HANDELINGE 18:1-22
HANDELINGE 18:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN daarna het Paulus uit Athéne vertrek en in Korinthe gekom. En hy het 'n Jood gevind met die naam van Áquila, afkomstig uit Pontus, wat onlangs met sy vrou Priscílla van Italië gekom het, omdat Claudius beveel het dat al die Jode uit Rome moes vertrek. Na hulle toe het hy gegaan; en omdat hy van dieselfde ambag was, het hy by hulle gebly en gewerk, want hulle was tentmakers van ambag. En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig. En toe Silas en Timótheüs van Macedónië afgekom het, was Paulus ywerig besig om aan die Jode kragtig te betuig dat Jesus die Christus is. Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê: Julle bloed is op julle hoof. Ek is rein. Van nou af sal ek na die heidene gaan. En hy het daarvandaan weggegaan en in die huis gekom van iemand met die naam van Justus, wat 'n godvresende man was, wie se huis naasaan die sinagoge gestaan het. En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop. En die Here het deur 'n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad. En hy het daar gebly 'n jaar en ses maande lank en die woord van God onder hulle geleer. En toe Gállio goewerneur van Acháje was, het die Jode eenparig teen Paulus opgestaan en hom voor die regterstoel gebring en gesê: Hierdie man haal die mense oor om God op onwettige wyse te vereer. En toe Paulus sy mond wou oopmaak, sê Gállio vir die Jode: As daar nou enige oortreding of kwaadwillige skelmstuk was, dan sou ek rede hê om julle te verdra, o Jode; maar as dit 'n geskil is oor 'n woord en oor name en oor 'n wet wat vir julle geld, moet julle toesien, want daaroor wil ek geen regter wees nie. En hy het hulle van die regterstoel weggedryf. En al die Grieke het Sósthenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom voor die regterstoel geslaan; en Gállio het hom aan niks van hierdie dinge gesteur nie. En nadat Paulus nog verskeie dae daar gebly het, het hy van die broeders afskeid geneem en na Sírië uitgeseil, en saam met hom Priscílla en Áquila. En in Kenchréë het hy sy hoof geskeer, want hy het 'n gelofte gedoen. En hy het in Éfese aangekom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek. En toe hulle versoek dat hy langer by hulle moes vertoef, het hy nie toegestem nie, maar van hulle afskeid geneem en gesê: Ek moet sekerlik die komende fees in Jerusalem vier, maar ek sal weer na julle terugkom as God wil. En hy het van Éfese afgevaar. En toe hy in Cesaréa gekom het en opgegaan en die gemeente gegroet het, het hy afgereis na Antiochíë.
HANDELINGE 18:1-22 Bybel vir almal (ABA)
Nadat Paulus in die vergadering van die Areopagus gepraat het, het hy weggegaan uit die stad Atene en hy het in die stad Korinte gekom. Paulus het daar 'n Jood ontmoet, sy naam was Akwila en sy familie het van die provinsie Pontus gekom. Hy en sy vrou Priscilla het kort voor daardie tyd van Italië daarnatoe gekom omdat keiser Claudius gesê het dat al die Jode moet weggaan uit die stad Rome. Paulus het na hulle toe gegaan. Hulle het dieselfde soort werk gedoen soos Paulus, en daarom het hy by hulle gebly en hy het daar gewerk, want hulle werk was ook om tente te maak. En Paulus het elke Sabbatdag in die sinagoge met die mense gepraat. Paulus het aangehou om te praat en hy het probeer om die Jode en die Grieke ook te laat glo wat hy glo. Nadat Silas en Timoteus van die provinsie Masedonië gekom het, het Paulus opgehou om tente te maak, hy het elke dag net die boodskap van Jesus vir die mense gebring. Hy het vir die Jode gesê dat dit waar is dat Jesus die Christus is. Maar die Jode was téén Paulus en hulle het slegte dinge van hom gesê. Toe het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “Julle sal verlore gaan, maar dit is nie my skuld nie, júlle is skuldig. Van nou af sal ek na die heidene toe gaan.” Toe het Paulus uit die sinagoge gegaan en hy het gekom in die huis van iemand wat vir God gerespekteer het. Sy naam was Titius Justus en sy huis was langs die sinagoge. Krispus, die leier van die sinagoge, en al die mense in sy huis, het toe in die Here begin glo. Baie mense van die stad Korinte het ook in die Here begin glo nadat hulle van Hom gehoor het, en hulle is gedoop. In die nag het die Here vir Paulus iets gewys, dit was soos in 'n droom. Die Here het toe vir hom gesê: “Jy moenie bang wees nie. Nee, jy moet aanhou om vir die mense te vertel van My en jy moenie stilbly nie, want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval nie en niemand sal slegte dinge doen aan jou nie, want in hierdie stad is daar baie mense wat aan My behoort.” Paulus het toe 'n jaar en ses maande lank by die mense van Korinte gebly en hy het vir hulle geleer wat God se boodskap is. Toe Gallio goewerneur van die provinsie Agaje was, het die Jode almal saam besluit om Paulus aan te val en hom na die hof te vat. Die Jode het gesê: “Hierdie man, Paulus, probeer hard om vir die mense te leer dat hulle vir God moet dien op 'n manier wat teen die Wette van Moses is.” Toe Paulus wou begin praat, het Gallio vir die Jode gesê: “Jode, ek praat met julle. Ek sou geduldig gewees het met julle as hierdie man 'n verkeerde of 'n baie slegte ding gedoen het. Maar julle stry met mekaar oor woorde en name en oor julle eie wette, daarom moet julle self daaroor besluit. Ék wil nie 'n regter wees om oor hierdie dinge te besluit nie.” Gallio het hulle toe uit die hof gejaag. Hulle almal het vir Sostenes, die leier van die sinagoge, gegryp en hulle het hom daar voor die hof begin slaan. Maar Gallio was nie bekommerd oor hierdie dinge nie. Paulus het 'n lang tyd daar by die gelowiges in Korinte gebly. Toe het hy hulle gegroet en hy het met 'n skip weggeseil na die provinsie Sirië. Hy het eers in die hawestad Kenchreë sy hare laat afskeer. Hy het dit gedoen omdat hy 'n gelofte gemaak het. Priscilla en Akwila het ook saam met hom weggegaan. Toe het hulle in Efese gekom, dit is die stad waar Paulus vir Akwila en Priscilla laat bly het toe hy later daar weggegaan het. Paulus het eers na die sinagoge gegaan en hy het daar met die Jode gepraat. Toe die Jode hom vra om langer daar te bly, wou hy dit nie doen nie. Hy het hulle gegroet en gesê: “As God wil hê dit moet gebeur, dan sal ek weer na julle toe kom.” Toe het hy met 'n skip weggeseil van Efese. Nadat Paulus in die hawestad Sesarea aangekom het, het hy na Jerusalem gegaan en hy het die gemeente daar gegroet. Toe het hy na die stad Antiogië gegaan
HANDELINGE 18:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hierna het Paulus Atene verlaat en na Korinte toe gegaan. Daar het hy vir Akwila, 'n Jood wat in Pontus gebore is, ontmoet. Hy het kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, uit Italië daar aangekom, nadat keiser Claudius beveel het dat al die Jode Rome moet verlaat. Paulus het hulle gaan opsoek, en omdat hulle net soos hy tentmakers van beroep was, het hy by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk. Maar elke sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en Jode en Grieke probeer oortuig. Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af gekom het, het Paulus al sy tyd bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Christus is. Maar toe hulle hulle aanhou verset en hom beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie. Van nou af gaan werk ek onder mense wat nie Jode is nie.” Toe het hy die sinagoge verlaat en na die huis toe gegaan van 'n godvresende man met die naam Titius Justus. Sy huis was net langs die sinagoge. Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huisgesin het tot geloof in die Here gekom. Ook baie ander mense in Korinte wat die boodskap gehoor het, het gelowig geword en is gedoop. Een nag het die Here in 'n gesig vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.” Paulus het 'n jaar en ses maande lank daar gebly en die mense onderrig in die woord van God. Nadat Gallio goewerneur van Agaje geword het, het die Jode egter soos een man teen Paulus in opstand gekom en hom voor die hof gebring. “Hierdie man,” het hulle gesê, “probeer die mense oorhaal om God op 'n manier te vereer wat in stryd is met ons wet.” Paulus wou praat, maar toe sê Gallio vir die Jode: “As dit oor 'n onreg of 'n ernstige misdaad gegaan het, was dit my plig om geduldig na julle Jode te luister. Maar aangesien dit 'n geredekawel is oor woorde en name en julle eie wet, moet julle self daaroor beslis. In sulke sake wil ek nie regter wees nie.” Daarna het hy hulle uit die hof uitgejaag. Hulle het toe almal vir Sostenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom net daar voor die regbank aangerand. Gallio het hom egter niks daaraan gesteur nie. Nadat Paulus nog 'n tyd lank daar by die gelowiges in Korinte gebly het, het hy van hulle afskeid geneem en saam met Priscilla en Akwila na Sirië toe vertrek. Voordat hy in Kenchreë aan boord gegaan het, het hy sy hare laat afsny, omdat 'n gelofte wat hy afgelê het, vervul was. By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote verlaat en in die sinagoge ingegaan, waar hy met die Jode geredeneer het. Hulle het hom gevra om langer te bly, maar hy wou nie. Hy het van hulle afskeid geneem en gesê: “As God wil, kom ek na julle toe terug.” Hy het van Efese af weggegaan en in Sesarea aangekom. Daarvandaan het hy Jerusalem toe gegaan en die gemeente gegroet, en toe na Antiogië toe vertrek
HANDELINGE 18:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarna het Paulus Athene verlaat en na Korinthe gegaan. Daar het hy 'n Jood met die naam Akwila aangetref, 'n boorling van Pontus, wat kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, daar aangekom het uit Italië, omdat Claudius beveel het dat alle Jode Rome moes verlaat. Paulus het na hulle gegaan, en omdat hy dieselfde ambag as hulle beoefen het – hulle was immers tentmakers van beroep – het hy by hulle gebly en saam met hulle gewerk. Elke Sabbat het hy in die •sinagoge geredeneer en probeer om Jode sowel as Grieke te oortuig. En toe Silas en Timoteus van Macedonië af daar aangekom het, het Paulus hom op die verkondiging toegespits en teenoor die Jode getuig dat Jesus die Christus is. Maar omdat hulle aangehou het om hom teen te staan en om lasterlike dinge te sê, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “Julle bloed is op julle eie kop – sonder skuld daaraan sal ek van nou af na die heidene gaan.” Hy is toe daarvandaan weg, en het na die huis gegaan van 'n man met die naam Titius Justus, wat God vereer het; sy huis was langs die sinagoge. Krispus, die leier van die sinagoge, het saam met sy hele huis tot geloof in die Here gekom. Ook baie van die Korinthiërs wat hom gehoor het, het gelowig geword en is gedoop. Die Here het een nag deur 'n visioen vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie, maar hou aan praat en moenie stilbly nie! Ek is immers met jou en niemand sal 'n vinger op jou lê om jou kwaad aan te doen nie, want in hierdie stad is daar baie mense wat aan My behoort.” Paulus het 'n jaar en ses maande lank daar gebly en hulle in die woord van God onderrig. Toe Gallio die prokonsul van Agaje word, het die Jode egter eenparig teen Paulus opgetree en hom voor die regbank gebring en gesê: “Hierdie man oorreed die mense om God so te vereer dat dit in stryd met die wet is.” Net toe Paulus wou begin praat, het Gallio vir die Jode gesê: “O, Jode, as dit oor 'n onreg of ernstige misdaad gegaan het, sou ek met rede julle aanklag toegelaat het; maar aangesien dit 'n geskil is oor woorde en name en julle eie wet, moet julle maar self toesien. Ek wil nie daaroor regter wees nie.” En hy het hulle van die regbank weggejaag. Toe het almal vir Sostenes, die leier van die sinagoge, gegryp en hom voor die regbank geslaan. Gallio het hom egter aan niks hiervan gesteur nie. Nadat Paulus nog 'n geruime tyd by die broers vertoef het, het hy afskeid geneem en per skip na Sirië vertrek, vergesel van Priscilla en Akwila. In Kenchreë het hy sy kop laat kaal skeer, omdat hy 'n gelofte afgelê het. Hulle het in Efese aangekom, waar hy sy reisgenote agtergelaat het. Self het hy egter die •sinagoge binnegegaan en met die Jode geredeneer. Alhoewel hulle hom versoek het om langer te bly, het hy nie ingestem nie, maar afskeid geneem en gesê: “Ek sal, as dit God se wil is, weer na julle kom.” Hy het toe van Efese af weggevaar. Nadat hy in Caesarea geland het, het hy die •gemeente gaan groet en toe na Antiogië vertrek.
HANDELINGE 18:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ná hierdie dinge het Paulus van Atene af weggegaan en in Korinthe gekom; En 'n sekere Jood met die naam van Aquila gevind, gebore in Pontus, wat onlangs van Italië gekom het, saam met sy vrou Priscilla; (omdat Claudius al die Jode beveel het om van Rome af te vertrek) en na hulle gekom. En omdat hy van dieselfde ambag was, het hy by hulle gebly en gewerk, want deur hulle beroep was hulle tentmakers. En hy het elke sabbat in die sinagoge geredeneer en die Jode en die Grieke oorgehaal. En toe Silas en Timoteus van Masedonië af gekom het, was Paulus in die gees gedruk en het aan die Jode getuig dat Jesus Christus is. En toe hulle teëgestaan het en gelaster het, het hy sy klere geskud en vir hulle gesê: Julle bloed is op julle eie hoofde! Ek is rein: van nou af sal ek na die heidene gaan. En hy het daarvandaan weggegaan en in die huis van 'n sekere man ingegaan, met die naam van Justus, een wat God aanbid het, wie se huis hard aangesluit het by die sinagoge. En Crispus, die owerste van die sinagoge, het met sy hele huis in die Here geglo; en baie van die Korinthiërs wat dit hoor, het gelowig geword en is gedoop. Toe het die Here in die nag deur 'n gesig met Paulus gespreek: Wees nie bevrees nie, maar spreek en swyg nie. Want Ek is met jou, en niemand sal jou aanval om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad. En hy het 'n jaar en ses maande daar gebly en die woord van God onder hulle geleer. En toe Gallio die adjunk van Achaje was, het die Jode eendragtig teen Paulus in opstand gekom en hom na die regterstoel gebring. En gesê: Hierdie man oorreed mense om God teen die wet te aanbid. En toe Paulus nou sy mond wou oopmaak, sê Gallio vir die Jode: As dit 'n saak van verkeerde of goddelose skande was, o Jode, dan moet ek dit met julle verdra. Maar as dit 'n kwessie is van woorde en name en van julle wet, let daarop; want ek sal geen regter oor sulke sake wees nie. En hy het hulle van die regterstoel af weggejaag. Toe het al die Grieke Sosthenes, die owerste van die sinagoge, geneem en hom voor die regterstoel geslaan. En Gallio het vir niks van daardie dinge omgegee nie. En Paulus het daarna nog 'n geruime tyd daar gebly, en dan het hy van die broers afskeid geneem en daarvandaan na Sirië gevaar, en saam met hom Priscilla en Aquila; hy het sy hoof in Kenchrea geskeer, want hy het 'n gelofte gehad. En hy het in Éfese gekom en hulle daar gelos; maar self het hy in die sinagoge ingegaan en met die Jode geredeneer. Toe hulle begeer het dat hy langer by hulle moes vertoef, het hy nie ingestem nie; Maar hulle het afskeid geneem en gesê: Ek moet in elk geval hierdie fees vier wat in Jerusalem kom, maar ek sal weer na julle terugkeer as God wil. En hy het van Éfese afgevaar. En nadat hy in Cesaréa geland het en opgegaan en die gemeente gegroet het, het hy afgegaan na Antiogië.
HANDELINGE 18:1-22 Die Boodskap (DB)
Kort daarna het Paulus uit Atene vertrek. Die volgende plek op sy reisplan was die stad Korinte. Daar het hy ’n Jood met die naam Akwila teëgekom. Akwila is in Pontus gebore. Hy en sy vrou Priscilla het kort tevore uit Italië padgegee. Dit was net nadat keiser Claudius beveel het dat alle Jode uit Rome weggejaag moes word. Paulus het by hulle in Korinte gaan bly.Al drie van hulle was tentmakers van beroep. Paulus het elke sabbat na die sinagoge gegaan. Daar het hy met die Jode, en ook met ’n klompie Grieke wat die Joodse geloof aanvaar het, oor Jesus gaan praat. Party van hulle het toe tot bekering gekom. Intussen het Silas en Timoteus uit Masedonië na Korinte gekom. Hulle het Paulus raak- geloop waar hy hard besig was om die Jode te probeer oortuig dat Jesus die Messias is. Die meeste van hulle het Paulus se boodskap verwerp. Teleurgesteld het hy toe opgestaan en daar voor almal die stof uit sy klere geskud. “As julle verlore gaan, is dit net julle eie skuld. Julle bloed is nou op julle eie koppe,” het hy bygevoeg. “Ek het gedoen wat God van my verwag. Ek het vir julle die volle waarheid oor Hom vertel. Nou gaan ek na die heidene toe om met hulle oor Jesus te praat.” Met dié woorde het Paulus omgedraai en uit die sinagoge gestap. Daarna het hy gaan preek in Justus se huis daar reg langs die sinagoge. Justus het vroeër al die Joodse godsdiens aanvaar. Die hoof van die sinagoge in Korinte se naam was Krispus. Toe hy hoor wat Paulus oor Jesus sê, het hy tot bekering gekom. Al die mense in sy huis het saam met hom in Jesus begin glo. Baie ander inwoners van die stad het ook gelowig geword toe hulle Paulus hoor preek. Hulle almal is kort daarna gedoop. Een nag het die Here aan Paulus verskyn en vir hom gesê: “Moenie vir die mense bang wees nie. Hou aan om met hulle oor My te praat. Jy mag nooit stilbly oor die goeie nuus nie. Ek is by jou. Niemand hier in Korinte sal dit waag om jou te slaan of jou in die tronk te gooi nie. Hier is baie mense wat in My glo.” Daarna het Paulus nog vir ’n jaar en ses maande in die stad gebly. Hy het elke kans wat hy gekry het, aangegryp om vir die inwoners van God te vertel. Hy het hulle ook geleer om te doen wat God van hulle verwag. In daardie tyd is Gallio aangestel as die nuwe goewerneur van die Romeinse provinsie Agaje. Die Jode in Korinte wat nie in Jesus geglo het nie, het toe op ’n dag besluit om Paulus by hom te gaan aankla. Hulle het vir Gallio gaan vertel dat Paulus die inwoners van die stad wysmaak dat hulle in God kan glo sonder dat hulle die voorskrifte in die wet van Moses hoef te gehoorsaam. Paulus was ook by toe die Jode hom daar voor Gallio aangekla het. Hy wou nog iets sê om homself te verdedig, maar Gallio het hom nie eens ’n kans gegee nie. “Kyk, as hierdie man iets verkeerds gedoen het, of as hy ’n misdadiger was, sou ek sekerlik na julle geluister het,” het Gallio vir die Jode gesê. “Maar nou mors julle my tyd met julle kleinlike godsdienstige geskille. Ek stel regtig nie belang in wie almal julle godsdienstige wet moet gehoorsaam nie. Julle moet dié probleme maar self oplos.” Daarna het Gallio hulle almal uit sy ampswoning weggejaag. Intussen het die mense vir Sostenes, een van die hoofde van die sinagoge, ook na Gallio toe gebring. Daar het hulle hom rondgestamp en allerhande beskuldigings teen hom gemaak. Gallio wou egter nie in hulle godsdienstige geskille inmeng nie. Paulus het daarna nog ’n ruk lank met sy werk in Korinte voortgegaan. Op ’n dag het hy besluit om ’n paar ander gemeentes te gaan besoek. Hy het van die gelowiges in Korinte afskeid geneem en met ’n skip na Sirië vertrek. Priscilla en Akwila het saam met hom gegaan. Toe Paulus in Kenchreë aankom, het hy al die hare op sy kop afgeskeer. Dit was die bewys dat hy ’n belofte nagekom het wat hy vroeër aan die Here gemaak het. Daarna is Paulus na Efese toe. Akwila en Priscilla het besluit om in Efese agter te bly. Met sy verblyf in die stad het Paulus ’n vinnige besoek by die plaaslike sinagoge afgelê. Daar het hy met die Jode oor Jesus gaan praat. Die mense was so aangegryp deur wat hy gesê het dat hulle wou hê hy moes nog ’n hele ruk by hulle bly. Paulus het egter nie daarvoor kans gesien nie. “As God wil, kom ek binnekort weer na julle toe,” het hy vir hulle gesê. Hy het daarna met ’n skip uit Efese weggevaar en in Sesarea aangekom.Daar het hy al die gemeentelede gaan groet en toe na Antiogië vertrek. Paulus het daar oorgebly.
HANDELINGE 18:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Paulus het Atene verlaat en Korinte toe gegaan. Daar het hy Akwila ontmoet, ’n Jood wat in Pontus gebore is. Hy het kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, uit Italië daar aangekom. Hulle is uit Italië weg omdat keiser Claudius beveel het dat alle Jode Rome moes verlaat. Paulus het hulle gaan opsoek. Hy het by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk, want hulle was tentmakers net soos hy. Elke Sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en sowel Jode as Grieke probeer oortuig. Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af aangekom het, het Paulus al sy aandag bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Messias is. Toe hierdie Jode hom egter aanhou teenstaan en beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “Julle bloed is op julle eie kop. Ek is onskuldig. Van nou af spits ek my toe op die nie-Jode.” Hy is toe daar uit, en het na die huis reg langs die sinagoge gegaan. Dit het behoort aan Titius Justus, ’n nie-Jood wat die ware God aanbid het. Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huishouding het tot geloof in die Here gekom. Ook baie Korintiërs het in reaksie op die boodskap gelowig geword en is gedoop. Een nag het die Here deur ’n visioen vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie begin stilbly nie, want Ék is by jou. Niemand sal ’n hand op jou lê om iets slegs aan jou te doen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.” Paulus het die stad vir ’n jaar en ses maande lank sy basis gemaak en die mense onderrig in die woord van God. Toe Gallio egter goewerneur van Agaje geword het, het sommige Jode ’n verenigde front teen Paulus gevorm en hom voor die hof gedaag. Hulle het Paulus daarvan aangekla dat hy die mense “probeer oorhaal om God op maniere te vereer wat teen die wet is”. Net toe Paulus homself wou begin verdedig, sê Gallio vir die Jode: “As dit oor ’n onreg of ’n ernstige misdaad gegaan het, Jode, sou ek julle klag aangehoor het. Maar aangesien dit ’n twis is oor ’n boodskap en name en oor julle eie wet, moet julle self daaraan aandag gee. In sulke sake wil ek nie regter wees nie.” Hy het die hof toe verdaag. Die klaers het toe almal vir Sostenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom net daar voor die regbank aangerand. Gallio het hom egter aan niks hiervan gesteur nie. Paulus het nog etlike dae in Korinte gebly, en toe van die gelowiges afskeid geneem. Hy het Sirië toe gevaar, en Priscilla en Akwila is saam met hom. (In Kengreë het hy sy hare laat skeer omdat hy ’n gelofte gedoen het.) By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote by die hawe gelos en self die sinagoge besoek. Daar het hy met die Jode geredeneer. Hulle het hom gevra om langer te bly, maar hy wou nie. Toe hy vertrek, het hy gesê: “Ek kom na julle toe terug, as God wil.” Hy het toe van Efese af weggevaar en in Sesarea aan land gegaan. Daarvandaan het hy opgegaan en die gemeente in Jerusalem gaan groet, en toe Antiogië toe vertrek.