kan oorskadu.
HANDELINGE 5:14-15 Die Boodskap (DB)
Die Here het egter met sy genade in die stad bly werk sodat groot getalle mans en vroue buite die mure van die tempel tot bekering gekom het. Die mense van Jerusalem was so aangegryp deur die apostels se wonderwerke dat hulle selfs hulle siekes op beddens en draagbare in die strate laat lê het sodat Petrus se skaduwee op hulle sou val wanneer hy verbystap.