HANDELINGE 5:12-42
HANDELINGE 5:12-42 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het die apostels baie tekens en wonderwerke laat doen by die mense. En al die gelowiges het baie maal bymekaargekom in die Pilaargang van Salomo. Die ander mense was 'n bietjie bang om saam met die gelowiges te aanbid. Maar hulle het die gelowiges gerespekteer. Later het die Here meer en meer mense laat kom om saam met die gemeente te aanbid, mense wat in Hom glo. Daar was baie mans en vroue. Die mense van Jerusalem het die siek mense uitgedra tot buite in die strate. Daar het hulle die siek mense neergesit op slaapmatte en beddens. Hulle het gehoop dat Petrus sal verbykom en dat sy skaduwee op een van die siek mense sal val. Baie mense het ook van die stede rondom Jerusalem gekom. Hulle het hulle siek mense gebring en ook die mense wat onrein geeste in hulle gehad het, en die Here het hulle almal gesond gemaak. Toe het die hoëpriester en die hele groep wat saam met hom regeer het, baie jaloers geword. Hulle was Sadduseërs. Hulle het besluit om iets sleg te doen aan die gelowiges. Hulle het die apostels gevang en in die tronk gesit waar die gewone gevangenes was. Maar 'n engel van die Here het in die nag gekom. Hy het die deure van die tronk oopgemaak en hy het die apostels na buite gelei. Hy het vir die apostels gesê: “Gaan staan in die tempel en preek vir die mense alles wat hulle moet hoor van Jesus, sodat hulle waarlik kan lewe.” Die apostels het gedoen wat die engel gesê het. Hulle het baie vroeg die volgende oggend na die tempel gegaan en vir die mense geleer. Die hoëpriester en die mense wat saam met hom regeer het, het toe gesê al die mense van die Joodse Raad en al die familieleiers van Israel moet bymekaarkom en hulle moet vergadering hou. Hulle het toe wagte na die tronk gestuur om die apostels te gaan haal. Maar toe die wagte by die tronk kom, het hulle gesien die apostels is nie daar nie. Hulle het teruggekom en hulle het dit vir die Joodse leiers vertel. Hulle het gesê: “Toe ons by die tronk kom, was die tronk gesluit. Al die deure was toegesluit, en die wagte het by die deure gestaan. Maar toe ons die deure oopmaak, was daar niemand binne nie.” Toe die offisier van die wagte wat by die tempel werk en die priesterleiers dit hoor, was hulle baie verbaas. Hulle het gewonder wat gebeur het. Toe kom daar iemand en hy sê vir hulle: “Weet julle wat gebeur het? Die manne wat in die tronk was, staan in die tempel en hulle leer vir die mense.” Die offisier en die wagte het toe die apostels gaan haal. Hulle was nie kwaai met die apostels nie, want hulle was bang dat die mense hulle met klippe sal gooi. Hulle het die apostels gebring en hulle het die apostels voor die Joodse Raad laat staan. Die hoëpriester het hulle begin uitvra. Hy het gesê: “Ons het ernstig vir julle gesê: Julle mag nie vir die mense leer van Jesus nie. En nou praat almal in Jerusalem oor die dinge wat julle vir die mense leer. Julle sê ook dat dit óns is wat hierdie man doodgemaak het.” Petrus en die apostels het geantwoord en gesê: “Ons moet meer gehoorsaam wees aan God as aan mense. Julle het vir Jesus doodgemaak toe julle Hom aan die kruis opgehang het, maar toe het die God van ons voorvaders vir Jesus weer laat lewe. God het vir hierdie Jesus die Leier en Redder gemaak. God het vir Jesus gesê Hy moet op die belangrikste plek langs God kom sit sodat die mense van Israel kan verander en kan lewe soos God wil hê en sodat Hy hulle sonde kan vergewe. Ons is getuies dat hierdie dinge gebeur het. God het die Heilige Gees gegee aan die mense wat luister na God, en die Heilige Gees getuig ook dat dit alles waar is.” Die Joodse leiers het baie kwaad geword toe hulle dit hoor, en hulle het besluit om die apostels dood te maak. Toe het iemand van die Joodse Raad opgestaan. Sy naam was Gamaliël. Hy was 'n Fariseër en 'n skrifgeleerde, en al die mense het hom gerespekteer. Hy het gesê dat die wagte die apostels 'n klein tydjie buite moet laat staan. Gamaliël het toe vir die Joodse Raad gesê: “Vriende, Israeliete, julle moet oppas. Julle moet dink oor wat julle aan hierdie manne wil doen. Julle weet dat daar 'n tyd gelede iemand was, sy naam was Teudas. Hy het vir die mense gesê dat hy baie belangrik is. Omtrent 400 manne het hom gevolg. Maar die regering het hom laat doodmaak en hulle het die manne wat hom gevolg het, na al die kante toe gejaag. Ons het nie weer gehoor van Teudas en die manne wat hom gevolg het nie. Ná Teudas het Judas die Galileër opstandig geword teen die regering. Dit was in die tyd toe die regering die mense van die land getel het. Judas het gesê die mense moet saam met hom opstandig word. Maar die regering het ook vir Judas laat doodmaak, en hulle het almal wat vir Judas gevolg het, na al die kante toe gejaag. En nou praat ek oor die dinge wat nóú gebeur. Hierdie manne maak planne en hulle is besig om dinge te doen, maar ek sê vir julle: Julle moet wegbly van hierdie manne, los hulle. Want as hulle planne en die dinge wat hulle doen, net van ménse kom, dan beteken dit niks. Maar as dit Gód is wat dit doen, dan sal julle nie vir hulle kan keer nie. Julle sal miskien later besef dat julle teen God baklei het.” Die Joodse Raad het geluister na Gamaliël. Hulle het gesê dat die apostels weer moet inkom na hulle toe. Hulle het die apostels geslaan en gesê dat hulle nie mag preek oor Jesus nie. Toe het hulle die apostels laat gaan. Die apostels het weggegaan van die Joodse Raad. Hulle was baie bly dat die Here besluit het dat dit húlle is wat moet swaarkry omdat hulle aan Jesus behoort. Hulle het aangehou om elke dag in die tempel en by die huise vir die mense te leer en om die goeie boodskap te bring dat Jesus die Christus is.
HANDELINGE 5:12-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo. En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer. En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue, sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val. En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees. EN die hoëpriester het opgestaan en almal wat saam met hom was — dit is die party van die Sadduseërs — en hulle was met nydigheid vervul, en hulle het die hande aan die apostels geslaan en hulle in die openbare gevangenis gesit. Maar 'n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê: Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe. En hulle het geluister en vroeg in die môre in die tempel gegaan en begin leer. Maar die hoëpriester en die wat saam met hom was, het gekom en die Raad en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaargeroep; en hulle het na die gevangenis gestuur om hulle te laat haal. Maar toe die dienaars daar kom, het hulle hul nie in die gevangenis gekry nie; en hulle het omgedraai en berig gebring en gesê: Die gevangenis het ons in alle sekerheid toegesluit gevind, en die wagte het buite gestaan voor die deure; maar toe ons oopmaak, kry ons niemand daarbinne nie. En toe die hoëpriester en die hoofman van die tempel en die owerpriesters hierdie woorde hoor, was hulle daarmee verleë wat nou hiervan sou word. En daar kom een en bring aan hulle berig en sê: Kyk, die manne wat julle in die gevangenis gesit het, staan in die tempel en leer die volk. Daarop gaan die hoofman met die dienaars en bring hulle, maar nie met geweld nie, uit vrees vir die volk dat hulle gestenig sou word. Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê: Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring. En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense. Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan 'n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk. En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is. Toe hulle dit hoor, was hulle woedend en wou hulle om die lewe bring. Maar 'n Fariseër met die naam van Gamáliël, 'n leraar van die wet wat by die hele volk hoog in aansien was, het in die Raad opgestaan en bevel gegee dat hulle die apostels 'n bietjie buitentoe moes bring. Toe sê hy vir hulle: Israeliete, pas op wat julle gaan doen met hierdie manne; want nie lank gelede nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het 'n aantal mense — omtrent vierhonderd — aangesluit. Hy is gedood, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword. En ná hom het Judas, die Galiléër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en 'n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi. En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie — dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie. En hulle het na hom geluister. En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan. Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.
HANDELINGE 5:12-42 Afrikaans 1983 (AFR83)
Deur die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. En al die gelowiges het gereeld saamgekom in die Pilaargang van Salomo, maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag. Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg. Die mense het selfs siekes op straat uitgedra en hulle daar op draagbare en beddens neergesit sodat, as Petrus daar verbygaan, al is dit maar net sy skaduwee op party van hulle kon val. Daar het ook baie mense van die dorpe in die omgewing van Jerusalem af gekom en siekes gebring en mense wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak. Die hoëpriester en al sy ondersteuners, wat aan die party van die Sadduseërs behoort het, is met afguns vervul en het besluit om in te gryp. Hulle het die apostels oop en bloot laat vang en in die tronk gestop. Maar 'n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, die apostels uitgelei en vir hulle gesê: “Gaan staan in die tempel en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” Hulle het gehoor gegee en die môre vroeg na die tempel toe gegaan en die mense geleer. Intussen het die hoëpriester en sy ondersteuners die leiers van Israel vir 'n volle vergadering van die Joodse Raad bymekaargeroep en wagte na die tronk toe gestuur om die apostels te gaan haal. Maar toe die wagte daar kom, het hulle hulle nie in die tronk gekry nie. Hulle het teruggekom en vertel: “Ons het die tronk behoorlik toegesluit gekry en die bewaarders op hulle pos voor die deure; maar toe ons oopmaak en ingaan, was daar niemand nie.” Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die priesterhoofde dit hoor, was hulle uit die veld geslaan en hulle het gewonder wat van die apostels geword het. Net toe kom daar iemand en sê vir hulle: “Weet julle, die mans vir wie julle in die tronk gesit het, staan daar in die tempel en leer die volk!” Toe het die bevelvoerder en die wagte die apostels gaan haal, maar sonder geweld, omdat hulle bang was die volk steek hulle onder die klippe. Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoëpriester sê toe vir hulle: “Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir hierdie man se dood.” Petrus en die ander apostels het geantwoord: “'n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend, en hulle wou die apostels doodmaak. Een van die Fariseërs in die Raad, 'n man met die naam Gamaliël, wat as leermeester van die wet van Moses by die hele volk in hoë aansien was, het toe opgestaan en gevra dat die apostels 'n rukkie buitentoe gevat moet word. Daarna sê hy vir die Raad: “Israeliete, julle moet versigtig wees wat julle met hierdie mense gaan doen. 'n Tyd gelede was daar die geval van Teudas, wat in opstand gekom en daarop aanspraak gemaak het dat hy iemand van betekenis is. Hy het 'n aanhang gekry van omtrent vier honderd man. Hy is doodgemaak, en al sy volgelinge is verstrooi, en die opstand het op niks uitgeloop nie. Daarna was dit Judas die Galileër, wat in die tyd van die volkstelling in opstand gekom het met 'n deel van die volk agter hom aan. Ook hy is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaar gejaag. Wat die huidige geval betref, my raad aan julle is: Laat staan hierdie mense en laat hulle los, want as wat hulle wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie. Maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Moenie dat dit dalk later blyk dat julle selfs teen God gestry het nie!” Die Raad het na hom geluister. Hulle het die apostels ingeroep, hulle laat slaan en hulle belet om weer in die Naam van Jesus te praat. Daarna het hulle hulle losgelaat. Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly. En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.
HANDELINGE 5:12-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. Hulle was almal eensgesind bymekaar in die Pilaargang van Salomo. Van die res van die volk het niemand dit egter gewaag om by die gelowiges aan te sluit nie, alhoewel die volk hoë agting vir hulle gehad het. Tog is baie mense wat in die Here glo, algaande by hulle getal gevoeg – 'n menigte mans en vroue. Die gevolg was dat die mense die siekes op die strate bly uitdra en op bedmatjies en slaapmatte neergelê het, sodat wanneer Petrus verbykom, selfs net sy skaduwee op een van hulle kon val. Ook uit die dorpe in die omgewing van Jerusalem het skares saamgestroom en hulle siekes en mense wat deur •onrein geeste geteister is, gebring, en hulle is almal genees. Maar die hoëpriester het opgestaan, en al sy ondersteuners, die party van die •Sadduseërs, het vol naywer die •apostels gevange laat neem en hulle in die openbare tronk laat gooi. Maar 'n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, hulle uitgelei en gesê: “Gaan staan in die tempelterrein en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie lewe.” Hulle het gehoor gegee en teen ongeveer dagbreek die tempelterrein binnegegaan en die mense onderrig. Toe die hoëpriester en sy ondersteuners opdaag, het hulle die Sanhedrin, die hele Raad van Familiehoofde van Israel, ontbied en die apostels by die tronk laat haal. Maar toe die dienaars daar aankom, het hulle hulle nie in die tronk gekry nie. Hulle het teruggegaan en berig: “Ons het die tronk sorgvuldig toegesluit gevind met die wagte wat voor die deure staan, maar nadat ons oopgesluit het, het ons niemand daarbinne gevind nie.” Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die leierpriesters hierdie woorde hoor, was hulle daaroor verward, oor wat dit kon beteken. Maar iemand het hulle kom inlig: “Kyk, die manne wat julle in die tronk laat gooi het, staan die volk op die tempelterrein en onderrig.” Die bevelvoerder en die dienaars het hulle toe gaan haal – sonder geweld, omdat hulle bang was dat hulle deur die volk gestenig sou word. Hulle bring toe die apostels en laat hulle voor die Sanhedrin staan. Die hoëpriester het hulle begin ondervra: “Het ons julle nie ten strengste verbied om in hierdie Naam te leer nie? En kyk, julle het julle leer deur die hele Jerusalem versprei; en julle wil die bloed van hierdie man op ons bring. ” Maar •Petrus en die apostels het geantwoord: “Ons moet eerder gehoorsaam wees aan God as aan mense. Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle doodgemaak het deur Hom aan 'n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser tot aan sy regterhand verhoog, om aan Israel bekering en vergewing van sondes te skenk. Ons is die getuies van hierdie gebeure, en so ook die Heilige Gees, wat God gegee het aan hulle wat aan Hom gehoorsaam is.” Toe hulle dit hoor, was hulle rasend van woede en wou die apostels doodmaak. Maar toe staan iemand in die Sanhedrin op, 'n •Fariseër met die naam Gamaliël, 'n wetgeleerde met hoë aansien by die hele volk, en gee opdrag dat hulle die mense vir 'n oomblik na buite neem. Daarop sê hy vir hulle: “Israeliete, dink goed na oor wat julle met hierdie mense gaan doen, want 'n ruk gelede het Teudas opgestaan en daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, en ongeveer vierhonderd manne het by hom aangesluit. Hy is doodgemaak, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het in die niet verdwyn. Ná hom het Judas, die Galileër, in die dae van die volkstelling na vore getree en die volk agter hom aan tot opstand aangehits. Ook hy het omgekom, en almal wat na hom geluister het, het uitmekaar gespat. Maar nou sê ek vir julle: Los hierdie mense uit en laat hulle gaan, want as hierdie plan of onderneming die werk van mense is, sal dit tot niet gaan; maar as dit van God af kom, sal julle hulle nie kan keer nie – moenie dat dit blyk dat julle teen God veg nie!” Hulle het toe na hom geluister. En nadat hulle die apostels ontbied het, het hulle hulle laat gesel, hulle beveel om nie in die Naam van Jesus te praat nie, en hulle vrygelaat. Daarna het hulle van die Sanhedrin weggegaan, bly dat hulle waardig bevind is om ter wille van sy Naam skandelik behandel te word. Boonop het hulle nie opgehou om elke dag op die tempelterrein en van huis tot huis onderrig te gee nie, en ook nie om die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.
HANDELINGE 5:12-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En deur die hande van die apostels is baie tekens en wonders onder die volk gedoen; (en hulle was almal eendragtig in Salomo se voorportaal. En van die ander het niemand vermag om hom by hulle aan te sluit nie, maar die volk het hulle groot gemaak. En gelowiges is des te meer by die Here bygevoeg, menigtes van mans sowel as vroue.) Sodat hulle die siekes op die strate uitgebring en op beddens en rusbanke neergelê het, sodat ten minste die skaduwee van Petrus wat verbygaan, sommige van hulle kan oorskadu. Daar het ook 'n menigte uit die stede rondom na Jerusalem gekom en siekes en die wat deur onrein geeste geplaag was, gebring, en almal is genees. Toe het die hoëpriester opgestaan en almal wat saam met hom was (dit is die sekte van die Sadduseërs) en was met verontwaardiging vervul, En hulle het die hande op die apostels gelê en hulle in die gewone gevangenis gesit. Maar die engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle na vore gebring en gesê: Gaan staan en spreek in die tempel tot die volk al die woorde van hierdie lewe. En toe hulle dit hoor, het hulle die môre vroeg in die tempel ingegaan en geleer. Maar die hoëpriester het gekom en die wat by hom was, en die raad en die hele senaat van die kinders van Israel bymekaargeroep en na die gevangenis gestuur om hulle te laat haal. Maar toe die beamptes kom en hulle nie in die tronk kry nie, het hulle teruggekeer en gesê: en gesê: Die gevangenis het ons waarlik met alle veiligheid gesluit gevind, en die wagte het buite voor die deure gestaan; maar toe ons oopgemaak het, het ons niemand binne gevind nie. En toe die hoëpriester en die owerste van die tempel en die owerpriesters hierdie dinge hoor, het hulle aan hulle getwyfel waartoe dit sou groei. Toe kom een en vertel hulle en sê: Kyk, die manne wat julle in die gevangenis gesit het, staan in die tempel en leer die volk. Toe het die owerste saam met die offisiere gegaan en hulle sonder geweld gebring, want hulle was bang vir die volk, dat hulle nie gestenig sou word nie. En nadat hulle hulle gebring het, het hulle hulle voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra: en gesê: Het ons julle nie streng beveel dat julle nie in hierdie Naam moet leer nie? en kyk, julle het Jerusalem gevul met julle leer, en julle is van plan om hierdie man se bloed oor ons te bring. Toe antwoord Petrus en die ander apostels en sê: Ons behoort aan God meer gehoorsaam te wees as aan mense. Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle gedood en aan 'n boom opgehang het. Hom het God met sy regterhand verhoog om 'n Vors en 'n Verlosser te wees, om aan Israel bekering te gee en vergifnis van sondes. En ons is sy getuies van hierdie dinge; en so ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam. Toe hulle dit hoor, is hulle in die hart getref en het raad gehou om hulle dood te maak. Toe het daar een in die Raad opgestaan, 'n Fariseër, met die naam van Gamaliël, 'n wetgeleerde, wat bekend was onder die hele volk, en bevel gegee om die apostels 'n bietjie ruimte uit te steek; En hy sê vir hulle: Manne van Israel, let op wat julle van plan is om te doen met betrekking tot hierdie manne. Want voor hierdie dae het Theudas opgestaan en hom gespog dat hy iemand is; by wie 'n aantal manne, omtrent vier honderd, hulle aangesluit het; en almal wat hom gehoorsaam het, is verstrooi en tot niet gemaak. Na hierdie man het Judas van Galiléa in die dae van die belasting opgestaan en baie mense agter hom aan weggetrek; ook het hy omgekom; en almal was verstrooi. En nou sê Ek vir julle: Weerhou julle van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie raad of hierdie werk van mense is, sal dit tot niet kom. Maar as dit van God is, kan julle dit nie omverwerp nie; dat julle miskien ook bevind word om teen God te veg. En hulle het met hom ingestem; en nadat hulle die apostels geroep en hulle geslaan het, het hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie, en hulle laat gaan. En hulle het weggegaan van die aangesig van die Raad, en was bly dat hulle waardig geag is om vir sy Naam skande te ly. En elke dag in die tempel en in elke huis het hulle nie opgehou om te leer en Jesus Christus te verkondig nie.
HANDELINGE 5:12-42 Die Boodskap (DB)
Die apostels het intussen voortgegaan om die een groot wonderwerk na die ander te doen. Die gemeente het gereeld by die Pilaargang van Salomo in die tempel bymekaargekom. Ander mense het raakgesien dat hulle baie vir mekaar omgee en dat hulle groot eerbied vir God het. Dit het hulle baie beïndruk. Tog was die ander mense bang om daar by die tempel by hulle aan te sluit. Hulle was bang vir die reaksie van die godsdienstige leiers. Die Here het egter met sy genade in die stad bly werk sodat groot getalle mans en vroue buite die mure van die tempel tot bekering gekom het. Die mense van Jerusalem was so aangegryp deur die apostels se wonderwerke dat hulle selfs hulle siekes op beddens en draagbare in die strate laat lê het sodat Petrus se skaduwee op hulle sou val wanneer hy verbystap.Mense uit ander stede het ook in groot getalle met hulle siekes en duiwelbesetenes na Jerusalem gestroom. Hulle almal is genees. Die Joodse Raad kon nie anders as om van die wonderwerke van die apostels kennis te neem nie. Dit het hulle baie jaloers gemaak. Daarom het die hoëpriester en die ander godsdienstige leiers op ’n dag besluit om hulle te laat vang. Kort daarna is die apostels gevang en in die tronk gestop. Maar ’n engel van die Here het dieselfde nag nog die tronk se deure kom oopsluit. Die engel sê toe vir hulle: “Moenie mismoedig word nie. Gaan weer na die tempel toe en vertel daar vir almal dat Jesus ’n mens se lewe nuut maak.” Die apostels het so gemaak. Vroeg die volgende môre het hulle weer na die tempel toe gegaan en met die mense oor Jesus begin praat. Intussen het die hoëpriester en sy handlangers die Joodse Raad byeengeroep. Hulle stuur toe ’n klompie soldate na die tronk om die apostels te gaan haal. Daar kon hulle die apostels nêrens opspoor nie. Hulle het teruggehardloop na die Joodse Raad en vir hulle gesê: “Toe ons daar by die tronk kom, was die deure gesluit en al die wagte op hulle pos. Maar binnekant kon ons geen spoor van daardie klomp mans vind nie. Hulle is skoonveld.” Almal was dronkgeslaan daaroor. Die hoof van die tempelpolisie kon glad nie verduidelik hoe so iets kon gebeur nie. Die priesters het net hulle koppe verbaas geskud. Terwyl almal nog wonder wat aan die gang was, kom iemand daar aan en sê vir hulle: “Kom kyk! Die mans wat julle gister in die tronk gegooi het, is al weer in die tempel besig om die mense te leer.” Dadelik is die hoof van die tempelpolisie en van sy manne soontoe om die apostels weer te vang. Maar dié keer het hulle die apostels baie ordentlik behandel. Hulle was bang dat die mense by die tempel hulle onder die klippe sou steek as hulle die apostels hardhandig daar wegvat. Die apostels is na die Joodse Raad gebring. Die hoëpriester het gesê: “Het ons julle nie uitdruklik verbied om in daardie man se naam met die mense te praat nie? Maar julle steur julle nie aan ons nie. Nou lê die hele Jerusalem vol van julle skewe leringe. Boonop beskuldig julle ons daarvan dat ons hierdie man doodgemaak het.” Petrus en die ander apostels het dadelik geantwoord: “Ons moet in die eerste plek aan God gehoorsaam wees, nie aan mense nie. “Dit is Hy, die God van ons voorvaders, wat vir Jesus weer lewendig gemaak het nadat julle Hom doodgemaak het. Het julle dan al klaar vergeet hoe julle Hom nou die dag aan ’n hout opgehang het? Maar God het Jesus nou met groot eer beklee. Hy het aan Hom die belangrikste plek in die hemel gegee. God het Hom ook aangestel as die Heerser en Verlosser van die hele Israel. Almal wat in Jesus glo, se sondes word deur Hom vergewe. Hy gee vir hulle elkeen ’n splinternuwe lewe. “Ons vertel julle nou die reine waarheid. Die Heilige Gees, wat God aan elkeen gee wat na Hom luister, weet dit.” Toe die Joodse Raad dit hoor, was hulle woedend. Hulle wou die apostels net daar doodmaak. ’n Fariseër met die naam Gamaliël, ’n gerespekteerde leermeester van God se wet, het egter kopgehou. “Vat die mans eers buitetoe,” het hy vir die polisie gesê. Daarna het hy vir die ander raadslede gesê: Dink baie mooi wat julle vandag met hierdie mans aanvang. Moenie ’n oorhaastige besluit neem nie. Onthou julle nog vir Teudas? Hy is die man wat ’n ruk gelede gesê het dat hy ’n gestuurde van God is. Hy het so 400 aanhangers om hom bymekaargemaak. Toe hy doodgemaak is, het hulle almal gevlug. Op die ou end het daar niks van hulle planne gekom nie.Kort daarna het Judas die Galileër tydens die groot volkstelling onder ons mense begin optree. Hy het baie mense mislei en hulle omgepraat om sy volgelinge te word. Maar hy het tot ’n wrede einde gekom en sy aanhangers het ook uitmekaargespat. “Daarom sê ek vandag vir julle: laat hierdie mans vry. Moenie iets aan hulle doen nie. As dit maar net nog ’n groep met ’n klompie skewe beskouings is, sal hulle in elk geval nie lank hou nie. Maar aan die ander kant: as hulle regtig deur God aangestel is soos hulle beweer, sal julle niks aan hulle kan doen nie. Boonop gaan julle julle dan teen God self vasloop.” Hierdie woorde van Gamaliël het die ander raadslede laat kalmeer. Hulle het besluit om sy raad te volg. Toe het hulle die apostels weer laat inkom en die tempelpolisie aangesê om elkeen van hulle ’n ordentlike drag slae te gee. Na nog ’n ernstige waarskuwing om nie weer in die openbaar oor Jesus te praat nie, is hulle vrygelaat. Die apostels was baie bly toe hulle by die Joodse Raad uitstap. Hulle was dankbaar dat hulle hierdie vernedering en slae kon verduur omdat hulle in Jesus glo. Hulle het hulle nie aan die Joodse Raad se waarskuwings gesteur nie, maar aangehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis die nuus bekend te maak dat Jesus die Christus is.
HANDELINGE 5:12-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die apostels het baie tekens en wonders onder die volk gedoen. Al die gelowiges het gereeld saamgekom in dié deel van die tempel wat as die Pilaargang van Salomo bekend staan. Niemand anders het dit sommer gewaag om by hulle aan te sluit nie, al het almal hoë agting vir hulle gehad. Al meer mense het in die Here geglo, groot getalle mans en vroue. Mense het selfs siekes op draagbare en bedmatjies in die straat uitgedra sodat wanneer Petrus verbyloop, sy skaduwee dalk op party van hulle kon val. Skares mense het van die dorpe rondom Jerusalem af gekom en siekes en mense gebring wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak. Die hoofpriester en sy ondersteuners, die Sadduseërs, word toe jaloers en besluit om iets aan die saak te doen. Hulle het die apostels gearresteer en in die publieke tronk gestop. Maar ’n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, hulle uitgelei en vir hulle gesê: “Gaan tempel toe en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe manier van lewe!” Hulle het geluister en met dagbreek tempel toe gegaan en die mense begin onderrig. Toe het die hoofpriester en sy amptenare ’n sitting van die Joodse Raad en die leiers van Israel belê. Hulle het die apostels vir die verhoor van die tronk af laat haal. Maar toe die tempelwagte by die tronk kom, was die apostels weg. Hulle het kom rapporteer: “Ons het die tronk toegesluit en ten volle beveilig gekry. Die bewaarders was buite op hulle pos. Toe ons egter die tronkdeure oopmaak, was daar niemand binne nie!” Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die priesterhoofde hierdie verslag hoor, was hulle verstom en hulle het gewonder wat aangaan. Net toe kom daar iemand en sê vir hulle: “Weet julle, die mans vir wie julle in die tronk gesit het, staan in die tempel en onderrig die mense!” Die bevelvoerder het toe saam met die tempelwagte die apostels gaan arresteer. Hulle het nie geweld gebruik nie, want hulle was bang die mense steek hulle onder die klippe. Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoofpriester het hulle begin ondervra: “Het ons julle nie belet om ooit weer die mense in hierdie man se Naam te onderrig nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer oor Jesus! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir sy dood!” Petrus en die ander apostels het in reaksie hierop gesê: “Ons moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! Die God van ons voorouers het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom te kruisig. God het Hom verhoog tot Leier en Verlosser in die regeerposisie reg langs Hom. Hy het dit gedoen om Israel tot inkeer te bring sodat hulle vergifnis van sonde kan ontvang. Óns is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat God gegee het aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend en het hulle begin planne maak om die apostels dood te maak. Maar een van die Raadslede het opgestaan. Hy was ’n Fariseër met die naam Gamaliël, ’n geëerde wetskenner van Moses en baie gerespekteer deur al die mense. Hy het opgestaan en gevra dat die apostels ’n rukkie moet uitgaan. Hy het sy kollegas toe soos volg toegespreek: “Geagte Israeliete, wees versigtig wat julle met hierdie mans gaan doen! ’n Tyd gelede het ene Teudas na vore getree en daarop aanspraak gemaak dat hy iemand besonders is. Omtrent 400 man het by hom aangesluit. Hy is egter tereggestel, en al sy volgelinge is verstrooi. Dié hele beweging het op niks uitgeloop nie. Na hom, in die tyd van die sensus, was daar Judas die Galileër. Hy het ’n opstand georganiseer en ’n klomp mense is agter hom aan. Ook hý is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaargejaag. “Wat die huidige geval betref, is my aanbeveling daarom aan julle: Laat staan hierdie mense en los hulle uit. As hulle beplanning en aksies mensewerk is, sal daar niks van kom nie. As dit egter van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Netnou word daar bevind dat julle selfs teen God geveg het!” Die Raad het sy advies aanvaar. Hulle het die apostels ingeroep en hulle laat slaan. Toe het hulle hulle belet om weer in die Naam van Jesus te praat, en hulle laat gaan. Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat God hulle werd geag het om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly. En elke dag het hulle aangehou om mense in die tempel en van huis tot huis te onderrig en die Goeie Nuus te preek dat Jesus die Messias is.