HANDELINGE 4:18-21
HANDELINGE 4:18-21 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het toe vir Petrus en Johannes geroep om na hulle toe te kom en hulle het gesê dat Petrus en Johannes glad nie oor Jesus mag preek of vir die mense mag leer van Hom nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gevra: “Moet ons luister na God of moet ons luister na julle? Waarvan sal God hou? Julle kan self besluit. Want ons kan nie stilbly oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Joodse leiers het vir Petrus en Johannes nog meer gewaarsku en hulle het hulle toe laat gaan. Want die leiers het nie geweet hoekom hulle vir Petrus en Johannes moet straf nie. En die leiers was ook bang vir die mense, want almal het God geprys oor wat gebeur het.
HANDELINGE 4:18-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie. Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie. En nadat hulle nog dreigemente bygevoeg het, aangesien hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie, het hulle ter wille van die volk hulle losgelaat, want almal het God verheerlik oor wat gebeur het.
HANDELINGE 4:18-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat die Raad die apostels daarby nog ernstig gedreig het, het hulle hulle losgelaat. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie en vanweë die houding van die volk, want al die mense het God geprys oor wat daar gebeur het.
HANDELINGE 4:18-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het hulle toe teruggeroep en hulle beveel om hoegenaamd nie meer in die Naam van Jesus te praat of onderrig te gee nie. Petrus en Johannes het hulle egter geantwoord en gesê: “Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julle self oordeel; want ons kan nie swyg oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat hulle Petrus en Johannes nog meer gedreig het, het hulle hulle vrygelaat omdat hulle as gevolg van die volk se houding nie 'n manier kon vind om hulle te straf nie; want almal het God verheerlik oor wat gebeur het.
HANDELINGE 4:18-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het hulle geroep en hulle beveel om glad nie in die Naam van Jesus te praat of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het geantwoord en vir hulle gesê: Of dit reg is in die oë van God om meer na julle te luister as na God, beoordeel julle. Want ons kan nie anders as om die dinge te spreek wat ons gesien en gehoor het nie. En toe hulle hulle verder gedreig het, het hulle hulle laat gaan, sonder om te vind hoe hulle hulle kon straf ter wille van die volk, want almal het God verheerlik oor wat gedoen is.
HANDELINGE 4:18-21 Die Boodskap (DB)
Die raadslede het Petrus en Johannes daarna laat inkom en vir hulle gesê: “Julle mag van nou af nooit weer met iemand oor Jesus praat of iets oor Hom aan ander leer nie.” Petrus en Johannes was nie bereid om dit te doen nie. “Julle moet maar self besluit of ons eerder na julle as na God moet luister. Maar ons weet wat ons gaan doen: ons kan nie stilbly oor alles wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Joodse Raad was woedend. Hulle het die apostels weer ernstig gewaarsku om niks verder oor Jesus te sê nie. Maar op die ou end moes hulle vir Petrus en Johannes laat gaan. Baie mense het van die wonderwerk gehoor en begin om God te loof.
HANDELINGE 4:18-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle roep toe die apostels weer in en beveel hulle om glad nie verder iets in die Naam van Jesus te verkondig of te leer nie. Petrus en Johannes het egter in reaksie vir hulle gesê: “Dink julle God wil hê dat ons eerder aan júlle gehoorsaam moet wees as aan Hom? “Ons kan nie anders as om te praat oor die wonderlike dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Raad het hulle nog verder gedreig. Uiteindelik het hulle hulle egter laat gaan, want hulle het nie geweet hoe om hulle te straf sonder om ’n volksopstand te veroorsaak nie. Almal was inderdaad besig om God te prys