HANDELINGE 28:25-28
HANDELINGE 28:25-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In onenigheid onder mekaar het hulle uiteengegaan, nadat Paulus nog 'n enkele laaste woord gespreek het: “Die Heilige Gees het tereg deur die profeet Jesaja aan julle voorvaders gesê: “ ‘Gaan na hierdie volk en sê: “Met die ore sal julle hoor, en glad nie verstaan nie, en met die oë sal julle sien, en glad nie insig kry nie. Want hierdie volk se hart is afgestomp – hulle kan beswaarlik met hulle ore hoor; hulle het hulle oë gesluit, sodat hulle nie met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle harte verstaan en terugdraai, en Ek hulle genees nie.” ’ “Julle moet dan weet dat hierdie verlossing van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister. ”
HANDELINGE 28:25-28 Die Boodskap (DB)
Hierdie besoekers het onder mekaar aan die stry geraak. Toe hulle begin huis toe gaan, het Paulus die laaste woord gehad: “Die Heilige Gees was heeltemal reg toe Hy deur die profeet Jesaja vir ons voorouers gesê het: ‘Gaan na my volk toe en sê vir hulle: Al hoor julle met julle ore, verstaan julle net mooi niks nie. Al kyk julle met julle oë, is julle eintlik blind. Hierdie mense se harte is kliphard. Hulle ore is doof. Hulle oë is heeltemal toe. Daarom kan hulle niks sien of hoor nie. Hulle verstaan nie wat Ek besig is om te doen nie; daarom kom hulle nie terug na My toe sodat Ek hulle gesond kan maak nie.’ “Julle het julle kans verspeel,” het Paulus bygevoeg. “Ek sê vir julle dat God se reddingsboodskap van nou af aan mense verkondig gaan word wat nie aan die Joodse volk behoort nie. Hulle sal wel na God luister!”
HANDELINGE 28:25-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe ’n ernstige meningsverskil ontstaan, het hulle begin padgee. Paulus het egter nog vir oulaas een stelling teenoor hulle gemaak: “Hoe van toepassing is dit tog wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir julle voorvaders gesê het, naamlik: ‘Gaan na hierdie volk toe en sê: Julle sal my woorde hoor en tog nie verstaan nie. Julle sal sien wat Ek doen, en dit tog nie werklik begryp nie. Ja, die hart van hierdie volk het verhard, en hulle hoor swaar met hulle ore, en hulle het hulle oë toegemaak sodat hulle nie dalk met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle hart begryp en tot bekering kom en Ek hulle gesond maak nie.’ “Van nou af moet julle goed besef dat hierdie verlossing van God nou vir die nie-Joodse nasies beskikbaar gestel word. En húlle sal luister.”
HANDELINGE 28:25-28 Bybel vir almal (ABA)
En hulle het met mekaar gestry. Toe hulle uit Paulus se huis uitgaan, het hy nog hierdie een ding vir hulle gesê: “Die Heilige Gees het vir die profeet Jesaja iets gesê wat Jesaja vir julle voorvaders moes gaan sê. Wat die Heilige Gees gesê het, is waar. Hy het gesê: “ Jy moet na hierdie volk gaan en jy moet vir hulle sê: “Julle sal hoor en hoor, maar julle sal niks verstaan nie. Julle sal kyk en kyk, maar julle sal niks sien nie. Hierdie volk het hardkoppig geword. Hulle het opgehou luister sodat hulle nie kan verstaan nie. Hulle het hulle oë toegehou sodat hulle nie kan sien nie en nie kan verstaan nie. Ek wil hulle gesond maak, maar hulle wil nie verander en lewe soos Ek wil hê nie. “Daarom moet julle weet dat God sy boodskap na die heidene toe gestuur het, die boodskap dat Hy mense wil red. En hulle sal die boodskap glo.”
HANDELINGE 28:25-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus hierdie woord gesê het, naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Laat dit dan aan julle bekend wees dat die heil van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister.
HANDELINGE 28:25-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle was dit nie met mekaar eens nie en het weggegaan, maar Paulus het nog eers dít vir hulle gesê: “Hoe waar is dit tog wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir julle voorvaders gesê het! Hy het gesê: “Gaan na hierdie volk toe en sê vir hulle: Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie; en kyk en kyk en tog niks sien nie. Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak, sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor en met hulle verstand verstaan en hulle bekeer en Ek hulle gesond maak nie. “Julle moet nou goed verstaan dat God se boodskap van redding na die heidennasies toe gestuur word. Húlle sal luister.”
HANDELINGE 28:25-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe hulle nie onder mekaar ooreengekom het nie, het hulle weggegaan, nadat Paulus een woord gespreek het: Goed het die Heilige Gees gespreek deur die profeet Jesaja tot ons vaders, en sê: Gaan na hierdie volk en sê: As julle hoor, sal julle hoor en nie verstaan nie; en siende sal julle sien en nie sien nie; Want die hart van hierdie volk is grof geword, en hulle ore is dof van gehoor, en hulle oë het hulle toegemaak; dat hulle nie met hul oë sou sien en met hul ore hoor en met hul hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle gesond maak nie. Laat dit dan aan julle bekend wees dat die verlossing van God aan die heidene gestuur is, en dat hulle dit sal hoor.