HANDELINGE 2:37-47
HANDELINGE 2:37-47 Bybel vir almal (ABA)
Toe die mense hierdie woorde hoor, was hulle hartseer en ontsteld. Hulle het vir Petrus en die ander apostels gevra: “Vriende, wat moet ons doen?” En Petrus het vir hulle gesê: “Julle moet verander en julle moet lewe soos God wil hê. Julle almal moet gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en God sal die Heilige Gees vir julle gee. Want God het dit belowe vir julle en vir julle kinders en ook vir al die mense wat nie Jode is nie. Ja, Hy belowe dit vir al die mense wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” Petrus het nog baie ander dinge gesê, hy het die mense gewaarsku en hy het ernstig met hulle gepraat. Hy het gesê: “Julle moet vir God vra om julle te red, julle moenie wees soos die wêreld se mense wat sonde doen nie.” Die mense wat besluit het om te doen wat Petrus sê, is gedoop. En God het nog omtrent 3 000 mense op daardie dag gelowiges laat word. Die gelowiges het aangehou om die dinge te doen wat die apostels vir hulle geleer het en hulle was altyd saam. Hulle het ook altyd saam geëet en gebid. Toe die ander Jode die wonderwerke en die tekens sien wat God die apostels laat doen het, het hulle almal besef dat dit God is wat dit laat gebeur. Al die gelowiges was bymekaar, en hulle goed het aan hulle almal behoort. Hulle het hulle grond en huise en goed verkoop en hulle het die geld gegee vir mense wat min gehad het. Hulle het elke dag bymekaargekom in die tempel en hulle het saam geëet in mekaar se huise. Hulle het vir mekaar kos gegee. Hulle het dit gedoen omdat hulle bly was en omdat hulle mekaar graag wou help. Hulle het God geprys, en al die mense in Jerusalem het gehou van hulle. Die Here het elke dag mense gered en so het die gelowiges meer geword.
HANDELINGE 2:37-47 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag. Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring. En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. En vrees het op elkeen gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het. En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.
HANDELINGE 2:37-47 Afrikaans 1983 (AFR83)
By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.” Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.
HANDELINGE 2:37-47 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir •Petrus en die ander •apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Want die belofte is bedoel vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep. ” Met nog baie ander woorde het hy getuig en hulle aangespoor: “Laat julle uit hierdie korrupte geslag red.” Diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop, en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense toegevoeg. Hulle het bly volhard in die leer van die •apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede. Almal is met ontsag vervul en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. Al die gelowiges was bymekaar en het alles gemeenskaplik besit. Hulle het hulle eiendom en besittings verkoop en aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het eensgesind volhard om die tempelterrein daagliks te besoek, aan huis die brood te breek en hulle maaltye met uitbundige blydskap en met opregte harte te geniet. Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.
HANDELINGE 2:37-47 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe hulle dit hoor, is hulle in hul hart getref en vir Petrus en die res van die apostels gesê: Manne en broeders, wat moet ons doen? Toe sê Petrus vir hulle: Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte is vir julle en aan julle kinders en aan almal wat ver is, selfs almal as wat die Here ons God sal roep. En met baie ander woorde het hy getuig en vermaan en gesê: Red julle uit hierdie slegte geslag. Toe is die wat sy woord met blydskap aangeneem het, gedoop, en op dieselfde dag is omtrent drieduisend siele by hulle gevoeg. En hulle het volhard in die leer van die apostels en die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. En vrees het oor elke siel gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels gedoen. En almal wat gelowig was, was saam en het alles gemeen; en hulle besittings en goed verkoop en dit aan almal verdeel, soos elkeen nodig gehad het. En hulle het elke dag eendragtig in die tempel voortgegaan en van huis tot huis brood gebreek en hulle vleis geëet met blydskap en opregtheid van hart, God loof en guns hê by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered moes word.
HANDELINGE 2:37-47 Die Boodskap (DB)
Die skare wat na Petrus gestaan en luister het, is diep deur sy woorde geraak. “Sê asseblief vir ons wat ons nou moet doen. Hoe kan ons die saak tussen ons en God regmaak?” het hulle vir die apostels gevra. “Laat staan dadelik julle sondes. Kom terug na God toe,” het Petrus geantwoord. “Laat julle ook doop in die Naam van Jesus Christus. God sal julle sondes dan vergewe. Julle sal ook die Heilige Gees ontvang. Hierdie groot hemelse Geskenk is bedoel vir elkeen van julle. En ook vir julle kinders. Ja, selfs vir al die ander mense wat op die oomblik nog ver van God af lewe. Binnekort sal hulle ook van Hom hoor en deur God nader geroep word.” Petrus het toe nog ’n hele ruk met die skare gepraat. “Gee pad uit hierdie sondige wêreld uit,” het hy vir hulle gesê. “Dit gaan julle lewe totaal verwoes. Kom na God toe. Laat Hy julle uit die kloue van die sonde verlos. Net Hy kan dit doen.” Na Petrus se woorde het ’n groot aantal mense, omtrent 3 000, tot bekering gekom. Daarna is hulle gedoop. Van toe af het hierdie nuwe gelowiges gereeld bymekaargekom om te hoor wat die apostels leer. Hulle het nou in ’n splinternuwe verhouding met God en met mekaar gestaan. Hulle het ook gereeld saamgeëet en saamgebid. Die apostels het groot wonderwerke onder hulle gedoen. Al die gelowiges het groot eerbied vir God gehad. Hulle liefde vir Hom en vir mekaar het hulle in ’n hegte eenheid saamgesnoer. Daarom was hulle bereid om selfs hulle besittings met mekaar te deel. Hulle het alles verkoop wat hulle besit het en die geld vir die armes gegee. Dag na dag het hulle ook na die tempel toe gegaan om God daar te aanbid. Hulle het ook by verskillende huise saamgeëet. Hierdie maaltye was glad nie uitspattig nie. Al die gelowiges was vol vreugde. Hulle het God heeltyd geprys omdat Hy so groot en goed is. Die gelowiges se lewenstyl het die ander mense in Jerusalem aangegryp. Almal het daaroor gepraat. Daarom het daar elke dag baie mense tot geloof in Christus gekom.
HANDELINGE 2:37-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?” Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.” Petrus het nog lank aanhou getuig en ’n ernstige beroep op sy hoorders gedoen: “Laat julle red uit hierdie afgedwaalde geslag!” Dié wat Petrus se boodskap aanvaar het, is gedoop en hulle het lede van die kerk geword. Hulle was so 3 000. Hulle het hulle volledig gewy aan die leer van die apostels, aan die versorging van mekaar, aan die gemeenskaplike maaltye, en aan gebede. Diep ontsag het oor elke persoon gekom, en die apostels het baie wonders en wondertekens laat plaasvind. Al die gelowiges het gereeld bymekaargekom, en hulle het alles wat hulle besit het, met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die maaltyd van die Here gevier, en hulle kos met jubelende blydskap en in alle opregtheid geëet. Hulle het God deurentyd geprys, en die goedgesindheid van die hele volk geniet. En die Here het elke dag mense wat verlos word, by hulle gevoeg.