HANDELINGE 23:1-10

HANDELINGE 23:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Paulus het reguit na die Joodse Raad gekyk en hy het vir hulle gesê: “Vriende, ek praat die waarheid, ek weet dat ek tot vandag toe heeltemal reg gelewe het, ek het gelewe soos God wil hê 'n mens moet lewe.” Daar het manne naby Paulus gestaan, en Ananias, die hoëpriester, het vir hulle gesê hulle moet vir Paulus op sy mond slaan. Toe het Paulus vir hom gesê: “God sal vir jóú slaan, jy is so skynheilig soos 'n muur wat vuil is, maar iemand het wit verf daaroor gesmeer. Jy sit hier om na die wette te luister en om my te oordeel, maar jy doen self nie wat die wette sê nie, jy sê hulle moet my slaan.” Die manne wat naby Paulus gestaan het, het vir hom gesê: “Jy beledig nou God se hoëpriester!” Paulus het geantwoord: “Vriende, ek het nie geweet dat hy die hoëpriester is nie. Ek weet in die Ou Testament is daar geskryf: “ Jy mag nie slegte dinge sê van 'n leier van jou volk nie.” Paulus het gesien dat party van die lede van die Joodse Raad Sadduseërs is en dat party van hulle Fariseërs is. Daarom het hy hard voor die Joodse Raad gepraat en hy het gesê: “Vriende, ek is 'n Fariseër en my pa was ook 'n Fariseër. Ek glo en ek weet dat God mense wat gesterf het, weer sal laat lewe, dit is seker. Dit is hoekom ek vandag hier is en hoekom julle my moet oordeel.” Toe Paulus dit sê, het die Fariseërs en die Sadduseërs met mekaar begin stry, en al die mense wat daar was, het in twee groepe verdeel. Hulle het gestry, want die Sadduseërs glo nie dat God die mense wat gesterf het, weer sal laat lewe nie. Hulle glo ook nie dat daar engele of geeste is nie. Maar die Fariseërs glo dit alles. Almal het baie geraas en geskree. Party van die skrifgeleerdes wat ook Fariseërs was, het opgestaan en hulle het baie gestry en gesê: “Ons dink nie hierdie man, Paulus, het iets verkeerd gedoen nie! Miskien het 'n engel of 'n gees met hom gepraat.” Toe het almal nog meer gestry en geraas. Die hoof-offisier het bang geword dat hulle vir Paulus stukkend sou skeur. Daarom het die hoof-offisier vir die soldate gesê hulle moet hardloop en hulle moet vir Paulus gaan gryp en hom terugneem na die soldate-kamp.

HANDELINGE 23:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Paulus het die oë op die Raad gehou en gesê: Broeders, ek het met 'n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag. Maar die hoëpriester Ananías het bevel gegee aan die wat by hom staan, om hom op die mond te slaan. Toe sê Paulus vir hom: God sal u slaan, gewitte muur! U sit tog om my volgens die wet te oordeel, en beveel u in stryd met die wet dat ek geslaan moet word? En die wat daarby staan, sê: Skel jy die hoëpriester van God uit? Daarop sê Paulus: Ek het nie geweet, broeders, dat hy hoëpriester is nie, want daar staan geskrywe: Van 'n owerste van jou volk mag jy nie kwaad spreek nie. En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is 'n Fariseër, die seun van 'n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg. En toe hy dit sê, het daar twis ontstaan tussen die Fariseërs en die Sadduseërs, en die menigte het verdeeld geraak. Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar die Fariseërs bely albei. Toe was daar 'n groot geroep, en die skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgestaan en heftig gestry en gesê: Ons vind geen kwaad in hierdie man nie; en as 'n gees met hom gespreek het, of 'n engel, laat ons nie teen God stry nie. En toe daar 'n groot twis ontstaan het en die owerste oor duisend gevrees het dat Paulus deur hulle verskeur sou word, het hy die soldate bevel gegee om te gaan en hom met geweld weg te neem onder hulle uit en in die kamp te bring.

HANDELINGE 23:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Paulus het die lede van die Joodse Raad vierkantig in die oë gekyk en gesê: “Broers, ek het heeltemal 'n skoon gewete oor hoe ek tot vandag toe my lewe in diens van God gelei het.” Toe beveel die hoëpriester Ananias die mense wat by Paulus staan, om hom op sy mond te slaan. Daarop sê Paulus vir hom: “God sal jou slaan, jou skynheilige! Jy sit hier om my volgens ons wet te verhoor, maar in stryd met die wet beveel jy dat ek geslaan moet word.” Die mense wat by Paulus staan, sê toe vir hom: “Skel jy die hoëpriester van God uit?” Daarop antwoord hy: “Ek het nie geweet dat hy die hoëpriester is nie, broers. Dit ís soos daar geskrywe staan: Jy mag nie 'n leier van jou volk beledig nie. ” Paulus het geweet dat die Raad deels uit Sadduseërs en deels uit Fariseërs bestaan. Hy roep toe in die Raad uit: “Broers, ek is 'n Fariseër en ek kom uit 'n familie van Fariseërs. Dit is oor die verwagting dat die dooies weer sal opstaan dat ek verhoor word.” Toe hy dit sê, het daar rusie tussen die Fariseërs en die Sadduseërs ontstaan, en die vergadering het verdeeld geraak. Die Sadduseërs ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is en dat daar engele en geeste bestaan, maar die Fariseërs aanvaar wel albei hierdie dinge. 'n Hewige woordewisseling het toe ontstaan. 'n Paar skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgespring, heftig beswaar gemaak en gesê: “Ons het niks teen hierdie man nie. Miskien het daar 'n gees of 'n engel met hom gepraat.” Die rusie het so hewig geword dat die kommandant bang was dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het die kommandant sy soldate beveel om hom tussen hulle te gaan uithaal en terug te bring na die kaserne toe.

HANDELINGE 23:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Paulus het stip na die Sanhedrin gekyk en gesê: “Manne, broers, ek het tot op hierdie dag met 'n absoluut skoon gewete voor God geleef. ” Maar die hoëpriester Ananias het die mense wat langs hom gestaan het, opdrag gegee om hom op sy mond te slaan. Toe sê Paulus vir hom: “God sal jou slaan, jou witgekalkte muur! Jy sit daar om my kragtens die wet te beoordeel, terwyl dit jy is wat in stryd met die wet opdrag gee dat ek geslaan word? ” Die omstanders sê toe: “Beledig jy die hoëpriester van God?” En Paulus antwoord: “Broers, ek het nie besef hy is die hoëpriester nie. Daar staan tog geskryf, ‘Jy mag nie sleg praat van 'n leier van jou volk nie.’ ” Omdat Paulus geweet het dat sommige van hulle •Sadduseërs was en ander •Fariseërs, het hy in die Sanhedrin uitgeroep: “Manne, broers, ek is 'n Fariseër, die seun van Fariseërs! Op grond van die verwagting van die opstanding van die dooies word ek verhoor. ” Toe hy dit sê, het daar 'n stryery tussen die Fariseërs en die Sadduseërs ontstaan, en die vergadering het verdeeld geraak. Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, en ook nie engele of geeste nie, terwyl die Fariseërs bely dat dit alles bestaan. 'n Groot geskreeu het toe ontstaan, en 'n paar van die skrifkenners uit die geledere van die Fariseërs het opgestaan en hewig geprotesteer en aangevoer: “Ons vind geen kwaad in hierdie man nie. Sê nou 'n gees of 'n engel het met hom gepraat?” Toe die stryery hewiger word, het die chiliarg gevrees dat hulle Paulus sou verskeur. Hy het toe bevel gegee dat sy afdeling soldate hom tussen hulle moet gaan uithaal en na die kwartiere bring.

HANDELINGE 23:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Paulus het die Raad ernstig aanskou en gesê: Broeders, ek het met 'n goeie gewete voor God gelewe tot vandag toe. En die hoëpriester Ananias het die wat by hom staan bevel gegee om hom op die mond te slaan. Toe sê Paulus vir hom: God sal jou slaan, gewitte muur, want sit jy om my volgens die wet te oordeel en beveel dat ek in stryd met die wet geslaan moet word? En die wat daar gestaan het, het gesê: Beledig jy God se hoëpriester? Toe sê Paulus: Ek het nie geweet nie, broeders, dat hy die hoëpriester was, want daar is geskrywe: Jy mag geen kwaad spreek van die owerste van jou volk nie. Maar toe Paulus sien dat die een deel Sadduseërs en die ander Fariseërs was, het hy in die Raad uitgeroep: Manne en broeders, Ek is 'n Fariseër, die seun van 'n Fariseër; oor die hoop en opstanding van die dode is Ek ingeroep vraag. En toe Hy dit gesê het, het daar 'n onenigheid ontstaan tussen die Fariseërs en die Sadduseërs, en die menigte was verdeeld. Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, geen engel of gees nie, maar die Fariseërs bely albei. En daar het 'n groot geroep ontstaan, en die skrifgeleerdes wat van die Fariseërs was, het opgestaan en stry en gesê: Ons vind geen onheil in hierdie man nie; maar as 'n gees of 'n engel met hom gespreek het, laat ons nie teen God veg nie. En toe daar 'n groot onenigheid ontstaan het, het die hoofkaptein, uit vrees dat Paulus van hulle in stukke geruk sou word, die soldate beveel om af te gaan en hom met geweld onder hulle uit te haal en in die kasteel in te bring.

HANDELINGE 23:1-10 Die Boodskap (DB)

Toe Paulus voor die Joodse Raad stelling inneem, het hy hulle ’n paar oomblikke lank aandagtig deurgekyk. Toe sê hy vir hulle: “Broers, my lewe lank dien ek God. Ek het ook nog nooit doelbewus teen sy wil opgetree nie.” Ananias, die hoëpriester, het hom lelik vererg vir Paulus. Hy sê toe vir een van sy helpers wat by Paulus gestaan het om hom op die mond te slaan. Paulus was baie kwaad daaroor. Dadelik het hy vir die hoëpriester gesê: “God sal jou hieroor straf, jou skynheilige! Jy is veronderstel om my volgens die voorskrif van die wet te verhoor. Maar nou tree jy in stryd daarmee op deur te beveel dat ek geslaan word nog voordat ek skuldig bevind is.” Een van die helpers wat by Paulus gestaan het, het geskok vir hom gevra: “Praat jy so met die hoëpriester?” “My broers, ek het nie besef dat ek met die hoëpriester praat nie,” het Paulus geantwoord. “As ek dit geweet het, sou ek nie hierdie dinge gesê het nie. Ek weet immers dat daar in die Bybel geskryf staan: ‘’n Mens mag nie sleg praat van ’n leier van die volk nie.’” Paulus het geweet dat ’n deel van die Joodse Raad Fariseërs was en ’n ander deel Sadduseërs. Hy sê toe vir hulle: “Vriende, weet julle, ek self is ook ’n Fariseër. Ek kom uit ’n lang tradisie van Fariseërs. Dit is juis as gevolg van my geloof as Fariseër dat die dooies eendag weer sal opstaan dat ek nou deur u verhoor word.” Skaars het Paulus hierdie woorde gesê of die Fariseërs en die Sadduseërs wat op die Joodse Raad sitting gehad het, het met mekaar begin stry. Die Sadduseërs het nie aan die opstanding van die dooies geglo nie; ook nie aan die bestaan van engele of geeste nie. Die Fariseërs het wel aan hulle bestaan geglo. Die vergadering het in chaos ontaard. Te midde van hierdie deurmekaarspul het ’n paar Fariseërs opgestaan en uitgeroep: “Hierdie man is onskuldig. Ons vind niks verkeerds met wat hy sê nie. Dit was definitief ’n engel wat daar by Damaskus met hom gepraat het. Of dalk ’n gees van een van ons voorvaders.” Hierdie woorde het die humeure net verder laat opvlam. Die lede van die Joodse Raad het naderhand so met mekaar gestry dat die Romeinse bevelvoerder vir Paulus se lewe gevrees het. Hy was bang dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het hy sy soldate beveel om hom tussen die woedende raadslede te gaan uithaal en hom terug te vat na die Romeinse kaserne toe.

HANDELINGE 23:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Paulus het die Joodse Raad reguit in die oë gekyk en begin praat: “Geagte broers, met ’n absoluut goeie gewete het ek my lewe tot vandag toe in diens van God gelei!” Toe het die hoofpriester Ananias die mense wat by Paulus staan, beveel om hom op die mond te klap. Daarop sê Paulus vir hom: “God gaan jóú klap, jou skynheilige! Hier sit jý om my volgens ons wet te verhoor, maar in stryd met die wet beveel jy dat ek geklap moet word!” Die mense by Paulus sê toe vir hom: “Dis die hoofpriester van God wat jy so uitskel!” “Jammer, broers. Ek het nie besef hy is die hoofpriester nie,” het Paulus gereageer. “Daar staan inderdaad geskryf: ‘’n Leier van jou volk mag jy nie beledig nie.’” Paulus het besef dat ’n deel van die Joodse Raad Sadduseërs was en ’n ander deel Fariseërs, en daarom roep hy toe in die raad uit: “Geagte broers, ek is ’n Fariseër en ek is uit ’n Fariseërfamilie. Dit is oor my toekomsverwagting oor die opstanding van die dooies dat ek verhoor word!” Toe hy dit sê, het die Fariseërs en die Sadduseërs onder mekaar begin stry, en die vergadering het verdeeld geraak, want die Sadduseërs sê daar is geen opstanding nie, en ook nie engele en geeste nie; die Fariseërs glo weer dat al drie bestaan. ’n Hewige woordewisseling het toe ontstaan. Sommige van die skrifkenners uit die Fariseërparty het opgespring en baie heftig hulle saak gestel: “Ons vind niks slegs in hierdie man nie,” het hulle geskreeu. “Miskien het ’n gees of ’n engel met hom gepraat.” Die bakleiery het só erg geword dat die offisier oor duisend man bang was dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het hy sy eenheid beveel om hom tussen hulle te gaan uithaal en terug te bring kaserne toe.