HANDELINGE 2:32-36
HANDELINGE 2:32-36 Bybel vir almal (ABA)
“God het vir Hóm, vir Jesus, weer laat lewe, en ons is almal getuies daarvan. God het vir Jesus opgeneem in die hemel en Hy het gesê dat Jesus op die belangrikste plek langs Hom moet sit. Toe het die Vader vir Jesus die Heilige Gees gegee, die Vader het dit belowe. En Jesus het die Heilige Gees vir ons gegee. Dit is wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie na die hemel gegaan nie. Dawid sê self: “ Die Here het vir my Here gesê: ‘Jy moet hier langs My sit, op die belangrikste plek, want Ek sal jou vyande verneder, en Ek sal hulle voor jou laat lê sodat jy jou voete op hulle kan sit.’ “Die hele Israel moet nou weet, en dit is seker: Julle het vir Jesus gekruisig, maar God het gesê dieselfde Jesus moet die Here en die Christus wees.”
HANDELINGE 2:32-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete. Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.
HANDELINGE 2:32-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
“God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. Dawid het nie na die hemel toe opgevaar nie, en tog sê hy: “Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het. “Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”
HANDELINGE 2:32-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal getuies. Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor. Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie, maar sê self: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande 'n voetbank vir jou voete gemaak het.’ “Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.”
HANDELINGE 2:32-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Daarom, omdat Hy deur die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy dit uitgestort wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie na die hemele opgevaar nie, maar hy sê self: Die HERE het tot my Here gesê: Sit aan my regterhand, Totdat Ek jou vyande jou voetbank maak. Laat die hele huis van Israel dan verseker weet dat God daardie selfde Jesus wat julle gekruisig het, Here sowel as Christus gemaak het.
HANDELINGE 2:32-36 Die Boodskap (DB)
“Jesus het hierdie woorde van Dawid waar laat word. Dit het gebeur toe God Hom lewendig gemaak het. Ons weet dit, want ons het Jesus met ons eie oë gesien nadat Hy weer lewendig geword het. Daarna het God die heel belangrikste plek in die hemel aan Hom gegee. Toe Jesus daar aankom, het Hy die Heilige Gees by sy Vader ontvang soos God aan Hom beloof het. Daarna het Jesus die Heilige Gees na ons toe gestuur. Dit kan julle nou met julle eie oë sien en met julle eie ore hoor. “Maar nog iets oor Dawid. Ons weet hy het nie self lewendig hemel toe gegaan nie. Dawid vertel egter in een van sy psalms hoe God met die Messias praat. God het vir Hom gesê: ‘Sit hier langs My. Dit is die heel belangrikste plek in die hemel. Sit hier totdat Ek al jou vyande onder jou voete vertrap het.’ “Almal in Israel moet vandag een ding besef: hierdie Jesus wat julle aan die kruis vasgespyker het, is nou deur God as die Here en die Messias aangestel. Hy heers nou oor almal in die hemel en op die aarde. Net Hy kan ons red.”
HANDELINGE 2:32-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Hierdie woorde van Dawid handel oor Jesus: God het Hom opgewek. Ons is almal getuies hiervan. Hy is derhalwe verhoog tot die regterhand van God, en nadat Hy die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy dit uitgestort soos julle nou sien en hoor. Dawid is nie die een wat na die hemel toe opgevaar het nie, en tog sê hy: ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande heeltemal aan jou onderwerp het.’ “Die hele Israel moet dus vir seker weet: God het hierdie Jesus wat júlle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”