HANDELINGE 16:22-34
HANDELINGE 16:22-34 Bybel vir almal (ABA)
Baie mense het toe saam met die eienaars van die slavin vir Paulus en Silas aangeval. Die Romeinse regeerders het Paulus en Silas se klere van hulle laat afskeur en hulle het gesê dat die soldate hulle met stokke moet slaan. Nadat die soldate hulle baie geslaan het, het hulle vir Paulus en Silas in die tronk gegooi en die soldate het vir die wag gesê dat hy hulle baie goed moet oppas. Die wag het toe vir Paulus en Silas in die binneste deel van die tronk gegooi en hy het hulle voete in 'n blok gesit. In die middel van die nag was Paulus en Silas besig om te bid en om liedere te sing om God te prys. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik was daar 'n groot aardbewing en die fondamente van die tronk het gebewe. Dadelik het al die deure van die tronk oopgegaan en almal se kettings het afgeval. Toe die wag wakker word en sien dat die deure van die tronk oop is, het hy sy swaard uitgetrek. Hy wou homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes almal weggevlug het. Maar Paulus het baie hard vir hom geskree: “Moenie jouself doodmaak nie, ons is nog almal hier.” Toe het die wag gevra dat iemand 'n lig moet bring en hy het in die binneste deel van die tronk ingehardloop. Hy het gebewe en hy het voor Paulus en Silas se voete op die grond geval. Nadat hy hulle buitetoe geneem het, het hy gesê: “Menere, wat moet ek doen sodat God my kan red?” Hulle sê toe vir hom: “Jy moet glo in die Here Jesus en dan sal God jou red, vir jou en jou huisgesin.” En Paulus en Silas het vir die wag en al die mense in sy huisgesin vertel van die boodskap van die Here. Die wag het toe vir hulle laat in die nag saamgeneem en hy het hulle seerplekke gewas. En Paulus het hom en al die mense in sy huisgesin dadelik gedoop. Die wag het hulle toe na sy huis gebring en hy het vir hulle kos gegee om te eet. Hy en almal in sy huisgesin was baie bly omdat hulle nou in God begin glo het.
HANDELINGE 16:22-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry. Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar 'n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.” Toe het die bewaarder 'n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle 'n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.
HANDELINGE 16:22-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regeerders skeur hulle klere uit en bevel om hulle te slaan. En nadat hulle baie slae op hulle gelê het, het hulle hulle in die gevangenis gegooi en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle veilig te bewaar. Wat so 'n opdrag ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete vasgemaak het in die stokke. En middernag het Paulus en Silas gebid en lofsange tot eer van God gesing, en die gevangenes het dit gehoor. En skielik was daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het, en dadelik het al die deure oopgegaan, en elkeen se bande is losgemaak. En toe die bewaarder van die gevangenis uit sy slaap wakker word en die gevangenis se deure sien oopgaan, het hy sy swaard uitgetrek en sou homself om die lewe gebring het, as hy gedink het dat die gevangenes gevlug het. Maar Paulus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Doen jouself geen kwaad nie, want ons is almal hier. Toe het hy 'n lig geroep en ingespring en bewend gekom en voor Paulus en Silas neergeval. En hy het hulle uitgebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? En hulle sê: Glo in die Here Jesus Christus, en jy sal gered word, en jou huisgesin. En hulle het die woord van die Here aan hom gespreek en aan almal wat in sy huis was. En hy het hulle in dieselfde uur van die nag geneem en hulle wonde gewas; en is dadelik gedoop, hy en al syne. En nadat hy hulle in sy huis ingebring het, het hy hulle voedsel voorgesit en hom verheug deurdat hy met sy hele huis in God geglo het.
HANDELINGE 16:22-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regters het hulle klere laat afskeur en bevel gegee om hulle met stokke te slaan. En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak. Hy het toe, omdat hy so 'n bevel ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete in die blok vasgemaak. En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister. En skielik kom daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak. En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy 'n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het. Maar Paulus het met 'n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier. En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer. En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was. En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense. Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle 'n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.
HANDELINGE 16:22-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die skare het toe ook teen hulle gedraai, en die stadsbestuurders het hulle klere laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan moet word. Nadat hulle met baie houe geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en is die tronkbewaarder opdrag gegee om hulle baie goed te bewaak. In die uitvoering van hierdie opdrag het hy hulle in die binneste deel van die tronk gegooi en hulle voete in die blok vasgeklem. Om middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing, en die gevangenes het na hulle geluister. Skielik was daar 'n hewige aardbewing, sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure het onmiddellik oopgegaan, en almal se boeie het losgegaan. Die tronkbewaarder het wakker geskrik, en toe hy sien dat die tronk se deure oop was, het hy sy swaard getrek en wou homself doodmaak, omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het. Maar Paulus het hard uitgeroep: “Moenie jouself leed aandoen nie, want ons is almal hier!” Die bewaarder het vir lig gevra, ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle na buite gelei en gesê: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?” En hulle het geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy en jou hele huishouding sal verlos word.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en almal in sy huis verkondig. En hy het hulle op daardie uur van die nag saamgeneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is onmiddellik gedoop. Hy het hulle na sy huis geneem en 'n ete voorgesit. Hy en sy hele huishouding was jubelend, omdat hulle tot geloof in God gekom het.
HANDELINGE 16:22-34 Die Boodskap (DB)
Die skare was teen daardie tyd ook al baie omgekrap oor dit wat Paulus en Silas verkondig het. Die hooflanddroste sê toe vir die polisiemanne dat Paulus en Silas se klere daar op die plek van hulle afgeskeur moes word en dat hulle elkeen ’n behoorlike drag slae moes kry. Nadat Paulus en Silas pimpel en pers geslaan is, is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om hulle behoorlik op te pas. Hy het hulle in die sel reg in die middel van die tronk opgesluit. Boonop het hy swaar boeie om hulle voete vasgemaak. Teen middernag het Paulus en Silas tot God begin bid. Hulle het ook lofliedere tot sy eer gesing. Die ander gevangenes was verstom hieroor. Doodstil het almal na hulle geluister. Toe, uit die bloute, het ’n groot aardbewing die tronk geruk. Dit was so erg dat die seldeure oopgegaan en al die boeie van die gevangenes afgeval het. Die hoof van die tronk het ook wakker geword van die aardskudding. Toe hy sien dat al die seldeure oopstaan, het hy gedink dat die gevangenes ontsnap het. Dadelik het hy sy swaard uitgepluk om homself dood te maak. Maar Paulus het dit gesien en hard vir hom geskree: “Stop! Moenie dit doen nie! Ons almal is nog hier in die tronk.” Dadelik het die hoof van die tronk ’n fakkel by een van die wagte gevat en binnetoe gehardloop. Toe hy by Paulus en Silas kom, het hy bang voor hulle neergeval. Toe het hy hulle buitetoe gevat. “Menere, sê asseblief vir my wat ek moet doen om in die regte verhouding met God te kom,” het hy gepleit. “Glo in die Here Jesus,” het Paulus geantwoord. “Dan sal God jou red en as sy kind aanvaar.Hierdie goeie nuus geld vir jou en vir jou hele huisgesin.” Die hoof van die tronk het toe vir Paulus en Silas na sy huis toe gevat. Almal in die huis moes hoor wat hierdie twee mans oor die Here te sê gehad het. Later het die tronkbewaarder agtergekom dat Paulus en Silas se wonde nog nie skoongemaak is nie. Hy het hulle gou-gou buitetoe gevat om dit te doen. Daarna is hy en sy hele huisgesin ook gedoop. Toe het almal weer in die huis ingegaan en saamgeëet. Die hoof van die tronk en almal in sy huis was baie bly dat hulle nou ook in God geglo het.
HANDELINGE 16:22-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die skare het toe ook teen hulle saamgestaan. Die stadsowerhede het hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan word. Hulle het baie houe gekry, en toe is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om seker te maak dat hulle nie ontsnap nie. In reaksie op hierdie bevel het die tronkbewaarder hulle in die binneste sel gegooi en hulle voete in houtblokke vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom! Die tronkbewaarder het wakker geword en die tronkdeure wawyd oop sien staan. Hy het aanvaar die gevangenes het ontsnap, en sy swaard uitgetrek om homself dood te maak. Maar Paulus het met ’n harde stem geskreeu: “Moenie jouself iets aandoen nie! Ons is nog almal hier!” Die bewaarder het toe ’n lig gevra en die sel ingestorm. Hy het begin bewe en voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle toe buitentoe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?” Hulle het hom geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal verlos word, jy en al die lede van jou huishouding.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huishouding verkondig. Al was dit reeds baie laat in die nag, het hy Paulus en Silas se wonde versorg. Hy is toe daar en dan gedoop, en ook al sy mense. Toe bring hy hulle in sy huis in en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huishouding was baie bly omdat hulle nou in God geglo het.