HANDELINGE 17:27-29
HANDELINGE 17:27-29 Bybel vir almal (ABA)
God het dit gedoen sodat die mense vir Hom sal probeer soek soos mense wat rondvoel in die donker om Hom te probeer kry. Maar Hy is nie ver van elkeen van ons nie. “Want “ God laat ons lewe, Hy laat ons doen wat ons doen, Hy laat ons aanhou lewe. “Party van julle skrywers het ook gesê: “ Ook ons is sy nageslag. “Omdat ons die nageslag van God is, moet ons nie dink dat God lyk soos 'n beeld van goud of silwer of klip nie. Mense dink God lyk so, en dan maak hulle so 'n beeld.
HANDELINGE 17:27-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag. As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.
HANDELINGE 17:27-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’ Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding.
HANDELINGE 17:27-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
sodat hulle God kon soek, en miskien na Hom sou uitreik en Hom sou vind, aangesien Hy nie ver van een van ons af is nie. Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het, “ ‘Ons is ook van sy geslag.’ “Aangesien ons dan van God se geslag is, moet ons nie dink dat die goddelike wese soos goud of silwer of klip is nie – 'n beeld gevorm deur die vaardigheid en ingewing van 'n mens.
HANDELINGE 17:27-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
dat hulle die Here sou soek, as hulle Hom miskien kon aanvoel en Hom vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons af nie. Want in Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons; soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy nageslag. Aangesien ons dan die nageslag van God is, behoort ons nie te dink dat die Godheid soos goud of silwer of klip is wat deur kuns en mens se plan gegraveer is nie.
HANDELINGE 17:27-29 Die Boodskap (DB)
God wil hê dat al die volke op die aarde Hom moet dien. Hy wil hê dat ons almal voor Hom moet buig. Gelukkig is God naby aan ons almal.” “Omdat God so baie vir ons omgee, sorg Hy dat ons almal elke dag kan leef en rondbeweeg. Ons bestaan slegs omdat Hy dit so wil. Een van julle digters het dit mooi opgesom toe hy gesê het: ‘Ons is deur God gemaak. Ons behoort aan Hom.’ “As dit dan waar is dat ons almal aan God behoort en dat ons van Hom af kom, is dit mos dom om te dink dat iemand ’n beeld van Hom kan maak. Dit is blote menslike vindingrykheid om afgodsbeelde te maak.
HANDELINGE 17:27-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“God se doel met die nasies was om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Nie dat Hy ver van enigeen van ons af is nie. Dis tog juis deur Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan. Soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons is sy nageslag.’ Ons moet dus nie aan God dink in terme van beelde van goud, silwer of klip nie. Ons is dan self sy nageslag. Sulke beelde is bloot skeppings van mense se vaardigheid en verbeelding.