HANDELINGE 2:1-13
HANDELINGE 2:1-13 Bybel vir almal (ABA)
Al die gelowiges was bymekaar op die dag van die Pinksterfees. Hulle het skielik iets gehoor wat uit die hemel kom. Dit was soos 'n sterk wind wat waai. Hulle het dit gehoor oral waar hulle in die huis gesit het. Toe sien hulle iets wat lyk soos 'n klomp vuurvlamme bymekaar. Die vlamme het gelyk soos tonge, en 'n vlam het op elke gelowige gaan sit. Die Heilige Gees het in hulle almal gekom en hulle het begin praat in ander tale. Die Gees het hulle laat praat in hierdie tale. Daar was Jode in Jerusalem, hulle het in ander dele van die wêreld grootgeword en het toe in Jerusalem kom woon. Daar was Jode van elke land in die wêreld. Hierdie Jode was lief vir die Here en hulle het Hom gedien soos Hy wil hê. Toe hulle hoor dat hierdie sterk wind kom, het baie van hierdie Jode saamgekom by die huis. Hulle het nie geweet wat gebeur nie, want hulle het gehoor hoe praat die gelowiges in die tale van elkeen van hulle wat uit die ander lande van die wêreld kom. Hulle was baie verbaas en hulle het gesê: “Al hierdie mense wat so praat, kom van Galilea. Elkeen van ons hoor sy eie taal wanneer hulle praat. Hoe gebeur dit? Want ons is Jode uit verskillende volke: Perse, Mediërs, Elamiete, mense wat woon in Mesopotamië, Judea, Kappadosië, Pontus, Asië, Frigië, Pamfilië, Egipte en die dele van Libië naby Sirene, en mense wat woon in Rome, ook Jode en heidene wat die Jode se godsdiens aanvaar het, Kretensers en Arabiere. Ons hoor hoe praat hulle in ons eie tale oor die groot dinge wat God gedoen het.” Hierdie Jode was almal verbaas en deurmekaar. Hulle het vir mekaar gesê: “Wat kan dit beteken?” Maar ander mense het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”
HANDELINGE 2:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galiléërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, Frígië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere — ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek. En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees? Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn.
HANDELINGE 2:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen. Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. Toe die mense die geluid hoor, het 'n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.” Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?” Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”
HANDELINGE 2:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Onverwags het daar uit die hemel 'n geluid soos dié van 'n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek. Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, Jode en proseliete, mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.” Almal was verstom en verward, en het mekaar gevra: “Wat beteken dit tog?” Ander weer het spottend gesê: “Hulle is vol soetwyn.”
HANDELINGE 2:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die dag van Pinkster aangebreek het, was hulle almal eendragtig op een plek. En skielik het daar 'n geluid uit die hemel gekom soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. En daar het aan hulle verskyn gesplete tonge soos van vuur, en dit het op elkeen van hulle gesit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. En daar het Jode in Jerusalem gewoon, vroom manne, uit elke nasie onder die hemel. En toe dit in die buiteland geraas het, het die skare bymekaargekom en hulle was beskaamd, omdat elkeen hulle in sy eie taal hoor praat het. En hulle was almal verbaas en verwonderd en het vir mekaar gesê: Kyk, is hulle almal wat spreek nie Galileërs nie? En hoe hoor ons elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? Parthiërs en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotamië en in Judéa en Kappadosië, in Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, in Egipte en in die streke van Libië rondom Cirene, en vreemdelinge van Rome, Jode en proseliete, Kretes en Arabiere, ons hoor hulle die wonderlike werke van God in ons tong spreek. En hulle was almal verbaas en twyfel en sê die een vir die ander: Wat beteken dit? Ander het gespot en gesê: Hierdie manne is vol nuwe wyn.
HANDELINGE 2:1-13 Die Boodskap (DB)
Toe pinksterdag aanbreek, was al die gelowiges in die kamer waar hulle gewoonlik bymekaargekom het. Skielik het hulle ’n geweldige dreuning bokant hulle in die lug gehoor. Dit het soos ’n reusestormwind geklink. Dit het die hele gebou waarin hulle was, gevul. Toe sien hulle iets wat soos vuurvlamme lyk oor elkeen van hulle kom. Almal is toe met die Heilige Gees volgemaak. Hulle het dadelik in ander tale begin praat. Die Gees het hulle in staat gestel om dit te doen. Gedurende die feestyd was daar baie Joodse pelgrims van oor die hele wêreld in Jerusalem. Hulle het ook die geweldige geluid gehoor en dadelik na die gebou toe gehardloop waar die gelowiges bymekaar was. Hulle was stomgeslaan toe hulle daar aankom en hoor hoe die gelowiges in verskillende tale praat. “Hoe kan dit wees?” het hulle vir mekaar gevra. “Hierdie mense kom dan daar van Galilea af. Hoe kry hulle dit reg om nou in ons eie taal met ons te praat? Hier tussen ons is mense van oral in die wêreld. Kyk net, hier is Perse, Mediërs, Elamiete en ook mense wat in Mesopotamië bly. Ons merk ook mense op uit Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en uit dele van Libië. Ja, daar staan selfs ’n klompie uit Rome. Behalwe al die Jode van oor die hele wêreld staan hier ook mense uit ander volke wat later die Joodse geloof aangeneem het. Daar is inwoners van die eiland Kreta en ook ’n groep Arabiere. En tog hoor ons almal nou in ons eie taal hoe dié mense met ons praat oor al die groot dinge wat God doen.” Die skare kon nie mooi uitmaak wat aan die gebeur was nie. Hulle het verbaas vir mekaar gevra: “Wat gaan aan?” ’n Paar spotters het gesê: “Hierdie spul mense is dronk. Hulle het heeltemal te veel wyn gedrink.”
HANDELINGE 2:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op Pinksterdag, sewe weke na Jesus se opstanding, was al die gelowiges op een plek saam. Skielik was daar in die lug bokant hulle ’n geluid soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was. Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme het toe tussen hulle verskyn en op elkeen van hulle gaan sit. Almal is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat. Daar het toegewyde Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. Die geluid van die stormwind en die stemme het ’n groot skare daar laat saamkom. Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan. “Hoe is dit moontlik?” het hulle uitgeroep. “Almal wat hier praat, is Galileërs, en tog hoor ons hulle in ons moedertaal praat! Hier is ons – Perse, Mediërs en Elamiete, mense wat in Mesopotamië bly, in Judea, Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië, Pamfilië, Egipte en die dele van Libië na Sirene se kant toe, besoekers uit Rome – Jode sowel as proseliete, Kretensers en Arabiere. Ons almal hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het!” Hulle was almal uit die veld geslaan. “Wat kan dit tog beteken?” het party van hulle mekaar gevra. Maar ander het gespot. “Hulle is maar net dronk!” het hulle gesê.