HANDELINGE 27:16-25
HANDELINGE 27:16-25 Bybel vir almal (ABA)
Ons het die skip verby 'n klein eiland gestuur, die eiland se naam was Kauda. Die wind was daar nie baie sterk nie. Toe het ons baie gesukkel om te keer sodat die klein bootjie nie wegdryf van die skip nie. Die matrose het die klein bootjie opgetrek en hulle het dit bo-op die skip vasgemaak. Toe het hulle toue om die skip gebind en so het hulle probeer om die skip sterker te maak. Hulle was bang dat die wind die skip sal stoot tot by die sandbanke van Sirtis, dan sou die skip stukkend breek. Daarom het hulle 'n seil aan 'n tou vasgemaak en hulle het die seil in die see gegooi om die skip stadiger te laat dryf. So het ons verder gedryf. Dit was 'n kwaai storm. Daarom het die matrose die volgende dag begin om die goed wat op die skip was, in die see te gooi. Op die derde dag het hulle self ook baie van die skip se seile en toue en pale in die see gegooi. Ons het baie dae lank nie die son gesien nie, ook nie die sterre nie, en die storm was baie kwaai. Daarom het ons opgehou om te hoop, ons het gedink dat ons sal sterf. Hulle het 'n lang tyd niks geëet nie. Paulus het toe opgestaan en hy het tussen hulle gaan staan en gesê: “Vriende, ek het gesê ons moenie wegseil van Kreta nie. Hoekom het julle nie na my geluister nie? Dan het julle nie nou hierdie groot probleme gehad nie, en dan het julle ook nie julle goed verloor nie. Maar nou wil ek vir julle sê wat julle moet doen. Julle moet sterk wees. Nie een van julle sal sterf nie, maar die skip sal stukkend breek en sink. Want gisternag het daar 'n engel by my kom staan. Dit was 'n engel van God, ek behoort aan daardie God, Hy is die God wat ek dien. Die engel het vir my gesê: ‘Paulus, jy moenie bang wees nie. Jy moet voor die regterstoel van die keiser in Rome gaan staan. God sal ook goed wees vir almal wat saam met jou op die boot is. Hy sal hulle red omdat Hy jou wil red.’ Vriende, daarom moet julle nie moedeloos wees nie! Ek glo dat God dit sal doen, ek glo dit sal gebeur soos die engel vir my gesê het.
HANDELINGE 27:16-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe ons onderkant 'n eilandjie kom wat Clauda genoem word, kon ons met moeite die sleepbootjie onder beheer hou. En nadat hulle dit opgetrek het, het hulle gebruik gemaak van hulpmiddels deur die skip onderom te gord; en omdat hulle bang was om op die Sirtis te lande te kom, het hulle die seile neergehaal; en so het hulle dan weggedrywe. En terwyl ons geweldig deur die storm geteister is, het hulle op die volgende dag van die vrag uitgegooi; en op die derde dag het ons met ons eie hande die skeepsgereedskap uitgegooi. En omdat die son en ook die sterre baie dae lank nie geskyn het nie, en 'n hewige storm ons gedruk het, is eindelik alle hoop om gered te word, ons ontneem. En nadat hulle lank sonder ete was, het Paulus in hul midde opgestaan en gesê: Manne, julle moes na my geluister en nie van Kreta afgevaar het nie en julle so hierdie ramp en skade bespaar het. Maar nou vermaan ek julle om moed te hou, want daar sal hoegenaamd geen verlies van lewe onder julle wees nie, maar alleen van die skip. Want daar het in hierdie nag by my gestaan 'n engel van die God aan wie ek behoort, wat ek ook dien. En hy het gesê: Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar. Daarom, hou moed, manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is.
HANDELINGE 27:16-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons het 'n bietjie beskutting gevind toe ons onderkant die eilandjie Kauda langs kom. Daar kon ons darem met moeite die bootjie van die skip in veiligheid bring. Nadat die matrose die bootjie opgehaal het, het hulle as noodmaatreël 'n paar toue styf onder om die skip vasgemaak. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis verpletter sou word, het hulle die dryfanker laat sak en die skip sommerso laat drywe. Omdat ons baie swaar gekry het in die storm, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi. Die dag daarna het hulle eiehandig ook die skip se toerusting in die see gegooi. Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word. Nadat hulle 'n lang tyd nie meer geëet het nie, het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade vrygespring het. Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. Verlede nag het daar 'n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien. Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.’ Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het.
HANDELINGE 27:16-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe ons aan die beskutte kant van 'n klein eilandjie bekend as Cauda kom, het ons met moeite daarin geslaag om die sloep onder beheer te kry. Nadat die bemanning die sloep opgehys het, het hulle toue onder die skip deurgetrek om dit te verstewig. Omdat hulle bang was dat hulle op die Sirtis sou strand, het hulle die dryfanker laat sak, en so het hulle weggedryf. Omdat ons so geweldig deur die storm geteister is, het hulle die volgende dag begin om die skeepsvrag oorboord te gooi, en op die derde dag het hulle met hulle eie hande die skip se toerusting oorboord gegooi. Die son en die sterre het vir baie dae nie geskyn nie, en die storm het ook nie in hewigheid afgeneem nie, sodat alle hoop om gered te word, ons ontneem is. Daar was 'n ernstige tekort aan kos. Toe het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie weggevaar het van Kreta af nie. Dan sou ons hierdie skade en verlies kon voorkom het. En nou roep ek julle op om moed te hou, want daar sal geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal vergaan. Verlede nag het 'n engel van die God aan wie ek behoort en vir wie ek dien, by my kom staan en gesê, ‘Moenie bang wees nie, Paulus, jy moet nog voor die keiser verskyn. Kyk, God het in sy genade die behoud van almal wat saam met jou vaar, aan jou geskenk.’ Daarom, hou moed, manne, want ek vertrou op God dat dit net so sal gebeur soos aan my gesê is.
HANDELINGE 27:16-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ons het onder 'n sekere eiland gehardloop wat Claudia genoem word, en ons het baie werk gehad om met die skuit te kom. En toe hulle opgeneem het, het hulle hulp gebruik om die skip te omgord; en uit vrees dat hulle in die dryfsand sou val, het hulle seil gejaag, en so is hulle gedryf. En toe ons uitermate deur 'n storm gegooi is, het hulle die skip die volgende dag verlig; En op die derde dag het ons die takelwerk van die skip met ons eie hande uitgewerp. En toe die son of sterre in baie dae nie verskyn het nie, en geen klein storm op ons kom nie, is alle hoop dat ons gered sou word, weggeneem. Maar na lang onthouding het Paulus in die midde van hulle opgestaan en gesê: Menere, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggegaan het nie, en hierdie skade en verlies opgedoen het. En nou vermaan ek julle om goeie moed te hou, want daar sal geen mens se lewe onder julle verloor nie, behalwe van die skip. Want in hierdie nag het die engel van God by my gestaan, wie s'n ek is en wat ek dien, en gesê: Moenie vrees nie, Paulus! jy moet voor die keiser gebring word, en kyk, God het aan jou gegee almal wat saam met jou vaar. Daarom, menere, hou goeie moed, want ek glo God, dat dit sal wees soos aan my gesê is.
HANDELINGE 27:16-25 Die Boodskap (DB)
Toe ons later naby die eiland Kauda kom, het ons na ’n groot gesukkel ons reddingsbootjie, wat agter die skip met ’n tou vasgemaak was, aan boord gekry. Daarna het die matrose toue onder om die skip vasgemaak. Dit het die skip se romp versterk teen die storm. Omdat hulle bang was dat die skip hom op die sandbanke te pletter sou loop, het hulle die dryfankers ook laat sak. Ons het begin wegdryf van die gevaarlike kuslyn af. Die storm het ons skip heen en weer op die see geslinger. Die volgende dag is die vrag in die see gegooi om die skip ligter te maak. En die dag daarna moes almal aan boord hand bysit om die skip se toerusting ook in die see te gooi. Dae lank kon ons glad nie die son of die sterre sien nie. Omdat die storm net nie wou bedaar nie, het ons later alle hoop laat vaar dat ons gered sou word. Paulus het nou vir ons almal gesê: “Julle moes vroeër na my geluister het toe ek julle daar in Kreta gewaarsku het om nie verder te vaar nie. Dan sou julle hierdie ramp vrygespring het. Maar dit help nie om mekaar nou hieroor te verwyt nie.Julle moenie moed opgee nie. Ek verseker julle: niemand aan boord sal iets oorkom nie. Net die skip sal vergaan. “Gisteraand het ’n engel van die God wat ek dien aan my verskyn en gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. Daarom sal God sorg dat jy lewend daar aankom. God het ook besluit om die lewe van almal saam met jou op die skip te spaar.’ “Hou daarom moed, vriende. Ek glo dat alles presies net so sal gebeur soos God gesê het.
HANDELINGE 27:16-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons het onder ’n eilandjie met die naam Kauda verbygevaar en kon amper nie die reddingsbootjie van die skip (wat altyd op sleeptou was) onder beheer kry nie. Nadat die matrose die reddingsbootjie aan boord gebring het, het hulle reddingstoue gebruik om die onderkant van die skip te verstewig. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis sou vasval, het hulle die dryfanker uitgegooi en die skip só deur die wind laat dryf. Toe die storm ons aanhoudend só erg teister, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi. Die derde dag het hulle met hulle eie hande die skip se toerusting oorboord gegooi. Baie dae lank het die son en die sterre nie eers deurgekom nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik is alle hoop laat vaar dat ons gered sou word. Vir ’n lang tyd het niemand sy mond aan kos gesit nie. Uiteindelik het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Mooi Hawens in Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade gespaar gewees het. En nou vra ek julle: Hou moed! Daar sal verseker geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal tot niet gaan. Verlede nag het daar ’n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En dis nie al nie – om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is.’ Daarom, hou moed, manne! Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het.