HANDELINGE 3:1-26
HANDELINGE 3:1-26 Bybel vir almal (ABA)
Eendag het Petrus en Johannes na die tempel gegaan. Dit was die tyd toe die mense na die tempel gekom het om te bid, omtrent drie-uur in die middag. Daar was mense wat besig was om 'n lam man nader te dra. Hy was lam vandat hy gebore is. Sy mense het hom elke dag by een van die poorte van die tempel neergesit. Die poort se naam was Mooi-poort. Die man het elke dag geld gevra vir die mense wat by die tempel ingaan. Die man het vir Petrus en Johannes gesien toe hulle by die tempel wou ingaan, en hy het vir hulle geld gevra. Petrus en Johannes het reguit na hom gekyk. Toe sê Petrus: “Kyk na ons.” Die man het na hulle gekyk en hy het gehoop dat hulle iets vir hom sal gee. Toe sê Petrus: “Ek het nie geld nie, maar ek gee vir jou wat ek het. Jesus Christus van Nasaret het my gestuur. Daarom mag ek sy Naam sê en vir jou sê: Staan op en loop.” Toe neem Petrus die man se regter-hand en hy help hom om op te staan. Die man se voete en enkels het dadelik sterk geword en hy het opgespring en regop gestaan. Toe begin hy rondloop en hy gaan saam met Petrus en Johannes in die tempel in terwyl hy loop en spring en vir God prys. Al die mense het gesien dat hy rondloop en dat hy vir God prys. Hulle het hom geken, hulle het geweet dat hy die man was wat by die Mooi-poort van die tempel gesit het en geld gevra het. En hulle was baie verbaas oor wat met hom gebeur het. Die man het vasgehou aan Petrus en Johannes. Hulle het gestaan in die Pilaargang van Salomo en al die mense het na hulle toe gehardloop. Die mense was baie verbaas. Toe Petrus die mense sien, het hy met hulle begin praat en gesê: “Israeliete, hoekom is julle so verbaas oor hierdie wonderwerk? En hoekom kyk julle so na ons? Dink julle ons het met ons eie krag hierdie man weer laat loop? Of dink julle ons kon dit doen omdat ons so godsdienstig is? Nee, dit is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob wat dit gedoen het. Ja, die God van ons voorvaders het dit gedoen. God het gesê sy Dienaar Jesus moet die Koning wees. Toe Jesus voor Pilatus gestaan het, wou Pilatus vir Jesus vry laat weggaan. Maar julle het Hom vir die Romeine gegee sodat hulle Hom kan doodmaak, julle wou Hom nie aanvaar nie. Julle wou nie die Heilige en Regverdige aanvaar nie. Julle het gevra dat Pilatus 'n moordenaar vry moet laat weggaan. Maar julle het die Leier doodgemaak wat vir mense die lewe wil gee. God het Hom weer laat lewe, en ons is die getuies daarvan. Hierdie lam man het in Jesus geglo toe hy sy Naam hoor, daarom het Jesus die man se bene sterk gemaak. Julle sien hierdie man en julle ken hom. Jesus het vir die man die geloof gegee en hierdie geloof het hom heeltemal gesond gemaak, julle almal het dit gesien. Ja, vriende, ek weet julle het nie besef wat julle doen nie, julle leiers het ook nie besef wat hulle doen nie. Maar God het lank gelede vir al die profete gesê hulle moet die boodskap bring dat die Christus van God sal swaarkry en sal ly. En nou het God dit alles waar laat word. Daarom moet julle nou julle lewe verander en julle moet lewe soos God wil hê. Julle moet na God toe gaan sodat Hy julle sondes heeltemal kan wegneem. Dan sal julle weet dat die Christus regeer en julle sal kalm en rustig wees. En die Here sal vir Jesus stuur, Hy het vir Jesus gekies en aangestel om die Christus te wees. Jesus moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. God het al hierdie dinge lank gelede gesê toe Hy vir sy gewyde profete gesê het om dit te sê. Moses het gesê: ‘ Julle God die Here sal vir julle 'n profeet stuur, die profeet sal wees soos ek is. Hierdie profeet sal een van julle wees. Julle moet luister na alles wat hy vir julle sal sê. Elkeen wat nie luister na daardie profeet nie, moet dit weet: Die Here sal hom wegvat van sy mense.’ En al die profete het vertel van die dinge wat nou gebeur, die profete van die tyd af toe Samuel gelewe het, die een profeet ná die ander profeet. Julle is die kinders van die profete en van die verbond wat God gemaak het met julle voorvaders. God het vir Abraham gesê: ‘ Al die volke van die aarde sal My vra om hulle te seën soos Ek jou nageslag sal seën.’ Daarom het God sy Dienaar Jesus gestuur. God het Hom eerste na julle toe laat kom. Die Dienaar wil julle seën, Hy wil elkeen van julle laat ophou om verkeerde dinge te doen.”
HANDELINGE 3:1-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Petrus en Johannes het saam na die tempel opgegaan op die uur van die gebed, die negende uur. En daar is 'n sekere man aangedra wat van sy geboorte af kreupel was; hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort wat die Skone genoem word, om 'n aalmoes te vra van die wat in die tempel ingaan. Toe hy sien dat Petrus en Johannes die tempel wou binnegaan, het hy om 'n aalmoes gevra. En Petrus saam met Johannes het hom stip aangekyk en gesê: Kyk na ons. En hy het sy oë op hulle gehou in die verwagting dat hy iets van hulle sou ontvang. Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop! Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys. En die hele volk het gesien hoe hy daar loop en God prys. En hulle het hom herken, dat dit hy was wat by die Skone Poort van die tempel gesit het om te bedel, en hulle is vervul met verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het. En toe die kreupel man wat genees was, aan Petrus en Johannes vashou, het die hele volk uitermate verbaas na hulle gehardloop in die pilaargang wat Salomo s'n genoem word. En toe Petrus dit sien, sê hy vir die volk: Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd, of waarom kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsvrug bewerk het dat hy loop? Die God van Abraham en Isak en Jakob, die God van ons vaders, het sy Kind Jesus verheerlik, Hom wat julle oorgelewer en voor Pilatus verloën het toe hy besluit het om Hom los te laat. En julle het die Heilige en Regverdige verloën en gevra dat 'n moordenaar aan julle geskenk sou word, en die Leidsman tot die lewe het julle gedood. God het Hom uit die dode opgewek, waarvan ons getuies is. En deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak, en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal. En nou, broeders, ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle owerstes; maar God het op dié manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al sy profete, dat die Christus sou ly. Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete. Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle 'n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek. En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word. En ook al die profete van Samuel af en die wat gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig. En julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het: En in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word. God het, nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle gestuur om julle te seën deur elkeen van sy booshede te bekeer.
HANDELINGE 3:1-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Een middag om drie-uur, die tyd van die gebed, was Petrus en Johannes op pad tempel toe. Net toe word daar 'n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Sy mense het hom elke dag by die tempelpoort wat Mooipoort genoem is, neergesit om by die tempelgangers te bedel. Toe hy vir Petrus en Johannes sien, net voor hulle in die tempel ingaan, het hy van hulle iets gevra. Petrus en Johannes kyk hom toe stip aan, en Petrus sê: “Kyk na ons.” Toe kyk die man na hulle in die hoop dat hy iets van hulle gaan kry. Maar Petrus sê: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” Hy vat toe die man se regterhand en help hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. Hy het opgespring en regop gestaan, en hy kon loop. Daarna het hy saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy geloop en gespring en God geprys het. Al die mense het gesien dat hy loop en God prys; maar toe hulle besef dat dit hy is wat voor die tempel by die Mooipoort gesit en bedel het, was hulle baie verbaas en verwonder oor wat daar met hom gebeur het. Die man het vir Petrus en Johannes bly volg, en die mense wat almal uiters verbaas was, het na hulle toe gestroom in die Pilaargang van Salomo, soos dit genoem is. Toe Petrus dit sien, het hy hulle toegespreek: “Israeliete, hoekom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop? Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, goddelike eer gegee – aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word. Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle 'n moordenaar begenadig moet word. So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies. Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal. “Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het. Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle 'n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê. Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word.’ En al die profete van Samuel af en daarna, almal wat opgetree het, het ook aangekondig wat in hierdie tyd gebeur. Die dinge waarvan die profete gepraat het, is vir julle bedoel, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. Hy het vir Abraham gesê: ‘Jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot 'n seën wees.’ Daarom het God sy Dienaar na die wêreld toe laat kom en Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot 'n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”
HANDELINGE 3:1-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op die negende uur, die uur van gebed, was •Petrus en Johannes na die tempelterrein op pad. 'n Man, verlam van sy geboorte af, is daarheen gedra. Hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort bekend as Mooipoort, om by die mense wat die tempelterrein binnegaan, om 'n aalmoes te vra. Toe hy sien dat Petrus en Johannes op die punt was om die tempelterrein binne te gaan, het hy gevra om 'n aalmoes te ontvang. Petrus, vergesel van Johannes, het stip na hom gekyk en gesê: “Kyk na ons!” Hy het toe na hulle gekyk in die verwagting om iets van hulle te ontvang. Maar Petrus het gesê: “Silwer en goud het ek nie, maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop! ” Hy het hom aan sy regterhand gegryp en opgehelp. Onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. Hy het opgespring, regop bly staan, rondgestap, en toe saam met hulle die tempelterrein binnegegaan, terwyl hy loop en spring en God prys. Die hele volk het gesien hoe hy God loop en prys. Hulle het hom herken as die een wat by die Mooipoort van die tempelterrein gesit het met die oog op aalmoese, en hulle was vol verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het. Terwyl die man aan •Petrus en Johannes bly vashou, het die hele volk stomgeslaan om hulle saamgedrom in die pilaargang bekend as die Pilaargang van Salomo. Toe Petrus dit sien, het hy die volk toegespreek: “Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd? Waarom staar julle ons aan asof ons hom deur ons eie krag of godvresendheid laat loop het? Die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het sy Dienskneg Jesus verheerlik – Hom wat julle oorgelewer het en voor •Pilatus verloën het, al het hy beslis dat Hy vrygelaat word. Julle, egter, het die Heilige en Regverdige verloën, en geëis dat 'n moordenaar vir julle begenadig word; maar julle het die Leidsman tot die lewe doodgemaak. God het Hom uit die dood opgewek – daarvan is ons getuies. Dit was op grond van geloof in die Naam van Jesus dat sy Naam hierdie man wat julle sien en ken, sterk gemaak het. En die geloof wat deur Jesus kom, het in julle almal se teenwoordigheid hierdie volkome genesing aan hom gegee. En nou, broers, ek weet dat julle uit onkunde opgetree het, soos ook julle leiers; maar op hierdie manier het God in vervulling laat gaan wat Hy vroeër by monde van al sy profete aangekondig het, naamlik dat sy Christus sou ly. Bekeer julle en draai terug, sodat julle sondes uitgewis kan word, en vanaf die Here self tye van verkwikking kan aanbreek, en Hy die Christus wat vir julle aangewys is, kan stuur, naamlik Jesus. Die hemel moet Hom verwelkom tot op die tyd van die herstel van alle dinge, waarvan God lank gelede by monde van sy heilige profete gepraat het. Moses het immers gesê, ‘Die Here julle God sal vir julle net so 'n profeet soos ek uit julle broers laat opstaan. Na Hom moet julle luister, na alles wat Hy vir julle sê. Elkeen wat nie na daardie profeet luister nie, sal onder die volk uitgedelg word.’ Ook al die profete wat sedert Samuel en sy opvolgers geprofeteer het, het hierdie dae aangekondig. Julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met julle vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het, ‘In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.’ God het, nadat Hy sy Dienskneg Jesus laat opstaan het, Hom heel eerste na julle gestuur om julle te seën, deurdat Hy elkeen van julle sal laat wegdraai van julle booshede.”
HANDELINGE 3:1-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Petrus en Johannes het saam opgegaan na die tempel op die uur van gebed, dit was die negende uur. En 'n sekere man wat van sy moeder se skoot af kreupel was, is gedra, wat hulle daagliks neergelê het by die poort van die tempel wat Skoon genoem word, om aalmoese te vra van die wat in die tempel ingegaan het; Wie Petrus en Johannes gesien het wat op pad was om in die tempel in te gaan, het 'n aalmoese gevra. En Petrus het sy oë saam met Johannes op hom gerig en gesê: Kyk na ons. En hy het na hulle geluister in die verwagting om iets van hulle te ontvang. Toe sê Petrus: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, gee ek jou: in die Naam van Jesus Christus, die Nasaret, staan op en loop. En hy het hom aan die regterhand gegryp en hom opgetel, en dadelik het sy voete en enkelbene krag gekry. En hy het opgespring en gestaan en geloop en saam met hulle in die tempel ingegaan, terwyl hy loop en spring en God prys. En die hele volk het hom sien loop en God prys. En hulle het geweet dat dit Hy was wat by die Pragtige poort van die tempel sit vir aalmoese, en hulle was vervul met verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het. En terwyl die kreupele man wat genees is, Petrus en Johannes vashou, het die hele volk baie verwonderd na hulle gehardloop in die voorportaal wat Salomo s'n genoem word. En toe Petrus dit sien, antwoord hy die volk: Manne van Israel, waarom verwonder julle julle hieroor? of waarom kyk julle so ernstig na ons, asof ons deur ons eie krag of heiligheid hierdie man laat wandel het? Die God van Abraham en van Isak en van Jakob, die God van ons vaders, het sy Seun Jesus verheerlik; wat julle oorgegee het en Hom voor Pilatus verloën het toe hy vasbeslote was om Hom te laat gaan. Maar julle het die Heilige en die Regverdige verloën en begeer dat 'n moordenaar aan julle gegee word; En die Vors van die lewe, wat God uit die dode opgewek het, gedood; waarvan ons getuies is. En sy Naam het deur geloof in sy Naam hierdie man wat julle sien en ken, sterk gemaak; ja, die geloof wat deur hom is, het hom hierdie volmaakte gesondheid voor julle almal gegee. En nou, broers, ek weet dat julle dit uit onkunde gedoen het, net soos julle owerstes. Maar die dinge wat God tevore deur die mond van al sy profete bekend gemaak het, dat Christus sou ly, het Hy so vervul. Bekeer julle dan en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word, wanneer die tye van verkwikking van die aangesig van die Here sal kom; En hy sal Jesus Christus stuur, wat voorheen aan julle verkondig is. Wat die hemel moet ontvang tot op die tye van herstel van alle dinge, wat God gespreek het deur die mond van al sy heilige profete van die begin van die wêreld af. Want Moses het waarlik aan die vaders gesê: 'n Profeet sal die Here julle God vir julle verwek uit julle broers soos ek; Hom moet julle hoor in alles wat Hy vir julle sê. En dit sal gebeur dat elke siel wat nie na daardie profeet luister nie, onder die volk verdelg sal word. Ja, en al die profete van Samuel af en dié wat daarna volg, almal wat gespreek het, het eweneens van hierdie dae voorspel. Julle is die kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het deur aan Abraham te sê: En in jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. God het eers vir julle, nadat Hy sy Seun Jesus opgewek het, gestuur om julle te seën deur elkeen van sy ongeregtighede af te keer.
HANDELINGE 3:1-26 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het Petrus en Johannes tempel toe gegaan om te bid. Dit was teen drie-uur die middag. Hulle het by een van die tempel se ingange met die naam Mooipoort ingestap. Daar het ’n man elke dag gesit en bedel. Hy was van sy geboorte af verlam. Toe Petrus en Johannes by hom verbystap, vra hy hulle of hulle nie ’n geldjie vir hom het nie. Petrus het gaan staan. “Kyk na my!” het hy vir die verlamde gesê wat daar voor hom op die grond gesit en staar het. Die man was dadelik die ene oë en ore. “Ek het nie ’n sent op my naam nie,” het Petrus gesê. “Maar ek gaan vir jou iets baie beters gee. Ek sê nou vir jou in die Naam van Jesus Christus: staan op en loop!” Petrus vat toe die man se regterhand en trek hom op. Onmiddellik het sy voete en enkels nuwe lewe gekry sodat hy kon opstaan en loop. Hy het toe saam met hulle by die tempel ingegaan. Hy was so bly dat hy rondgespring het van vreugde terwyl hy hardop lag en huil. Hy het God se Naam aanmekaar grootgemaak. Sy vreugdedanse het gou die ander mense se aandag getrek. Toe hulle agterkom dat dit hy was wat elke dag by die Mooipoort gesit en bedel het, kon hulle hulle oë nie glo nie. Toe die mense ook nog sien hoe die man sy arms om Petrus en Johannes gooi, het hulle almal begin stroom na die Pilaargang van Salomo, waar Petrus-hulle gestaan het. Petrus het toe met die groot skare begin praat wat om hulle saamgedrom het: “Vriende, volksgenote, hoekom is julle so verbaas oor wat so pas gebeur het? Dink julle dalk dat ons hierdie man uit ons eie krag gesond gemaak het? Het dit gebeur omdat ons so godsdienstig is? Natuurlik nie. Al wat gebeur het, is dat die God van Abraham en Isak en Jakob vir Jesus, sy eie Seun, op hierdie manier eer kom aandoen het. Hy het hier voor julle almal kom wys hoe groot en sterk Jesus regtig is. “Onthou julle nog hoe julle nou die dag vir Jesus soos ’n misdadiger aan Pilatus uitgelewer het? Julle het julle rug vir Hom gedraai toe Pilatus julle die keuse gegee het om Hom los te laat. Julle het selfs gevra dat ’n moordenaar losgelaat word eerder as Hy. So het julle Hom wat aan julle die ware lewe kan gee, gaan staan en doodmaak. Maar gelukkig het God Jesus weer lewendig gemaak. Ons het dit met ons eie oë gesien. “Wel, Jesus het nou deur ons hierdie verlamde man gesond gemaak. Julle almal kan dit tog sien. Sy geloof in Jesus was genoeg om hom te laat opstaan en loop.” “Vriende, ek weet dat julle en julle leiers glad nie besef het waarmee julle besig was toe julle Jesus doodgemaak het nie. Tog het God lankal deur sy boodskappers gesê dat die Messias sou kom ly. Daarom het Hy julle onkunde gebruik om hulle woorde waar te laat word. “Nou moet julle julle sondes laat staan. Kom terug na God toe. Hy sal al julle sondes wat tussen julle en Hom staan, uit die pad vat. Hy sal nooit weer daaraan dink nie. “God se feestyd sal dan in julle lewe aanbreek. Hy gaan vir Jesus Christus binnekort na julle toe terugstuur. Totdat dit gebeur, bly Hy in sy hemelse woonplek. Dit is hoekom julle Hom nie nou kan sien nie. Maar Jesus sal sekerlik terugkom om alles hier op aarde nuut te maak. Dit het God lank gelede deur sy profete belowe. Moses het al vir julle gesê: ‘God sal binnekort uit julle midde ’n profeet soos ek op die toneel laat verskyn. Julle moet na hom luister. Doen alles wat hy vir julle sê! Elkeen wat nie na hom luister nie, sal doodgemaak word. Hulle sal nie meer deel wees van God se volk nie.’ “Al die ander profete daar van Samuel se tyd af het presies dieselfde gesê. “Julle is mos die nageslag van die profete. God het sy groot ooreenkoms met julle voorvaders gesluit. Hy het vir Abraham gesê: ‘Baie mense hier op aarde sal nog my goedheid beleef omdat Ek hierdie ooreenkoms met jou en jou nageslag gesluit het.’ “Julle staan vandag heel voor in die ry. Nadat God Jesus weer lewendig gemaak het, het Hy Hom heel eerste na julle toe gestuur om te wys hoeveel Hy vir julle omgee. Daarom moet julle julle sondes laat staan.”
HANDELINGE 3:1-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Petrus en Johannes was een middag op pad tempel toe. Dit was drie-uur, die gebedstyd. Net tóé word daar ’n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Mense het hom daagliks laat sit by die tempelpoort wat as Mooipoort bekend staan, om by die tempelgangers te bedel. Petrus en Johannes wou net in die tempel ingaan, toe hy hulle sien en ’n bydrae by hulle vra. Petrus kyk hom toe saam met Johannes stip aan, en sê: “Kyk na ons!” Die verlamde man kyk toe na hulle in die verwagting dat hy ’n bydrae gaan kry. Maar Petrus sê: “Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou: Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword. Hy het opgespring, op sy voete gestaan, en begin rondstap. Daarna, terwyl hy rondstap, huppel en God prys, is hy saam met hulle die tempel in. Die hele volk het gesien hoe hy loop en gehoor hoe hy God prys. Toe hulle hom eien en besef dat dit hý is wat voor die tempel by Mooipoort gesit en bedel het, was hulle heeltemal verstom. Hulle het van verwondering by die Pilaargang van Salomo saamgedrom terwyl die man gesorg het dat hy bý Petrus en Johannes bly. Toe Petrus dit agterkom, het hy soos volg op die mense gereageer: “Geagte Israeliete, wat is so besonders hieraan? Wat kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsdienstigheid veroorsaak het dat hierdie man kan rondstap? “Dis die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders wat met hierdie daad Goddelike eer aan Jesus, sy Dienaar, gee. Dis hierdie selfde Jesus vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het, al was Pilatus se uitspraak dat Hy vrygelaat moes word. Julle het hierdie heilige en opregte man verwerp, en eerder geëis dat ’n moordenaar vir julle vrygelaat word. Julle het die Bron van lewe doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek! Van Hóm is óns getuies! “Die Naam van Jesus het hierdie man se bene weer sterk gemaak – en julle weet hoe verlam hy was. “Geloof in die Naam van Jesus het hom heeltemal gesond laat word, hier reg voor julle oë. “Volksgenote, ek weet dat wat julle aan Jesus gedoen het, in onkunde gebeur het, en dieselfde geld van julle leiers. “God was egter besig om te laat gebeur wat al die profete vroeër oor die Messias aangekondig het – dat Hy sou ly. Kom tot inkeer en maak reg met God sodat Hy julle sondes sal uitwis. Dan sal die teenwoordigheid van die Here tye van oplewing tot gevolg hê, en Hy sal Jesus julle Messias weer na julle toe stuur. Hy moet in die hemel bly totdat die tyd aangebreek het wanneer God alles nuut maak, soos God dit lank gelede deur sy heilige profete belowe het. “Moses het gesê: ‘Die Here julle God sal ’n Profeet soos ek uit julle volk vir julle laat voortkom. Luister mooi na alles wat Hy vir julle sê.’ Moses het ook nog verder gesê: ‘Elkeen wat nie na daardie Profeet luister nie, sal van die volk van God afgesny en vernietig word.’ “Van Samuel af het elke profeet gepraat oor wat vandag gebeur. Júlle is die kinders van daardie profete, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. God het mos vir Abraham gesê: ‘In jou nageslag sal al die families van die aarde geseën word.’ Toe God sy Dienaar in die wêreld laat kom het, het Hy Hom heel eerste na julle, Israeliete, toe gestuur om vir julle tot ’n seën te wees deurdat julle almal van julle verkeerde paaie af omdraai.”