HANDELINGE 5:1-11

HANDELINGE 5:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Daar was 'n man, sy naam was Ananias. Sy vrou se naam was Saffira. Hulle het ook 'n stuk grond verkoop. Ananias het 'n deel van die geld vir homself gehou. Sy vrou het geweet dat hy die geld gehou het. Toe het Ananias die geld gebring wat oorgebly het en hy het dit vir die apostels gegee. Petrus het vir hom gesê: “Ananias, hoekom het jy geluister na die Satan? Hoekom het jy gesê hy mag oor jou hart regeer? Hoekom het jy vir die Heilige Gees gelieg? Want jy het gemaak of jy al die geld bring, maar jy het 'n deel van die geld vir jouself gehou. Die grond was altyd jou grond. En nadat jy dit verkoop het, kon jy met die geld maak wat jy wou. Hoekom het jy besluit om hierdie verkeerde ding te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie, jy het vir Gód gelieg.” Toe Ananias dit hoor, het hy gesterf en op die grond geval. En almal wat hiervan gehoor het, het baie bang geword. Die jongmanne het toe gekom, hulle het hom toegedraai en hom uitgedra en gaan begrawe. Ná omtrent drie uur het Ananias se vrou daar aangekom. Sy het nie geweet wat gebeur het nie. Petrus sê toe vir haar: “Sê vir my, het julle die grond verkoop vir soveel geld soos Ananias gesê het?” Sy sê toe: “Ja, dit is hoeveel geld ons gekry het.” Petrus het vir haar gesê: “Hoekom het jy en jou man saam besluit om die Gees van die Here te toets? Kyk, die jongmanne wat jou man begrawe het, staan hier by die deur en hulle sal jou ook uitdra.” Sy het dadelik gesterf en sy het by Petrus se voete op die grond geval. Toe die jongmanne inkom en sien dat sy dood is, het hulle haar uitgedra en hulle het haar by haar man begrawe. Die hele gemeente en almal wat dit gehoor het, het baie bang geword.

HANDELINGE 5:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Man met die naam Ananias het saam met sy vrou Saffira 'n stuk grond verkoop, maar hy het, met sy vrou se medewete, van die geld vir homself teruggehou, en net 'n gedeelte gebring en aan die voete van die •apostels neergelê. •Petrus het toe gesê: “Ananias, waarom het Satan jou hart vervul, sodat jy vir die Heilige Gees gelieg en vir jouself van die geld vir die grond teruggehou het? Toe dit onverkoop bly lê het, was dit nie joune nie? En toe dit verkoop is, was die geld nie tot jou beskikking nie? Waarom het jy hierdie daad in jou hart bedink? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” By die aanhoor van hierdie woorde het Ananias inmekaargesak en gesterf, en groot vrees het almal oorval wat hiervan gehoor het. Die jong manne het toe nader gekom, hom in linne toegedraai, na buite gedra en begrawe. Ongeveer drie uur later het sy vrou ook binnegekom, onbewus van wat gebeur het. Petrus het vir haar gevra: “Sê my, het julle die grond vir sóveel verkoop?” En sy het geantwoord: “Ja, vir soveel.” Daarop sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te tart? Kyk, die voete van hulle wat jou man begrawe het, is by die deur; hulle gaan jou ook uitdra.” Op daardie oomblik het sy by sy voete inmekaargesak en gesterf. Toe die jong manne inkom, het hulle haar dood aangetref, uitgedra en by haar man begrawe. En groot vrees het die hele •gemeente en almal wat hiervan gehoor het, oorval.

HANDELINGE 5:1-11 Die Boodskap (DB)

Ananias en Saffira, ’n egpaar in die gemeente, het ook ’n stuk grond verkoop. Ananias het ’n deel van die wins in sy sak gesteek en die res vir die apostels gevat. Hy het gemaak asof hy al die geld aan hulle gegee het. Sy vrou, Saffira, het ook geweet van sy skelmstreek. Petrus het egter dwarsdeur hom gesien. “Hoekom het jy toegelaat dat Satan ’n houvas op jou kry?” het hy vir Ananias gevra. “Jy het vir die Heilige Gees gelieg deur ’n deel van die geld vir jouself te hou terwyl jy gemaak het asof jy alles aan ons kom gee het. Dit is tog jou grond. Toe jy dit verkoop het, kon jy met die wins gemaak het net wat jy wou. Hoekom was jy so skelm? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God self.” Na Petrus hierdie woorde gesê het, het Ananias daar op die plek dood inmekaargesak. ’n Klomp jongmans het hom kom toedraai en weggedra om begrawe te word. Hierdie nuus het gou onder die mense versprei. Hulle het toe baie bang geword vir God. Sowat drie ure later het Saffira daar opgedaag, salig onbewus van wat met haar man gebeur het. Toe Petrus haar sien, vra hy haar: “Het julle dié bedrag vir julle grond gekry?” “Ja,” antwoord sy. “Presies net soveel soos jy gesê het.” Haar leuen het Petrus baie omgekrap. “Hoekom het jy en jou man agteraf teen die Heilige Gees gekonkel?” vra hy haar. “Het julle regtig gedink dat julle hieroor ongestraf sou bly? Daar by die ingang staan die jongmans wat jou man nou net gaan begrawe het. Hulle gaan jou ook dood hier uitdra.” Net daar het Saffira reg voor Petrus inmekaargesak. Sy was op die plek dood. Die jongmans het haar uitgedra en by haar man gaan begrawe. Hierdie gebeurtenis het die hele gemeente met groot ontsag vir God vervul. Ander mense buite die gemeente wat daarvan gehoor het, het ook baie bang geword vir Hom.