HANDELINGE 27:1-4
HANDELINGE 27:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Die amptenare het besluit dit is tyd dat Paulus en ons met 'n skip na die land Italië moet seil. Die soldate het toe vir Paulus en party ander gevangenes vir Julius gegee. Julius was die offisier van 'n groep soldate van die keiser. Ons het op 'n skip geklim wat na die stad Adramittium sou seil, want ons wou gaan na plekke in die provinsie Asië. Die skip het begin seil. Aristargus was ook saam met ons. Hy was 'n man van die stad Tessalonika in die provinsie Masedonië. Die volgende dag het die skip by die stad Sidon aangekom. Julius was vriendelik met Paulus. Julius het gesê Paulus mag na sy vriende in Sidon gaan sodat hulle vir hom kan sorg. Die volgende dag het ons weggeseil van Sidon. Ons het toe by die eiland Siprus verbygeseil. Die wind het sterk teen ons gewaai en daarom het ons langs Siprus verbygeseil, langs die kant waar die wind nie so sterk was nie.
HANDELINGE 27:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe daar besluit is dat ons moes wegvaar na Italië, het hulle Paulus en sommige ander gevangenes oorgegee aan 'n hoofman oor honderd van die keiserlike leërafdeling, met die naam van Július. En nadat ons in 'n skip van Adramíttium gegaan het met die doel om by die aanlegplekke in Asië aan te gaan, het ons afgevaar, en Aristárchus van Macedónië, 'n man van Thessaloníka, was saam met ons. En die volgende dag het ons by Sidon aangekom. En Július het Paulus mensliewend behandel en hom toegelaat om vriende te besoek en versorging te ontvang. En daarvandaan het ons afgevaar en onderkant Ciprus verbygeseil, omdat die winde teen ons was.
HANDELINGE 27:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe ons vertrek na Italië toe bepaal was, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes aan Julius, 'n offisier van die keiserlike regiment, oorhandig. Ons het weggevaar aan boord van 'n skip van Adramittium wat by die hawens van die provinsie Asië sou aandoen. Saam met ons was Aristargos, 'n Masedoniër van Tessalonika. Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus en het hom toegelaat om sy vriende te besoek. Hulle het hom van die een en ander voorsien. Ons het daarvandaan weggevaar en ons is aan die beskutte kant van Siprus verby, omdat die wind teen ons was.
HANDELINGE 27:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe daar besluit is dat ons na Italië moes vaar, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes uitgelewer aan 'n centurio van die keiserlike kohort soldate met die naam Julius. Ons het aan boord gegaan van 'n skip uit Adramittium wat gereed was om na plekke langs die kus van Asië te vaar, en toe weggeseil. Aristargus, 'n Macedoniër uit Thessalonika, was saam met ons. Die volgende dag het ons by Sidon anker gegooi, en Julius het heel welwillend teenoor Paulus opgetree en hom toegelaat om na sy vriende te gaan en om hulle sorg te geniet. Van daar af het ons weggeseil, en omdat die wind teen ons was, het ons aan die beskutte kant van Ciprus verbygevaar.
HANDELINGE 27:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe daar besluit was dat ons na Italië moes vaar, het hulle Paulus en sekere ander gevangenes oorgegee aan een met die naam van Julius, 'n hoofman oor honderd uit die bende van Augustus. En ons het in 'n skip van Adramyttium geklim, ons het te water gelaat, bedoelende om langs die kusgebiede van Asië te vaar; ene Aristarchos, 'n Masedoniër van Tessalonika, by ons. En die volgende dag het ons by Sidon aangeraak. En Julius het Paulus hoflik gesmeek en hom die vryheid gegee om na sy vriende te gaan om homself te verkwik. En toe ons daarvandaan weggegaan het, het ons onder Ciprus deur gevaar, omdat die winde teenstrydig was.
HANDELINGE 27:1-4 Die Boodskap (DB)
Nadat die reëlings klaar was vir die seereis na Italië waar Paulus voor die keiser moes gaan verskyn, is hy en ’n groep ander gevangenes in die sorg van ’n Romeinse kaptein genaamd Julius geplaas. Hy was ’n offisier in die keiserlike regiment. Ek, Lukas, en Aristargos, ’n gelowige uit Tessalonika in die Romeinse provinsie Masedonië, het Paulus vergesel. Ons het met ’n skip uit Adramittium gereis wat op pad was na ’n paar hawens in Asië. Die volgende dag het ons skip in Sidon aangekom. Julius, die Romeinse bevelvoerder, het Paulus toegelaat om gou ’n paar vriende daar te besoek. Van Sidon af het ons noordwaarts gereis. Ons het aan die onderkant van die eiland Siprus verbygevaar waar ons beskut was teen die sterk wind.
HANDELINGE 27:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe daar besluit is dat ons per skip Italië toe moes reis, het hulle Paulus en ’n paar ander gevangenes aan Julius, ’n offisier oor honderd man van die keiserlike regiment, oorhandig. Vir die vaart het ons aan boord gegaan van ’n skip van Adramittium wat by verskeie hawens van die provinsie Asië sou aandoen. Saam met ons was Aristargus, ’n Masedoniër van Tessalonika. Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus, en het hom toegelaat om na sy vriende toe te gaan om hom te voorsien van wat hy nodig het. Ons het daarvandaan weggevaar en is aan die beskutte kant van Siprus verby omdat die winde teen ons was.